Drukgroep ‘treur’ oor Algemene Sinode

Pas nadat Nelis Janse van Rensburg baie alle aantygings sterk ontken het dat daar dwaling in die NG Kerk is en dat daar ’n groep lidmate is wat besig is met verdagmakery, verskyn die volgende berig in die Namibiese koerant, Republikein.

Kyk ook hulle verklaring by Verklaring deur Sola Scriptura: 13 Augustus 2021.

*********

Drukgroep ‘treur’ oor Algemene Sinode | Republikein

Wil hê NG Kerk Namibië moet losskeur van SA

Opsomming: ’n Drukgroep in die NG Kerk in Namibië sê hy distansieer hom van die liberale siening van die Algemene Sinode wat “almal wil akkommodeer”.

Ronelle Rademeyer

Dinsdag 10 Augustus 2021

Behoudende predikante en gemeenteleiers van twintig van die 45 gemeentes van die NG Kerk in Namibië (NGKN) vergader Vrydag op Okahandja om dolering te bespreek en daarmee te sê hulle “treur en is bekommerd die toestand in dié kerk”.

Die saamtrek is deur ’n drukgroep in die NGKN, Sola Scriptura, gereël. Dié groep sê in ’n verklaring die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk se uitgangspunt is nie meer getrou aan die Bybel nie, maar eerder daarop ingestel “om almal te akkommodeer en gelukkig te hou”.

Hiermee verwys hulle na die AS se aanvaarding in 2019 van selfdegeslagverhoudinge, maar ook na die meer liberale of vrysinnige interpretering van die Bybel.

Sola Scriptura sê in ’n verklaring die AS is die afgelope jare “al meer geneig om besluite te neem wat nie meer met sekerheid op die Woord van die Here alleen gegrond is nie”.

Dit is waarom hulle Namibiese NG-gemeentes gaan vra om soos Die Strand-gemeente in die Wes-Kaap te doleer. “Dit beteken nie ons wil wegbreek van die kerk af nie. Inteendeel, ons wil sê ons treur oor die rigting van die kerk inslaan en wil die kerk help om terug te keer na die Woord van die Here,” sê ds. Ernst Coetzee, een van die predikante in die Sola Scriptura-groep.

“Daar is tans in die NG Kerk (hier en in Suid-Afrika) al hoe meer stemme van gemeentes en selfs ringe wat dit oorweeg om te doleer,” sê Sola Scriptura in sy verklaring.

Op ’n praktiese vlak sal ’n kerkraad wat besluit het om te doleer, die ring en sinode in kennis stel. So ’n kerkraad kan dan sy leraar versoek om nie enige kursusse van die NG Kerk by te woon nie, “aangesien die dwaling weg van die Woord in menige geval sy oorsprong by teologiese opleiding het”, sê die groep.

Dié drukgroep vereenselwig hom met die siening van behoudende lidmate in Suid-Afrika wat onder die Moreleta Kairos Netwerk (MKN) groepeer.

MKN beoog om teen volgende jaar ’n nuwe sinode op die been te bring en ’n eie beleid en kerkorde te vestig.

Coetzee sê dié kwessie sal ook by Vrydag se vergadering bespreek word.

Intussen het ds. Johannes Maritz, wat pas deur die NGKN tot moderator van die Namibiese sinode verkies is, gister gesê hy is nie bewus van die vergadering nie.

“Ons beleid as moderatuur is nie om nie uitsprake te maak as ons nie eers met mekaar gepraat het nie. As moderamen is ons nie bewus van die byeenkoms nie,” sê hy.

“Ons uitgangspunt is om as kerkgroep en -familie met mekaar oor sulke kwessies te praat. Weens Covid-19 is ons verhinder om dit te doen. Die sinodesitting wat in Maart sou plaasvind, is na Augustus uitgestel en toe weer na Maart volgende jaar.”

Maritz volg ds. André Olivier as moderator op. Laasgenoemde, wat sedert 2011 predikant van die Aranos-gemeente was, het onlangs afgetree.

ronelle@republikein.com.na

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui