Christene laat die oordeel aan God oor

Christene laat die oordeel aan God oor

(Van Beeld gekopieer.)

deur Gert van Rensburg, Limpopo 2012-09-22 23:41

Die storm oor die video wat vertoon is om die gewelddadige onverdraagsaamheid van sekere Moslemgelowiges te vertoon, en dit reggekry het, maak nie sin wanneer dit vergelyk word met byvoorbeeld die Christengeloof nie.

By ’n opening van die Universiteit van Pretoria se teologie-fakulteit ’n jaar of twee gelede het ’n bekende ateïs, evolusie-wetenskaplike en professor van Stellenbosch wat die gasspreker was, gesê die Christengeloof is slegs ’n “lawwe bygeloof”! Dit is ’n regstreekse aanval op en belastering van Jesus Christus.

Hy is nie gedreig, aangerand, geteer en geveer en sy huis afgebrand nie! Inteendeel. Omdat die Christengeloof liefde en verdraagsaamheid vooropstel, bid ons eerder vir hom en hoop hy sal betyds tot ander insigte kom. Die Here sê self in die Bybel: “My alleen kom die wraak toe.”

Toe die rolprent oor Jesus in Amerika gemaak is waarin Hy seks met Maria Magdalena sou hê, met haar getrou het, kinders gehad het en wat nog – weer ’n aanval op die Bybel – is die Amerikaanse ambassade nie aangeval en hul vlag verbrand nie, geen boikotte of enige fisieke reaksie is van stapel gestuur om dit teen hulle te vergeld nie.

Weer bid ons dat die mense wat so beledigend teenoor Jesus Christus optree hul verkeerde denke sal oorkom.

In Arabiese lande word Christene wreedaardig vervolg en doodgemaak. Nog nooit het ’n Islam-raad hulle openlik uitgespreek teen terrorisme van enige aard nie.

Wat moet die wêreld daarvan aflei?

Kyk ook:

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui