Saamwoon-verslag kry gestalte

Kyk ook:

Die volgende artikel is in Kerkbode geplaas.

Kyk Huwelik en Saamwoon – Algemene Sinode NG Kerk – 12 Oktober 2011 vir die finale verslag.

**********

Saamwoon-verslag kry gestalte

2010-01-22

Die NG Kerk het begin met die opstel van sy verslag oor ongetroude pare wat buite die huwelik saamwoon.

Kerkbode het einde verlede jaar onthul die kerk gaan opnuut kyk na die kwessie van saamwoon sonder prysgawe van Bybelse waardes.

’n Landwye storm het in kerkkringe losgebars nadat Kerkbode daaroor berig het. Teoloë wat die ondersoek aangevra het, is in spotprente wat op die internet versprei word selfs daarvan beskuldig dat hulle “hoerery” goedkeur.

Die voorsitter van die Algemene Sinode se taakgroep oor Leer en Aktuele Sake (Atlas), dr James Kirkpatrick, het aan Kerkbode gesê die taakgroep se dagbestuur het verlede week ’n telefoonkonferensie oor die saak gehou. Kundiges sal onder meer gevra word om ’n konsepverslag voor te berei. Die verslag met aanbevelings kan reeds so vroeg as volgende maand aan die Algemene Sinode se Moderatuur (ASM) voorgelê word. Die ASM sal dan besluit of hy die verslag wil bekend maak en sal dit uiteindelik na die volgende Algemene Sinode verwys vir goedkeuring.

“Ek verstom my dat die onderwerp so taboe is dat ons nie eens daaroor mag nadink nie,” het dr Kirkpatrick aan Kerkbode gesê. “Ons het nog nie ’n woord gesê daaroor nie, behalwe dat die 1970-besluit onsinnig is.” Volgens die 1970-besluit wou die Algemene Sinode gehad het dit moet as ’n misdaad beskou word as ongetroudes seksueel verkeer.

Die man wat die saak by Atlas aangeroer het, dr Chris Jones, het aan Kerkbode gesê hy finaliseer nog sy dokument met voorstelle en sal dit binnekort aan Atlas stuur. Dr Jones is hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele leierskap.

Intussen het die Gereformeerde Kerk Centurion ’n “Skriftuurlike ondersoek” oor saamwoon voor die huwelik op hulle webwerf geplaas. Daarin word saamwoon tussen twee partye wat verlief of verloof is (met of sonder die seksuele), afgewys omdat dit “in stryd is met wat God vir sy kinders wil hê”. Die kerk beskou saamwonery met of sonder seks tussen verliefdes as ’n openbare sonde.

Om die afwesigheid van geslagsgemeenskap as regverdiging vir saamwoon in ’n ernstige verhouding te gebruik, is volgens dié kerk ’n verskraling van die wese van die huwelik. Gelowiges wat saamwoon in ’n ernstige verhouding, maar nie seksueel aktief is nie, oortree volgens hulle die tweede en derde gebod asook ander Skrifbeginsels. Hulle glo dit tas die huwelik as instelling van God aan en ook die beeld wat hulle as Christene uitdra.

In sulke gevalle moet die kerkraad dit sien as ’n openbare sonde, lui die studiestuk wat deur Hennie van der Berg en Johan Lubbe van die Gereformeerde Kerk Wapadrant opgestel is. Lidmate wat hulle daaraan skuldig maak, moet van die sakramente “afgehou” word. Hulle moet egter nog steeds in “liefde bedien” word en tot “bekering” opgeroep word.

Dit word ook van ouderlinge in die Gereformeerde Kerke verwag om lidmate direk te vra in gevalle waar vermoed word dat lidmate saamwoon. Die dokument sê dit is nodig dat die ouderling direkte vrae vra om die aard van die verhouding te bepaal. – jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui