Dit help nie om algemene sinode te ontbind

*******

Dit help nie om algemene sinode te ontbind

Daniel Louw

18 Mei 2022

In “NGK-sinode moet eerder aftrede oorweeg” (16.5) vra Dawie Botes of die NG Kerk se algemene sinode (AS) nie tot niet gemaak moet word nie. Heelwat lede van die Kairos Netwerk vra hierdie vraag na al die skokkende besluite in die NGK die afgelope meer as 10 jaar. Die vraag is of dit ‘n oplossing sal bied aan behoudendes.

Dit is interessant dat kort na die 2016-besluit oor SGV (toe die 2015-besluit omgedraai is) het Nelis Janse van Rensburg in ’n video baie dieselfde gesê:

“Gemeentes besluit self wie in hulle ampte is (leraar, ouderling, diaken en lidmaat). Dit was nog altyd so. … Die sinode gaan nie besluite op gemeentes afdwing nie. As gemeentes nie deur die Gees gelei voel om ruimte te maak vir mense wat in homoseksuele verhoudinge staan nie, hoef hulle nie.”

Op daardie stadium het ek die vraag gevra: Wat is dan die doel van die Algemene Sinode as gemeentes hulle nie hoef te laat lei deur besluite van die Algemene Sinode nie?

Verskillende sinodes/gemeentes binne een denominasie kan nie wyd uiteenlopende sieninge oor kern teologiese dogmas hê nie. Dit sal nie sin maak as streeksinodes binne die NGK verskil oor byvoorbeeld die doop, eskatologie, selfdegeslagverhoudings en teologiese opleiding nie. Dit grens aan sinkretisme. Dit is juis hierdie kernsake wat denominasies van mekaar skei. Daarom moet daar ’n oorhoofse struktuur wees om seker te maak dat daar oor kernsake saamgestem word. Dit is die funksie van die algemene sinode.

Moet die AS met ’n federale struktuur vervang word om die AS minder mag te gee?

Federalisme is ’n politieke sisteem waar mag verdeel word tussen die sentrale regering en die verskillende state of provinsies. Amerika is ’n voorbeeld van ’n land met ’n federale sisteem: Die verskillende state in Amerika het die vryheid om in ’n groot mate hulle eie beleid saam te stel oor byvoorbeeld doodstraf, aborsie, ens. Die sentrale regering besig steeds die hoogste gesag, maar sal slegs in uitsonderlike gevalle ingryp of besluite op state afdwing.

Eerstens is die struktuur in die NGK so ontwerp dat dit deur verteenwoordigers van reg oor die land bygewoon word. Daar is moontlik ’n saak uit te maak dat die normale grootte sinode van 400 afgevaardigdes beter is as ‘n verkleinde sinode van 200.

Tweedens word die besluite van die afgelope eeu glad nie afgedwing na onder nie. Daar is baie duidelik gesê dat gemeentes sélf moet besluit oor byvoorbeeld die hantering van selfdegeslagverhoudings. Mens sou dus daarom kon sê dat die NGK reeds ’n federale sisteem gebruik. Die probleem is eintlik juis dat die AS nie  besluite wil afdwing nie. Behoudendes sou geen probleem daarmee gehad het sou die AS gemeentes afgedwing het om byvoorbeeld Jesus se liggaamlike opwekking te glo en te bely nie. Instede daarvan maak die AS die huis net ruimer.

Die probleem in die NG Kerk is nie die bestuurstruktuur nie. Die probleem is dat die tydgees die kerk te diep geïnfiltreer het om dit nog te probeer omdraai. Daar is net een oplossing: die paaie moet skei.

Verdere leeswerk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui