Wat is artikel 37 van die NG Kerk Kerkorde?

Hier volg Artikel 37 van die NG Kerk se kerkorde:

Artikel 37Voetnota

Dit staan die samestellende kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.

Voetnota: Die ATR interpreteer Artikel 37 soos volg: Artikel 37 is nie van toepassing op gemeentes nie; en die samestellende kerke waarna Artikel 37 verwys, is tans die 10 sinodes waaruit die Algemene Sinode saamgestel is.

Aanvanklik was die Kaapse Sinode die enigste sinode van die NG Kerk. As gevolg van verskeie redes het daar al meer sinodes buite die Kaapkolonie ontstaan. So het die Oranje-Vrystaat ’n eie sinode in 1864 gekry, Natal in 1865 en Transvaal in 1853. Pogings tot vereniging van die sinodes het ná Uniewording in 1910 misluk, maar op 12 Oktober 1962 was hierdie pogings uiteindelik suksesvol met die totstandkoming van die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk. Die Republiekwording van Suid-Afrika op 31 Mei 1961 het waarskynlik ook ’n rol gespeel in hierdie besluit.

Die volgende muurpaneel staan in die argief van die NG Kerk.

Ter herinnering aan Die hereniging van die Ned. Geref. Kerke: Die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika Kaap Die Ned. Geref. Kerk van Natal Die Ned. Geref. Kerk in die Oranje Vrystaat Die Ned. Geref. Kerk van Transvaal Die Ned. Geref. Kerk in S.W.A. Tot die Nederduitse Gereformeerde Kerk op 11 Oktober 1962. Matth 19:6 : Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Ter herinnering aan

Die hereniging van die Ned. Geref. Kerke:

Die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika Kaap
Die Ned. Geref. Kerk van Natal
Die Ned. Geref. Kerk in die Oranje Vrystaat
Die Ned. Geref. Kerk van Transvaal
Die Ned. Geref. Kerk in S.W.A.

Tot die Nederduitse Gereformeerde Kerk op 11 Oktober 1962.

Matth 19:6 : Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

Voor die totstandkoming van die AS (Algemene Sinode) het die destydse NG kerke al besef dat die Kaapse kerk ’n teologie verkondig het waarmee die res nie gemaklik was nie. Artikel 37 se insluiting in die Kerkorde was die enigste voorwaarde waarop die AS wel in 1962 tot stand kon kom as die sambreel waaronder al die NG Kerke saam kon getuig en werk.Die doel van Artikel 37 was dus spesifiek om te dien as ’n ordelike manier om te sê dat ons nie teologies langer kan saamloop nie. Daarom word die uitoefening van Artikel 37 nie soseer as skeuring geklassifiseer nie, maar bloot die uitvoering van ’n streeksinode se reg om nie langer in alliansie te staan met die AS indien gevoel word dat die teologiese verskille te groot geword het nie.

Oor die voetnota

Die voetnota is tydens die 2015 Algemene Sinode bygevoeg. Dit was die hele ATR se mening dat dit net van toepassing is op sinodes en nie gemeentes en/of ringe nie. As ’n mens die geskiedenis van Artikel 37 in ag neem dan is die interpretasie soos verwoord in die voetnota korrek. Dit was nie die bedoeling dat dit vir ringe of gemeentes sou geld nie. In die hofsaak van DeDeur het die hof dié bedoeling/interpretasie bevestig.

Artikel 37 as oplossing vir teologiese verskille

Artikel 37 bring egter nie noodwendig ’n eenvoudige oplossing wanneer daar teologiese verskille in die NG Kerk ontstaan nie. Kyk Artikel 37 as oplossing vir uiteenlopende teologiese sieninge.

6 thoughts on “Wat is artikel 37 van die NG Kerk Kerkorde?”

  1. Sonder gemeentes, d.w.s. kerkrade, kan daar nie Ringe wees nie, en sonder Ringe ook nie Streeksinodes nie. Hoe is dit moontlik dat Artikel 37 kerkrade en gemeentes uitsluit deur ’n voetnota? Op watter AS is hierdie besluit geneem en goedgekeur? Beteken dit dat kerkrade en gemeentes eers eenparig aan die Ring moet onttrek en daarmee saam aan die Streeksinode alvorens daar op Artikel 37 gesteun kan word?

  2. My kort antwoord aan Nic Botha:
    Die probleem met kerklike konstitusies is dat as dit aan die hof getoon kan word met die siviele beginsel van “balans van waarskynlikheid”, dat ’n spesifieke klousule op spesifieke wyse deur die organisasie as geheel geïnterpreteer/verstaan word. En die betrokke hof die uitspraak maak op grond van betrokke interpretasie, word die hofuitspraak se benadering tot die klousule die norm van hoe die artikel in die praktyk benader moet word. Hofuitsprake “overule” die konstitusie van ’n organisasie. Dit word ook die beginsel wat gevolg word op toekomstige sake. So die Algemene Sinode kan basies enige gemeente wat sê hul ontbind op grond van Art 37 deur die hof beskou word as “onordelik” volgens die kerklike orde. Want die hof het mos klaar beslis die verstaan van Art. 37 verwys na “samestellende kerke” bedoelende “10 sinodes”

  3. Ek is bekommerd oor wat Wayne McCulloch sê: Hofuitsprake “overrule” die kostitusie van ‘ n organisasie. As Wayne bedoel dat die kerk ’n “organisasie” is, dan is Wayne verkeerd. Die kerk is nie ’n wêreldse instituut nie, maar die kerk behoort aan Christus. Hy is die hoof van die kerk. En as die NG Kerk se AS dit nie aan die hof kan verduidelik nie, dan is daar iets nie reg met die ouens op die AS nie. Trouens, as die Kerk (lees Sinode) hom tot die wêreldse regter wend {om uitsprake te lewer wat in pas is met die wêreldse grondwet of (nog erger) met die sgn. menseregte}, dan is hy virseker op die verkeerde pad.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui