Neem die Bybel nóg ernstiger op oor gays

Adrio König het die volgende artikel geskryf wat in Beeld verskyn het. Onderaan het Daniel Louw kommentaar gelewer op sommige van die dinge wat Adrio geskryf het. Dit is jammer dat ’n behoudende teoloog soos hy hierdie siening oor homoseksualiteit het.

Kyk ook:

********

Neem die Bybel nóg ernstiger op oor gays

Dinsdag 14 Desember 2004 bl. 15
Beeld
Johannesburg
Seepkis

Adrio König

Mense wat die NG Kerk se “besluiteloosheid” kritiseer, neem die Bybel ernstig op. In die Bybel is sterk uitsprake téén homoverhoudings, en hulle wil dit respekteer. Hulle meen die NG Kerk maak sy oë vir die Bybel toe en hardloop agter die “politiek” aan.

En dan is dit byna op dieselfde vlak as die sogenaamde Nuwe Hervormers, wat sommer openlik sê dat ’n mens oor sekere kardinale sake die Bybel nie meer ernstig kan opneem nie.

Maar kom ons oorweeg die moontlikheid dat die NG Kerk juis die Bybel nog ernstiger opneem, en daarom nog nie ’n uitspraak oor alle homoseksuele verhoudings gedoen het nie. Is dit regtig waar dat die Bybel alle verhoudings tussen mense van dieselfde gender veroordeel? Of gaan dit in die Bybel oor bepaalde verhoudings?

Is dit so dat die vaste verhouding tussen twee gay persone glad nie in die Bybel ter sprake kom nie en dït dalk die rede agter die kerk se huiwering is?

Baie van die “Bybelse” argumente wat teen gay-verhoudings gebruik word, hou nie regtig water nie. Die gedagte dat God dit by die skepping só gereël het dat net heteroseksuele huwelike aanvaarbaar is, skep ernstige probleme, want dit gaan dáár oor ’n huwelik wat kinders kan voortbring (Gen. 1:28).

Maar dit gaan by die skepping oor die “gewone”, die “normale”, nie die uitsonderlike nie. Verder weet ons darem lankal dat ons nie alles in Levitikus deesdae net so kan toepas nie.

Op dieselfde bladsy waar ’n homoseksuele verhouding veroordeel word, word dit ook veroordeel dat mans hul wangbaard afskeer, dat mense ’n kledingstuk van verskillende soorte materiaal aantrek en kry ons selfs opdrag dat kinders wat hul ouers vloek, doodgemaak moet word.

Getroudes wat rondloer

Ook in die Nuwe Testament kry ons twee keer uitsprake teen homoseks, maar daar is ook uitsprake daarteen dat ons bloedwors eet, dat ’n vrou bid “sonder iets op haar kop”, teen haarkapsels en duur klere vir vroue (maar nie vir mans nie!) en ’n sterk verbod dat ’n vrou in gemeentebyeenkomste selfs net ’n vraag vra.

Gelukkig is daar darem een plek in die Bybel (Rom. 1) waar homoseksuele verhoudings breedvoerig en uitdruklik veroordeel word – maar dit is die homoseksuele verhoudings van heteroseksuele mense.

Daar lees ons: “Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang.” In die praktyk het dit beteken dat getroude mense hul huweliksmaats tuis los en by die openbare badplekke los en vas met mense van dieselfde geslag omgaan. Dit is dus duidelik dat die homoseks van heteroseksuele mense sonde is.

Maar hier is nie sprake van gay persone nie. Die kerk is versigtig om oor hulle ’n algemene uitspraak te doen en het net verklaar dat promiskuïteit by gay mense net soos by heteroseksuele mense sonde is.

Die NG Kerk het eenkeer iets geregverdig waarvoor daar nie Bybelse gronde is nie: apartheid. Is dit nie goed dat die kerk nou huiwer om iets sonde te noem as dit nie in die Bybel staan nie?

‘n Mens kan die Bybel nóg ernstiger probeer opneem. Jy kan kyk wat alles in Rom. 1 staan oor hierdie heteroseksuele mense wat hul huweliksmaats tuis los.

Hierdie mense weet van God, maar hulle weier om Hom te dien. Hulle ag dit trouens van geen belang om Hom te ken nie. Daarom het God hulle oorgegee aan hierdie sedelike onreinheid, skandelike drifte en perversiteit. Dit beteken dat hulle sekseskapades met mense van dieselfde geslag eintlik God se oordeel oor hul goddeloosheid is.

Ek is nie bereid om dït wat in Rom. 1 staan, toe te pas op gays wat die Here ken en dien en in ’n getroue seksuele verhouding met mekaar leef nie. Ek is nie bereid om te sê hul gay-wees is die oordeel van God oor hulle onwil om Hom te ken nie. Sover ek weet, was gay-wees nie in die Bybel bekend nie.

• Prof. Adrio König is professor in sistematiese teologie aan Unisa.

Kommentaar

Daniel Louw (kommentaar tussen [blokhakies])

Is dit so dat die vaste verhouding tussen twee gay persone glad nie in die Bybel ter sprake kom nie en dït dalk die rede agter die kerk se huiwering is?

[As dit so is, noem dan die voorbeelde. Ek glo nie daar is voorbeelde daarvan nie. Daar is mense wat wil redeneer dat Dawid en Jonathan ’n homoseksuele verhouding gehad het, maar dan geld prof Adrio se latere argument oor Romeine 1 nie meer nie, want dan was Dawid iemand wat beide homoseksueel en heteroseksueel verkeer het.]

Ook in die Nuwe Testament kry ons twee keer uitsprake teen homoseks, maar daar is ook uitsprake daarteen dat ons bloedwors eet, dat ’n vrou bid “sonder iets op haar kop”, teen haarkapsels en duur klere vir vroue (maar nie vir mans nie!) en ’n sterk verbod dat ’n vrou in gemeentebyeenkomste selfs net ’n vraag vra.

[Vir meer hieroor, kyk Vrouens en Hoede. Hierdie is natuurlik nie altyd net eenvoudig nie, maar ’n mens moet uiters versigtig wees om op hierdie pad te gaan: om te redeneer dat daar dinge in die Bybel is wat nie meer vandag geldig is nie en daarom ook ander dinge nie geldig verklaar nie. Die probleem is, waar trek ’n mens die lyn? Sommige teoloë neem hierdie gedagtegang bloot verder en sê dat ons vandag weet uit wetenskap dat dooie mense nie op kan staan nie en daarom het Jesus ook hoogs waarskynlik nie opgestaan nie.]

Daar lees ons: “Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang.” In die praktyk het dit beteken dat getroude mense hul huweliksmaats tuis los en by die openbare badplekke los en vas met mense van dieselfde geslag omgaan. Dit is dus duidelik dat die homoseks van heteroseksuele mense sonde is.

[Dit is mos nie waar nie. Hoe lei ’n mens uit hierdie gedeelte af dat hier gepraat word van heteroseksuele mense wat homoseksueel verkeer?]

Die NG Kerk het eenkeer iets geregverdig waarvoor daar nie Bybelse gronde is nie: apartheid. Is dit nie goed dat die kerk nou huiwer om iets sonde te noem as dit nie in die Bybel staan nie?

[Wees versigtig vir hierdie argument. Ons weet hoekom mense apartheid wou goed praat, want daar was ’n ander agenda ter sprake. Wat sou die ander agenda wees om homoseks sonde te verklaar?]

Sover ek weet, was gay-wees nie in die Bybel bekend nie.

[Kyk Die Bybel oor seks voor die huwelik. Die vraag moet eerlik beantwoord word: wat is die motivering om te glo dat homoseksuele verhoudings nie sonde is nie? Is dit agv Bybelse redes of is dit om meer tegemoetkomend te wees vir gays? Daar is heelwaarskynlik baie goeie gay mense, maar net so is daar baie goeie Moslems, Hindoes, ateïste, ens. Ons kan mos nie nou die Bybel “anders interpreteer” deur te sê dat hierdie goeie persone wat ander gelowe beoefen ook gered gaan word nie, omdat hulle ook baie goeie mense is. Prof Adrio staan so iets sekerlik nie voor nie, maar is dit nie maar wat die liberales doen met hierdie benadering nie?]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui