‘Ons wankel nie in belydenis’ – Nelis

Die volgende artikel word vir rekorddoeleindes geplaas. Vir die volledige agtergrond, kyk Opsomming: Die Strand doleer.

Kyk ook Video: NG Kerk staan binne haar belydenis – Nelis Janse van Rensburg waarin kommentaar gelewer word oor Nelis se video.

*********

‘Ons wankel nie in belydenis’ – Nelis | Kerkbode

Deur die Verslagspan

5 Augustus 2021

Ds Nelis Janse van Rensburg het in ’n boodskap aan lidmate ge­reageer op “gerugte dat die NG Kerk in haar belydenis wankel”.

“Die waarheid is dat ons in ons be­sluite in die sinode en in ons besluite in ons kerkrade, ernstig is oor ons belyde­nis en besluit vir besluit uitdrukking gee daaraan dat ons staan in die tradisie waarin ons staan,” sê die moderator van die Algemene Sinode in ’n kort videoboodskap.

Dit kom na polemiek oor NG gemeente Die Strand, wat weens ’n “onafgehandelde interne dokument aan lidmate” oor hulle dole­ringsbesluit in die moeilikheid beland het by NG kerkleiers.

Ds Frikkie van Niekerk, die gemeen­teleraar, het intussen ’n hersiene verkla­ring uitgereik, wat hulle besluit om te doleer, herbevestig.

Kerkbode tref Van Niekerk onlangs as ’t ware tussen verlowwe aan. Die eer­ste verlof is kortgeknip deur ’n noodvergadering weens die bohaai wat gevolg het ná uittreksels van hulle “interne” kennisgewing aan lidmate in ’n dagblad aangehaal is. Die tweede ronde gaan hy sy foon afsit, sê Van Niekerk gelate wanneer hy versigtig instem om te ontmoet “om die lug te suiwer”.

“Ek en die kerkraad, ons is eerlik om te sê dit is jammer dat hierdie goed gebeur het. Dit is jammer dat ’n onvoltooi­de interne dokument in die pers beland het. Dit was geensins ooit ons bedoeling gewees nie …,” begin dié 59-jarige oudboer en -sendeling. Van Niekerk het in 2018 as die enigste voltydse leraar van Die Strand begin werk. Vir die gesprek met Kerkbode ontmoet ons op ’n stil weeksoggend by ’n koffieplek in Kus­weg. Mussie op die kop teen die Kaapse koue, praat die leraar rustig oor die aanloop van gebeure.

Die gemeente van sowat 800 meestal ouer lidmate is een van sowat 77 wat hulle tot hierdie treurstatus wend op grond van besluite by die 2019 Algemene Sinode. ’n Doleringslys word op Kairos Netwerk (voorheen Moreletapark Kairos Netwerk) se webblad bygehou. Die NG Kerk het sowat 1 094 gemeentes.

Die Strand se besluit om te doleer, volg na 18 maande waarin die kerkraad lidmate se kwelvrae ondersoek het, vertel hy. Dít het gelei tot “die formulering van die sewe (punte) wat ons gesien het as dwalinge wat daar buite is (en) wat nie noodwendig die NG Kerk se standpunt is nie, maar wat deur NG leraars en geleerdes geuiter word en daar word niks omtrent dit gedoen nie – dit is vir ons ’n kommer,” sê Van Niekerk.

In Julie het Die Strand se kerkraad in ’n amptelike kennisgewing aan Kerkbode gesê hulle verskil van die Algemene Sinode oor die 2019-besluit ra­kende selfdegeslagverhoudings as “stry­dig met die Woord van God soos ons dit glo” en sal ook nie lering uit die gidsboekie rondom 2019-besluite in die gemeente toelaat nie.

’n Nuusberig in Die Burger, geskoei op die “gelekte dokument”, het meer detail bevat oor die teologiese afstand tussen hierdie gemeente teenoor “sewe punte van dwaalleer” van die Algemene Sinode. Dit sluit goed in soos dat jy nie hoef te glo in die maagdelike geboorte van Jesus of sy fisieke opstanding uit die dood nie. Die koerantberig, wat ook op Netwerk24 wyd gelees is, het uiteenlopende reaksie ontlok. Van Niekerk sê hy het oproepe gekry van predikante reg­oor die land wat hom uitskel of geluk­wens, asook ’n telefoniese vermaning of twee van kerkleiers omdat hy en die kerk­raad nie die “kerklike weg” sou gevolg het nie.

Ds Nelis Janse van Rensburg het op 15 Julie ’n verklaring namens die mo­deratuur van die NG Kerk in Wes-Kaapland uitgereik: “Die aansprake wat luidens die koerantberig deur die kerk­raad van hierdie gemeente gemaak word, is nie net ’n wanvoorstelling van die standpunte van die NG Kerk nie, maar dit is ook misleidend vir lidmate van die gemeente en enige leser van die berig. Trouens, daar is geen standpunt of besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk, of van enige ander van die deelnemende sinodes van die Algeme­ne Sinode wat enige van die stellings wat gemaak word, ondersteun nie,” lui­dens die verklaring.

Die Ringskommissie van die Ring van Somerset-Wes, waaronder Die Strand val, het weer in ’n verklaring met direkte aanhalings uit verslae van die Algemene Sinodes van die NG Kerk geskryf die “Algemene Sinode bevestig nog steeds dat die Drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Geloofsbelydenisse as norm dien vir die verstaan van sekere kernsake oor die geloof”.

Wanneer ’n mens met Van Niekerk gesels, bevraagteken hy die idee van ’n “ruim kerk”. “Baie mooi edele woorde. Wat beteken dit as die lidmaat daarna luister? Alles word nou verdra en dan begin dit so in die samelewing deur­kom,” wil hy weet. “Die probleem wat gemeentes het wat doleer, is dat daar nie ’n stem is nie, daar word nie geluister na ons nie,” meen hy.

Van Rensburg se videoboodskap het veel kommentaar op www.kerkbode.co.za gelok. Daarin sê hy: “Ons glo in ’n lewende Christus wat tussen ons leef deur sy Gees wat in ons woon, en so die kerk tot stand bring, sê die Twaalf Artikels. Ons glo in die opstanding van die liggaam. Ons glo in die ewige lewe. Ons glo in gebed, ons glo in die krag van gebed.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui