‘Pasop vir hierdie foute in kritiek teen Algemene Sinode se visiedokument’

*******

‘Pasop vir hierdie foute in kritiek teen Algemene Sinode se visiedokument’ | Kerkbode

Kerkbode

30 Mei 2022

Prof Nelus Niemandt van Hugenote Kollege op Wellington skryf: ’n Onlangse skrywe van ds Dubois du Toit van Kestell verwys. Die skrywe is ten dele op Netwerk24 en in geheel op ander webblaaie gepubliseer (lees ook sy brief aan Kerkbode).

Ds Du Toit koppel die NG Kerk se besluite aan besluite van die Verenigde Nasies (VN), en ook Suid-Afrika se grondwet. Dit is duidelik dat hy gekant is teen sulke beskerming van menseregte. Hy suggereer dat daar ’n direkte verband tussen die Algemene Sinode se Visie 2030 is en die VN se standpunte oor volhoubare ontwikkeling. Sulke samesweringsteorieë dra geen gewig nie. Dit klink ook net soos die protes wat daar in 1986 was, toe die NG Kerk se dokument Kerk en samelewing verskyn het – ’n dokument wat positief is oor menseregte.

’n Mens hoor ook die argument dat die NG Kerk se missionale fokus geskuif het na missionale diakonaat en sosiale geregtigheid. Die skuld vir die gebrek aan evangelisasie word op die Algemene Sinode gepak. Maar eintlik is evangelisasie mos die werk van gemeentes. Boonop het die Algemene Sinode sterk besluite geneem oor die belang van evangelisasie en kerkplanting en word dit sterk aangemoedig.

Die ander kant van die saak is dat omtrent almal in die Christelike wêreld saamstem dat sendingwerk te doen het met getuienis en ook dade van geregtigheid en missionale diakonaat. Hierdie siening onder Christene word op goeie begrip van die Bybel gebou. Om evangelisasie en sosiale geregtigheid teen mekaar af te speel, is ten diepste ’n skeiding tussen natuur en genade.

Nog ’n fout is om die begronding van sosiale geregtigheid te soek in liberale of progressiewe teologie. Die NG Kerk het al in 1986 in Kerk en samelewing aangedui dat sosiale geregtigheid spruit uit die NG Kerk se benadering dat die Bybel die enigste maatstaf is. Die riglyne vir etiese optrede is Christelike naasteliefde, geregtigheid en reg, barmhartigheid, waarheid en die Godgegewe waardigheid van mense.

Daar is drie belangrike Bybelse begrippe in die Algemene Sinode se visiedokument, naamlik hoop, eenheid en liefde. Begrippe soos “lewe in volheid” kan gelees word in die lig daarvan dat Jesus self in Johannes 10:10 sy bediening verduidelik as dat Hy lewe “in volheid” gee.

Wat teologiese opleiding betref, kan ek nie namens ander teologiese fakulteite praat nie, maar Hugenote Kollege werk met ’n gereformeerde hermeneutiese lens wat die oorsprong, konteks en aard van die Bybelse geskrifte erken en respekteer. Ek verwerp foutiewe argumente en wanvoorstellings ten sterkste.

  • Prof Niemandt is rektor van Hugenote Kollege.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui