Dis nie ’n profesie, maar ’n samesweringsteorie

Kyk ook kommentaar onderaan.

*******

Dis nie ’n profesie, maar ’n samesweringsteorie | Netwerk24

Jan Lubbe, Bloemfontein

02 Junie 2022

Wanneer ’n briefskrywer soos dr. Bernhard Ficker ’n lysie maak soos die “Wêreld- Ekonomiese Forum, Nuwe Wêreldorde, Verenigde Nasies, die Pousdom met sy aardverhitting-bemoeienis” en “die Groot Herset” (31.05) dan spel dit nie profesie nie, maar samesweringsteorie.

Hierdie keer oor “Droomscenario 2030”, ’n werkdokument wat sedert 2015 in die NG Kerk vorm aangeneem het – vandaar die keuse vir die jaartal 2030, toe ’n dekade en ’n half vorentoe – en wat in 2019 deur die algemene sinode goedgekeur is.

Soos wat kerkrade en ringe hulself gereeld afvra watter ontwikkelinge in hul konteks ’n invloed op hul bediening van die Woord en Brood vorentoe mag hê, so ook dié scenario-gesprek.

In die hart van hierdie dokument lui dit dat “die NG Kerk vanuit haar geloofsverbintenis met God Drie-enig ’n netwerk van inklusiewe gemeentes wil wees wat op voetsoolvlak vanuit God se liefde diensbaar in gemeenskappe is”.

As voorbeelde daarvan is op ’n onlangse werkvergadering oor die dokument genoem die uitgebreide hulp wat van NG Kerk en ander gemeentes uitgegaan het na lydendes in die droogtegeteisterde Noord-Kaap, onder die veldbrande in die Vrystaat en ná die plundering en vloede in KwaZulu-Natal.

Ook dr. Ficker se halwe aanhaling dat die algemene kuratorium leraars “muilband” en “verbied om sosialemediaplatforms te gebruik . . .” is gewoon onwaar.

Wat hy weglaat, lui: “. . . om veralgemenende, nadelige en verdagmakende berigte oor teologiese opleiding te publiseer.”

Hieroor is daar verlede jaar al riglyne deur die NG Kerk goedgekeur wat stel dat Bybelse waardes soos respek, liefde en waarheid ook vir ons optrede op sosiale media geld en dat daarom lasterlike opmerkings, haat-spraak, beledigende of vernederende taalgebruik en vals getuienis nie aanvaarbaar is nie.

Die Kerkbode-berig waaruit dr. Ficker so selektief aanhaal, gaan juis oor ’n uitnodiging van die kuratoria aan besorgde lidmate en leraars om direk en volgens ooreengekome waardes met belanghebbendes oor teologiese opleiding in gesprek te tree.

Dit is Pinkstertyd.

Waarmee ons ons moet besighou, dr. Ficker, is om te luister na hoe God ons deur sy Woord en Gees in waarheid en liefde lei.

Kommentaar

Gerhard Mahne

Jan Lubbe van Bloemfontein se brief van 2 Junie waarin hy melding maak van ʼn samesweringsteorie teen die Algemene Sinode van die NG Kerk, het betrekking. Wat treffend is in sy brief is die slotwoorde naamlik: “Dit is Pinkstertyd. Waarmee ons ons moet besighou, dr Ficker, is om te luister na hoe God ons deur sy Woord en Gees in waarheid en liefde lei”. “In waarheid en liefde”. Dis ʼn mooi gedagte, maar wat is die “waarheid” waarna Lubbe verwys? Pilatus wou ook by Jesus weet wat waarheid is (Joh. 18). Lubbe verwys na Pinkstertyd. Jesus noem die Heilige Gees van Pinkstertyd “die Gees van waarheid” (Joh. 14 tot 16). Waarheid is vir die relativis egter iets anders as vir iemand wat in die absolute waarhede van God se Woord glo. Relativisme is die dogma dat kennis, waarheid en moraliteit in verhoudings lê; in jou verhouding tot kultuur, die samelewing of historiese konteks. En dis die probleem wat behoudende teoloë en gemeentes met die Algemene Sinode se besluite en derhalwe ook met Droomscenario 2030 het. Vir die relativis is geen waarheid absoluut nie, ook nie die werk van die Heilige Gees of die inhoud van die Bybel nie. Daarom sê die Algemene Sinode ook ten opsigte van selfdegeslagverbintenisse dat gemeentes self moet besluit wat die waarheid is. Die wêreldwye kerk van Christus se stryd sedert die einde van die vorige eeu lê op hierdie vlak: die vlak van relativisme. Daarom is die mooi aanhaling van Lubbe dat “die NG Kerk vanuit haar geloofsverbintenis met God Drie-enig … diensbaar in gemeenskappe is”, ook relatief omdat almal nie hoef te glo dat daar ʼn Drie-enige God is nie, al is dit ook ʼn absolute waarheid van die Bybel.

1 thought on “Dis nie ’n profesie, maar ’n samesweringsteorie”

  1. Broeder, jou stelling klop nie regtig met die werkliheid nie. Daar word deur die AS verkondig almal moet mekaar se standpunte eerbiedig in die ruim huis. Hierdie is ’n uitreksel uit ’n brief wat ek nou onlangs ontvang het van ’n sendeling wie se finansies gestop is deur ’n nuwe ruim huis kerk:

    “Daar is van die tekens in die artikel wat ek hier in die plaaslike gemeente sien bv die verbale mishandeling (“verbal abuse”), verwerping, liefdeloosheid, verseg om met ons te praat, die stomp en blatante wyse hoe ons finansies afgesny word sonder om enige rede te gee. Dit is nie die eerste keer dat van hierdie dinge manifesteer nie. Daar is vir my persoonlik genoem dat dit oor die land die tendens is.”

    Broeder, mag God jou die werklikheid laat sien van hoe broeders vervolg word wat Skriftuurlik vasstaan op God se Woord!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui