NG Kerk laat ruimte vir botsende sienings oor duiwel

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronlik in Beeld verskyn.

************

NG Kerk laat ruimte vir botsende sienings oor duiwel

2011-10-12 22:00

Neels Jackson

Die NG Kerk se algemene sinode het gister ruimte gelaat binne die kerk vir mense wat glo die duiwel en demone bestaan as persone én vir diegene wat dit nie glo nie. [Kyk hier.]

Waaroor almal saamstem is dat die boosheid ’n werklikheid is, dat dit reeds deur Jesus Christus oorwin is, maar dat gelowiges steeds ’n geestelike stryd teen boosheid voer.

Oor die aard van die boosheid was daar egter uiteenlopende sieninge.

Prof. Johan van Rensburg van Bloemfontein het gesê die Nederlandse Geloofsbelydenis verwys na gevalle engele wat as demone funksioneer.

“Ons kan nie sê jy hoef nie dié deel van die NGB te glo nie,” het Van Rensburg gesê.

Hy het ook opgemerk dat ’n mens die Bybelboek Judas verwerp as jy nie die bestaan van duiwels of demone aanvaar nie.

Daarteenoor het dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus egter absoluut.

Hy het gepleit dat daar ook vir mense soos hy ruimte geskep sal word.

Dr. James Kirkpatrick van Suidoos-Pretoria het hom by Du Toit geskaar en gesê dié siening berus op ’n ernstige vertolking van die Bybel en die belydenisskrifte.

Die sinode het besluit daar is ruimte in die kerk vir albei die sienings.

Die sinode het ook ruimte gemaak vir ’n bediening van bevryding waardeur duiwels uitgedryf word binne die NG Kerk.

Die sinode het egter gemaan dat dit ’n buitengewone bediening moet bly en ’n rits voorwaardes daarvoor gestel.

Dit sluit onder meer in dat ’n predikant dit onder toesig van sy kerkraad en ring moet doen en dat die betrokke persone ook vir mediese evaluasie verwys moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui