Predikant verdedig vir James Kirkpatrick

Hier volg ’n e-pos gesprek tussen my (Daniel Louw) en ’n predikant in Pretoria op 28 Januarie 2012. Die gesprek hieronder is gemanipuleer sodat sy identiteit nie verklap word nie.

***********

Van: Daniel Louw
Datum: Sa, 28 Jan 12, 20:05

Hallo X

Is jy nog so by die sending betrokke?

Wat is jou opinie oor die teologie deesdae? Daar is soveel kwessies en debatte oor homoseksualiteit, die bose, seks buite die huwelik, Jesus se opstanding, evolusie… Dit is darem seker nou die meeste. Volg jy die debatte en wat is jou opinie?

James Kirkpatrick, wie jy behoort te ken, se sieninge is nogal kontroversieel. Of deel julle mekaar se sieninge?

Wat is jou benadering tot die Bybel? Glo jy alles letterlik soos dit daar staan?

Groete

Daniel

***********

Van: X
Datum: Sa, 28 Jan 12, 21:41

Dis ʼn mondvol, maar eerste dinge eerste!

Ja, ek is nog steeds by sendinggoed betrokke, ek is verantwoordelik vir ons gemeente se gemeenskapsbetrokkenheid en ek werk so af en toe by ʼn ontwikkelingsorganisasie wat opheffingswerk doen. Dis vir my baie sinvol.

Die teologie is ʼn perd wat mens eintlik oor koffie moet vat, want dis nie altyd ʼn ligte gesprek nie. Ek is heel op hoogte met al die debatte en die verskillende standpunte, en ek moet dalk eers net dit sê:

  1. Ek voel dis belangrik vir die kerk dat teologiese gesprekke op ʼn volwasse manier gevoer word. Dit vra dat mense mekaar se integriteit respekteer. Net omdat iemand anders dink as ek, beteken nie dat hy/sy minder lief is vir die Here of die koninkryk nie.
  2. Debatte kan later ontaard in strydgesprekke, en dan breek dit verhoudings en die kerk af. Dan help dit niks ons baklei oor wat die regte ding is om te glo nie, want dit wat ons doen, is teen die evangelie se hart. So ek het baie tyd vir iemand wat op papier lyk asof hulle van die pad af is, maar lewe op so ʼn manier dat die koninkryk gedien word. Vir my is dit die lakmoestoets.

Ek het baie respek vir James, juis omdat ek kan agterkom dat hy ernstig is oor die kerk en oor God. Ek dink James sal my sentiment deel. Selfs al verskil ons teologies oor ʼn klomp goed (en ons doen!), kom ons baie goed oor die weg, waaroor ek dankbaar is. Dit is so dat James gereeld in die nuus is, maar hy speel ʼn belangrike rol in die groter kerk se nadenke. Hy praat nie altyd net namens homself nie, maar ook baie keer namens AKLAS, die kerk se kommissie wat oor teologiese kwessies moet besin. Die feit dat hy daar voorsitter was vir 6 jaar, sê dat daar by die kerk baie respek is vir sy integriteit. Dan is dit ook so dat mense wat hulle nek uitsteek soms houe vat, want daar is baie mense wat nooit wil sê wat hulle dink of glo nie, net om konflik te vermy.

Ek sien nie kans om die Bybel net so woord vir woord letterlik te probeer glo of verstaan nie. Want dit voel vir my langs daardie pad draai ek myself vas. Die Bybel is te kompleks om bloot te glo wat daar staan en dit dan te probeer doen, want daar is ʼn klomp boeke en verse wat ek dan sal moet ignoreer. En ek wil erns maak met die hele Bybel as die Woord van God. Wat maak ek met die verse wat sê die aarde is plat, of wat my beveel om babas dood te maak? Of 1 Tessalonisense wat my beveel om elkeen by die kerk te groet met ʼn broederlike kus? En as ek sê hierdie verse is nie meer van toepassing nie, hoe besluit ek watter dele moet net so geglo word, en watter dele word geïnterpreteer? Vir my lê die uitdaging daarin om ʼn verstaansraamwerk te kry waarin die hele Bybel sal pas, wat my sal help om al die boeke op my lewe te laat inspeel. En dan help dit my om na die Bybel se ontstaansgeskiedenis te kyk, en hoe die omstandighede mense se stories oor God beïnvloed het.

Sorrie man, dalk is jy nie lus vir lang praatjies nie, ek het gesê dis eerder ʼn koffiegesprek 😉

***********

Van: Daniel Louw
Datum: So, 29 Jan 12, 16:51

X

Ek is bly dat jy nog by sending betrokke is. Dit is seker die belangrikste bediening in die kerk – die sendingopdrag – om siele vir die hemel te wen.

Ek hoop jy is lus vir lang praatjies :-).

Jy sê: “Net omdat iemand anders dink as ek, beteken nie dat hy/sy minder lief is vir die Here of die koninkryk nie.”
As die “anders dink” teenstrydig met die Bybel is, is dit regtig waar wat jy sê? Wat is ware liefde vir God? Is dit nie maar gehoorsaamheid aan God nie (1 Sam 15:22 en Joh 14:15)? En waar hoor ons wat ons moet doen? In die Bybel, reg? Dus as mense bv glo dat homoseks nie sonde is nie of dat gebed nie werk nie, is sulke mense regtig lief vir God? Hulle luister dan nie wat God vir hulle sê nie. Jy gehoorsaam tog jou ouers omdat jy lief is vir hulle.

Jy sê: “So ek het baie tyd vir iemand wat op papier lyk asof hulle van die pad af is, maar lewe op so ʼn manier dat die koninkryk gedien word.”
Dit is die politieke korrekte siening, maar hoe ver kan ’n mens dit neem? Kan ’n ateïs so leef dat die koninkryk gedien word? Wat is die koninkryk?

Dink jy Paulus en die ander apostels (en Jesus) sou saamstem met wat jy hier sê? Kyk wat skryf Johannes in 2 Joh 1:10-11: “As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.” Ek persoonlik het dit nog nooit so ver geneem nie – ek probeer maar altyd (op ’n beskaafde manier) oortuig en bid vir die dwalende persoon. Daar is nog ander voorbeelde waar die apostels sterk opgetree het teenoor dwaling (Die Nuwe Testament oor redding/dwaling).

En verder, hoe sal dwaling ander mense se geloof beïnvloed? Kyk bv in Hoe evolusie mense se-geloof beïnvloed, die volgende:

Net iets oor James:

Ek koop dit nie heeltemal dat James nie altyd vir homself praat nie. Kyk wat sê hy:

  • Oor die maagdelike geboorte:
    • “Hierteenoor het dr. James Kirkpatrick van die gemeente SuidoosPretoria gevra of hy dan vir ’n klomp mense wat ernstig worstel, moet gaan sê hulle is ongelowiges omdat hulle die ortodokse geloofstaal van die kerk nie presies kan nasê nie.”
  • Oor saamwoon:
    • “Kirkpatrick het Vrydag gesê hulle wys nou kenners aan om die kwessie te bestudeer. Die nuwe beleid moet verduidelik “hoekom ons tog graag sal wil hê dat paartjies in ’n huwelik ingaan, maar jy kan saamwoon nie sommer net aan losbandigheid gelykstel nie”. [kyk hier.]
    • “Ek verstom my dat die onderwerp so taboe is dat ons nie eens daaroor mag nadink nie,” het dr Kirkpatrick aan Kerkbode gesê. “Ons het nog nie ’n woord gesê daaroor nie, behalwe dat die 1970-besluit onsinnig is.” [kyk hier.]
  • Oor die bose (terloops, ek is baie ongemaklik met die 2011 Sinode besluit hieroor):
    • “Daar bestaan ’n sterk gevoel dat daar ruimte in die NG Kerk behoort te wees vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van duiwels glo, sowel as vir lidmate wat nie aan die bestaan van duiwels glo nie. Die twee groepe interpreteer die Bybelse spreke oor die bose en duiwels verskillend. Die voorsitter van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (Atlas), dr James Kirkpatrick, het op navraag aan Kerkbode gesê dit lyk vir hom na ’n goeie beskrywing van die werklike situasie in die kerk.” [kyk hier.]
    • “ “Ons verloor volgens my ons teologiese integriteit indien ruimte gelaat word vir praktyke soos waarvan in onlangse berigte vertel is”, het dr Kirkpatrick gesê. Hy het die hoop uitgespreek dat die kerk afwysend daaroor sal wees.” [kyk hier.]
    • “Daarteenoor het dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus egter absoluut. Hy het gepleit dat daar ook vir mense soos hy ruimte geskep sal word. Dr. James Kirkpatrick van Suidoos-Pretoria het hom by Du Toit geskaar en gesê dié siening berus op ’n ernstige vertolking van die Bybel en die belydenisskrifte.” [kyk hier.]

En indien hy werklik verskil met AKLAS (seker ATLAS), moes hy uit protes bedank het as voorsitter. Dit is wat ek sou doen. Ons praat van erge afwykings van die waarheid.

Jy sê self dat julle verskil. Waaroor verskil julle? Maar jy hoef my nie hierop te antwoord as jy ongemaklik is om James te bespreek nie. Kom ons los hom uit as jy wil.

Ek wil egter iets anders vra:

Jy sê: “Ek sien nie kans om die Bybel net so woord vir woord letterlik te probeer glo of verstaan nie.” En “Wat maak ek met die verse wat sê die aarde is plat, of wat my beveel om babas dood te maak? Of 1 Tessalonisense wat my beveel om elkeen by die kerk te groet met ʼn broederlike kus? En as ek sê hierdie verse is nie meer van toepassing nie, hoe besluit ek watter dele moet net so geglo word, en watter dele word geïnterpreteer?”

Hoe hanteer jy hierdie “probleem”? Hoe besluit jy wat in die Bybel moet jy letterlik opneem en watter dele nie? Hoekom neem jy bv Jesus se opstanding as letterlik op (as jy doen)?

Kan ek jou vertel hoe ek dit hanteer: Ek lees geskiedenis as geskiedenis, poësie as poësie, gelykenisse as gelykenisse, ens. Dan is dit baie moeilik om ’n fout te maak. Dan is die volgende volgens die Bybel waar:

  • ’n sesdagse skepping
  • ’n Globale vloed
  • Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke, letterlike liggaamlike opstanding, hemelvaart, Goddelikheid, ens.
  • Redding slegs deur Jesus (!!!)
  • Seks buite die huwelik verkeerd
  • Homoseks verkeerd
  • Krag van gebed.

Oor die voorbeelde wat jy opgenoem het, die volgende:

  • Plat aarde: Die feit dat mense moontlik geglo het in ’n plat aarde beteken nie die Bybel verkondig dit nie. Verder praat die Bybel ook op party plekke van ’n ronde aarde. Kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?
  • Doodmaak van baba’s: Hierdie een moet ek erken dat dit ’n moeilike een is. Ek het hiervan sin probeer maak in die artikel Om God en die Bybel te verstaan.
  • Groet met ʼn broederlike kus: Ek dink hierdie een is maklik. Dit was die groetvorm van daardie tyd. Die Bybel spesifiseer nie presies hoe Christene moet groet nie.

Daar is nog baie ander sulke “probleme” wat nie regtig probleme is nie. Twee ander wat mense graag gebruik is (1) vroue wat hoede moet dra en (2) slawerny in die Bybel. Vir nog, kyk:

Dit was nou ’n mondvol. Dankie vir die gesels.

Groete

Daniel Louw

**************

Teen Woensdag, 1 Februarie 2012 het hy my nog nie teruggeantwoord nie en toe stuur ek dit weer vir hom aan met die volgende boodskap aan die bokant:

X

Ek wou maar net seker maak dat jy hierdie e-pos gekry het.

Ek hoop nie jou stilte beteken dat jy so baie van my verskil dat jy nie dink dat dit die moeite werd is om my terug te antwoord nie. 🙂

Groete

Daniel

***********

Hy het my tot vandag toe nog nie terug geantwoord nie. Ek neem aan dat hy van my verskil 🙂

Dit is baie jammer dat iemand wat ’n hart vir sending het, nie insien dat liberales, soos James Kirkpatrick, besig is om die evangelie ongelooflike groot skade aan te rig nie. Ek weet ook nie of hy besef dat James se benadering beteken dat hy ook nie dink dat sending belangrik is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui