Relativisme is problematies vir behoudendes

*******

Relativisme is problematies vir behoudendes | Netwerk24

Gerhard Mahne, Kaapstad

06 Junie 2022

Jan Lubbe van Bloemfontein se brief (02.06), waarin hy melding maak van ’n samesweringsteorie teen die Algemene Sinode van die NG Kerk, het betrekking.

Wat treffend is in sy brief is die slotwoorde: “Dit is Pinkstertyd. Waarmee ons ons moet besighou, dr. Ficker, is om te luister na hoe God ons deur sy Woord en Gees in waarheid en liefde lei”.

“In waarheid en liefde.” Dis ’n mooi gedagte, maar na watter “waarheid” verwys Lubbe?

Pilatus wou ook by Jesus weet wat waarheid is (Joh. 18).

Lubbe verwys na Pinkstertyd. Jesus noem die Heilige Gees van Pinkstertyd “die Gees van waarheid” (Joh. 14 tot 16).

Waarheid is vir die relativis egter iets anders as vir iemand wat in die absolute waarhede van God se Woord glo. Relativisme is die dogma dat kennis, waarheid en moraliteit in verhoudings lê; in jou verhouding tot kultuur, die samelewing of historiese konteks. Dis die probleem wat behoudende teoloë en gemeentes met die Algemene Sinode se besluite en derhalwe ook met Droomscenario 2030 het.

Vir die relativis is geen waarheid absoluut nie, ook nie die werk van die Heilige Gees of die inhoud van die Bybel nie. Daarom sê die Algemene Sinode ook ten opsigte van selfdegeslagverbintenisse dat gemeentes self moet besluit wat die waarheid is. Die wêreldwye kerk van Christus se stryd sedert die einde van die vorige eeu lê op hierdie vlak: die vlak van relativisme.

Daarom is die mooi aanhaling van Lubbe dat “die NG Kerk vanuit haar geloofsverbintenis met God drie-enig . . . diensbaar in gemeenskappe is”, ook relatief omdat nie almal hoef te glo dat daar ’n drie-enige God is nie, al is dit ook ’n absolute waarheid van die Bybel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui