Video: NG Kerk staan binne haar belydenis – Nelis Janse van Rensburg

In Moderatuur reik verklaring uit oor NGK Die Strand wat doleer (15 Julie kritiseer Nelis Janse van Rensburg Die Strand se aantygings dat daar dwaling in die NG Kerk toegelaat word.

In die volgende video gaan Nelis voort om Die Strand en hulle ondersteuners oor die vingers te tik.

(Vir die volledige agtergrond, kyk Opsomming: Die Strand doleer)

NG Kerk staan binne haar belydenis – Nelis Janse van Rensburg (28 Julie 2021)

Vanaf 2:37 sê Nelis die volgende:

Gepraat van agterdog: in die afgelope tyd is daar gerugte in die NG Kerk versprei, en van buite die NG Kerk, dat ons belydenis wankel. Dis nie waar nie. Die waarheid is dat die NG Kerk ’n belydeniskerk is. Dat ons ’n kerk is wat staan in ’n lang gereformeerde tradisie. Dit is ’n dinktradisie. Dit is ’n tradisie waarin ons ons rasionele vermoë baie ernstig neem en daarom dink oor moeilike kwessies. Maar ons staan binne ons belydenis. Ons bely Sondag na Sondag op ons kansels die Twaalf Artikels of die Apostoliese Geloofsbelydenis. Dit is ’n belydenis wat oor eeue kom:

“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, die een wat gekom het, gesterf het en opgestaan het. Ons glo in ’n lewende Christus wat tussen ons leef deur sy Gees wat in ons woon, en so die kerk tot stand bring,” sê die Twaalf Artikels. “Ons glo in die opstanding van die liggaam. Ons glo in die ewige lewe. Ons glo in gebed, ons glo in die krag van gebed.”

Vriende, moenie vir u laat mislei deur valse beweringe nie. Daar is mense wat in hierdie tyd deel geraak het van die tydsgees. Dit is ’n globale tydsgees, weerstand teen gesag, teen regerings, teen ekonomiese owerhede, ook teenoor kerklike gesag. Kom ons raak nie deel daarvan nie. In daardie denkruimte word daar agterdog saai, word die man gespeel, word daar stories versprei op die internet en sosiale media. Dit is so maklik: elke persoon kan in sy eie kamer sit en gerugte die wêreld instuur. Die waarheid is dat ons in ons besluite in die sinode en in ons besluite in ons kerkrade en ons vergaderings ernstig is oor ons belydenis en dat besluit vir besluit uitdrukking gee daaraan dat ons staan in die tradisie waarin ons staan en daarmee voortgaan.

Kom ons fokus eerder in hierdie tyd op ons roeping om in hierdie baie moeilike tye ’n verskil te wees om dit te beliggaam. Christus se vrede, Christus se liefde in te dra van plek tot plek. Versoening te bewerkstellig. Geregtigheid na te jaag. Barmhartig te wees. Rein van hart te wees. Sagmoedig te wees. Om te gee. Soos wat Jesus ons geleer het. Ek nooi u. Kom ons hou mekaar se hande en doen wat die Here van ons vra in hierdie tyd.

Kommentaar

Daar is baie te sê oor hierdie video.

Geen substansie

Nelis se verdediging bevat geen substansie nie. Dit is so goed president Zuma reageer op die beskuldigings van korrupsie teen hom deur bloot te sê dat dit alles leuens is en dat hy onskuldig is en dan verwag dat Suid-Afrikaners tevrede moet wees daarmee.

Nelis se reaksie herinner baie sterk aan Nelus Niemandt se reaksie toe Wynand Louw hom ’n paar vrae gevra het. In plaas daarvan dat Nelus bloot Wynand se vrae beantwoord het, beskuldig Nelus vir Wynand van leuens. Kyk Moderator ontmasker “aanstootlike leuens” – prof Nelus se brief – 11 Maart 2012.

Waar is die getugdes?

Nelis herinner ook baie sterk aan president Cyril Ramaphosa. Een van die grootste kritiek teen Ramaphosa is dat hy nie veel doen om korrupsie in Suid-Afrika stop te sit nie. Hoe weet ons dit? Hoeveel mense sit in die tronk oor korrupsie? Hopeloos te min. Kyk wat sê Richard Quest in “Your entire economy was hijacked! How many people are in prison?” – Richard Quest.

Verder, toe Zuma nog president was, het Ramaphosa hom verdedig. In die artikel Khoza: I couldn’t understand why we had to protect Zuma at all costs (4 Feb 2021) word die volgende gesê:

Former African National Congress (ANC) Member of Parliament Makhosi Khoza said that she started posting on her Facebook page that she was disappointed that leaders, including President Cyril Ramaphosa and the late Jackson Mthembu, were protecting former President Jacob Zuma at all costs.

Khoza said that the ANC leadership said that the party was under attack and that no MP would be allowed to vote against Zuma in a motion of no confidence but she believed that Zuma was a liability.

“I was very disappointed, especially with President Cyril Ramaphosa, who I considered as the architect of the South African Constitution, even in the ANC caucus meeting, I was expecting them to be forthcoming and I couldn’t understand why we had to protect President Zuma at all costs.”

Dit in ag geneem, hoe kan ’n mens eerlik glo dat Ramaphosa werklik ernstig is oor korrupsie?

Die NG Kerk het soortgelyke dinge gedoen, soos byvoorbeeld toe Julian Müller en Jurie le Roux beskerm is toe Ferdie Mulder hulle van leerdwaling aangekla het. In Mag meer gemeentes Die Strand se voorbeeld volg (Ferdie Mulder, 21 Jul 2021) en As hierdie feite jou nie oortuig, dan sal niks (Daniel Louw, 22 Jul 2021) word ’n paar feite uitgepak hoe NG Kerk kerkleiers hulle blind gehou het vir dwaling oor die opstanding en die maagdelike geboorte. As Nelis, en die NG Kerk, werklik so sterk oor die kerk se belydenis gevoel het, wat word gedoen aan mense wat daarvan afwyk?

Kyk ook Wat van kerklike tug? en Reëls help niks as jy dit nie toepas (22 Aug 2021)

Onvolledige aanhaling van die 12 artikels

Nelis haal ’n gedeelte van die Apostoliese Geloofsbelydenis aan. ’n Mens kry die indruk dat hy nie bedoel het om die hele belydenis volledig en woord vir woord aan te haal nie, maar hy het die geleentheid gehad om baie duidelik te sê wat hy glo, maar tog laat hy drie van die groot kwessies uit:

Nelis: “…En in Jesus Christus, die een wat gekom het, gesterf het en opgestaan het…”

12 artikels: “…En in Jesus Christus, Sy enig-gebore Seun, ons Here; Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode ;…”

Dus laat hy die volgende uit:

  1. Jesus se Godheid (“Sy enig-gebore Seun”)
  2. Jesus se maagdelike geboorte (“gebore is uit die maagd Maria”)
  3. Jesus se opstanding

Ek noem pertinent ook Jesus se opstanding, want indien Nelis werklik wou bewys dat hy aan die opstanding glo, sou hy baie pertinent die woorde “liggaamlike opstanding” gebruik het. Julian Müller, wat die liggaamlike opstanding ontken, sê ook dat hy aan die opstanding glo – hy bedoel egter dat Jesus in ons harte opgestaan het. Hierdie is weliswaar ’n argument uit stilte, maar wel geldig.

Liberales en die Belydenisskrifte

Om jou te beroep op die NG Kerk se “lang gereformeerde tradisie” en belydenis maak lankal nie meer indruk nie. Kyk byvoorbeeld Om publiek te bely (Cobus van Wyngaard, 15 Mrt 2012).

Die vraag, hoe kry liberales dit reg om nog die belydenisskrifte te bely?

Hulle volg bloot ’n alternatiewe benadering. In Geloof en die wetenskap 2015 word dit baie mooi uitgewys. Hulle benadering is dat die Bybel en die belydenisskrifte bloot geskryf is deur “voorwetenskaplike mense“. Omdat voorwetenskaplike mense kwansuis niks van wetenskap geweet het nie, kan ons dit wat hulle geskryf het nie alles so letterlik opneem nie omdat hulle totaal iets ander bedoel het. Dus kan Nelis by die belydenisskrifte staan mits hy die benadering het dat die skrywers totaal verskillend as ons gedink het en daarom kan ons dit nie so letterlik opneem nie. Inteendeel, ons, wat dit letterlik wil lees, doen die Bybel en belydenisskrifte ’n onreg aan.

Kerklike gesag

Nelis kritiseer mense wat weerstand bied teen die “kerklike gesag”.  Waar kom hy aan kerklike gesag en wat wil hy hiermee sê?

Nelis sê dat die man gespeel word en nie die bal nie. (???)

Vreemd…

5 thoughts on “Video: NG Kerk staan binne haar belydenis – Nelis Janse van Rensburg”

  1. Baie dankie Daniel, goed gedoen! Wat hoor ek in hierdie video? Besorgdheid oor toestande in die land, selfs in suider-Afrika, met klem op die agterdog oor die covid inspuiting. En dan ’n sprong na agterdog in die kerk (opskrif by die video: “Die NG kerk staan binne haar belydenis…”). Waarskynlik in reaksie op Die Strand- gemeente se besluit om te doleer en hulle redes daarvoor? “Die gereformeerde tradisie is ’n dink-tradisie…” word gesê. Is dit nie ’n geloofstradisie nie, wat baie sterk steun op AL die geloofsbelydenisse EN die belydenisskrifte maar bo alles op die Waarheid van God se Woord? Daar word gepraat van: “weerstand teen kerklike gesag…”… word daar dalk verwys na Die Strand se besluit? Sover my kennis strek, volg die NGK die presbiteriale stelsel waar daar gesag gesetel is in die presbiters / ouderlinge, dus in die kerkraad van ’n plaaslike gemeente soos Die Strand. Dan is daar ’n weergawe van die Twaalf Artikels. In my opinie word belangrike dele uitgelaat: Jesus gebore uit die MAAGD Maria, Jesus wat opgestaan het UIT DIE DOOD… (die dele in hoofletters is uitgelaat maar staan so in die eeueoue belydenis). Julian Müller het ook gesê Jesus het opgestaan: hy het “opgestaan in ons harte”. Wat van glo in die letterlike, fisiese opstanding van Jesus uit die dood? Hier teen die einde is mooi woorde oor vrede, liefde, versoening en ’n oproep tot “doen wat die Here van ons vra” waarmee ek heelhartig saamstem. Die krisis tans in die NG kerk is reusagtig groot, groter as ooit in die geskiedenis van die NG kerk, met geweldige onsekerhede en vrae wat veral nou na vore kom, na Die Strand-bom wat gebars het. Vereis die erns van hierdie saak nie ’n spesiale Algemene Sinode nie?

  2. Enige een wat nie met ’n stok kan voel dat die NGK totaal afgedwaal het nie moet maar weer Openbaring 3 vers 17 en 18 gaan lees. Dit pas soos ’n skoen by die NGK se afgedwalde leer.
    Al die kerke wat nou treur: waar was julle toe julle moes stem in die Sinodes?

  3. WAAR IS ONS FOKUS?

    N.a.v. die video wat die Voorsitter en Moderator van die Algemene Sinode, Nelis Janse-van Rensburg op 28-07-21 geplaas het, wil ek net die volgende kommentaar lewer.

    (1) Ek verstaan nie hoe die Moderator nou by magte is om hom oor die eksperimentele C-19 inspuiting ten tyde van soveel teenstrydige publikasies deur erkende wetenskaplikes, uit te spreek en aanbevelings te kan maak nie. Selfs die International Vaccine Institute weerspreek hulself deur te verwys na ’n “accelerated timeline for testing”, terwyl hulle eie voorskrifte na ’n 4-6 jaar-fase van ontwikkeling en kliniese navorsing verwys wat ± 5-10 jaar kan neem. Miskien sou dit meer van pas gewees het as die Moderator sy kwelling oor die “siekte” in ons gemeenskap en die morele verval binne ons eie kerk, uitgespreek het.

    (2) Ek haal aan: “Vriende, moenie vir u laat mislei deur valse beweringe nie. Daar is mense wat in hierdie tyd deel geraak het van die tydsgees. Dit is ’n globale tydsgees, weerstand teen gesag, teen regerings, teen ekonomiese owerhede, ook teenoor kerklike gesag. Kom ons raak nie deel daarvan nie. In daardie denkruimte word daar agterdog gesaai, word die man gespeel, word daar stories versprei op die internet en sosiale media. Dit is so maklik: elke persoon kan in sy eie kamer sit en gerugte die wêreld instuur. Die waarheid is dat ons in ons besluite in die sinode en in ons besluite in ons kerkrade en ons vergaderings ernstig is oor ons belydenis en dat besluit vir besluit uitdrukking gee daaraan dat ons staan in die tradisie waarin ons staan en daarmee voortgaan.”
    Met die verwysing na die Tydsgees, maak ek die aanname dat daar na ’n “spirit of the age” hier verwys word en nie na die “Zeitgeist” beweging of in ’n soortgelyke konteks nie. Dit is dus opvallend dat die Algemene Sinode in vele gevalle self toegegee het aan die sg. “spirit of the age” deur die Bybel as die fundamentele “Waarheid” te kompromiteer deur o.a. ’n platform te verskaf aan uitsprake en publikasies van ’n erkende agnostikus, die Nuwe Hervormers, en die drukgroepe om selfdegeslaghuwelike binne kerkverband goed te praat. Verder verwys hy na vals gerugte en my afleiding is dat ander opinies en gesprekke op sosiale media onaanvaarbaar is, veral wanneer dit nie die narratief ondersteun nie. Weereens word daar op die “belydenis” gefokus en nie die Woord nie!

    (3) Ek let ook geen pertinente repliek op die reeks vrae wat deur die NG Gemeente Strand aan die Algemene Sinode gestel is nie en volgens my beskeie opinie is dit geldige vrae wat by ten minste 80 ander gemeentes, waarvan ons weet, ook opgewel het. Die strydpunte wat deur ons eie Algemense Sinode se aksies geskep is, word dood luiters gesystap.

    (4) Verder is dit opvallend dat daar nie een keer na die Woord verwys word nie, maar daar word wel na die belydenis en ” ’n dinktradisie” verwys. My belewenis van die sg. “dinktradisie” is dat daar eerder ’n platform geskep word waar sekere fundamentele kernaspekte binne die Woord en Evangelie betwyfel kan word en waar daar vir liberaliste die geleentheid geskep word om die Bybel te erodeer. Hier praat ek nie van koinonia of oordenking nie. Nee, ek verwys pertinent na on-Bybelse interpretasies soos bv. “die geslag van GOD ons Vader” wat nou “oop vir debat” is. Ek gaan my nie uitspreek oor die losse stellings rakende die “opstand teen die wêreld ekonomie” nie, siende dat die konteks daarvan ’n bepalende faktor sal wees. Dit is juis hierdie liberale benaderinge en saamval met die sg. tydgees, dat die Algemene Sinode afgewyk het vanaf die suiwer Woord deur aan sekere debatte deel te neem wat die Woord verdun en uiteindelik gemanupileer word om by die alledaagse aan te pas en toe te gee aan drukgroepe.

    (5) Dit is dus met teleurstelling dat ek op die video reageer. Ek het ook die meegaande verklaring gelees en dit spreek nie die ware brandpunte in die kerk aan nie. Die dwalinge wat steeds ondersteun word en stilswye rondom sekere kwelpunte, bly kommerwekkend.

    (6) Ek let dat die Moderator wel bevestig het dat hulle nie die Wetgewing op Huweliksbevestigers sal ondersteun waar daar ’n gewetensbeswaar ter sprake is nie, maar hy het wel volmondig die voorgestelde wetsontwerp in konsep ondersteun. Dit is ’n laat uur wanneer ’n hoof van ’n Christelike (Kerk) organisasie wetsontwerpe ondersteun omdat dit met die land se Grondwet strook, terwyl dit in skrille kontras met die Woord is.

    (7) Ek is bekommerd oor ons kweekskole en ons kerk in die algemeen.

    Verwysings:
    * https://www.ivi.int/who-we-are/faq/#1614652151615-e400d971-33d7
    * https://www.glodiebybel.co.za/video-ng-kerk-staan-binne-haar-belydenis-nelis-janse-van-rensburg-2021-07-28/

  4. Nie-dolerende gemeentes wat nie teenstand bied teen die liberale besluite wat geneem en aanvaar word nie, ondermyn die gesag van die Woord, bloot deur hulle goedkering of om ’n standpunt van neutraliteit teenoor die algemene toestand van die Kerk aan te neem, kan nie ’n ware Kerk wees nie.

    Dwalings wat indrius teen die Woord van die Here, word openlik aanvaar, en tog met n dekmantel van “broederskap en waarheid” akkomodeer, deurdat hulle beweer dat hulle nog in die belydenis skrifte glo.

    Die stryd in die NG Kerk is sigbaar en tasbaar en dwaling is diep gegrond.

    Maar wat sê die gemeentelede?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui