2016 NGK Homoseksuele besluit

Kyk ook:

Verlede jaar het die NG Kerk se Algemene Sinode besluit om ruimte te maak vir homoseksualiteit (kyk 2015 NGK homoseksuele besluit). Hierdie besluit is sterk deur die drie teologiese fakulteite gesteun (kyk NG teologiese skole progay).

Dit het egter ’n reuse herrie veroorsaak. Heelwat gemeentes het in reaksie op die besluit standpunt ingeneem teen die besluit (kyk NG gemeentes teen 2015 gaybesluit).

Toe die notule van die Algemene Sinode egter uitgereik is, is daar besluit om dit op ys geplaas (kyk NG Kerk: Gays sal moet wag).

Die gay-gemeenskap het dit egter so aanvaar nie, en het groot druk op die NG Kerk geplaas om die besluit deur te voer (kyk 65 maak beswaar teen bevriesing van gay besluit en Gay-huwelike: NGK-lidmate dreig met hof en ASM moet besluit oor appèlle).

Aanvanklik het dit gelyk of die besluit weer bekragtig is (kyk NGK herstel alle regte vir gays in die kerk), maar daar is op die ou einde besluit om in November 2016 ’n spesiale sinode te reël om hierdie kwessie weer te bespreek.

Hier volg ’n lys van al die beswaarskrifte: NGK 2016 sinode: lys van beswaarskrifte

Volgens berigte (Appèlle slaag teen 2015-besluite en NG Kerk sê nee vir gayverhoudings) het die spesiale sinode die 2015 besluit omgedraai. Dit is egter so versigtig opgestel dat is mens wonder.

Die kruks is waarskynlik punt 4.4:

4.4. herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.

Maar dan word daar ook gesê:

4.7 bevestig dat Kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.

Hoe dit ookal sy, die vraag word steeds gevra: Kan die NGK omdraai?

Hier volg die besluit met kommentaar in [rooibruin hakies] tussenin:

****************

2016 NGK homoseksuele besluit

2016 NGK homoseksuele besluit

1. Die Algemene Sinode besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie. [Kommentaar: Dus is dit belangriker waarvan mense oortuig is as wat die Bybel sê.]

2. Die Algemene Sinode

2.1. herbevestig haar verbintenis aan die besluite van die Algemene Sinode van 2011 oor Skrifbeskouing, Skrifgesag, Hermeneutiek en Skrifuitleg.

“1. Die Algemene Sinode herbevestig die verklaring Skrifgebruik en Skrifgesag, soos aanvaar by die Sinode van 2004, as ’n eenvoudige en prinsipiële samevatting van die NG Kerk se Skrifbeskouing.

2. Die Algemene Sinode wys daarop dat vir ’n meer volledige uiteensetting van die saak, die verslae soos goedgekeur in 1986 (getiteld Skrifgebruik en Skrifgesag), 1990 (Skrifberoep in Etiese Sake) en 2002 (Gesag van die Skrif) hiermee saam gelees behoort te word.”

(Vgl.: Notule Algemene Sinode 2011, bladsy 91)

2.2. wys die Algemene Sinode daarop dat die amptelike besluite van die Algemene Sinode oor Skrifgebruik en Skrifgesag nie gewysig is nie en steeds die geldende standpunt van die Algemene Sinode is.

3. Die Algemene Sinode bely

3.1. dat ons altyd soekend moet bly na die waarheid van die evangelie tussen veelvuldige stemme en in ’n stukkende wêreld.

[Kommentaar: Dit klink baie vroom en nederig. As Jesus egter vandag op aarde was en daar aan Hom raad gevra sou word oor hierdie kwessie, is ek seker Hy sou antwoord met: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?” (Lukas 10:26)]

3.2. dat gelowiges met diep oortuigings oor selfdegeslagverhoudings dikwels van mekaar verskil, en daarom moet hierdie soeke in ’n gees van luister, sensitiwiteit, smeking, dringendheid en verantwoordelikheid benader word, wagtend op die leiding van die Heilige Gees.

[Kommentaar: Die Bybel leer ons ’n heeltemal ander benadering oor dwaling. Kyk Die Bybel oor dwaling en Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade.]

3.3. dat almal betrokke by die verskillende vertolkings erns maak met die Skrif en dat daar by almal ’n opregte begeerte is om God se wil te soek.

[Kommentaar: Hierdie is moeilik om te glo…]

3.4. dat die kerk die plek is waar almal omarm en die genade van Christus ontdek moet word.

[Kommentaar: Dit is nie waar nie. RC Sproul sê: “Die prediker wat sagmoedig van sy preekstoel af glimlag en ons verseker dat “God ons aanvaar net soos ons is” vertel ’n reusagtige leuen. Hy beklee die evangelie van die liefde met goedkoop genade. God aanvaar egter nie arrogansie nie; Hy draai Sy rug na die onbekeerlike. Hy handhaaf liefde teenoor sy gevalle wesens en nooi hulle terug om die verhouding te herstel, maar daar is duidelike voorwaardes: ons moet met gebuigde knie kom.” (uit Aanhalings – Geloofskwessies)

Kyk ook die Bybel oor sonde.]

4. Die Algemene Sinode

4.1. beklemtoon dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar inteendeel dat met respek en liefde teenoor alle mense opgetree moet word. Ons erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind onsself opnuut tot die bevordering van die Godgegewe waardigheid van alle mense.

[Kommentaar: Hierdie is humanistiese woorde.]

4.2. roep alle lidmate en ampsdraers op om, ongeag seksuele oriëntasie, mekaar met die liefde van Christus te aanvaar.

[Kommentaar: Soos reeds gesê, vergelyk hierdie stelling met ’n Bybelse benadering: Die Bybel oor dwaling.]

4.3. vra onvoorwaardelik vergiffenis waar persone met ’n homoseksuele oriëntasie nie soos hierbo behandel is nie

4.4. herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.

[Kommentaar: Dit word tog so sag as moontlik gestel: “Christelike riglyne” Wat moet ’n mens nou daaruit aflei? Is dit sonde as mens van hierdie Christelike riglyne sou afwyk, of is dit net riglyne? Daar is net een rede vir hierdie tipe bewoording: die opstellers hiervan glo nie dat ’n selfdegeslagverhouding sonde is nie.

Wat sou die waarde van laasgenoemde stelling wees? Dit is net so goed om te sê: “Ons bevestig dat ’n mens slegs redding deur Jesus verkry, maar ons erken dat daar ateïste en mense van ander gelowe is wat goeie mense is en ’n hoë morele lewenswyse nastreef.” Dit help niks nie. Hulle is op dieselfde verkeerde pad as ’n massamoordenaar.]

4.5. bevestig dat die gesin as hoeksteen in ’n Christelike gemeenskap beskou word.

[Kommentaar: Uiteindelik iets waarmee ’n mens kan saamstem.]

4.6. is oortuig dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk.

[Kommentaar: Kan ’n mens dus aflei dat homoseks sonde is en dat lidmate wat in ’n homoseksuele verhouding is onder sensuur geplaas kan word? Of nie?]

4.7 bevestig dat Kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.

[Kommentaar: Wat sou die doel van hierdie stelling wees? Mag Kerkrade dus besluit om lidmate wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in ’n leiersposisie te gebruik?]

4.8 besluit dat dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone, ongeag seksuele oriëntasie.

4.9 besluit dat dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone, ongeag seksuele oriëntasie.

Die formulering van bogenoemde besluit, soos die gedeelte van die notule wat nog nie goedgekeur is nie, is onderhewig aan die goedkeuring van die moderamen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui