’n Saak vir kerkskeuring

Inhoudsopgawe

  1. Definisies
  2. Inleiding
  3. Bybelverse teen kerkskeuring
  4. Skei jou van dwaalleraars
  5. Bly in die kerk om jou profetiese stem te behou
  6. Wag tot jy verban word
  7. Individue wat die kerk verlaat
  8. Kerkdenominasies is mensgemaakte strukture
  9. Nog kerke wat geskeur het
  10. Is jy bereid om jou geliefde kerk op te offer?
  11. Verdere leeswerk
  12. Voetnotas

1 Definisies

Denominasie

‘n Kerkdenomisie is ’n oorhoofse struktuur waaraan gemeentes behoort wat dieselfde teologiese sieninge het. Gemeentes binne dieselfde denominasie, deel die volgende:

  1. Geloofsbelydenis
  2. Naam
  3. Administrasie/wetlike hierargie
  4. Gesamentlike sinodes waarin hulle van tyd tot tyd bymekaar kom.

Kerkskeuring (Engels = “schism/splitting”)

Volgens Google: “A formal breach of union within a religious body, especially a Christian church.”

Vertaal: ’n Formele verbreking van eenheid binne ’n godsdienstige liggaam, veral ’n Christelike kerk.

In praktyk sou skeuring ook kon beteken wanneer ’n gemeente of gemeentes uit hulle denominasie wegbreek en ’n nuwe denominasie vorm of by ’n ander denominasie aansluit.

2 Inleiding

Eerder ’n kort oorlog en ewige rus as valse vrede en ewige pyniging. ~ Charles Spurgeon

In baie kerkdenominasies reg oor die wêreld is daar tans ’n sterk liberale teologiese stroming wat eintlik reeds sterk gevestig is en dreig om hierdie denominasies te skeur. Die NG Kerk in Suid-Afrika is nie hiervan vrygeskeld nie. Die NG Kerk het die afgelope 20 jaar baie ver afgedwaal van die suiwer Evangelie. Die laaste strooi was egter toe die Algemene Sinode in 2019 amptelik ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings.

Die behoudendes in hierdie denominasies (en die NG Kerk) staan nou by ’n kruispad: alle amptelike kanale is reeds uitgeput om die kerk om te draai. Dit lyk of kerkskeuring al opsie is wat oorbly. Sommige behoudendes is egter heeltemal gekant teen skeuring en voel dat dit nie die Bybelse weg is nie.

Die vraag is, sê die Bybel iets oor kerkskeuring en indien wel, wat?

3 Bybelverse teen kerkskeuring

Die volgende verse in die Bybel word soms gebruik om te argumenteer dat kerkskeuring verkeerd is (ek gee in elke geval ’n skakel na ’n beskrywing van die oorspronklike Griekse woord):

Titus 3:10

(10)Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring[G141] veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie,

Galasiërs 5:19-20

(19)Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, (20)afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring[G139],

Skeurmakers is dus mense wat volhardend valse lering versprei. Skeurmakers is nie diegene wat hulle onttrek aan die valses nie.
~ Pieter Prinsloo

Judas 1:19

(19)Hierdie mense bring verdeeldheid[G592]; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie.

******

Al bogenoemde verse verwys na mense wat kettery in die gemeente wil inbring. Van so ’n persoon moet jy jouself skei en niks met hom te doen hê nie.

Johannes 17:21

(21)Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

1 Korintiërs 1:10-12

(10)Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind[G846] te wees. Daar moet geen verdeeldheid[G4978] onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

******

Die laaste twee verse gaan oor eenheid in die gemeente. Soms is skeiding die enigste manier om eenheid te kry. Vir meer hieroor, kyk Kerkeenheid.

4 Skei jou van dwaalleraars

If the liberal party really obtains full control of the councils of the Church, then no evangelical Christian can continue to support the Church’s work. If a man believes that salvation from sin comes only through the atoning death of Jesus, then he cannot honestly support by his gifts and by his presence a propaganda which is intended to produce an exactly opposite impression. To do so would mean the most terrible blood-guiltiness which it is possible to conceive. If the liberal party, therefore, really obtains control of the Church, evangelical Christians must be prepared to withdraw no matter what it costs. Our Lord has died for us, and surely we must not deny Him for favor of men.
~ John Greshem Machen

In die volgende gedeeltes is die Bybel baie duidelik daaroor dat jy jouself moet afskei van dwaalleraars en ongelowiges. Let wel dat dit nie teenstrydig met die sendingopdrag is nie. Dit is spesifiek van toepassing op mense wat hulleself verhard en nie die Evangelie wil aanneem nie of ’n verdraaiing van die Evangelie aanhang.

1 Korintiërs 5:9-12

(11)…julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12)…“Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

2 Johannes 1:7,9-11 (kyk ook kommentaar)

(10)As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, (11)want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

1 Korintiërs 15:33

(33)Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

Matteus 10:14

(14)As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.

Matteus 10:34-39

(34)“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring “ ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; (36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’ (37)“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. (39)“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Matteus 18:15-17

(17)En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

Handelinge 2:40

(40)Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”

Handelinge 18:5-6

(5)Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. (6)Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.”

Romeine 16:17-18

(17)… Pas op vir dié wat … die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. (18)Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, …

2 Korintiërs 6:14,16

(14)Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?

(17)Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem,

Efesiërs 5:6-7

(6)Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, … (7)Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

1 Timoteus 6:5 (AOV)

(5)nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.

2 Timoteus 2:19

(19)… “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.”

2 Timoteus 3:5-9,16

(5)Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.

Openbaring 18:4

(4)… “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.

Skeuring van die Ryk

In 1 Konings 12:21‭-‬24 staan die volgende:

(21)Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen. (22)Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: (23)“Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk: (24)So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!” Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het.

(Kyk ook 2 Kronieke 11:1-4)

Hier sê God dat die Skeuring van die Ryk van Hom af kom (omdat Salomo Hom verlaat het – 1 Kon 11:9-13) en dat Rehabeam nie moet probeer om dit ongedaan te maak nie.

Handelinge 15:36-41

… (37)Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. (38)Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. (39)Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. …

Hier skei Paulus en Barnabas se paaie oor ’n baie geringer saak as dwaallering.

5. Bly in die kerk om jou profetiese stem te behou

Party mense is teen kerkskeuring gekant omdat jy jou profetiese stem binne jou denominasie sal verloor indien jy skeur. Daar is egter twee dinge om in gedagte te hou:

1. Het jy regtig meer geleentheid deur in die kerk te bly?

Natuurlik kan jy Chinese meer effektief bereik as jy fisies in China bly, maar dink vir ’n oomblik aan die praktiese implikasie in jou kerk: Hoeveel kontak het jy tans met ander gemeentes in jou kerk denominasie? Kan jy daardie gemeentes nie net so effektief van buite jou denominasie bereik nie?

2. Het jou kerk nie alreeds genoeg geleentheid gehad om te hoor nie?

Die vraag is: hoeveel is genoeg? Daar is twee uiterstes waarteen gewaak moet word:

  1. Om te vinnig te onttrek. Jy kan natuurlik nie sommer met die eerste gerug van dwaalleer jou denominasie verlaat nie. As jy lief is vir jou kerk sal jy seker maak dat jy die kerk ’n redelike kans gee om om te draai.
  2. Om so optimisties te wees dat jy niks doen nie. Daar is mense wat bloot redeneer dat alles moontlik is met God omdat Hy almagtig is (Filippense 4:13). Dit is natuurlik waar, maar as jy nie ’n pertinente belofte van God oor iets gekry het nie, dan moet jy versigtig wees vir hierdie argument. Dit kan selfs as verskoning voorgehou word om passief te bly. Dit neig ook na voorspoedsteologie – om beloftes uit die Bybel buite konteks te neem en vir jouself op te eien.

Matteus 10:14 moet in ag geneem word: “…as hulle nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.” Jesus het nie aan sy dissipels gesê dat hulle moet glo en volhard totdat mense tot inkeer kom nie. Daar kom ’n punt waar jy nie meer as profeet moet optree nie.

Hier is egter baie wysheid nodig.

6 Wag tot jy verban word

Daar is mense wat redeneer dat jy nie uit jou eie uit die kerk moet gaan nie, maar dat jy moet bly getuig totdat jy uitgegooi word. Hulle gebruik die volgende verse:

  • Johannes 9: Hier lees ons van ’n blinde man wat Jesus genees het en uit die sinagoge geban is omdat hy besluit het om Jesus te verdedig.
  • Johannes 12: (42)Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; (43)want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.

Dit is egter tog voor die handliggend dat hierdie verse nie so in isolasie gebruik kan word nie. Paulus, byvoorbeeld, het nie die Christene aangemoedig om in die sinagoge te bly nie. Christene het immers in hulle eie gemeentes bymekaar gekom en Jode van buite die sinagoge probeer oortuig om tot bekering te kom.

Om te redeneer dat jy nie self die kerk mag verlaat nie, maar dat jy moet wag tot jy verban word sou kon vergelyk word met die volgende:

Veronderstel ’n man verneuk en mishandel sy vrou, maar hy het geen behoefte om van haar te skei nie, moet sy dan wag totdat hý besluit om te skei? Natuurlik nie.

En dan kan ’n mens natuurlik weer Matteus 10:14 gebruik wat sê dat jy op ’n stadium die stof van jou voete moet afskud.

7 Individue wat die kerk verlaat

Sou mense wat glo dat kerkskeuring verkeerd is ook glo dat Christene nie van een denominasie na ’n ander denominasie mag oorgaan nie? Ek glo nie so nie, want dan beteken dit dat alle gelowiges vir hulle hele lewe vasgevang is in die denominasie waarin hulle gebore is.

Hoekom sou dit dan verkeerd wees as ’n groep mense of ’n hele gemeente hulle denominasie verlaat?

8 Kerkdenominasies is mensgemaakte strukture

Daar is mense wat beweer dat hulle kerkdenominasie die “Kerk van God” is en omdat God sy Kerk in stand hou, sal God ook hulle kerkdenominasie in stand hou deur die dwaalleraars te verwyder.

Dit is egter nie korrek nie. So min soos die “Kerk van God” ’n gebou is, so min is ’n kerkdenominasie die “Kerk van God”.

Matteus 12 vertel die volgende:

(46)Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat. (47)Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.” (48)Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?” (49)Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê: (50)“Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

Jesus wil hier sê dat ons ware familie nie deur bloed bepaal word nie, maar dat dit ons medegelowiges is. Net so is die Kerk van God al die medegelowiges. Dit is ’n liggaam van gelowiges wat in Christus verenig is. Kyk ook Wat is die Kerk van God?.

‘n Kerkdenominasie is bloot ’n oorhoofse struktuur waaraan gemeentes behoort wat dieselfde teologiese sieninge het. Dit sal nie sin maak as verskillende gemeentes binne ’n kerkdenominasie wyd uiteenlopende teologiese sieninge oor kernsake het nie. As oordrewe voorbeeld sou mens kon redeneer dat alle gemeentes dan net sowel deel moet word van die Wêreldraad van Kerke en dat elke gemeente die ruimte het om sy eie oortuiginge uit te leef.

Verder was daar nooit kerkdenominasies in die Bybel nie. Daar was bloot gemeentes. As jy dit in ag neem, sê die Bybel eintlik niks oor kerkskeuring nie.

Daarom is Christene dit eens dat elke gemeente volledig kerk is. Dit is nie die denominasie waaraan jy behoort wat bepaal of jy kerk is nie. As elke gemeente volledig kerk is, dan staan dit gemeentes seker ook vry om self te besluit met wie hulle hulself wil assosieer.

Sommiges mense wil gemeentes se verhouding met die denominasie waarin hulle is vergelyk met ’n huwelik tussen ’n man en vrou. Daar is heelwat ooreenkomstes, maar die groot verskil is dat die huwelik deur God ingestel is. ’n Kerk denominasie is nie deur God ingestel nie. Dit is ’n mensgemaakte struktuur. Geen lidmaat lê ’n belofte aan God af om getrou aan jou denominasie te wees, “tot die dood ons skei”, soos in die geval van ’n huwelik nie.

9 Nog kerke wat geskeur het

Kom ons kyk na kerke wat al geskeur het in die geskiedenis en beoordeel skeuring daarvolgens:

Eerste Konsilie van Nicea (325 nC)

‘n Mens sou kon redeneer dat die eerste groot kerkskeuring in die geskiedenis gebeur het na die Eerste Konsilie van Nicea in 325 nC. Tydens hierdie geleentheid het die kerk geskeur in die Katoliek-Ortodokse Christene en Arianisme.

Protestantse reformasie

Die protestantse reformasie was die skeuring met die Rooms-Katolieke kerk en is geïnisieer deur Martin Luther, Johannes Calvin en ander vroeë protestante.[1]

Op 3 Januarie 1521 is Luther amptelik deur die pous se Decet Romanum pontificem uit die Kerk geban.

Teen 1536 het Calvyn hom van die Rooms-Katolieke Kerk losgemaak.[2][3]

Reformed Church of America

Op 1 Januarie 2022 het 43 gemeentes van die Reformed Church of Amerika (RCA) geskeur om die Alliance of Reformed Churches (ARC) te vorm. Minstens 125 kerke van verskeie denominasies is tans in gesprek met ARC-leiers oor aansluiting.

Presbiteriaanse Kerk

Gresham Machen (1881–1937) het weggebreek van die Presbiteriaanse Kerk van Amerika (PCUSA) en het die Westminster Theological Seminary gestig.

Metodiste kerk

Kyk ‘True to its doctrine’: Conservatives plan for a new church after United Methodism splits over homosexuality debate (24 Apr 2021)

Anglikaanse kerk

Gafcon (Global Anglican Future Conference) is gestig na aanleiding van dwaalleer in die Anglikaanse kerk. Kyk www.gafcon.org.

Church of England

Peter Sanlon het weggebreek van die Church of England nadat hulle ’n transgender liturgie goedgekeur het in Desember 2018.

Predikante in die NG Kerk wat onafhanklike kerke begin het

10 Is jy bereid om jou geliefde kerk op te offer?

Christene moet die vraag aan hulleself vra: is hulle bereid om die kerk, waarvoor hulle oor baie jare lief geraak het, vir God terug te gee, soos Abraham bereid was om vir Isak te offer?

Die antwoord behoort “ja” te wees.

11 Verdere leeswerk

12 Voetnotas

[1] Kyk Discontent with the Roman Catholic Church (“The Protestant Reformation was the schism within Western Christianity initiated by Martin Luther, John Calvin, and other early Protestants.”)

[2] Kyk Johannes Calvyn (“Calvyn het … omstreeks 1530 die bande met die Rooms-Katolieke Kerk gebreek.”)

[3] Kyk John Calvin. The man behind the name (“By 1536, Calvin had disengaged himself from the Roman Catholic Church”)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui