Só word afgevaardigdes by Algemene Sinode saamgestel

Die algemene sinode van 2019 was nog ’n verkleinde sinode wat uit 200 afgevaardigdes bestaan het. Tydens AS2019 is egter weer besluit om terug te keer na die normale grootte van 400 afgevaardigdes (artikel 38 van die kerkorde is dus verander). AS2023 sal dus weer uit 400 afgevaardiges bestaan.

Vir die NG Kerk se kerkordes, kyk ngkerk.net/dokumente of kerkargief.co.za/acta.

*******

Só word afgevaardigdes by Algemene Sinode saamgestel | Kerkbode

22 Augustus 2019

Conette le Roux

Die volgende sitting van die Algemene Sinode vind van 6 tot 11 Oktober 2019 in Benoni by die Emseni-konferensie­sentrum plaas. Die afgevaardigdes sal uit drie groe­pe – leraars, kerkraads­lede en jeugwaarnemers – bestaan.

Die grootste enkele demografiese groep is mans ouer as 60 wat uit sowat 60 kerkraads­lede en 76 leraars bestaan. Vanjaar sal 18 pre­di­­kante en 21 kerkraadslede vroue wees. Die vroulike verteenwoordiging het meer as 50% verbetering getoon as jy dit met die Algemene Sinode in 2015 vergelyk, het dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, by navraag oor die samestelling aan Kerkbode verduidelik.

In 2015 het die vroulike afgevaardig­des uit tien predikante en 14 kerk­raadslede bestaan.

“Ons moet nog baie doen om die gender- en generasiebalans reg te kry, maar ten minste maak ons vordering,” het Claassen gesê.

Die derde groep is “jeugwaarne­mers” onder die ouderdom van 35 waar­­van vyf mans en agt vroue is. Claas­­sen verduidelik: “Die jeugwaar­ne­mers gaan saam aan die tafels aan bespre­kings deelneem. Alhoewel hulle nie kan stem nie, verteenwoordig hulle ’n jonger stem in gesprekke aan tafels.”

Wie kies afgevaardigdes?

Die helfte van die 200 afgevaardigdes moet kerkraadslede wees, terwyl die ander helfte predikante is. Streeksinodes bepaal self wie hulle na die algemene sinode stuur.

“Wanneer die sinodes die kommunikasie kry van hulle aantal afge­vaardigdes (wat deur Artikel 38 in die Kerkorde bepaal word) wat hulle mag stuur, besluit hulle self wie hulle afgevaardigdes gaan wees. Daar is geen voorskrif vir hoe die afgevaardigdes aangewys moet word nie,” sê dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode.

Ungerer sê hy vermoed die mees­te sinodes kies hulle afgevaardigdes só:

  • Gewoonlik sluit dit die leierskap van die betrokke sinode (bv die voor­­sitter/moderator, ondervoorsit­ter ens) in.
  • Dit is verteenwoordigend uit die streek, bv elke ring het ’n verteen­woor­diger.
  • Indien daar nog afgevaardig moet word, is dit gewoonlik rondom kundigheid, bv persone wat betrokke is by algemene sinodale werk.

Bylaag: Artikel 38

Artikel 38 volgens die Kerkorde van 2015:

38.1 Die Algemene Sinode bestaan uit ’n maksimum van 200 afgevaardigdes wat saamgestel word uit ’n gelyke aantal predikante en ouderlinge/diakens van die sinodes.

38.1.1 Die eerste 100 afgevaardigdes word uit 10 persone per sinode saamgestel.

38.1.2 Die oorblywende 100 word proporsioneel volgens die aantal belydende lidmate van die sinodes saamgestel.

38.2 Die teologiese opleiding word in adviserende hoedanigheid verteenwoordig deur ’n NG dosent van elk van die teologiese fakulteite van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein.

38.3 Elke afvaardiging moet van ’n geloofsbrief voorsien wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui