Gesprek oor evolusie 2014

Die volgende gesprek oor evolusie het op 23 Februarie 2014 plaasgevind tussen my en ’n mede Christen, vir wie ek baie respek het. Hy is voltyds in diens van die Here en hy doen baie goeie werk. Baie kort na ons gesprek het ek dit opgeskryf soos ek dit onthou. Die volgorde van die gesprek is hoogs waarskynlik nie 100% akkuraat nie, maar die inhoud behoort baie akkuraat te wees. Die dele in [bruin blokhakies] is addisionele kommentaar wat ek nie tydens ons gesprek gesê het nie.

Dit wys hoedat goedgelowige Christene nie die implikasie besef daarvan om die nie-Bybelse evolusieteorie te aanvaar nie en daarom nie genoeg navorsing daaroor doen voor ’n opinie daaroor gevorm word nie.

*************

Hy het die gesprek begin deur te vra hoekom ek so teen evolusie gekant is en bygesê dat ’n mens evolusie baie mooi moet definieer. Ek het hom vertel wat die verskil tussen mikro- en makro-evolusie is [kyk Hoe evolusie werk en hoekom dit nie werk nie] en dat skeppingsleerders nie ’n probleem met mikro-evolusie (of natuurlike seleksie) het nie. Vir mikro-evolusie het ek die voorbeeld genoem van swaeltjies wat naby aan ’n hoofweg nes gemaak het. Wetenskaplikes het gevind dat hierdie swaeltjies se vlerke korter was as ander swaeltjies omdat die swaeltjies met lank vlerke waarskynlik deur karre doodgery is omdat hulle nie so rats soos swaeltjies met korter vlerke was nie. (Kyk Traffic clips wings.) Swaeltjies sal egter swaeltjies bly. Makro-evolusie beweer dat ’n vis ’n reptiel geword het met tyd.

Hy sê toe dat God mos evolusie kon gebruik het om te skep. Ek sê toe dat dit nie is wat in Genesis 1 staan nie. Daaroor het hy gesê dat ’n mens nie Genesis 1 letterlik moet interpreteer nie en dat daar verskillende skeppingsverhale in die Bybel is, onder andere in Job. [Ek het hiervoor gaan soek op die internet en die volgende gekry van Hugh Ross: The Major Biblical Creation Texts/Creation Accounts. Let egter daarop dat Hugh Ross lang tydperke met die Bybel wil versoen. Vir meer oor hom, soek vir “Hugh Ross” op www.creation.com.] Ek het hom daarop gewys dat Genesis nie poësie is nie. Hebreeuse kenners, soos James Barr bevestig dit [kyk Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word?]. Ek het hom ook gevra: veronderstel ’n mens gee ’n Bybel vir iemand wat op ’n afgesonderde plek woon wat glad nie weet van teorieë oor die oorsprong van die aarde en die mens nie, tot watter gevolgtrekking sal so ’n persoon kom oor hoe God die aarde geskep het? Sy antwoord daarop was dat hy self in die verlede dinge in die Bybel anders geïnterpreteer het as vandag – soos ’n mens meer kennis opdoen, so verander jou interpretasie van die Bybel.

Hy het genoem dat dit baie duidelik is dat die aarde en veral die heelal baie miljoene jare oud is en dat daar baie goeie aanduidings is dat daar ’n oerknal gebeur het. Ek sê toe vir hom dat ek wel vir hom ’n antwoord oor die kosmologie het [kyk Ver-sterlig-jong-aarde-probleem], maar dat ek hom eers iets anders wil vra. Ek vra toe vir hom watter bewyse hy vandag sien vir evolusie? Hy antwoord toe en sê dat ’n man en vrou se kind anders as hulle lyk. (Hy het iets genoem van hoe die embrio groei.) Ek vra toe of ek reg gehoor het: die feit dat ’n kind anders lyk as sy ouers, is vir hom bewys dat ’n amoeba ’n mens kon word? Ek kan nie onthou presies wat hy daarop geantwoord het nie, maar ek dink hy op hierdie stadium na Adrio König en Louw Alberts verwys wat as gelowiges nie ’n probleem het om aan evolusie te glo nie.

[‘n Mens is baie dankbaar vir Adrio König se behoudende standpunte oor Jesus se opstanding (kyk Adrio König). Hy is egter nie in alle aspekte so behoudend nie: Hy glo eerstens dat God evolusie en lang tydperke gebruik het om te skep en tweedens glo hy nie dat homoseksualiteit noodwendig sonde is nie (kyk Neem die Bybel nóg ernstiger op oor gays). Ek was self ook per e-pos in gesprek met hom daaroor gewees.

Louw Alberts se siening is dat die Bybel sê dát God geskep het en dat die wetenskap sê hóé God geskep het. Kyk Om geloof en wetenskap te skei wat hierdie standpunt aanraak. Volgens sy seun, Albert Alberts, het sy pa eerder intelligente ontwerp aangehang, nie evolusie nie.]

Ek het toe afgestap van die punt en gevra hoe hy evolusie versoen met die feit dat daar volgens die Bybel geen dood voor die sondeval was nie: dinosourusse het na bewering 65 miljoen jaar gelede uitgesterf en daar is bewyse van kanker in die fossielrekord [kyk First-ever dinosaur brain tumour found]. Die sondeval het egter eers ongeveer 4004 vC plaasgevind. Dus was daar volgens evolusie dood en swaarkry lank voor die sondeval. Hy het geantwoord dat hy nog nie hierdie vraag gehoor het nie, maar maak dan die gevolgtrekking dat die sondeval gebeur het voor die dinosourusse uitgesterf het. Dus het die eerste mens volgens hom baie langer terug geleef – selfs langer terug as evolusietydlyne wat beweer dat die eerste mens ongeveer 200 000 jaar gelede geleef het. Ek het geantwoord dat hy dan al die geslagsregisters wat in baie detail opgeteken is, ignoreer [kyk Belangrike Bybelse datums]. Daarop het hy geantwoord dat die geslagsregisters slegs vir die Jode van daardie tyd geskryf is. [Die probleem hiermee is dat die bevolkingsaanwas dan glad nie sin maak nie – kyk Waar is al die mense? Hy gaan waarskynlik op ’n stadium sy opinie hieroor verander en redeneer dat dood nie noodwendig sleg is nie, soos sommige ander Christene wat aan ’n ou aarde glo. Dood voor die sondeval is egter duidelik teenstrydig met die Bybel – kyk Dood en swaarkry voor die sondeval.]

Oor die idee dat God ook evolusie en lank tydperke kon gebruik het om te geskep het ek Jacques Monod (‘n ateïs) aangehaal wat gesê het:

Onderhoudvoerder: … ’n mens kan begryp dat God ewekansigheid gebruik het net so lank daar die patroon was wat Hy ingestel het as die resultate van toevallige mutasies.
Jacques Monod: As jy dit wil aanvaar, het ek geen probleem daarmee nie, behalwe een (wat nie ’n wetenskaplike geskil is nie, maar ’n morele een). Naamlik, seleksie is die blindste, en wreedste manier om nuwe spesies in meer en meer kompleks en verfynde organismes te ontwikkel … Die stryd vir die lewe en die uitskakeling van die swakstes is ’n verskriklike proses waarteen ons hele moderne etiek in opstand is. ’n Ideale samelewing is ’n nie-selektiewe samelewing, is een waar die swakke beskerm word, wat presies die teenoorgestelde van die sogenaamde natuurlike wet is. Ek is verbaas dat ’n Christen hierdie idee sou verdedig dat dit die proses is wat God min of meer opgestel het om evolusie te hê.

[Kyk Aanhalings – Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?]

Ek het ook genoem dat baie mense hulle geloof verloor het oor evolusie [kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed]. Ek het spesifiek na Calvin Smith verwys wat sê dat hy maalvleis met Christene gemaak het op skool, want hulle wou met hom oor Jesus praat, maar hy wou met hulle oor Genesis praat [kyk Calvin Smith se getuienis]. Ek het ook verwys na Lita Cosner [kyk Response to gay marriage article objections; CMI shows questioner that Christian faith is logical]. Beide van hierdie mense besef baie duidelik uit eerstehandse ervaring hoe belangrik hierdie kwessie is en daarom is hulle vandag voltyds in diens van CMI. Ek kan nie onthou wat hy presies daarop gesê het nie, maar dit het hom nie beïndruk nie.

Op ’n stadium het hy erken dat hy nie die skepping vs evolusie onderwerp so goed ken nie en dat hy nie altyd saam kan gesels oor al die feite nie. Hy het gesê dat hy al probeer het om skeppingsmateriaal te lees, maar dit het hom verveel. Hy het ook gesê dat gesonde verstand (“common sense”) vir hom sê dat die aarde nie so jonk kan wees nie. Ek het toe gesê dat my gesonde verstand anders sê. Hy kon toe maar net glimlag.

Op ’n stadium het hy die gesprek gedraai en gesê dat hy ’n probleem daarmee het hoe mense mekaar kan bykom op die sosiale netwerke waar hulle nie andersins so met mekaar sou praat nie. Hy het Wynand Louw uitgesonder en gesê dat hy nie dink dat dit reg is dat Wynand vir Ben du Toit by sy ring aangegee het oor sy siening oor die duiwel nie. Hy sê dat ons baie mooi moet luister na wat mense sê en mense nie sommer net aanval nie. Hy voel dat ons meer vrede moet nastreef. Daarop het ek hom verwys na Matteus 10:

(34) Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35) Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; (36) ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’

[Kyk ook Die Bybel oor dwaling wat die Bybelse benadering was tot dwaalleraars.]

Hy sê toe dat as iemand duidelik verkeerde of dwalende dinge sê dan moet ’n mens hulle daaroor aanvat. Ek het vir hom daarop gewys dat die duiwel nie so werk nie en hom verwys na die analogie van die padda in die bak warm water. (‘n Padda wat in ’n warm bak water gegooi word, sal vinnig uitspring. As jy egter die water stadig warm maak, sal die padda nie uitspring nie en sal dood kook.) [Dit kom ook neer op wat Charles Spurgeon gesê het: “Onderskeidingsvermoë is nie die vermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd nie. Dit is eerder om te onderskei tussen reg en amper reg.” – kyk Aanhalings – Geloofskwessies.]

Hy sê dat Adrio König blykbaar ook die siening het dat die mens se siening oor Satan deur die Bybel ontwikkel het. Daarop wou hy sinspeel dat dit moontlik is wat Ben du Toit bedoel met sy idees oor Satan. Hy het ook iets gesê dat König van opinie is dat die Satan waarvan ons lees in Job waarskynlik nie die duiwel was nie. [Die woord “Satan” beteken teenstaander. Daarom redeneer sommiges dat dit enige teenstaander was. Vir meer oor hierdie siening, kyk ATLAS AS 2011 Bediening van bevryding (meer spesifiek van paragraaf 3.2 tot 4.1) wat aan die sinode voorgehou is wat daartoe gelei het dat die NG Kerk besluit het om ruimte te maak vir mense wat nie aan die duiwel wil glo nie. Vir die sinodebesluit, kyk Terugblik op die Algemene Sinode 2013. Kyk egter wat die Bybel daaroor sê in Die Bybel oor die duiwel/satan. Dit is baie vanselfsprekend wie God se teenstaander is. Ons hoef nie daaroor te wonder nie.]

Ek was verstom dat hy hom op hierdie pad begewe. Ek het hom gevra of hy die sinodebesluit oor die duiwel gelees het [wat ruimte maak vir mense wat nie aan die duiwel wil glo nie]. Hy het nie.

Ek het hom gevra of hy die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk gelees het. Hy het gesê dat hy begin het, maar dit het hom verveel. Hy voel ook ongemaklik met die boek, maar hy het nie spesifiek gesê waarmee nie. Ek het aangeneem dit is omdat die boek die NG Kerk kritiseer en name noem en dat hy eerder vrede nastreef.

Hy het vir my gevra of my eerlike motief is om God se Koninkryk te bevorder. Ek het hom geantwoord dat dit verseker my motief is, want dit beïnvloed die gesag van die Bybel en daarom ook mense se geloof in God. [Kyk weer Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.]

Ons gesprek het geëindig deur hy wat vir my sê dat hy eerder op sy spesifieke bediening fokus. Ek antwoord toe met: “So het elkeen van ons ons verskillende rolle…” [Hiermee het ek natuurlik verwys na die ligaam van Christus, byvoorbeeld Rom 12:4 “Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie.”] Hy het net geglimlag.

Opsomming

Dit is vir my sleg dat gelowige, Christen leiers in ons kerk, vir wie ’n mens baie respek het, nie insig openbaar oor hierdie kwessies nie. Dit is duidelik dat die persoon hierbo nie ingeligte besluite neem nie. Hy erken self dat hy nie baie van die onderwerpe hierbo weet nie:

  • Skeppingsmateriaal verveel hom.
  • Hy het nie Die Trojaanse Perd in die NG Kerk gelees nie. Dit het hom verveel.
  • Hy het self nie gaan kyk wat presies Ben du Toit se siening oor die duiwel is nie en het self nie die sinodebesluit oor die duiwel gelees nie. Ek dink nie hy het al enigiets oor Ben du Toit gelees nie. Vir meer oor Ben du Toit, kyk Wie is Ben du Toit?.

Maar tog glo hy dat skeppingsleerders verkeerd is en dat die skrywers van Die Trojaanse Perd in die NG Kerk die kerk onnodig kritiseer en dat Ben du Toit waarskynlik verkeerd verstaan word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui