Dwaalleer? Dis onsin, sê NG Kerk

Onlangs het Die Strand gemeente gedoleer en ‘n verklaring uitgereik met sewe punte waar die NG Kerk dwaal (kyk Opsomming: Die Strand doleer).

Die moderator, Nelis Janse van Rensburg, het tydens twee geleenthede hierdie beweringe afgemaak as vals en verdagmakery. Kyk:

Die Kairos Netwerk het op 21 Julie 2021 die dokument Ontmoet Kairos Netwerk gepubliseer waarin soortgelyke aantygings gemaak word. In die berig hieronder konfronteer Johan Eybers van Rapport vir Nelis met hierdie dokument.

As ’n mens na die geskiedenis van die NG Kerk kyk (veral sedert 2000) is dit BAIE duidelik dat daar teologies groot fout is met die NG Kerk. Tog kies Nelis, om dit te ontken en probeer die NG Kerk volledig te verdedig teen al die aantygings wat die Kairos Netwerk maak.

Hier volg die berig in Rapport met kommentaar tussenin. Lesers word ook verwys na die dokument Verdediging van Die Strand se sewe aantygings.

*********

Dwaalleer? Dis onsin, sê NG Kerk | Netwerk24

Deur Johan Eybers

08 Augustus 2021

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, sê ’n groep behoudendes se bewerings dat die kerk versuim om dwaalleer in die kerk te hanteer – soos die ontkenning van Jesus se maagdelike geboorte en die bestaan van die duiwel – is moedswillige “verdagmakery”.

Van Rensburg se reaksie volg op ’n verklaring op die webblad van die Kairos Netwerk (KN) van behoudende gemeentes waarin hulle die kerk daarvan beskuldig dat hy nie teen predikante en dosente optree wat “die kern-leerstukke van die Christelike geloof ontken” nie. Die gemeentes wil volgende jaar ’n afsonderlike sinode op die been bring.

Kairos beweer die Algemene Sinode het in 2011 en 2013 “besluit om geloof aan die persoonlike aard van die duiwel en demone opsioneel te maak”. Hul ander griewe sluit in:

* Die “Goddelike inspirasie en onfeilbaarheid van die Bybel” word te dikwels by teologiese fakulteite en sinodale vergaderings geïgnoreer. Die Bybel word dikwels eerder as ’n “tydsgebonde boek” gesien “wat histories onbetroubaar en vol foute is”;

* Leraars en teologie-dosente verkondig “feministiese en of universalistiese teologie . . . waar God aanbid word as ons moeder in die hemel of ook as die ‘heilige prisma’ ”.

Die effek (van die klagtes) is dat mense se vertroue in die kerk erodeer word.

Dit is klaarblyklik ’n verwysing na ds. Melanie Thirion en dr. Jana van den Munckhof wat in April van afgodery beskuldig is nadat hulle by ’n legitimasie-geleentheid nie na God as manlik verwys het nie. Van den Munckhof het by die geleentheid na God as “heilige prisma” verwys;

[Kommentaar: Kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.]

* Teoloë wat die uniekheid van Christus as enigste weg tot redding ontken.

In 2019 is ds. Riaan de Villiers van dwaalleer beskuldig toe hy gesê het die slagoffers in die Christchurch-aanval in Nieu-Seeland is “Moslembroers en -susters” en “kinders van God”; en

[Kommentaar: Kyk ook Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het in die tabel, kolom “Red”.]

* Oormatige ruimte vir “teologiese diversiteit” in die kerk sodat “verskeie leraars . . . in openlike ongeloof en selferkende post-teïsme eindig”.

Dit kom nadat Ben du Toit, wat uit die kerk bedank het, in sy boek God: Is daar ’n ander antwoord? na homself verwys as ’n “post-teïs”.

Die teikens van Kairos se klagtes is almal leraars of oudleraars in die Wes-Kaap.

Janse van Rensburg sê die klaers wil suspisie aanwakker en dit ondermyn die kerk.

“Hierdie groep is gekant teen die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings.

“Hulle sleep nou ’n klomp ander goed by as deel van ’n verdagmaak-aksie. Die waarheid is die NG Kerk se standpunte oor hierdie kwessies word deur sy sinodes en sy kerklike vergaderings verwoord.”

[Kommentaar: Dit ís so dat weerstand teen alles wat in die NG Kerk gebeur eers na die 2019 besluit oor SGVs in volle swang begin het, maar die 2019-besluit was bloot die laaste strooi. Vir baie jare maak behoudendes al beswaar oor die dwaling in die NG Kerk – kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap.]

Janse van Rensburg sê ’n vals narratief word geskep dat die Algemene Sinode moet optree teen diegene wat skuldig is aan dwaalleer.

Die Kerkreg werk nie so dat ampsdraers deur die Algemene Sinode aangekla kan word nie.

Die Algemene Sinode “het nog nooit iemand aangekla nie en hy gaan dit ook nie doen nie”.

Klagtes word deur gemeentes en ringe hanteer, sê hy.

[Kommentaar: Hy is moontlik reg dat dit nie die Algemene Sinode se werk is om dwaalleraars aan te kla nie. Die Algemene Sinode is bloot ‘n vergadering van verteenwoordigers van reg oor die land. Daar is egter twee probleme:

1. Die Algemene Sinode het ‘n reeks skokkende besluite gemaak (kyk NG Kerk algemene sinodes)

2. Daar was al etlike klagtes van ernstige leerdwaling wat op niks uitgeloop het nie. Dit is duidelik dat hierdie dwaalleraars deur ander kerkleiers beskerm word (kyk Lys van leerdwaling aanklagtes).]

Hy sê hierdie behoudendes se klagtes is meestal veralgemenings. “As jy die mense druk, is dit dieselfde paar name wat genoem word.

“Hulle verwys byvoorbeeld na Ben du Toit se standpunte. Ben is uit die NG Kerk uit. Dit help mos nie om te sê ‘Kyk wat sê Ben du Toit nie’,” sê hy.

[Kommentaar: Ben du Toit het nie oornag sy geloof verloor nie. Hy het waarskynlik alreeds sy geloof voor 2000 verloor en het eers in 2018, nadat hy afgetree het, uit die NG Kerk bedank. In daardie tyd het hy sleutelrolle in die NG Kerk vervul.]

Om beswaar te maak oor ’n metafoor wat na God verwys as ’n “heilige prisma” is “moedswilligheid”. “Ek dink persoonlik dit is ’n baie respekvolle verwysing na God.”

[Kommentaar: Dus steun Nelis ook vir Frederick Marais en die kuratorium van Stellenbosch in hierdie saak (nie dat ‘n mens verbaas is nie).]

’n Ring het ook die klagtes van dwaalleer ondersoek nadat De Villiers Moslems “kinders van God” genoem het.

“Die ring het ’n uitstekende teologiese en goed gestaafde standpunt gestel en vir Riaan vrygespreek.”

[Kommentaar: Dus dink Nelis dat Riaan de Villiers niks verkeerds gesê nie. En wat maak mens met teoloë soos Louis Jonker wat redding slegs deur Jesus openlik bevraagteken (kyk RSG-gesprek op 5 Mei 2019). Weereens, ‘n mens is nie verbaas oor Nelis se reaksie nie.]

Daar is voorts geen ontkenning in die kerk van Christus as die enigste weg na die Vader of die maagdelike geboorte of die opstanding of die bestaan van die duiwel nie, sê hy.

[Kommentaar: Die vraag is nie wat die amptelike siening is nie. Die regte vraag is: Wat moet met predikante gebeur wat van hierdie siening afwyk? Kyk As hierdie feite jou nie oortuig, dan sal niks en Mag meer gemeentes Die Strand se voorbeeld volg. Dit help veel die kerk het amptelike sieninge maar dit word nie afgedwing nie.]

Die gesprek oor die duiwel in die kerk “het gehandel oor die uitdrywing van die duiwel”. “Al wat besluit is, is dat daar ’n verskil is in menings daaroor. Die NG Kerk het nog nooit gesê daar is nie ’n Satan nie”.

[Kommentaar: Hierdie is hoegenaamd nie waar nie. Dit is so dat die besprekingspunt in 2011 oorspronklik gegaan het oor duiweluitdrywing, maar die gesprek het toe verander om oor die bestaan van die duiwel te handel. Dit is oor hierdie besluite waarvoor 10 beswaarskrifte ingedien is. Dit is hierdie besluite wat Ben du Toit beskerm het toe Wynand Louw hom aangekla het van leerdwaling omdat hy nie in die duiwel geglo het nie. Na hierdie mislukte poging kon Ben du Toit steeds in sy pos in die NG Kerk aanbly tot sy aftrede in 2018. Dit is ook hierdie besluite wat maak dat Julian Müller die duiwel baie blatant kan ontken soos hy dit hier gedoen het:

“Die effek (van die klagtes) is dat mense se vertroue in die kerk erodeer word. As jy dit verloor, gaan jy dit nie sommer weer terugkry nie. Ek dink nie redelike mense steur hulle aan hierdie verdagmakery nie, maar daar is ongelukkig mense wat hou van samesweringsteorieë en wat geneig is om in te koop in hierdie vals narratiewe.”

[Kommentaar: Dit is reg: die redelike mens steur hulle nie aan verdagmakery nie, daarom het Nelis dan mos niks om te vrees nie. Sy woorde was egter skaars koud, toe word berig in die Namibiese koerant, Republikein, dat die Namibiese sinode dink daaraan om te doleer. Kyk Drukgroep ‘treur’ oor Algemene Sinode (10 Aug 2021).]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui