Storm in Kerk oor saambly

Kyk ook:

Storm in Kerk oor saambly

2009-12-05 22:30

Johannes de Villiers

’n Storm dreig in die NG Kerk oor saamwonery.

Dié kerkverband kan binne die volgende twee maande ’n nuwe voorstelbeleid oor saamwonery hê – iets wat tradisioneel onomwonde as sonde afgewys is.

Die gewilde prediker Angus Buchan het die afgelope paar jaar talle behoudende lidmate se mening saamgevat deur saamwonery onder meer as hoereerdery te beskryf.

Die NG Kerk se taakspan vir leer en aktuele sake (Atlas) gaan egter nou herbesin oor dié kwessie omdat die kerk tans geen duidelike amptelike beleid daaroor het nie. Boonop meen al hoe meer progressiewe lidmate die kerk moet meer verdraagsaam teenoor sommige saamwoners wees.

Maar behoudende lidmate en kerkleiers, onder wie die moderator, het die afgelope week gesê dit sou ’n fout wees as die kerk ’n vorm van saamwonery buite die huwelik goedkeur.

’n Johannesburgse predikant het aan Rapportgesê ’n debat oor dié kwessie kan vir baie mense selfs meer emosioneel as die homoseksualiteit-debat van ’n paar jaar gelede wees.

Dr. James Kirkpatrick, Atlas-voorsitter, sê hulle wil einde Januarie ’n voorstelbeleid aan die algemene sinodale kommissie voorlê.

Die kommissie sal dan oor die pad vorentoe besluit. Die voorstelbeleid sal waarskynlik voor die volgende algemene sinode dien.

Dit gons in die NG Kerk nadat die amptelike lyfblad, Kerkbode, sy jongste voorblad aan dié kwessie afgestaan het. Saamwonery kom wyd onder (dikwels vrome) lidmate voor.

Heelwat lidmate, ook teoloë soos dr. Chris Jones, het aan Atlas geskryf om te vra dat die kerk ’n nuwe, minder veroordelende beleid formuleer. Jones meld spesifiek jong mense wat saamwoon en wat later wil trou en ouer mense wat dit om pensioenredes nie kan bekostig om te trou nie.

Kirkpatrick het Vrydag gesê hulle wys nou kenners aan om die kwessie te bestudeer. Die nuwe beleid moet verduidelik “hoekom ons tog graag sal wil hê dat paartjies in ’n huwelik ingaan, maar jy kan saamwoon nie sommer net aan losbandigheid gelykstel nie”.

Prof. Adrio König, ’n teoloog wat wyd as ’n behoudende stem beskou word, meen die gesprek sal sinvol wees. Hy bied kursusse vir voornemende doop­ouers aan en “by elke doopvoorbereiding daag mense op wat nie getroud is nie en hul baba wil laat doop”.

Hy raai sulke paartjies aan om eers te trou, maar hy glo die tyd is ryp dat die kerk die kompleksiteit van saamwoon weer bekyk. “Ek hoor dié gesprek al sedert die 1960’s. Dit het onder ongelowiges begin, maar vind nou ook onder gelowiges plaas.”

Volgens König is daar nie in die Bybel tekste wat ondubbelsinnig op die hedendaagse huwelik van toepassing is nie. “Die huwelik was destyds ’n ekonomiese reëling. Nou gaan dit oor liefde.”

Heelwat NG kerklui is egter teen die kondonering van saamwoon gekant. Die moderator, prof. Piet Strauss, sê besinning oor etiese kwessies is altyd welkom, maar dit is onwaarskynlik dat die kerk seks buite die wetlike huwelik sal verdra. “In ons debat oor homoseksualiteit het ons gesê seks hoort binne die huwelik. Saamwoon is nie vir die kerk aanvaarbaar nie. Ek glo daar is genoeg Skrifgetuienis vir dié siening.”

Strauss sê die waarde van die wetlike huwelik lê daarin dat ’n egpaar se verbintenis deur die breë gemeenskap erken word.

– Rapport

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui