Die Bybel oor die ouderdom van die aarde

Opsomming

Daar is drie dele in die Bybel wat baie direk is daaroor dat die aarde nie miljoene jare oud is nie:

  1. Genesis 1 self: Die woorde: Dit het aand geword en dit het môre geword. en ook die gebruik van die Hebreeuse woord “yôm” wat vir “dag” gebruik word.
  2. Die tien gebooie, wat God met sy eie vinger geskryf het, verwys na ’n sesdag skepping.
  3. Jesus sê in Matteus 19:4-5 dat die mens van die begin van die skepping teenwoordig was.

Daar is verder ander dinge in die Bybel wat glad nie versoenbaar is met ’n ou aarde nie:

  1. Die geslagsregisters
  2. Dood voor die sondeval
  3. Die sondvloed
  4. Die dood kom deur een mens

2 Petrus 3:8 (vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag) en Psalms 90 is die enigste tekste wat gebruik kan word om te argumenteer vir ’n ou aarde, maar dit is ongeldig.

Indien Genesis 1 op sigwaarde gelees word, is dit baie duidelik dat God in ses 24-uur dae geskep het. Die koms van die “wetenskap” het egter kwansuis bewys dat die aarde 4.5 miljard jaar oud is. Dit maak dat sommige Christene redeneer dat die Bybel nie noodwendig sê dat die aarde jonk (ongeveer 4004 vC) is nie. Hierdie artikel kyk spesifiek na wat die Bybel oor die ouderdom van die aarde sê.

Die Bybel verwys nie op baie plekke direk na die ouderdom van die aarde nie.

Direkte verwysing na jong aarde

“Dit het aand geword en dit het môre geword.”

In Genesis 1 word die volgende woorde gebruik ná elke dag (ses keer):

“Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die Xde dag.”

Die skepping word afgesluit aan die begin van Genesis 2:

(1)Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. (2)Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. (3)Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. (4)Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.

Duideliker kry jy dit nie.

Yôm = een normale 24-uur dag

Die Hebreeuse woord wat vir “dag” in Genesis 1 gebruik word is “yôm“. Regdeur die Bybel word hierdie woord gebruik om na gewone, 24-uur dae te verwys.

God skryf met sy eie vinger

God het met sy eie vinger geskryf dat Hy in ses dae geskep het:

Eksodus 20(11)Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Eksodus 31: (18)Nadat die Here op Sinaiberg met Moses gepraat het, het Hy die twee plat klippe met die getuienis daarop aan Moses gegee. Dit is die plat klippe waarop God met sy vinger geskryf het.

Eksodus 32: (16)en dit was die werk van God. Dit was ’n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.

Indien Genesis 1 nie korrek was nie, hoekom het God nie net geskryf dat Hy aan die begin geskep het nie, of om meer spesifiek te wees, oor ’n lang tydperk? Hoekom sê Hy spesifiek ses dae?

Die mens is teenwoordig van die begin van die skepping

In Markus 10:6 sê Jesus: "maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak." Dit is ’n aanduiding dat Adam en Eva van die begin van die skepping daar was en stem ooreen met die idee dat die aarde ongeveer 4004 vC geskep is. Volgens die evolusietydlyn het die skepping reeds 15 miljard jaar gelede begin, dus kon Adam en Eva nie van die begin van die skepping daar wees nie.In Matteus 19:4-5 en Markus 10:6 sê Jesus:

(6)Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’

Kyk ‘From the beginning of creation’—what did Jesus mean? en But from the Beginning of . . . the Institution of Marriage?

Hier praat Jesus van die huwelik. Alhoewel Hy nie Adam en Eva se name noem nie, verwys Hy baie duidelik na hulle. Jesus sê duidelik dat die mens van die begin van die skepping daar was. Dit is teenstrydig met evolusie wat beweer dat die mens en verskillende geslagte eers baie laat sy verskyning gemaak het. Kyk hoe teenstrydig is dit byvoorbeeld met wat Hugh Ross, ’n Christen, sê: “If the time since the creation of the universe were scaled down to a single year, the whole of human history would be less than one minute.” – Hugh Ross, The Fingerprint of God, p178

Ander dinge

Alhoewel die Bybel nie op baie plekke in die Bybel direk na die ouderdom van die aarde verwys nie, is daar heelwat meer indirekte aanduidings.

Geslagsregisters

‘n Mens kan nie iets van die ouderdom van die aarde aflei van die geslagsregisters nie, maar uit die geslagsregisters en ander gegewens in die Bybel kan ’n mens baie eenvoudig bepaal dat Adam en Eva ongeveer 4004 vC hulle lewe op aarde begin het. Kyk Belangrike Bybelse datums en Gapings in die geslagsregisters.

Dood voor die sondeval

Die Bybel is baie duidelik dat daar geen dood van mens óf dier voor die sondeval was nie. Kyk Dood en swaarkry voor die sondeval. As Adam en Eva dus 4004 vC geleef het beteken dit dat al die fossiele op aarde jonger as 6000 jaar is. Hierdie feit rym nie met die idee van ’n ou aarde nie.

Sondvloed

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat die sondvloed wêreldwyd was en dat die aarde vir meer as ’n jaar onder water was. ’n Volle drie hoofstukke word hieraan gewy (Gen 6-8). Dit impliseer dat al die geologiese verskynsels op aarde, soos die Grand Canyon, tydens die sondvloed (2348 vC) gevorm het en nie miljoene jare gelede nie. Die Egiptiese piramides moes dus ook eers ná die sondvloed gebou gewees het.

Die dood kom deur een mens

In Romeine 5 en 1 Korintiërs 15 is Paulus duidelik daaroor dat die sonde, en daarom die dood, deur een mens, naamlik Adam, in die wêreld gekom het:

Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood

1 Kor 15:45 verwys spesifiek na Genesis 2:7:

(45)So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende wese geword.”

Dit het gebeur tydens die sondeval in Genesis 3. Daar word algemeen onder Christene verwys daarna as die erfsonde. Daardeur word verstaan dat daar nie ander families op aarde was toe Adam en Eva gesondig het nie (die sondeval het ook hoogs waarskynlik plaasgevind voor die geboorte van Kain). Die Bybel noem ook nie enige ander geskape families nie. Dus is Adam se hele nageslag, en daarom die hele mensdom, geraak deur die sondeval – hulle en ons het die sonde geërf van Adam en Eva.

Indien daar ander families op aarde was tydens die sondeval sou dit nie sin maak dat Adam se sonde ook hulle sou raak nie.

Verse vir ou aarde

Die enigste dele in die Bybel wat gebruik kan word om te argumenteer vir ’n ou aarde is 2 Petrus 3:8:

(8)…vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

En Psalms 90:4.

(4)Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Nie een hiervan verwys egter spesifiek na die dae in Genesis 1 nie en is daarom ’n ongeldige argument vir ’n ou aarde. As hierdie gebruik kan word om die dae in Genesis 1 te bevraagteken dan is al die tydsperiodes in die Bybel oop vir interpretasie. Dit is nie eerlike hermeneutiek nie. Kyk Vir die Here is een dag soos duisend jaar … vir meer inligting.

2 thoughts on “Die Bybel oor die ouderdom van die aarde”

  1. Vinnige vraag of 2. Gelowiges se ateiste is mal deur te dink dat die wonderlike heelal nie ’n Skepper het nie. Hulle is egter 100% gemaklik dat die Skepper nie ’n Skepper het nie. Hulle het geen probleem dat God altyd daar was nie. Ateiste het egter ’n probleem oor die ontstaan van die heelal. Voorts die soeke na antwoorde. Nou vra ek jou wie dink jy is mal? Verder, God is na bewering tot enigiets in staat. Verduidelik asb hoe dit moontlik is dat Hy almagtig en alwetend kan wees. Ek kan nie wag vir jou antwoorde.
    Byvoorbaat dank.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui