7 Leuens wat jou kinders sal glo – tensy jy iets daaraan doen

Kyk ook:

Die volgende is geskryf deur Coligny Nel gebaseer op die video hieronder.

7 Lies Your Kids Will Believe Unless You Do Something – with Elizabeth Urbanowicz (27 Julie 2021, Mike Winger)

*******

HOE BEÏNVLOED DIE MODERNE LEWENSUITKYK CHRISTENKINDERS

Mike Winger gee hier saam met Elizabeth Urbanowicz die kernsake van ons stryd in die moderne lewe:

7 leuens wat jou kinders sal glo – tensy jy iets daaraan doen ‘.

Die leuens ontstaan uit ‘n wêreldbeskouing waar die leuen nie pertinent uitgespreek word nie – maar kinders absorbeer dit. En baie grootmense in die verskeie kerke het dit duidelik al lankal ook gesluk.

Leuen no 1

“As ek dit so voel, dan moet dit waar wees”

Met ander woorde: “die waarheid is subjektief”

Dis die mees fundamentele leuen wat ons ons kinders moet afleer.

Hierdie leuen is baie diep gewortel:

Kinders (en grootmense) dink dat waarheid nie waar vir almal is nie.

Hulle kan dan nie onderskei tussen objektiewe waarhede (vaste waarhede buite myself) en subjektiewe voorkeure (voorkeure binne myself) en subjektiewe (my eie en ook beperkte en waarskynlik heel eensydige) waarnemings nie.

Waarheid word afgewater na “wat vir jou waar is – is vir jou waar, en wat vir my waar is vir my waar”.

So word dit wat jy glo dan iets wat vir jou realiteit tot stand kan bring.

Hierteenoor staan objektiewe waarheid, waarheid wat eintlik met realiteit ooreenstem.

“Truth is what is real”. Dit is nie binne jouself – jou eie gedagtes oor iets nie – maar dit wat buite jouself is.

Dit affekteer eerstens die Bybelse waarheid waar Jesus sê dat Hy die Waarheid, die weg en die lewe is.

Dit gaan verder en relativeer alle ander objektiewe waarhede – in die Skrif maar ook waarhede op alle ander terreine van die lewe. So dit maak ook glad nie meer saak of die evangelie aan ander verkondig hoef te word nie. Laat ander maar voortleef in hulle eie realiteit. Dit gaan uiteindelik so ver dat wetenskaplike waarneming deur studente wat tot selfs in hulle doktorale studies eerder op ewekniebeoordeling (“peer review”) staatmaak (subjektief) eerder as op objektiewe wetenskaplike studie van verifieerbare ware feite ten opsigte van ‘n onderwerp. Die mening van ander geleerders voor hulle word belangriker geag as feite. Om subjektiwiteit as die norm van waarheid te aanvaar gaan selfs so ver dat jy kan dink dat wat jy glo realiteit bewerkende eienskappe het. Dit affekteer dan alle terreine van die lewe. Dit maak dat selfs geslagsidentifisering ‘n saak van eie voorkeure word, eerder as om op objektiewe biologiese feite gebaseer te wees. Dit maak dat morele waardes vervlak tot eie voorkeure instede dat daar aanvaar word dat daar iets soos ‘n objektiewe standaardkode is waarby alle mense moet bly. Weg is God se gebod. Dan verval die samelewing tot die volgende wettelose beeld: ‘ alle verkeersligte kan maar deur almal as groen of rooi, volgens eie voorkeure hanteer word’. Die vraag is, hoe vinnig gaan dit wees voordat die gevolge van hierdie subjektiewe siening katastrofies wees?

Wat geleer moet word is dat daar ‘n verskil tussen subjektiewe aansprake en objektiewe aansprake is.

Wat ingesien moet word is dat daar aanspraak op baie ojektiewe waarhede in die Bybel gemaak word. Byvoorbeeld, Jesus se opstanding het soveel getuies dat dit in ‘n hofsaak as betroubaar gesien sal word. Die maagdelike verwekking van Jesus het selfs buitebybelse getuies. As dit vals sou wees, dan moet ek baie vinnig hiervan wegkom, maar as dit waar is, hang my lewe letterlik daarvan af.

Leuen no 2

“Volg jou hart.” (“Follow your heart”)

Dit is die boodskap wat van oral op kinders se gedagtes ingeprent word.

“Wees die ware jy.”
“Doen die ware jy.”
“Vind die antwoord binne jouself.”
“Soek die ware jy diep binne jouself.”
“Jaag jou drome met alles wat jy het na.”
“You have the power within you.”

Met ander woorde, hulle hoor van oral dat hulle hart die mees betroubare gids vir die lewe is.

Alleen as ‘n kind kan insien dat dit ‘n subjektiewe voorkeur is, dan kan hulle insien dat dit ‘n leuen is.

Wat is nou reg, om my pa te glo wat nee sê, of my eie hart te glo en te volg oor wat ek wil hê?

Die waarheid is dat ‘n mens se impulsiewe hart jou altyd in die verkeerde rigting stuur.

Jeremia 17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit”.

Daarteenoor staan God as die Skepper van objektiewe realiteit.

Die hart moet eintlik die een wees wat ten volle op God vertrou.

Mense se hart is die oorsaak dat mense huwelike opbreek, ander in die steek laat, goeie projekte laat staan.

Leuen no 3

“Liefde bevestig alles wat ek voel”.

Weereens word hierdie belaglike leuen nooit so gestel nie – dit word net eenvoudig so aanvaar.

Liefde is liefde.”
“As jy my liefhet sal jy… of sal jy nie…”

Omdat die Christen geroep word om lief te hê, is hierdie leuen so bedrieglik.

God is immers liefde. So Christene begin dink dat as hulle waarlik lief het, sal hulle nooit ander mense ongemaklik laat voel nie, dat hulle nooit genoeg is nie, of dat hulle verkeerd optree nie.

Die probleem is dat “liefde” hier heeltemal herdefinieer word.

Die Bybelse liefde is selfopofferend en stel ander se belang bo myne, terwyl die kultuur van vandag liefde as ‘n gevoel ag. Dis soos ek voel as alles OK is.

Die kultuur vandag dikteer dat as jy enige iemand vertel dat wat hulle doen verkeerd is of dit selfs vier nie, dan gaan jy eintlik in teen realiteit van hoe God dit ontwerp het. Dan is jy liefdeloos.

Die hele kwessie rondom geslagsidentiteit is ‘n goeie voorbeeld hiervan. As jy nie saamstem met iemand wat subjektief as een of die ander geslag (teenoor die objektiewe biologiese waarheid) identifiseer nie, is jy liefdeloos. Jy is dan besig met haat/haatspraak.

Nou is die vraag, as jy die persoon se subjektiewe voorkeur aanvaar, is jy nie besig om ‘n leuen te herbevestig nie? Is dit dan regtig wat liefde is? Is dit nie maar liefdeloos om iemand in sy leuen te los nie?

In Markus 10 kyk Jesus na die ryk jong man, met groot liefde, en sê vir hom dat hy nog iets kort. Dit was die een ding wat die jong man nie sou bereid wees om te doen nie…. Dit is soos Jesus hom liefgehad het.

Mense moet besef dat as iemand sê dat jy hulle nie liefhet nie, beteken dit nie dat jy hulle nie lief het nie. Dis soos die kind wat skree dat sy pa of ma hom haat omdat hy nie iets uit hulle kan kry nie…

Die hele aangeleentheid om alles wat mense ‘voel’ as reg en in die naam van liefde te moet bevestig, is vreemd, eensydig en voldoen nie aan objektiewe waarheid nie. Kinders moet leer om vrae te vra, soos waarom voel jy so, want die kans is goed dat hulle sal ontdek dat die ander persoon eintlik regverdiging soek vir sy of haar voorkeur. En dit is in sigself liefdeloos en eintlik selfliefde.

Leuen no 4

“Geloof is die teenoorgestelde van kennis”

Ongelowiges en selfs Christene eggo dit.

Sonder om dit so uit te spel, word geloof as “wishfull thinking” afgemaak.

Oral word dit uitgebasuin “deur geloof is alles moontlik”. Maar, watter soort geloof is dit dan?

Geloof word later net ‘n persoonlike (subjektiewe) opinie.

Dis nie meer aangaande objektiewe waarhede nie. Dis maar net iets waarvoor jy hoop.

Baie Christene skakel hulle verstand af as hulle kerk toe gaan. Dis hulle houding teenoor geloof.

Geloof moet eerstens gedefinieer word soos dit in die Bybel uitgespel word. Dit is om God self te vertrou.

God vra altyd dat ons in Hom, wat ons nie kan sien nie, moet glo. Alles wat ons wel kan sien, wys na Hom.

As jy ‘n Christen is wat dink dat objektiewe waarheid nie saak maak in jou geloof nie, doen dit die grootste skade denkbaar aan die fundamentele evangelie van Jesus Christus. “I want it to be, therefore its true”. Geloof as die teenoorgestelde van kennis verongeluk die evangelie.

Om gekerk in ‘n kulturele sin te wees, beteken nie toegewydheid aan Christus nie. Waarop baseer jy jou geloof? As Jesus nie werklik opgestaan het nie, is ons geloof tevergeefs, trouens dit maak ons dan die aller ellendigste van mense. Alles hang van hierdie fundamentele objektiewe waarheid met al die aangetekende getuienis af. Geloof as die teenoorgestelde van objektiewe kennis is baie baie gevaarlik en totaal fataal.

In 1 Kor 15 maak Paulus dit baie duidelik dat geloof op objektiewe waarhede gebaseer is en nie op subjektiewe standpunte en voorkeure nie. Net soos die realiteit is geloof nie gebaseer op wat ons glo dit is nie. Geloof word gegrond op bewysbare feite. Objektiewe bewyse is of net waar of vals.

Leuen no 5

“Die mens is die produk van ‘n blinde onbestuurde evolusie”

Makro-evolusie word net eenvoudig oral in alle akademiese media as waar voorgehou.

Oral in die samelewing word dit gepropageer dat ons maar ‘n toevallige produk van die natuur is.

Kinders moet ook op die onvermydelike uitloop van die geloof in evolusie gewys word naamlik dat as ons in makro-evolusie glo, is daar geen doel meer in ons lewe nie. Ons bestaan dan maar net toevallig. Dan moet ons vir onsself maar ‘n eie subjektiewe doel en sin vir die lewe skep.

Maar as ons na die wêreld rondom ons kyk, sien ons, soos die Skrif sê, alles wys na God.

Lewe kon nie net arbitrêr gevorm het nie. Ons glo in intelligente ontwerp. Ons is hier met ‘n doel.

Om dit waarna die skepping wys te misken, moet ons die waarheid onderdruk.

Ons kinders moet daarop gewys word dat die bewyse rondom ons na ontwerp wys.

Een metode is om op een tafel ‘n klomp letters voor kinders op die tafel te gooi. Op ‘n ander tafel word woorde en sinne met die letters gemaak. Dan vra jy hulle of hulle iets sien wat sin maak op beide tafels. ‘n Woord, ‘n sin. As hulle kan of nie kan nie, vra hulle dan of dit lyk of die manier waarop dit geval het lyk of dit perongeluk gebeur het, of was daar intellegente ontwerp betrokke by die een tafel en dan by die ander tafel. Probeer die deurmekaar letters weer skud en laat val om sin te vorm, totdat die kinders die nodeloosheid daarvan begin insien. Wys dan daarna op die kompleksiteit van genetiese kodering en vra of hulle dink dit per toeval so kan gebeur het.

Leuen no 6

“Jy is die een waarvoor jy gewag het.”

(uit Frozen II)

‘Jy is genoeg’ ‘ Kyk na binne (jouself) vir die krag wat jy nodig het’ ‘Jy kan enigiets wees wat jy wil wees’ ‘ Jy bepaal jou toekoms en bestemming’ Dit alles loop daarop uit dat jy kan jouself red.

Die gevoelens van ontoereikendheid, angs, skuld, ensovoorts, is net agv die druk van buite af. Jy het alles wat jy nodig het binne in jouself.

Kinders moet daarop gewys word dat ons na die beeld van God geskep is en dat daar binne ons hierdie leemte is wat deur niks anders as deur God self gevul kan word nie. Ons is dus aan die een kant baie waardevol vir God omdat Hy ons liefhet, maar ons is ook aan die ander kant diep binne onsself onomkeerbaar gebroke en ons kan nie onsself red nie. Daarvoor het ons die ingrype van God self nodig deur Jesus Christus se soenverdienste.

So die eerste vraag is, is ons waarde voor God ‘n objektiewe waarheid of ‘n subjektiewe gevoel?

En as ons in evolusie glo, waarin sou ons waarde dan lê? Net subjektief? Dan het ons nie veel waarde nie.

En dis presies hoe baie mense voel, ongenoegsaam. Selfvertroue is iets wat die mens dan nastreef. Dit kan in talle afdwaalpaadjies gestalte vind. Die goeie nuus is dat ons as Christene ons waarde in ons afhanklikheid van God vind. Ons hoef nie ons ongenoegsaamheid te ‘fix’ nie. Ons roem in Christus, nie in onsself nie.

So die tweede vraag is, waarin lê ons ons redding? Dis ook buite onsself. In Jesus Christus. Redding gebore uit die hart van God. Dis objektief en nie subjektief nie.

Leuen no 7

“ ‘n goeie God sal nie oordeel nie”

Ons kinders is die heeltyd blootgestel aan ‘moenie my oordeel nie!’ ‘moenie ander oordeel nie’ ‘ wie is jy om te oordeel’ ‘as jy ander oordeel is jy liefdeloos’. Dit gaan die laaste aantal jare verder, veral onder progressiewe Christene. ‘As God ‘n goeie liefdevolle God is , sal Hy nie oordeel nie’.

Dit klink aantreklik. Maar dit is nie Bybels gefundeerd nie.

As ‘n regter besluit dat hy die moordenaar hierdie keer gaan oorsien, wat gaan die gevolge wees?

‘n Goeie regter sal nie so iets doen nie. Goeie regspraak is beide liefdevol en goed!

Wat sou dit beteken om te sê dat God goed is. Moreel goed. Hy is perfek.

As voorbeeld. As een spanlid in ‘n spel nie die reëls sou volg nie, nie eers een nie, en die skeidsregter laat al sy oortredings ooglopend toe, is daardie skeidsregter ‘n slegte skeidsregter. Almal gaan verskriklik gefrustreerd en kwaad word. Trouens, dinge kan handuitruk.

God is beslis nie so ‘n slegte regter nie. Trouens in Mat 25 skei Hy die skape van die bokke. Baie plekke in die Skrif praat van die dag van die Here en ook van die troon van oordeel aan die einde van tye.

Die waarheid is dat mense wat in sonde lewe, nie geoordeel wil word nie.

Maar ons as kinders van God het die objektiewe versekering dat God deur Jesus vir ons ‘n weg geskep het om vergiffenis te ontvang en met God versoen te word.

Wat is die uiteinde van al hierdie leuens?

‘n Pop christendom wat hulleself ‘bootstrap’ en sê: ‘Ek is die een waarvoor ek gewag het, ek sal myself realiseer. Ek is dus beter as wat die Bybel sê ek is. Waarheid is ook subjektief, ja my geloof kan my realiteit skep. So ek glo God sal my nie oordeel nie, want ek glo ek is ‘n goeie persoon, volgens my weergawe van wat goed is. Buitendien, ‘n goeie God sal my, die goeie persoon nie oordeel nie.’

Daar is egter ‘n fundamentele probleem. Iemand wat homself egter so aan sy veters ‘optel’ kan eintlik nie van die grond af kom nie. Op die beste kan hy hom net in sy subjektiewe gedagtegang daarvan oortuig dat hy in die lug ronddryf.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui