Die algemene sinode se sterwensbegeleiding van die NG Kerk

‘n Verkorte weergawe van die volgende artikel het ook op 23 Mei 2022 in die Volksblad verskyn onder die titel Dít is die rede vir vasgelooptheid in die NGK.

Hierdie skrywe het die volgende reaksies tot gevolg gehê:

Oor die outeur: Dubois du Toit is tans predikant van NG gemeente Kestell. Sy seun (ook Dubois du Toit) is predikant van NG gemeente Suiderhof Namibië.

******

Die algemene sinode se sterwensbegeleiding van die NG Kerk

Deur Dubois du Toit, Kestell

23 Mei 2022

Daar was baie stof opgeskop na die Algemene Sinode (AS) se 2019 selfdegeslagverhoudings (SGV) besluit wat gelei het tot vasgelooptheid in die NG kerk en die grootste verdeeldheid nog. Maar by dieselfde 2019 sinodesitting het ’n verslag onder die radar gedien[1] wat dalk baie groter implikasies gaan inhou vir die eenheid van die NG kerk se toekoms. In 2016 gee die Algemene Sinode opdrag aan ’n taakspan Kerkverband om ondersoek in te stel na die Kerk se toekoms as kerkverband en posisionering van haar rol as missionale kerk (Christelike voetspoor) in Suidelik Afrika. Die taakspan het sy bevindinge voorgelê by 2019 as Droom Scenario 2030 en verskeie skokkende voorstelle is saamgevat in die verslag wat duidelik aandui hoe die AS dink en waarmee is hulle al oor twee dekades heen mee besig is.

Dis interessant dat ’n jaar nadat die Verenigde Nasies hul Agenda 2030 bekend gestel het (2015)[2] om die hele wêreld saam te trek in ’n radikale poging tot volhoubare ontwikkeling ten aansien van oorbevolking en regstelling van sosiale ongeregtigheid, die Algemene Sinode van die NG kerk (2016) opdrag gegee het aan ’n taakspan om na vore te kom met ’n droom scenario vir 2030 om die kerk se rol in hierdie nuwe wêreld van Menseregte en sosiale geregtigheid te vind[3]. Dis daarom dan ook nie vreemd nie dat feitlik alle kontroversiële besluite van die AS die afgelope 20 jaar, getuig het van ’n “ruim huis” om die tradisionele groepering in die kerk wat baie sterk klem lê op die onfeilbaarheid van die Skrif “vas te hou” te midde van liberale besluite oppad na Visie 2030, want die NG kerk moet ten alle koste haar “eenheid” behou. Die Behoudende gemeentes het veral sterk kapsie gemaak teen die AS se besluit van 2015 en 2019 waardeur SGV ontsondig is en die kloof tussen die behoudende en liberale groeperinge geskeur het aan die hand van die besluit dat die kerk “vasgeloop” is.

As agtergrond van die Droom Scenario 2030 moet gesê word dat die NG kerk se evangeliese ywer die afgelope 30 jaar sterk afgeneem het nadat al meer inheemse kerke in die buiteland en tuis, selfstandig geraak en hul eie evangelisasie en kerkplanting plaaslik begin doen het. Die NG kerk se missionale fokus het verskuif as groot rolspeler in Suid Afrika, na dieselfde fokus as die Rooms Katolieke kerk en ander hoofstroomkerke oor die wêreld, nl sosiale geregtigheid. Maar Sosiale Geregtigheid as ideologie se prinsipiële begronding word geregverdig deur liberale of progressiewe teologie, wat teenoor ortodokse Gereformeerde teologie staan van sonde, verlossing en dankbaarheid volgens ons Belydenisskrifte. Sosiale geregtigheid wil bevry word van alle magsinstellings (patriargie en hiërargie) om gelyke menseregte te bewerk.

Die vraag vir die AS en die Taakspan Kerkverband, is hoe om te werk te gaan om in samehang met die Grondwet se Menseregte die NG kerk saam te neem op hierdie Droom Scenario 2030 waar alle kerkverbande wat vennootskappe het met die NG kerk en ook kerke wat uit die sendingywer van die NG kerk ontstaan het, saam te neem op reis om hierdie doel te verwesenlik. Die roeping van die NG kerk is volgens die AS om lewe in volheid aan die wêreld te gee. Beteken dit dat indien sosiale geregtigheid bereik is, in lyn met die Verenigde Nasies se Agenda 2030, ALLE mense op aarde dan ’n volheidslewe gaan lei? Is dit nie ’n utopia nie? Of as dit beteken dat alle ongeregtigheid (sonde) uitgeroei is teen 2030, dan gaan almal hemel toe? Is dit nie universalisme nie?

Die AS het egter ’n voertuig nodig om hierdie droom en visie te realiseer, want die AS kan dit nie net afforseer nie. Die Algemene Kuratorium (AK) is die laboratorium waardeur die Teologiese Fakulteite al meer as 20 jaar gelede verander is in samewerking met denominasionele vennote. Die AK het dmv die drie Teologiese Fakulteite van die NG kerk (ook Hugenote Kollege) oorbeweeg na ekumeniese teologiese opleidingskole met sosiale geregtigheid, bevrydings- en feministiese teologie, as die dominante hermeneutiese lense, as die geskikte voertuig om Droom Scenario 2030 te verwesenlik en sodoende leraars, diensleraars, standplaasleraars en bedienaars wat hierdeur “gekweek” is, so gou moontlik op kansels te kry om die visie-inhoude oor te dra en gemeentes voor te berei vir 2030.

Drie woorde staan veral uit by die AS oppad na hierdie droom naamlik HOOP (verhale van hoop) om lidmate te oortuig van die Bybelse woord, maar die vraag is of dit nie eerder soek na tydelike aardse vrede en oplossings nie? Dan EENHEID ten alle koste – ons moet mekaar “vashou”, anders is jy “skeurmakers” en “verdagmakers” wat verdeelheid saai. Die derde woord is die doodskoot – in die naam van LIEFDE word alle mense se regte deur die Grondwet gewaarborg dat almal se voorkeure, begeertes en keuses nie verhinder, veroordeel of voorgeskryf mag word deur Behoudende gelowiges wat sekere leefstyle as sonde beskou nie, want dit is LIEFDELOOS.

Hoe moet Droom Scenario 2030 dan verwesenlik word? Blote strukturele aanpassings sal nie slaag nie – Belhar se afwysing as Belydenisskrif, nadat die hele NG kerk getoets is, het dit bewys. Die hele soliede, tradisionele, 500 jaar oue manier van die eksklusiewe Gereformeerde kerk se identiteit moet afgebreek word en vervang word met vloeibare, inklusiewe, relevante gemeenskappe van gelowiges oor kulturele, denominasionele grense heen, oppad na die Alternatief. Die Alternatief bestaan reeds in embriovorm as die netwerk genaamd “Reformed Family Forum (RFF)” as beginpunt. Dit kan ’n praktiese alternatief wees vir huidige sukkelende kerkstrukture wat nie meer die evangelie effektief bedien nie, want ons historiese agtergrond en bagasie het ons ingehaal – dit gee nie gestalte aan die eenheid van die liggaam nie. Daarom kan al die geloofsgroepe saamgevoeg word in ’n netwerk volgens die Liggaamsmetafoor van Ef 4:4 nl. “Een Liggaam van Reformatoriese Geloofsgemeenskappe in Suidelike Afrika” met EEN belydenisgrondslag wat inklusief is en waar almal se tradisies en kerk-kultuurgoedere deur almal gerespekteer word.

Die probleem met Droom Scenario 2030 is eerstens dat dit nie die ware groot opdrag van Mat 28:19-20 ernstig opneem naamlik om die sondige wêreld te bedien met die evangelie om dissipels te maak nie, wat nie liefde is nie. Sondige leefstyle van kerklidmate wat deur die Grondwet goedgekeur word as die reg van mense om hul eie keuses uit te voer, word deur die AS van die NG kerk gesanksioneer en gevier. Nêrens in die verslag word gepraat van ons missionêre identiteit om die evangelie uit te dra nie, maar daar word laer getrek met bestaande geloofsgemeenskappe, deur die uniek aard van elke denominasies se geloofsuitdrukking itv taal, kultuur, spiritualiteit, geloofsgoedere bv formuliere te absorbeer, deur slegs te fokus op die ekumeniese groepering deur middel van missionale diakonaat. Jesus se opdrag was om die evangelie van verlossing tot aan die uiterstes van die aarde te bring sodat die einde kan kom (Mat 24:14). Die kerk se roeping is wel dat alle gelowiges na hul bekering, God se liefde teenoor alle gemarginaliseerdes, alle sondaars, alle verwerpte en stukkende mense sal uitleef deur tegelyk te fokus op sosiale geregtigheid dmv diakonaat (barmhartigheid).

Tweedens skep ekumeniese geloofsgemeenskappe groot probleme ten opsigte van verskille in terme van Skrifinterpretasies, kerktradisies en kulturele invloede. Gaan die netwerk van 2030 se geloofsgemeenskappe net sekere hoofstroomkerke insluit, of ALLE Protestantse geloofsgemeenskappe? Wat daarvan as daar groot verskille in hierdie geloofsgemeenskappe is oor die waarheid van Jesus se Goddelikheid, SY uniekheid as enigste Verlosser van die wêreld, die bestaan van God se vyand as ’n persoon (satan) en sy invloed op hierdie wêreld, die gestalte van die huwelik, waarvan daar net een is volgens God se skeppingsordening, seksualiteit en geslagtelik ingesluit daarby, die kosbaarheid van lewe soos God dit geskep het, die doop, bekering en enige ander teologiese verskille, juis waaroor daar denominasies gevorm het? In 1 Kor 1:10 sê Paulus dat almal eensgesind in JESUS CHRISTUS moet wees. “Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees met dieselfde GESINDHEID en met DIESELFDE OORTUIGING.” Die eenheid lê dus nie in ’n “ruim huis” waar elkeen kan kies wat waarheid is vir hom/haar nie, maar in ’n nuwe eenheid met Christus deur wie ons gered is uit sonde tot heiligheid. (Ef 4:1-5:20)

Derdens, watter rol speel menseregte volgens die Grondwet en die VN se Agenda 2030 op die ou end in die Visie 2030 van die NG kerk? Gaan dit gebruik word om die konflik en vasgelooptheid in die NG kerk te besweer en ’n nuwe teologiese rigting af te forseer, selfs deur die sekulêre hof?

Die groot konflik wat tans heers tussen die AS van die NG kerk en ’n groot groep Besorgde Lidmate en gemeentes (Kairos Netwerk), gaan tans oor die hele debat rondom selfdegeslagverhoudings waaroor die kerk vasgeloop is agv ’n verskil in verstaan van Skrifgesag en Skrifbeskouing. Die AS het juis in sy “ruim-huis” beginsel plek gemaak vir menseregte deur homoseksuele predikante en lidmate wat in selfdegeslagverhoudings (SGV) is, se seksualiteit te vier, waarteen niemand mag diskrimineer nie (11 mense het die NG kerk hof toe gevat oor 2016 se SGV-besluit).

Maar Kairos Netwerk (KN) het na vele pogings om die AS tot inkeer te roep terug na die onfeilbare Skrifbeskouing van die NG kerk tot en met 1986, nl dat SGV sonde is, besluit om uit die Kerkverband met die AS te tree waar streeksinodes weer hul identiteit opneem as volwaardige sinodes soos voor 1962 deur Artikel 37 van die Kerkorde. KN is oortuig dat die meerderheid kerklidmate steeds ’n hoë Skrifbeskouing en Skrifgesag het en daarom steeds selfdegeslagverhoudings as sonde identifiseer. Maar daar is baie verwarring en min kennis by die deursnee lidmate oor al hierdie sake agv die NG kerk se vasgelooptheid.

‘n Ander moontlikheid is dat indien dieselfde vasgelooptheid in Streeksinodes realiseer, besorgde gemeentes wat eensgesind is in hul hoë Skrifbeskouing en Skrifgesag, hul individueel kan losmaak van die NG kerkverband, ook uit hul streeksinodes en deel word van  ’n nuut gestigte groepering, genaamd “Familie van Reformerende Gemeentes” (FRG). Gemeentes wat so ’n roete oorweeg, is welkom om aan te sluit by die beweging van dolerende of behoudende gemeentes, genaamd Kairos Netwerk en selfs lidmate wat besorgd is oor die liberale sienings in hul eie gemeentes, kan ook aansoek doen en so deel word van die nuwe kerkverband. Bid asseblief ernstig saam met ons vir die inkeer van die leierskap van die NG kerk, naamlik die Algemene Sinode en die Visie 2030 se misplaasde fokus.

Voetnotas

[1] http://ngkerk.net/wp-content/uploads/2019/08/A.3.3-Kerkverband-AS-finaal-LB.pdf

[2] Transforming our world: the 2030 Agenda for Sustainable Development

[3] https://ngkok.co.za/kennisg/202007/Scenario-beplanning.pdf

5 thoughts on “Die algemene sinode se sterwensbegeleiding van die NG Kerk”

  1. Baie dankie Du Bios

    Vir die eerste keer begin die prentjie sin maak. Toe ek lidmaat by Welgemoed was, was ek in gesprekke met Ds Nelis. Ek kon nie sin maak van sy praatjies van ’n “magtige wêreld kerk!” nie. Daarby kon ek ook nie verstaan hoe hy aan my noem “hy wil en hy gaan” die SGV narratief uitvoer. Ek kon ook nie verstaan hoekom hy van die ruim huis praat en ook die ekumenies narratief aanhang nie. Ek kon ook nie verstaan dat by hy die Ateïste vereniging gesê het: “My aim is to dismantle the solid church.”

    Ek het Welgemoed gemeente verlaat omdat ek my nie kon vereenselwig met hierdie punte nie. Dis asof daar ’n groot dwaling oor hulle was soos 2 Thessalonicense 2:11 sê “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo”

    Nou verstaan ek volkome wat agter sy woorde in 2015 geskuil het en ook hoekom hy begin het om ekumeniese byeenkomste te hou in die Welgemoed kerk. Alles maak sin in die lig van die 2030 Visie!

    Baie dankie vir hierdie puik uiteensetting wat die waarheid openbaar.

  2. Hier is die kerkleier se presiese aangetekende woorde voor die ateïstegroep FORDA (Friends of Richard Dawkins Association) in Februarie 2020 in die klein saaltjie van die Rotariërs in Somerset-Wes weer:

    “My aim is to dismantle the solid church.”

    Hy het, in 2015, voor sy verkiesing as moderator, in ’n preek vertel van sy visioen van ’n groot wêreldwye kerk. Dit lyk teenstrydig, maar hierdie visie is nie die visie van die kerk van Christus nie. Die sogenaamde ‘solid church’ waarna hy verwys het, is wel.

    Die leiers en die NG Kerk wat aanhou om mense te kies om hulle voort te lei, mense wat sulke dinge kwytraak en propageer en met alle mag en slinksheid voortdryf, sal regtig moet wakker skrik vir die wat Paulus “ander evangelie” sou noem en die wêreldwye aanslag teen die ware Evangelie en dus die Woord van God en dus teen Jesus Christus, die hoof van die kerk, self.

    Vir die draadsitter leiers vra ek, wat vang julle aan? Dink julle julle doen niks nie? Dink julle julle berokken nie die kerk enorme skade aan nie? Dink julle julle sal die oordeel van God vryspring?

    Vir die gewone lidmaat wat besef dat daar groot fout is, dink julle nie dis tyd om te skuif na ’n gemeente wat behoudend is nie?

    Vir die jongmense wat nog nie die erns van die saak insien nie, kry die wysheid van God deur sy Woord in julle harte en maak julle oë oop! Julle ewige saligheid hang aan ’n draadjie!

  3. Waarom wil die AS leiers buite-om die Voorsiening van die Heilige Gees, die “toekoms” bepaal? Het die Here dan die AS (of enige ander ekumeniese bestuursproses) nodig om ons toekoms te bepaal? Het die “bedienaar” van die Woord belangriker geword as die “bediening”?
    Jakobus sê: “julle weet nie want julle bid nie reg nie”.
    “Vasgelooptheid” word veroorsaak deur mense/ organisasies wat “beter weet” as die Here. Namibië se Sinode het dit betyds besef.

  4. Ds Nelis verwys na moeilikheidmakers wat opnames gemaak het om die klem weg te neem van sy stelling: “I want to dismantle the solid church.”! Ons het hom in 2020 daar gehoor.
    Op 30 Mei 2022 in ’n pinkster boodskap vanuit Welgemoed NGK noem hy hy was bewus van twee kwaadwilliges wat opnames gemaak het en vertel van n wonderlike ervaring van n vrou wat tot bekering gekom het! Die twee “kwaadwilliges” se presiese woorde aangehaal; hy praat nie die waarheid oor die vrou nie. Sy gesprek was met haar tydens die verrigtinge. Sy was ontsteld omdat haar volwasse kinders nie wou luister as sy hulle probeer oortuig dat daar geen god is nie. Kliek HIER om na boodskap te luister.

    Ds. Nelis die stelling wat jy op die Friends of Richard Dawkins Association (FORDA) in Somerset Wes naamlik: “I want to dismantle the solid Church!” wil ek vra dat u die stelling direk sal erken of verwerp.

  5. Die NGK is ongetwyfeld besig om meer en meer die WARE WEG byster te raak! Die AS2019-besluite word nie (behoorlik) op gemeentevlak bespreek, ontleed en aan lidmate verduidelik nie. Dus is die oorgrote meerderheid van lidmate oningelig en in die duister oor die rigting wat die NGK inslaan. Sommige predikante verkies om liefs die inligting te verdoesel om moontlike “onrustigheid” op gemeentevlak te smoor. Dit gaan nie vir altyd werk nie! En die AS 2023 is voor die deur – die vraag is: Waarop moet ons ons voorberei? My persoonlike gevoel is dat ons met reg onrustig en waaksaam moet/kan wees – hef aan lê nog voor in die NGK!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui