Staak sinodes, oorweeg jaarkonferensies

Kyk ook:

Ben Erasmus skryf in ’n brief aan Kerkbode hieronder:

“Die tyd het aangebreek dat die sinodes kan voortbestaan vir watter doel ookal, maar nie meer as “parlement” vir die kerk kan dien nie. Daar moet ander strukture oorweeg word waar lidmate, die “eienaars” van hulle gemeentes en die kerk, besluite kan neem.”

‘n Mens hoor by Ben ’n ontsteltenis van wat in die NG Kerk gebeur en ’n mens kan daarmee saamstem. Die feit is egter dat dit in ’n baie groot mate reeds die geval is dat die sinode nie as “parlement” vir die kerk dien nie. Gemeentes doen in elkgeval net wat hulle wil en laat hulle nie deur die Algemene Sinode voorskryf nie.

Voor die 2019-besluit al, in ’n tyd toe die NG Kerk nog nie ruimte gemaak het vir homoseksualiteit nie, het twee gemeentes in die Kaap predikante aangestel wat homoseksueel was:

  • Op 17 Februarie 2019 is Louis van der Riet in Parkegemeente in Kraaifontein bevestig.
  • Op 14 Julie 2019 is Philipp Dietmann, op daardie stadium “getroud” met Floris Hanekom, in NG gemeente Stellenberg bevestig.

Hierdie het gebeur nie net met die medewete van die moderator nie, maar met die seën van die moderator.

Met die 2019-besluit oor homoseksualiteit is aan gemeentes wat wil ruimte gegee om homoseksuele huwelike te bevestig.

Die NG Kerk se duiwelbesluit was die dieselfde: in 2011 het die Algemene Sinode besluit om ruimte te maak vir mense wat nie in die duiwel wil glo nie.

Om nou sinodesittings met konferensies te vervang, gaan nie help nie, want hoe besluit jy wie die konferensies reël en wat aangebied word?

Skeuring/losmaking lyk ongelukkig om die enigste langtermynoplossing te wees.

In die kort termyn is doleansie die beste oplossing. Tans is daar reeds 19 gemeentes wat doleer. Dit sal baie sin maak as dolerende gemeentes hulle eie konferensies reël.

Kyk ook Dit help nie om algemene sinode te ontbind (18 Mei 2022)

*********

Staak sinodes, oorweeg jaarkonferensies | Kerkbode

7 Mei 2020, Ben Erasmus, Briewe

Hierdie is ’n lesersbrief. Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ben Erasmus van Groot-Brakrivier skryf:

Dit is met groot hartseer, skaamte en teleurstelling dat ek al die berigte van kerkskeuring in Kerkbode lees. Ek wonder wat God dink as Hy hierdie fiasko in sy kerk aanskou. Die kerk is sy bruid. Dit is sy liggaam. Ons is tans besig om alles te vernietig. Sy liefde, sy kruisdood, sy enorme verdraagsaamheid, sy bruid, sy liggaam.

As ek al die berigte van groot vergaderings lees en wie wat kwyt raak en die opinies wat gelewer word deur hoofsaaklik predikante, dan weet ek net iets is besig om drasties te versleg.

Alles in oënskou geneem, is ek van mening dat die teokrasie waarbinne die kerk beheer, bestuur en regeer word nou beslis uitgedien is. Die tyd het aangebreek dat die sinodes kan voortbestaan vir watter doel ookal, maar nie meer as “parlement” vir die kerk kan dien nie. Daar moet ander strukture oorweeg word waar lidmate, die “eienaars” van hulle gemeentes en die kerk, besluite kan neem. Die enorme bedrae waarmee gemeentes deur die sinode belas word, kan ook drasties afgeskaal of selfs gestaak word.

’n Jaarlikse konferensie van NG gemeentes, kan oorweeg word. Hierheen kan elke gemeente twee afgevaardiges stuur, maar nie predikante nie. Brandende sake kan hier gedebateer word nadat kundiges, maar nie noodwendig predikante nie, die konferensie oor sodanige sake toegelig het. Daar kan dan rigtinggewende besluite, maar nie bindende besluite nie, geneem word. Dit is maar een gedagte.

Wat vir my soos ’n paal bo water staan is dat die moord op God se bruid nou einde moet kry. Ons is weer op Golgota, maar nie as God se kinders nie, as die hoëpriesters, skrifgeleerdes en soldate. Amen.

2 thoughts on “Staak sinodes, oorweeg jaarkonferensies”

  1. Ben is ’n lidmaat wat dink. Dit sal wonderlik wees as nog lidmate soos hy verder dink en tot aksie oorgaan.

  2. Hier is iets oor die geskiedenis van “sinodes” in die NGK (aan die einde is ’n skakel waar hierdie uittreksel vandaan kom): “Aanvanklik was die Kaapse Sinode die enigste sinode van die NG Kerk. Maar as gevolg van verskeie redes ontstaan daar al meer sinodes buite die Kaapkolonie. So kry die Oranje-Vrystaat ’n eie sinode in 1864, Natal in 1865 en Transvaal in 1853. Pogings tot vereniging van die sinodes het na Uniewording in 1910 misluk, maar in 1962 is hierdie pogings uiteindelik suksesvol met die totstandkoming van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Oor die jare is ook pogings aangewend om vereniging tussen die NG Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika tot stand te bring. Met verloop van tyd het daar vanuit die NG Kerk die Familie van NG Kerke ontstaan met die totstandkoming van die NG Kerk in Afrika (NGKA), die NG Sendingkerk (hierdie kerke het in 1986 verening tot die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika – VGKSA) en die Reformed Church in Africa (RCA). Sedert 1994 het die momentum om hierdie kerke van die kerkfamilie met mekaar te vereniging nuwe momemtum gekry. Hierdie kerkherenigingsproses is tans ’n hoë prioriteit binne die NG Kerkfamilie.”
    https://ngkerk.net/geskiedenis/

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui