Dit help nie om die Algemene Sinode te blameer nie

Die volgende brief is op 28 April 2023 aan Netwerk24 gestuur. Dit is toe op 17 Mei 2023 in Beeld geplaas met die titel KN vee alles voor AS se deur.

*******

Dit help nie om die Algemene Sinode te blameer nie

Daniel Louw

1 Mei 2023

Dit is ironies dat Ds Theo Danzfuss van die Kairos Netwerk (KN) skryf (25.04) dat die NG Kerk se algemene sinode (AS) moet ontbind terwyl KN self hulle eie Koinonia Sinode beplan vir volgende week (3-4 Mei).

Ek weet nie hoe KN, wat ongeveer 10% van die NGK uitmaak, dit sal regkry om die AS te laat ontbind nie, maar dit daar gelaat.

Enige organisasie het ‘n topstruktuur nodig om te verseker dat almal binne die organisasie belyn is en dieselfde doel nastreef. Dit geld ook vir kerke.

‘n Mens kry die indruk dat KN die AS blameer vir al die teologiese probleme in die NGK – asof die AS ‘n spesifieke groep mense is. Die AS bestaan egter uit afgevaardigdes van reg oor die land. Tydens elke AS-sitting is daar ander afgevaardigdes wat bywoon. Dit word juis so gedoen sodat die AS die hele NGK so goed moontlik verteenwoordig. Alhoewel sommiges dit ontken, sou mens kon sê dat die AS die NGK is. Die probleem lê nie by die struktuur van die NGK nie, maar by die standpunte van afgevaardigdes. Dus is dit onduidelik hoe die ontbinding van die AS vir behoudendes in die NGK ‘n oplossing sou bied. Sonder ‘n AS bly behoudendes steeds deel van die NGK met gemeentes wat byvoorbeeld selfdegeslaghuwelike voltrek. En sou die AS ontbind, verloor behoudendes alle invloed op die res van die NGK. Om dan van binne te hervorm is nie meer ‘n opsie nie.

Daar kan nie totaal uiteenlopende teologiese sieninge binne een denominasie wees nie. Dit is daarom dat almal in een denominasie gewoonlik dieselfde teologiese opleiding ontvang. KN is egter reeds besig om alternatiewe teologiese opleiding te ondersoek terwyl die res van die NGK baie tevrede is met die huidige teologiese opleiding.

Die vraag is hoekom behoudendes ten alle koste in die NGK sou wou bly as daar feitlik geen gedeelde belange meer is nie?

1 thought on “Dit help nie om die Algemene Sinode te blameer nie”

  1. – Organisasies verskil. Dit hang dus af van die natuur van die topstruktuur en of die huidige model van die AS Skriftuurlik is (dit wil nie so blyk nie).
    – Alhoewel die AS-sitting self bestaan uit afgevaardigdes, is die aantal afgevaardigdes wat uitgenooi word oor die jare drasties verminder onder die vaandel van geldbesparing. Of dit egter ‘n strategiese skuif was van ‘n sekere magsgroep binne die NGK om stemme te beïnvloed is ‘n ope vraag.
    – Die gemiddelde behoudende leraar is besig met versorging van die kudde, voorbereiding vir preke en ander Bybelstudies, huisbesoeke, ens.
    Daar is egter baie vals leraars wat meer geïnteresseerd is in administratiewe en ander magsposisies op sinodale vlak, taakspanne, ens. wat op die ou end groot invloed uitoefen op die AS, maar ook op die geografiese (sub) sinodes.
    – Sonder die AS is daar een vlak minder magstruktuur oor die sub-sinodes. Die Koinonia Sinode sal ook toelaat dat gemeentes van ander sub-sinodes deel kan word van die Koinonia Sinode waar daar meer eenheid in waarheid is.

    – Ek stem egter saam dat diegene wat onder die Koinonia Sinode vergader nie langer die pad saam met die AS kan stap nie en doelbewus onder die vals kerk moet uitgaan. Dit maak nie sin om aan te hou vasklou aan wat deesdae bloot ‘n kulturele-welsynsorganisasie is nie. Inteendeel dit doen skade aan Christus se kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui