Dwaalleer laat tienduisende doleer

*******

Dwaalleer laat tienduisende doleer | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

18 Mei 2022

Ná dekades van sy pogings om die Skeppergod as belaglik af te maak, stipuleer Jurie van den Heever in “Skeppergod dan so belaglik gemaak” (13.05) stap vir stap hoe belaglik die Skeppergod is en hoedat Hy “onkundig is oor die basiese beginsels” van sy skepping. Eintlik is Van den Heever se skrywe direk godslasterlik. Maar vir hom maak dit seker nie saak nie, want hy glo nie in die Skeppergod nie.

Die menslike liggaam is een van die grootste skeppingswonderwerke. Dink maar aan die kompleksiteit van die brein, die oog, die bloedstollingstelsel, die hart, die hele proses van bevrugting en kinders baar. Maar al wat Van den Heever kan raaksien, is die sogenaamde “groot aantal ingeboude fisieke gebreke in die menslike liggaam”.

Wat kommerwekkend is, is dat die NG Kerk se sinode vir Van den Heever as raadgewer oor wetenskapsake gebruik het. Hoe kan ’n kerk ’n ongelowige vir raad en advies vra? Van den Heever het so ’n groot invloed op amptenare van die sinode gehad wat sy sogenaamde wetenskaplike inligting vir soetkoek opgeëet het dat hy sommiges, soos dr. Ben du Toit, heeltemal van die wal tot in die ongelowige sloot gehelp het totdat hulle hulself as postteïste herklassifiseer het.

Van den Heever se invloed op die Stellenbosse kweekskool was niks minder vernietigend nie. Amper almal daar het Van den Heever se aantygings aanvaar dat die Bybel vol mites en stories is. Die uiteinde van die NG Kerk se sinode en kweekskole se aanvaarding van die soort dwaalleer wat Van den Heever propageer (soos in sy brief vervat), is dat amper honderd gemeentes en tienduisende lidmate nou doleer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui