Die Bybel oor ware liefde vir God

In die homoseksuele debat word dikwels verwys na liefde. Ware liefde vir God is egter gehoorsaamheid aan Hom. ’n Mens kan ook byvoeg dat indien mens waarlik lief is vir God, dan sal jy ook lief wees vir Sy Woord (die Bybel) en die gesag van die Bybel in jou lewe aanvaar.

Hier volg dele in die Bybel waar God sê hoe Hy liefgehê wil word.

Genesis 22

(1)’n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” (2)God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”
(10)Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, (11)roep die Engel van die Here uit die hemel na hom: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” (12)Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

Abraham moes sy seun, wat eers gebore is toe hy 100 jaar oud was, aan God geoffer het om sy liefde aan God te bewys. God was hom egter genadig, maar dit wys iets van die karakter van God.

Numeri 25

(5)Moses het toe vir die stamhoofde van Israel gesê: “Julle moet elkeen julle eie manne wat vir Baäl-Peor aangehang het, doodmaak.” (6)Onder dit alles het ’n Israelitiese man tog nog ’n Midianitiese vrou tussen sy familie in gebring. Hy het dit gedoen voor die oë van Moses en die hele gemeente van Israel wat by die ingang van die tent van ontmoeting gestaan en huil het. (7)Toe Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, sien wat die man doen, het hy uit die gemeente opgestaan, ’n spies gevat (8)en die man na die vrouetent toe gevolg. Daar het hy die spies deur albei gesteek, deur die man tot in die onderlyf van die vrou. Daarmee het die ramp onder die Israeliete tot ’n einde gekom; (9)daar het vier en twintig duisend deur die ramp gesterf. (10)Die Here het toe vir Moses gesê: (11)“Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie. (12)Daarom moet jy vir Pinehas sê dat Ek ’n verbond met hom sluit wat hom vir altyd ten goede sal kom. (13)Hierdie verbond verseker vir hom en vir sy nageslag ’n blywende priesterskap omdat hy vir die eer van sy God opgekom het en vir die Israeliete versoening gedoen het.”

Kyk ook Pinehas.

Deuteronomium 4:1-2

(1)“Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee. (2)Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.

1 Samuel 15:22-23

(22)Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. (23)Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

Psalm 40:7

(7)Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê.

Psalm 51:18-19

(18)’n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ’n brandoffer wil U nie hê nie. (19)Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.

Psalm 119

(1)U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word.
(8)Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie.
(9)Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!
(10)Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie.
(11)Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.
(16)Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.
(24)U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers.
(32)Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe.
(56)Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe.
(60)Ek talm nie, ek haas my om u gebooie te onderhou.”

Die hele Psalm 119 word gewy aan die liefde vir God se gebooie en gehoorsaamheid daaraan.

Spreuke 21:3-4

(3)Die Here verkies dat ’n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy offers bring. (4)Die sonde van goddeloses begin altyd met selfverheffing en eiewaan.

Jesaja 1:11-17

(11)Wat het Ek aan julle baie offers? vra die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van voerbeeste; die bloed van bulle en lammers en bokke staan My nie aan nie. (12)As julle kom om voor My te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap? (13)Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het ’n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. (14)Julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek. Hulle is vir My ’n las, Ek is moeg daarvoor. (15)As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek. (16)Was julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn as julle verkeerd doen nie. Hou op met kwaad doen. (17)Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees.

Jesaja 59

(1)Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. (2)Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.

Jeremia 7:22-23

(22)Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. (23)Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.

(Kyk ook Jeremia 7:1-15 waar God sê dat die volk nie op die tempel moet vertrou nie, maar dat hulle gehoorsaam aan God moet wees.)

Jeremia 48:10 (NLV)

(10)’n Vloek rus op elkeen wat weier om die werk van die Here te doen. ’n Vloek rus ook op elkeen wat nie dié doodmaak wat die Here hulle beveel het om dood te maak nie!

Hosea 6:6

(6)want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.

Amos 5:21-24

(21)Ek haat, Ek verafsku julle feeste, Ek het niks aan julle feestye nie. (22)Al bring julle vir My brandoffers en graanoffers, dit is nie vir My aanneemlik nie, en Ek kyk nie eens na julle maaltydoffers van vetgevoerde kalwers nie. (23)Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie! (24)Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.

Miga 6:6-8

(6)Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers? (7)Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding? (8)Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Matteus 12:7

(7)As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie.

Lukas 6:46-47

(46)“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? (47)Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is:

Johannes 14:15

(15)“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.

Johannes 15:10,14

(10)As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.
(14)Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.

Romeine 14:17-18

(17)Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. (18)Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.

1 Johannes 2:3-6

(3)As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. (4)Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. (5)Wie sy woord egter gehoorsaam — in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. (6)Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

Handelinge 5:29

(29)Petrus en die ander apostels het geantwoord: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!

***********

In 11 Vita Dei Woordskool: God oordeel die ongehoorsames gee Riekert Botha ’n paar verse in die Bybel wat sê dat God die ongehoorsames oordeel.

Hier volg die verse:

  1. Johannes 3:35-36
  2. Handelinge 19:9
  3. Romeine 2:5-11
  4. 2 Korintiërs 10:4-6
  5. Efesiërs 5:6-7
  6. Titus 1:16
  7. Titus 3:3-6
  8. Hebreërs 2:1-3
  9. Hebreërs 4:6-7
  10. 1 Petrus 2:7
  11. 1 Petrus 4:17

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui