Hermeneutiek

Hermeneutiek is Bybelse uitlegkunde (HAT). Dit is die studie om te bepaal hoe die Bybel vertolk moet word. Hermeneutiek is die beginsels waarop eksegese gedoen word.

Die beginsels van hermeneutiek

Hoe om die Bybel korrek te interpreteer.

1. Neem die genre in ag

Wanneer teks gelees word, moet gevra word wat die skrywer aan die leser wou oordra. In die algemeen moet die Bybel letterlik opgeneem word wat daar staan. Byvoorbeeld:

  • In Matteus 14:13-21 word vertel dat Jesus 5000 mense kos gegee het. Dit moet letterlik verstaan word dat dit so gebeur het.
  • Dit is egter baie duidelik dat Jesus se gelykenisse simbolies verstaan moet word. Die gelykenisse is nie verhale van dinge wat noodwendig werklik gebeur het nie.
  • As die Bybel ook na God verwys as ’n hen (Mat 23:37), ’n “herder” (Ps 23:1), ’n “rots” (Ps 29:1), ’n “arend” (Deut 32:11), ’n “skuilplek” (Deut 33:27), ’n “leeu” (Jes 31:4) of ’n “leëraanvoerder” (Jos 5:14) dan is dit tog baie duidelik dat die skrywer nie ‘n letterlike interpretasie bedoel het nie, maar ‘n figuurlike interpretasie.

Kyk ook Die verskillende genres van die Bybel.

2. Skrif interpreteer Skrif

Gewoonlik interpreteer Skrif homself. In sekere gevalle interpreteer ’n ander Bybelskrywer ’n gedeelte.

Een so ’n voorbeeld is waar Jesus self aangedui het dat sekere profesieë op Hom betrekking gehad het en tot vervulling gekom het (kyk Matteus 11:1021:4222:41-4526:31, Lukas 4:16-2118:3122:3724:25-27, Johannes 13:1815:2517:12)

Nog ’n voorbeeld is dat die Evangelieskrywers 88 keer na Jesus verwys as die “Seun van die Mens”. Beteken dit dat Jesus nie God was nie? Nee. Die term “Seun van die Mens” weerspreek nie Jesus se Godheid nie. Ander dele in die Bybel is baie duidelik daaroor dat Jesus die Seun van God was (kyk Die Bybel oor Jesus se godheid en Daniël 7:13-14).

3. Konteks interpreteer Skrif

Die omliggende verse, hoofstukke en die boek van die Bybel waarin dit geskryf is verskaf konteks aan enige Bybelvers. So ook die historiese, kulturele en taalkundige konteks van ’n vers. Byvoorbeeld:

Paulus glo nie aan die drie-eenheid nie

  • 1 Korintiërs 8: (4)Wat nou betref die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een.
  • 1 Timoteus 2: (5)Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus

Praat Paulus hier teen die drie-eenheid? Nee. Hy stel die drie-enige God teenoor ander gode. Daar is geen God behalwe die drie-enige God nie.

Aarde op pilare

As Samuel se ma, Hanna in 1 Samuel 2:8 praat van die “pilare van die aarde” beteken dit nie dat die Bybel sê dat die aarde op vier pilare staan nie. Dit is moontlik dat sy geglo het dat die aarde op vier pilare staan, maar dit beteken nie dat God dit so aan haar openbaar het nie.

4. Die duidelike interpreteer die onduidelike

Geen vers in die Bybel moet interpreteer word om die algehele boodskap van die Bybel te weerspreek nie. Wanneer ’n gedeelte onduidelik oor ’n onderwerp is, moet ons na ’n gedeelte gaan kyk wat wel duidelik is daaroor.

5. Aanvaar die voor die handliggende interpretasie

Nadat die genre en konteks in ag geneem is word die voor die handliggende betekenis van ’n gedeelte aanvaar – die teks moet ongekompliseerd of op sigwaarde gelees word. Vreemde interpretasies word nie ingebring om die boodskap van die Bybel te laat inpas by die heersende tydsgees nie.

6. Jesus is die hooftema

Jesus is die hooftema van die Bybel. Daarom, indien ’n gedeelte onduidelik is, en dit kan nie verklaar word deur bogenoemde nie, is ’n goeie vraag om te vra: Dui dit op die koms van Jesus? Kyk byvoorbeeld Deuteronomium 18:15-22 ’n Profeet soos Moses.

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui