Sinode praat wéér oor die bose

Die volgende artikel het in die gedrukte Kerkbode verskyn op 4 Februarie 2011.

************

Sinode praat wéér oor die bose

PRETORIA. – Die NG Kerk gaan waarskynlik tydens die Algemene Sinode in Oktober gevra word om te aanvaar dat daar binne die NG Kerk ’n diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en duiwels is.

Daar bestaan ’n sterk gevoel dat daar ruimte in die NG Kerk behoort te wees vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van duiwels glo, sowel as vir lidmate wat nie aan die bestaan van duiwels glo nie. Die twee groepe interpreteer die Bybelse spreke oor die bose en duiwels verskillend. Die voorsitter van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (Atlas), dr James Kirkpatrick, het op navraag aan Kerkbode gesê dit lyk vir hom na ’n goeie beskrywing van die werklike situasie in die kerk. Of dit wel een van die aanbevelings in die finale verslag gaan wees, is nog ’n ope vraag. Volgens dr Kirkpatrick, wat ’n verslag hieroor vir die Algernene Sinode help voorberei, sal daar waarskynlik groot klem gelê word op die aanvaarding dat die bose reeds deur Christus oorwin is en dat duiwelse magte geen bedreiging vir ’n gelowige inhou nie. ’n Soortgelyke verslag is tydens die vorige sinodesitting terugverwys vir verdere studie.

Dr Kirkpatrick het aan Kerkbode gesê die taakgroep het nog nie sy verslag gefinaliseer nie. Die finale verslag sal in Oktober voor die Algemene Sinode dien, wat ’n besluit sal neem oor die aanbevelingswat daarin vervat is.

Op ’n vraag of die verslag openbare kennis sal wees voordat die sinode dit bespreek, het dr Kirkpatrick gesê hy hoop so. “Ek meen die verslag moet openbare kennis wees nadat Atlas dit aanvaar het as die stuk wat by die Algemene Sinode sal dien. Die besluit berus egter by die AlgemeneSinodese moderatuur.”

Oor die term “bediening van bevryding” het dr Kirkpatrick gesê hy meen dit is ’n term waaronder daar te veel dinge tuiskom. “Vir sommige mense is dit om te bid vir iemand wat meen boosheid of die duiwel of die kwade knel hom of haar. Vir ander mense is dit olie en mantras en wat nog alles. Ons moet duideliker sê wat met die terminologie bedoel word.” Dr Kirkpatrick meen daar moet duidelik nee gesê word vir die magiese bygeloof wat baie van die praktyke kenmerk. “Ons verloor volgens my ons teologiese integriteit indien ruimte gelaat word vir praktyke soos waarvan in onlangse berigte vertel is”[1], het dr Kirkpatrick gesê. Hy het die hoop uitgespreek dat die kerk afwysend daaroor sal wees.

– jean@tydskrifte.co.za

Voetnotas deur webmeester

1. Dit is onlangse berigte soos:

Kommentaar

Dit is bekommeringswekkend dat die voorsitter van die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake ongeërg staan oor die feit of daar ’n duiwel is of nie. Dit laat ’n mens wonder of hy self dink dat daar ’n satan bestaan.

In Die duiwel is los. Of nie? word gesê: “Sy [James Kirkpartick] standpunt soos hierbo gestel is sy persoonlike standpunt en nie dié van die taakspan nie.” Maar dit help nie veel nie, want hy is ’n lid op daardie taakspan wat sy bes gaan probeer om sy opinie deur te kry.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui