NGK-sinode moet eerder aftrede oorweeg

Kyk Dit help nie om algemene sinode te ontbind (18 Mei 2022) waarin ek kommentaar lewer oor hierdie brief.

Kyk ook kommentaar onderaan.

*******

NGK-sinode moet eerder aftrede oorweeg | Netwerk24

Dr. Dawie Botes, Ng Kerk Welkom-Wes

16 Mei 2022

Dit is ’n groot mylpaal vir die algemene sinode van die NG Kerk om 60 jaar oud te word. Maar hoe oordeel die nuwe veranderende wêreld oor die sinode?

Tans word mag oral afgewend; ’n mens hoor die woord “federalisme” al hoe meer. Die woord “ontbondeling” is amper ’n modewoord. Die ANC klou ten alle koste vas aan mag. Outoritêre mag en gesentraliseerde mag is nie meer “in” nie, maar deel van die verlede. Al hoe meer streeksinodes brom oor die algemene sinode se mag.

Die algemene sinode kos lidmate etlike miljoene rande per jaar. Dit is ’n duur ou liggaam om in stand te hou.

Is dit reg dat in die algemene sinode net 193 lidmate namens sowat 700 000 lidmate kan besluit?

Namibië het in beginsel besluit sy heil lê nie by die algemene sinode nie. Die Vrystaat moet vanjaar besluit oor bly of gly.

Maar die algemene sinode klou verbete aan mag.

Om ná 60 jaar sommer net oor te gee is sekerlik nie maklik nie, Covid-19 het geleer ons moet verander of ons gaan tot niet.

Dalk is dit tyd vir die kolossale en lomp ou liggaam om te dink aan aftrede. Die krake raak al hoe meer. Hy het oor die jare heen verweer en uit pas geraak met die samelewing.

Gaan hy nog 60 jaar oorleef?

Net die tyd sal leer.

Kommentaar

In ’n baie goedbewoorde brief vra Dawie Botes of dit nie tyd is dat die NG Kerk se algemene sinode ontbind nie en dat die NG Kerk eerder ’n federale sisteem aanvaar nie. Dit is na aanleiding van die on-Bybelse besluite wat die algemene sinode die afgelope paar jaar geneem het (kyk Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite).

Federalisme is ’n politieke sisteem waar mag verdeel word tussen die sentrale regering en die verskillende state of provinsies. Amerika is ’n voorbeeld van ’n land met ’n federale sisteem: Die verskillende state in Amerika het die vryheid om in ’n groot mate hulle eie beleid saam te stel oor byvoorbeeld doodstraf, aborsie, ens. Die sentrale regering besig steeds die hoogste gesag, maar sal slegs in uitsonderlike gevalle ingryp of besluite op state afdwing.

Die vraag is egter of die ontbinding van die AS of federalisme ’n oplossing sal bied vir behoudendes.

Sinodes binne een denominasie kan nie wyd uiteenlopende sieninge oor kernsake hê nie. Dit sou nie sin maak nie. Dit is juis wat denominasies van mekaar skei – hulle verskillende teologiese uitgangspunte. Om ’n voorbeeld te noem: Almal is dit eens dat gemeentes volledig kerk is. Sekere gemeentes binne die NG Kerk kan egter nie besluit om die kinderdoop te vervang met die grootdoop nie. Die grootdoop is nie in lyn met die belydenis van die NG Kerk nie. Daar moet dus ’n liggaam wees om seker te maak dat almal oor die kernsake saamstem. Hierdie liggaam is die algemene sinode.

Om terug te kom na Dawie se vraag: “Is dit reg dat in die algemene sinode net 193 lidmate namens sowat 700 000 lidmate kan besluit?”

Die antwoord is “ja”.

Daar is niks fout met die NG Kerk se struktuur nie. Teoreties word almal verteenwoordig:

  • Gemeentelede word deur kerkraadslede verteenwoordig by die gemeente se kerkraadsvergaderings.
  • Gemeentes word deur predikante en afgevaardigde kerkraadslede verteenwoordig by streeksinodes.
  • Streeksinodes word deur afgevaardigdes verteenwoordig by die algemene sinode.

Mens sou kon debateer of ’n verkleinde sinode wat bestaan uit 200 lede groot genoeg is en ’n mens sou kon teruggaan na 400 lede, maar dit sou onprakties en duur wees om algemene sinodes nog groter te maak.

Die probleem in die NG Kerk is die feit dat die tydsgees die kerk te diep geïnfiltreer het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui