Vrouens en hoede

Kyk ook:

In 1 Korintiërs 11 en 14 sê Paulus dat vrouens hoede moet dra en stil moet wees tydens byeenkomste:

1 Korintiërs 11

(5)Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ’n vrou wie se hare afgeskeer is. (6)As ’n vrou nie iets op haar kop wil sit nie, kan sy ewe goed haar hare laat afsny. Maar aangesien dit ’n skande is vir ’n vrou om haar hare te laat afsny of afskeer, moet sy iets op haar kop sit.

(13)Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir ’n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid? (14)Die algemene opvatting is tog dat dit vir ’n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie, (15)maar dat dit vir ’n vrou wel eerbaar is. Lang hare is immers vir haar gegee as ’n bedekking. (16)Ons het in die erediens nie ’n ander gewoonte nie, en die ander gemeentes van God ook nie. Dit sê ek vir iemand wat hieroor wil stry.

1 Korintiërs 14

(33)God is tog nie ’n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. Soos in al die Christelike gemeentes (34)moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. (35)As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir ’n vrou om in die erediens te praat.

Vandag wyk ons egter van Paulus se siening af. Sommige mense wil om hierdie rede argumenteer dat ’n mens vandag ook anders kan dink oor sommige kwessies in die Bybel soos ’n skepping in 6 dae volgens Genesis 1, homoseksualiteit en saamwoon.

Dit is egter nie ’n geldige argument nie:

Paulus het hier slegs sy mening uitgespreek. In 1 Kor 11:13 sê hy: “Oordeel julle nou maar self”. Dus lyk dit of Paulus die besluit aan die gemeente oorlaat – hy forseer dit nie af nie. In 1 Kor 7:25 gee Paulus ook sy eie mening: “Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.”

Paulus se mening was sterk gebaseer op die kultuur teenoor vroue daardie tyd wat baie anders was as vandag[1]. Die volgende verse in Johannes 4 bevestig die kultuur van daardie tyd:

(9) Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

(27) Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.

‘n Ander interessante feit wat ingedagte gehou moet word is dat die kultuur van daardie tyd veroorsaak het dat vroue nie geletterd was nie, maar slegs die mans. Dus sou die vroue minder sinvol kon saampraat tydens die byeenkomstes.

Verder, agv die kultuur van daardie tyd het vrouens waarskynlik apart van die mans gesit in die sinagoge en was nie toegelaat om te praat nie. ’n Mens kan net indink dat daar soms onder die vroue ’n bespreking ontstaan het oor wat van voor gesê is. Dit het ’n rumoer veroorsaak.

‘n Mens kan nie regtig afleidings maak oor die feit dat Paulus nie die diskriminerende kultuur van daardie tyd aangespreek het nie. Onthou, Dawid was ’n man na God se hart, maar tog het hy meer as een vrou gehad, wat nie deel was van wat God aan die begin bedoel het nie (kyk Die Bybel oor poligamie).

Wat is God se opinie van vroue se status?

God stem nie saam met hierdie kultuur nie:

  • Hy het vrouens as mans se gelyke geskape: Genesis 2:18: Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” Interessant, God het die vrou uit Adam se ribbebeen gemaak terwyl al die diere, insluitende Adam, uit stof gemaak is.
  • God het ook vroue in magsposisies gebruik: Rigters 4:4 : In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ’n profetes.
  • Vroue het as profete opgetree: As God vrouens minder geag het, sou ’n mens dink dat God hulle nie sou gebruik het as profete nie.
  • Jesus het moeite met vroue gemaak, wat teenstrydig was met die kultuur van daardie tyd:
  • God het toegelaat dat dit vroue was wat die eerste keer Jesus se leë graf ontdek het (Matteus 28). (Kyk ook die artikel Hoe nie om ’n nuwe geloof te begin nie)

Waar kom die kultuur vandaan dat vroue benede mans is?

Die antwoord word gevind in Genesis 3:16 : Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

Dus is dit deel van die sondeval. Dit beteken nie dat dit God se wil is dat vrouens minderwaardig behandel moet word nie, maar dit is deel van die vrou se straf.

Dit is egter ons taak om die gevolge van die sondeval teë te werk.

Skrif verklaar Skrif

Miskien moet ’n mens ook in hierdie geval die “skrif-verklaar-skrif”-beginsel toepas. Met Jesus se koms is daar met baie gebruike en rituele weggedoen, byvoorbeeld die besnydenis en die reiningingsgebruike. Watse verskil sal ’n hoed vir God maak? Ek dink nie dit is vir Hom belangrik nie.

Homoseksualiteit en saamwoon is egter ’n heeltemal ander saak. Dit kan nie vergelyk word met vrouens wat hoede moet dra nie. Die Bybel is op 5 plekke baie duidelik oor homoseksualiteit (kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit en Die Bybel oor seks voor die huwelik).

Bylaag A

Die volgende artikel deur Dr Marius Nel het in Kerkbode, 5 Desember verskyn:

Paulus het hoë agting vir vroue

Kerkbode, 5 Desember 2014

Paulus word dikwels daarvan beskuldig dat hy nie tyd vir vroue gehad het nie. Nie alleen wat hy nooit getroud nie, maar hy het immers geleer dat hulle in die kerk moes swyg (1 Kor 14:34).

Dit is egter ’n vraag of die siening van Paulus ongekwalifiseerd waar is.

In sy uitgebreide groeteboodskap aan die gemeentes in Rome verwys hy in Romeine 16 immers na verskeie vroue wat medewerkers van hom was.

So stel hy reeds in die eerste vers vir Febe as ’n dienaar of diakones in die gemeente van Kenchreë bekend. Al was die diakenamp waarskynlik nog nie ingestel nie, maak dit geen verskil aan Paulus se agting vir haar as ’n medewerker nie. Hy noem haar sy weldoener wat impliseer dat sy hom finansieel ondersteun het (vers 2).

Die manier waarop hy haar bekendstel (“staan haar by in enige saak”) dui ook daarop dat hy waarskynlik die Romeinebrief aan haar toevertrou het om aan die gemeentes in Rome te besorg. In ’n patriargale wêreld waarin vroue geweldig ingeperk is, gee hy aan Febe sy belangrikste brief om af te lewer.

Hy stuur ook groete aan Priska en Akwila, en anders as gebruiklik in sy tyd spreek hy vir Priska eerste aan as uiting van sy geweldige agting vir haar. Oor haar en haar man getuig Paulus dat hulle sy lewe gered het (vers 3-4).

Daar is ook talle ander vroue wat hy vermeld; Junia en haar man wat onder die apostels gereken is (vers 7), Trifena en Trifosa vir wie hy harde werkers vir die Here noem (vers 12), Rufus se ma wat ook vir hom een was (vers 13) en nog ander.

Dit is duidelik uit die manier waarop Paulus oor die vroue getuig as weldoeners, harde werkers, gereken, vreesloos en versorgers dat hy vrylik met vroue saamgewerk het al was hy ’n man van sy tyd.

~ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Bylaag B

Die volgende word geskryf in die eenjaarbybel (NLV):

Oordenking: Orde in die Christelike byeenkomste (1 Korintiërs 14:34-35)

Beteken dit dat vroue nie in kerkdienste mag praat nie? Uit ’n teks vroeër in dié sendbrief is dit duidelik dat vroue wel in die kerk kan bid en profeteer, ook skynbaar tydens openbare byeenkomste in die kerk. Dit is ook uit hoofstuk 12-14 duidelik dat vrou geestelike gawes ontvang en hulle word aangemoedig om dit in die gemeente van Christus te gebruik. Vroue kan ’n groot bydrae lewer en mag aan eredienste deelneem.

In die kultuur van die Korinte was vroue nie toegelaat om mans in die openbaar te konfronteer nie. Dit wil voorkom asof sommige van die vroue wat Christene geword het, gedink het dat hulle Christelike vryheid hullle die reg gee om in die erediens op te staan en die mans vrae te vra. Dit het tot verdeeldheid in die kerk gelei. Vroue het ook nie in daardie tyd enige formele godsdiensopleiding gehad soos die mans nie. Hulle kon tydens die erediens vrae vra wat ewe maklik tuis beantwoord kon word, sonder dat dit die diens ontstig. Paulus het in belang van die eenheid die vroue gevra om nie met hulle Christelike vryheid te koop te loop tydens die eredienste nie. Paulus sê hierdie dinge om kerkeenheid te bevorder, en nie om die mense meer omtrent die vrou se rol in die kerk te leer nie.

Voetnotas

[1] Daar is vandag bv nog volke waar mans en vroue nie saam eet nie, en as ek dit nie mis het nie, dan het die Europeers en/of Amerikaners ook hierdie kultuur gehad nie te lank terug nie. Vroueregte (waarmee ek nie alles saamstem nie) het eers relatief onlangs gebeur. Kyk bv:

2 thoughts on “Vrouens en hoede”

  1. Ek wil net weet is ‘n vrou geregtig om ‘n pastoor te wees of te word en ‘n kerk te bou, want jy hoor uit die verse en daai verse verskillende dinge en dit maak my confuse. Wat van as ‘n vrou nie ‘n man het nie? Waar los dit haar dan?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui