Teologiese wanorde in NG Kerk al duideliker

Deur Jan Louw

30 Mei 2016

Lys van afkortings:

  • AS: Algemene Sinode
  • ATLAS: Algemene Sinode Taakspan vir Leer en Aktuele Sake
  • BM: Bybel-Media
  • CLF: Christelike Lektuurfonds
  • NGB: Nederlandse geloofsbelydenis
  • NT: Nuwe testament
  • OT: Ou Testament
  • SGV: Selfdegeslagverhoudings

Ek het ’n streeksbyeenkoms van die Sinode van die Vrystaat op 26 April 2016 in Bethlehem bygewoon. Na ’n leeftyd in diens van die NG Kerk is ek getref deur die teologiese wanorde in die Kerk soos dit blyk uit die aanbieding van prof Fanie Snyman. Die kerkregtelike chaos waarin ons kerk hom ook nou bevind en wat vir ons by die streeksbyeenkoms geskilder is, is in my opinie ’n direkte gevolg van die bedenklike teologie wat deur ons kerk se leierskap gepropageer word.

Teen hierdie agtergrond het ek besluit om ’n dokument op te stel wat kan dien as ’n samevatting van my waarneming oor die teologiese koers wat besig is om die NG Kerk tot ondergang te lei. Ek bespreek die volgende:

1. Die verskillende “teoretiese modelle” wat volgens prof Snyman die rede is waarom ons van mekaar verskil. Hy propageer die sg Histories-Litterêre model. Ek wys daarop dat dit net ’n nuwe gestalte van die historiese kritiek is wat reeds in die verlede afgewys is.
2. Die Histories-Literêre leesmetode is ook by die Sinode van 2015 aangeprys.
3. Drie aanwysers vir Skrifgesag.
4. Die pad vorentoe vir die NG Kerk?
5. Teologiese Opleiding?

Prof Snyman het in sy aanbieding gesê dat ons almal erns maak met die Bybel, maar hy het ook gevra waarom ons in die NG Kerk dan so baie met mekaar verskil oor die Bybel. Sy siening is dat ons werk met verskillende “teoretiese modelle”. (Kyk Só verskil die NG Kerk oor die Bybel.)

1. VERSKILLENDE TEORETIESE MODELLE

1.1 Konfessioneel-Dogmatiese Model

Prof Snyman sê daar is mense wat die Bybel benader vanuit ’n konfessioneel-dogmatiese model. Hy staan afwysend teenoor die model en beskryf dit as:

  • ‘n Model waarin gesoek word na ewige waarhede.
  • Handhawing van die belydenisskrifte.
  • ‘n Model waar tekste belangrik is.
  • ‘n Model waar die Bybel as ’n organiese eenheid beskou word.

Hieroor ’n paar opmerkings:

1.1.1 Wil prof Snyman werklik voorgee dat daar nie ewige waarhede in die Skrif te vinde is nie? Betwyfel prof Snyman bv dat die Tien Gebooie ’n uitdrukking is van God se ewige waarhede vir die harmonieuse funksionering van die samelewing? As Moses in Deut 6:4 sê die Here is die enigste Here is dit tog seker ’n ewig geldende waarheid. Die saak is so vanselfsprekend dat dit nie nodig is om verdere voorbeelde te noem nie. Dit is nie ’n kwessie dat gelowiges soek na ewige waarhede nie. Wanneer ons die Bybel lees dring die ewige waarhede van God hulle voortdurend aan ons op.

1.1.2. Handhawing van die belydenisskrifte. Die Belydenisskrifte is formulerings van die kerk wat deur die eeue gegroei het, veral in tye van verdeeldheid om vir mekaar en vir die wêreld te bely, wat ons op grond van die Bybel glo. Belydenisskrifte het ontstaan onder leiding van die Heilige Gees. Wil prof Snyman vir ons sê dat die gewone Bybelleser voordurend op soek is na bevestiging van die belydenis van die kerk as ons besig is om Bybel te lees? Die teendeel is eerder waar. As ’n Bybelstudiegroep in Ef 1:4 lees dat ons voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies is om heilig voor God te lewe, het hulle nie gesoek na bevestiging van die belydenis oor die uitverkiesing nie. Hulle word gekonfronteer met ’n leerstuk van die kerk wat ons voorgangers eeue gelede reeds raakgesien en bely het.

1.1.3. Tekste is belangrik. Watter probleem sou prof Snyman tog met teksverwysigs hê? Toe die duiwel Jesus versoek het, het hy van tekste uit die OT gebruik gemaak en Jesus het hom met tekste geantwoord. Jesus het gesê: “Daar staan geskrywe”. In die onderrig van Jesus het Hy voortdurend tekste aangehaal om te bewys dat wat Hy verkondig, gestaaf kan word uit die Skrif. Dink bv aan Mat 22:43 waar Jesus uit Ps 110 aanhaal om te bewys dat Hy meer is as Dawid se seun.

1.1.4. Die Bybel as ’n organiese eenheid. Prof Snyman sien die Bybel blykbaar nie as ’n eenheid nie. Hieroor wil ek wys op die volgende:

Die Internasionale Bybelgenootskap het ’n Griekse NT in 1966 uitgegee wat dien as die standaard Griekse teks vir Bybelvertalers en studente. Die uitgewers van hierdie Griekse NT het dit goeddgedink om ’n “Index of Quotations” in die boek aan te bring. Die bedoeling daarvan is om ’n aanduiding te gee van tekste waar die skrywers van die NT gebruik gemaak het van tekste uit die OT. Daarvolgens blyk dit dat die skrywers van die NT sowat 2700 keer aanhalings uit die OT gemaak het!

Hierdie waarneming is maar net een aanduiding van die inherente eenheid van gedagtegang wat dwarsdeur die Bybel voorkom. Dieselfde Gees wat aan die begin by die skepping oor die water gesweef het (Gen 1:2) is ook die Gees wat in die laaste verse van die Bybel saam met die bruid verlang na die koms van God se nuwe bedeling (Op 22:17). Deur al die bladsye van die Bybel met sy baie medewerkers en verskillende genres hoor ons net van een God, een waarheid en een geloof. Moet ons aflei dat prof Snyman dit nie kan (of wil) raaksien nie?

Dit is vir my ongehoord dat ’n leraar, laat staan nog ’n hoogleraar van ’n gereformeerde kerk, homself met bogenoemde soort argumente wil handhaaf teenoor medegelowiges wat nie met sy uitleg van die Bybel saamstem nie. Ek het gedink dat ewige waarhede in die Skrif, die erkenning van belydenisskrifte, die gebruik van tekste in die Bybel en die eenheid van die Bybel as Boek van God, universeel aanvaarde vertrekpunte van die Christelike godsdiens is.

1.2. Histories-Literêre model

Prof Snyman propageer die histories-literêre model vir die regte verstaan van die Bybel. Hy meen wie op dié model staan sal ruimte maak vir SGV in die kerk.

Wat bedoel hy met die model?

Die nuwe moderator Nelis Janse van Rensburg het ná die AS op TV in ’n onderhoud gepraat van ’n “historiese lees” van die Bybel. Op dié manier het hy die SGV besluite van die Sinode geregverdig. Hy het gesê jy kan nie die Bybel letterlik lees nie, maar as mens die Bybel “histories” lees dán maak mens erns met die Bybel. Nelis het in gebreke gebly om te verduidelik wat hy presies met sy “historiese lees” bedoel, net soos prof Snyman ook nie verduidelik het wat hy met sy histories-literêre model bedoel nie.

Wat ons kerkleiers en akademici waarskynlik met hierdie terminologie bedoel, is die sg historiese kritiek wat in die verlede in behoudende kringe afgewys is, maar nou skynbaar openlik in teologiese kringe van ons kerk erken word. Prof Francois Tolmie verklaar bv in die Kerkbode van 6 Februarie 2015:

“Ons moet al die Nuwe-Testamentiese geskrifte tot hulle reg laat kom en binne hulle eie ontstaanskonteks verstaan. Daarvoor is iets soos historiese kritiek onontbeerlik; anders kan ons nooit werklik ’n goeie greep op die teologie van die Nuwe Testament kry nie.”

Dit is vreemd dat prof Tolmie die historiese kritiek so gemaklik propageer, want dit is redelik algemene kennis dat dit juis die historiese kritiek is wat veroorsaak het dat die kerk in die Weste irrelevant en nutteloos vir die Evangelie geword het. In die praktyk realiseer dié benadering so dat die geskiedenis soos ons dit in die Bybel kry geminag word en selfs van die tafel afgevee word.

Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van die uitwerking van die historiese kritiek in Suid-Afrika:

1.2.1 Prof Jurie Le Roux:

Prof le Roux het onlangs afgetree as Ou Testamentikus by Pretoria. Volgens sy klasaantekeninge is sy standpunt dat Abraham nie noodwendig ’n historiese figuur was nie. Hy sien die geskiedenis van Abraham as “sages”. Le Roux volg die gedagtegange van die Duitse Ou Testamentikus Gunkel na. Volgens Gunkel is die verhale oor die aartsvaders op die vlak van kampvuurstories uit die verre verlede, sonder werklike historiese waarde.

Le Roux het sy studente geleer dat dit gemeentelede waarskynlik in hulle geloof kan skok as hulle hoor dat dit alles maar net sages is, maar predikers “moet dit net mooi pastoraal hanteer”. (Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, bl 19).

1.2.2 Prof Danie Veldsman:

Prof Veldsman van Pretoria verklaar in ’n artikel dat Jesus se liggaam volgens ’n Joodse gebruik waarskynlik deur sy dissipels gesteel is en op ’n ander plek herbegrawe is. (Die Evangelie is op die spel – Adrio Konig, bl. 259).

1.2.3 Prof Andries van Aarde:

Prof van Aarde is ’n Nuwe Testamentikus in Pretoria van die Hervormde Kerk, maar het ook klas gegee vir die studente van die NG Kerk. Hy het ’n boek geskryf Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God. Van Aarde spekuleer dat Jesus ’n buite-egtelike kind was. Hy het ’n geweldige behoefte aan ’n vader gehad en het toe in God ’n Vader gekry.

Hierdie drie gevalle dien as aanduiding van hoe die sg historiese kritiek, Skrifkritiek of hoër kritiek, soos dit ook bekend staan, by ons teologiese instellings neerslag gevind het.

Prof Snyman moet as Ou Testamentikus maar self sy eie verstaan van die Bybelgeskiedenis aan die kerk verduidelik. Ek het betroubaar verneem dat prof Snyman hom nie kan versoen met die geskiedenis van Israel soos dit in Eksodus beskryf is nie.

Die algemene verskynsel vandag is dat teoloë hulleself die reg veroorloof om vrye teuels aan hulle verbeelding te gee in die naam van die teologiese wetenskap. Hulle bied dit voor vername en geleerde gehore aan wat dan vir hulle hande klap oor hulle vindingrykheid. Die verskynsel waarvan Lukas in Hand 17:21 praat herhaal hom in ons tyd: “Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie”.

1.3. ’n Kloof tussen die verlede en die hede?

Prof Snyman het in sy aanbieding ’n prent gewys van twee berge met ’n kloof tussenin. Dit is vir hom simbolies van die die kloof wat daar is tussen die Bybelse verlede en die hede. Hy meen die kloof kan net met moeite hermeneuties oorbrug word. Die brug wat ons bou kan volgens hom maar net ’n voetgangerbrug wees en hy gebruik die woorde “voorlopig” en “beskeie”.

Eintlik moet ons vir mekaar sê dat die histories-kritiese metode dit onmoontlik maak om enige geloofwaardige brug na die verlede te bou.

1.3.1. ’n Ongeloofwaardige verlede

Prof le Roux beskryf die situasie oor sy histories-kritiese verstaan van Abraham as volg: “Ons sal Abraham so graag meer histories wil verstaan, maar hy bly as’t ware die heeltyd buite ons historiese greep. Dit is nie net frustrerend nie, maar dit het ook vir die prediking konsekwensies. Kan ’n mens oor iemand preek wat jy nie histories kan ‘bewys’ nie?” (Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, bl. 19).

Dit is hieruit duidelik dat teoloë in ons tyd die geskiedenis wat die Bybel vir ons skilder, op ’n breë front eenvoudig van die tafel afvee. Hulle meen dat hulle in staat is om deur hulle wetenskaplike metodes te vertel wat werklik gebeur het. So kom hulle in die NT bv uit by wat hulle noem die “Historiese Jesus”. Hierdie Historiese Jesus is dan die werklik “geloofwaardige” Jesus van Nasaret wat gestroop is van die mites wat die vroeë kerk rondom Hom (hom) gebou het.

Om hermeneuties ’n brug na so ’n onbekende verlede te bou is ’n futiele oefening, want in die sg Bybelwetenskap funksioneer Bybelgeskiedenis nie as geskiedenis waarop ons hoegenaamd enige peil kan trek nie. In so ’n situasie is selfs die voorlopige voetbrug wat prof Snyman wil bou ongeloofwaardig, want aan die anderkant van die kloof is daar net ’n wasige werklikheid van menslike inbeeldings. Voor jy die hermeneutiese brug kan begin bou moet jy tog eers duidelikheid kry (eksegese) van die werklikheid aan die anderkant. ’n Brug het fondamente nodig. Hoe bou jy ’n brug na ’n werklikheid, ’n verlede waar daar geen vastigheid bestaan nie?

As prof Snyman verklaar, soos wat hy by die streeksbyeenkoms gedoen het, dat daar volgens sy historiese model, ruimte is vir selfdegeslagverhoudings is dit dus eintlik ’n niksseggende uitlating.

1.3.2. ’n Ongeloofwaardige hede

Laat my toe om uit te wys dat prof Snyman aan weerskante van die kloof wat hy vir ons voorgehou het in die duister tas. Hy sien nie net die verlede verkeerd aan nie, maar sy siening oor die hede is ook kontroversieel. Ek het in sy aanbieding by hom gehoor dat homoseksualiteit soos ons dit vandag ken deur die sielkunde uitgewys is as ’n “resente” verskynsel. Hy het ook die woord “normaal” gebruik.

Die opstellers van die AS van 2015 se besluite oor SGV, het die “wetenskap” as argument vir hulle standpunte voorgehou. Die waarheid is egter dat in sielkundige kringe baie uiteenlopende opinies oor die homoseksuele verskynsel is. Dit is dus duidelik dat teoloë wat SGV voorstaan, kies vir ’n bepaalde “wetenskaplike” opinie om aansien te gee aan hulle argumente.

Chris van Wyk het in die Kerkbode van 20 Mei 2015 gewys op uitstekende navorsing wat aandui dat daar reeds in die ou Rome permanente selfdegeslagverhoudings was wat in “liefde en trou” gesluit is. André Bekker van New Living Way Ministry beskik oor uitgebreide studies in die verband.

Paulus het hom ongekwalifiseerd teen die homoseksuele verhoudinge van die samelewing van destyds uitgespreek.

Prof Snyman maak dus ’n onverantwoordelike konklusie oor die realiteit van homoseksualiteit in ons dag as hy suggereer dat homoseksuele verhoudinge van “liefde en trou” ’n resente verskynsel is en dat die kerk dit as normale menslike gedrag moet aanvaar. Hy kyk met ’n verkeerde bril na die verlede sowel as die hede daarom dreig sy hele hermeneutiese verantwoordelikheid in die kerk, om in dwaasheid te ontaard.

1.3.3. Ongeloofwaardige verduidelikings

Freek Robinson het op 25 Oktober 2015 ná die Algemene Sinode ’n onderhoud met Nelis Janse van Rensburg en Frits Gaum gevoer. Dit was vir my opvallend dat Freek die argumente van ons twee kerkleiers skynbaar as amusant ervaar het toe hulle probeer het om die Sinode se besluite Bybels te regverdig. Hulle het by die geleentheid ook gesê dat die Bybelskrywers (in Levitikus 18 en 20), kultiese vergrype in gedagte gehad het en nie verhoudinge van “liefde en trou” nie.

2. DIE HISTORIES-LITERÊRE LEESMETODE BY DIE SINODE VAN 2015

By die AS van 2015 het ons teoloë by ATLAS andermaal hulle sieninge oor Skrifgesag vir die kerk aangebied. Uit hierdie sinodale stukke (kyk Geloof en die Wetenskap) is dit duidelik dat prof. Snyman se uitsprake oor Skrifgesag hierbo, deel vorm van die algemene teologiese denkpatrone in die NG Kerk vandag.

Voorbeelde uit die verslag van ATLAS:

Bl. 270 van die Agenda:

Die Bybel vra daarna om histories en literêr gelees en verstaan te word. Met die duiselingwekkende ontwikkeling van die wetenskap in die algemeen, het Bybelwetenskaplikes baie beter “gereedskap” tot hulle beskikking as mense van byvoorbeeld tweehonderd jaar gelede. Ons kan meer van die Bybel weet as hulle omdat die toenemende/versamelde kennis wat steeds astronomies groei, tot ons beskikking is.

Genesis 1,2 as voorbeeld van die histories-literêre leesmetode

Bl 276:

Om Genesis 1–2 histories te lees, beteken dat ons dit behoort te lees teen die agtergrond van ’n groep mense (ballinge in ’n vreemde land) wat, …. poog om hulleself en hul gemeenskap weer op te bou. …

Navorsing het … aangetoon dat hoewel die Judese gemeenskap waarskynlik in die tyd voor hulle ballingskap …. nie oor ’n omvattende skeppingsliteratuur (waarin hulle beskouing/geloof in die ontstaan van alles tot uitdrukking kom) beskik het nie, was daar alreeds verwysings na die skepping in hulle liedere en literatuurskat teenwoordig. Dié is op hulle beurt veral deur Egiptiese en Ugaritiese perspektiewe beïnvloed. Ook dit moet in ’n historiese lees van die teks in berekening gebring word.

Sonder verdere beoordeling hiervan sou ek wou vra of Esra as gerespekteerde priester van God, hierdie insigte van ATLAS vandag sou ondersteun? Ná die ballingskap was daar ’n ernstige voorneme by die Jode om ontslae te raak van alle heidense beïnvloeding. Selfs die vreemde vroue onder hulle is teruggestuur (Esra 10). Sou Esra vrede kon hê met Egiptiese en Ugaritiese perspektiewe in sy wetboek?

Mark 5:1-20 as voorbeeld van die histories-literêre leesmetode

In Mark 5 lees ons van die Besetene van Gadara. Jesus het die man bevry van bose geeste en die geeste het in ’n trop varke ingevaar, maar kyk nou hoe ATLAS dit wil lees:

Bl 279:

Indien ʼn mens vanuit die bevindinge van die betrokke dissiplines van die moderne wetenskap na hierdie beskrywing van ʼn persoon kyk, met analise van sy gedragspatrone, sou ʼn diagnose daarvan waarskynlik dui op een of ander psigiatriese toestand. Iemand met ʼn waan, of komplekse psigotiese toestand.

… In die voorwetenskaplike konteks van die Bybelse geskrifte is vreemde, ongewone en selfs onhanteerbare gedragsverskynsels op ander maniere verklaar. Siekte en vreemde gedragspatrone is in die Nuwe-Testamentiese tyd toegedig aan ʼn stryd tussen of met geeste in so ʼn persoon.

Die boodskap van Markus se “verhaal” is dan (Bl. 281):

Uiteindelik gaan dit egter om die versterking van hulle vertroue in Jesus as die vreeslose een, die een wat oor die mag beskik om selfs storms en onrein (bose) geeste te tem en mense te genees.

Ons hoor hier dat die sg Besetene van Gadara nie van duiwels besete was nie maar gewoon geestelik verstreurd was. Goed en wel, maar die feit bly staan dat Markus vir ons vertel van ’n man wat Jesus van sy kranksinnigheid genees het. As dit so is, ontstaan die vraag: Het Jesus ’n man van sy kranksinigheid genees sonder dat Hy self geweet het wat Hy doen? Het Jesus en die omstanders gedink Hy praat met die duiwel, maar in werklikheid het Jesus net met ’n man in ’n psigotiese toestand gepraat?

Verder: Hoe pas die varke in ALTAS se verhaal in? Tweeduisend varke raak skielik op onverklaarbare manier berserk en storm ’n krans af. Almal het destyds gedink dit is die duiwels wat in die varke in gevaar het, maar ATLAS meen nou daar was nie duiwels betrokke nie. Wat het veroorsaak dat die varke skielik so geweldig vir iets (behalwe vir die duiwel) geskrik het dat hulle so op loop gegaan het?

Dit is duidelik dat die hele konsep waarmee ATLAS hier vorendag kom in ’n klug ontaard!

Art 12 van die NGB as voorbeeld van die histories-literêre leesmetode!

Ons weet dat die teoloë by ATLAS nie in die bestaan van die duiwel as persoonlike wese glo nie en dat hulle by die Kerk ruimte soek vir hulle afvallige sienswyses. Verskeie mense wat beswaarskrifte hieroor ingedien het, het daarop gewys dat hulle siening in stryd is met NGB Art 12 wat o.m. sê: Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is.

ATLAS het dit dus noodsaaklik geag om ons belydenisskrifte ook te betrek by hulle nuwe leesmetode. Hulle meen Guido de Brés, die opsteller van die NGB, moet ook as voorwetenskaplik gesien word en voeg by:

Bl. 285:

Dat ons in Artikel 12 eweneens te doen het met ʼn voor-wetenskaplike teks in die beskrywing van die ontstaan van die skepping en die onderskeie (hemelse) wesens, engele en geeste, moet dus as ’n gegewe vanselfsprekend aanvaar word. Daarom behoort die kerk, ……. dit in ons tyd histories en literêr te lees om uiteindelik ook by die bedoeling (boodskap) van die artikel uit te kom.

Die vraag is waar eindig ons met hierdie vindingryke uitleg en wie bepaal wat ons glo of nie glo nie? Kom ons dink bv aan die blinde man wat Jesus laat sien het in Joh 9. Volgens ATLAS werk ons natuurlik hier ook met ’n voorwetenskaplike teks. Het Jesus volgens die nuwe leesmetode regtig die man van sy blindheid genees? Kan ons volgens ons kennis as “moderne” mense van ons lidmate verwag om sulke verhale letterlik op te neem? In sekere gevalle kan ’n mens vandag met ’n operasie van blindheid genees word, maar deur klei aan ’n man se oë te smeer ….?

Die genesing was vir die Fariseërs ’n dilemma en hulle het vir die man gesê: Praat die waarheid voor God … Die man het geantwoord: Een ding weet ek wel: ek was blind en nou sien ek. Het die man die waarheid gepraat of was dit net ’n inbeelding van sy kant af. Het Johannes die waarheid gepraat toe hy van die gebeurtenis vertel het of was dit maar net deel van sy pre-moderne ervaringswêreld?

So kan ons voortgaan en vir ATLAS vra om aan ons te verduidelik hoe ons moet preek van Jesus wat die storm stilgemaak het en van Jesus wat die brode vermeerder het en van Jesus wat uit die dood opgestaan het en uiteindelik na die hemel toe opgevaar het.

Dit is vir my duidelik dat ons hier met ’n ernstige vorm van die oer-oue “misleiding” in die kerk te doene het (2 Tess 2:10). Wat ATLAS hier doen is om ’n vervalste weergawe van die Bybelse konteks te skep asof die kerk nog nooit in die verlede eksegese van die teks gedoen het nie. Hulle noem dit die histories-literêre leesmetode. So lê hulle die fondamente vir ’n eiewillige verstaan van die geskiedenis, die boodskap en die verstaan van die Bybel.

Die saak word al dringender as ons verstaan dat die leer wat ATLAS propageer nie sommer maar net hulle persoonlike sieninge is nie. Hulle doen dit op die rekening van die Kerk. Dit word deel van die besluite van die Kerk en dit word deel van die leer van die NG Kerk.

ATLAS wil verder seker maak dat dat dit nie net by sinodale besluite bly nie, maar wil hê dat hulle nuwe hermeneutiek, oor bevryding (die duiwel), die wetenskap en geloof en Skrifverstaan by die lidmate moet uitkom. Ons lees herhaaldelik dat BM, lektuur beskikbaar moet stel om die lidmate daarin te begelei.

3. DRIE AANWYSERS OOR SKRIFGESAG

Ek wil vrymoedigheid neem om ’n paar “aanwysers” voor te hou, wat ons in hierdie tyd van teologiese impasse kan uithelp.

3.1. Herwaardering vir die Bybelgeskiedenis

Die Bybel is onteenseglik die merkwaardigste geskiedenisboek in die wêreld. Die geskiedskrywers van die Bybel vertel vir ons van gebeure wat nêrens elders in die wêreld te vinde is nie. Die kerk sal eendag skuldig staan voor die Here omdat ons die geskiedenis van die Bybel so gemaklik as “andersoortig” en as “onbetroubaar” afgemaak het.

Reeds in ’n verslag by die Sinode van 2002 kom die volgende uitdrukkings met eentonige reëlmaat voor:

  • Dat die Bybel volgens moderne standaarde nie voldoen aan wetenskaplike eksaktheid nie …
  • Klaarblyklik maak die Bybel ook geen aanspraak op historiese eksaktheid nie.
  • As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie.

Hieroor sal ons opnuut vir onsself duidelikheid moet kry en daarom die volgende opmerkings:

Van die begin van die Bybel af wil die geskiedskrywers van die Bybel vir ons duidelik maak dat dit hulle oogmerk is om geskiedenis weer te gee. Vanaf Gen 2:4 kry ons herhaaldelik die gebruik van die woord toledoot wat met geskiedenis te doen het. Daar staan: “Dit is dan die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.” Hierdie uitdrukking kom 13 keer in Genesis voor en nog op baie ander plekke in die OT (sien bv Gen 5:1; Gen 6:9 ; Gen 10:1; Gen 11:10; Gen 11:27; Gen 25:12; Gen 25:19).

In die volle Bybel word die name genoem van 1181 mans en 188 vroue. Die name van 1172 plekke is vir ons aangeteken. Baie van daardie plekke kan nog vandag op ’n kaart gekry word. Ek het met ’n soekfunksie gaan tel, hoeveel keer die woord “jaar” in die Bybel voorkom. In meer as 400 gevalle word die woord “jaar” gebruik om mense se ouderdomme of tyd wat verloop het, aan te dui (kyk ook Belangrike Bybelse datums).

Die opdrag om dinge neer te skryf kom 14 keer in die Pentateug voor. In Num 33:2 lees ons dat die Here vir Moses opdrag gegee het om hulle kampplekke in die woestyn op te skryf. Dan volg die name van al die kampplekke, ’n hele hoofstuk vol.

Die woord “boek” kom 146 keer in die OT voor. Van Genesis tot 2 Kronieke (dus voor die ballingskap), kom die woord “boek” meer as 100 keer voor. Die aanhaling van bronne wat die skrywers gebruik het kom ook dikwels in die Bybel voor. Kyk bv na die volgende:

  • Jos 10: (13)Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie?
  • 1 Kon 11: (41)En die verdere geskiedenis van Salomo en alles wat hy gedoen het, en sy wysheid, is dit nie beskrywe in die Geskiedenisboek van Salomo nie?
  • 1 Kon 14: (19)En die verdere geskiedenis van Jeróbeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

In teologiese kringe word veel gewag gemaak van die mondelinge oorleweringe in Israel wat eers in die Ballingskaptyd, 500 vC. te boek gestel is. Hierdie uitgangspunt hou nie rekening met bogenoemde feite nie en ontneem die historiese boeke van die Bybel van hulle geloofwaardigheid.

In die tyd van Gideon kry ons ’n merkwaardige terloopse opmerking. Gideon vang ’n jongman op die slagveld en Gideon soek inligting by die man. Dan lees ons: “Die jong man het toe vir hom die name van die sewe en sewentig amptenare en leiers van Sukkot opgeskryf” (Rigt 8:14). Dit impliseer dat nie net die jong onbekende soldaat kon lees en skryf nie, maar Gideon en sy manne kon self ook lees! Dit was in die tyd 1240 vC – sowat 400 jaar voor die Griekse skrywer Homerus sy bekende Iliad geskryf het!

Daar is baie meer hieroor te sê, maar hierdie feite word vandag omtrent glad nie meer in die kerk raakgesien en gerespekteer nie. Dit is veral Gen 1-11 wat onder druk van die evolusieleer bevraagteken word en as a-histories gesien word. So het die Satan dit reggekry om bv die skepping as historiese magsdaad van God en die sondeval as historiese werklikheid onder verdenking te bring. Die volgende stap op die pad van ongeloof is om die Evangelie van die versoeningsdood van Christus as ’n historiese gebeurtenis, van sy betekenis te beroof.

3.2. Profesieë in die Ou Testament

Die profesieë van die OT het nie te berde gekom in die aanbieding van prof Snyman op 26 April 2016 nie, maar die saak is defnitief deel van die groter prentjie.

Prof Snyman het in die Kerkbode van 21 Mei 1999 ’n uitleg gegee van die Dienaar in Jes 53. Prof Snyman meen: “Die boodskap van Jesaja 53 sien nie op Jesus Christus nie …” en “Jesaja 53 is dus geen voorspelling van Jesus Christus se geboorte nie …”

Prof Snyman is nie die eerste en die enigste OT teoloog wat hierdie sieninge propageer nie. Ferdinand Deist het in die 1980’s reeds met die uitleg gekom dat Jesaja nie van ’n toekomstige persoon geprofeteer het toe hy van die Dienaar (dienaar) van die Here gepraat het nie. Jesaja sou glo na Moses, of Israel of homself verwys het. Hierdie teoloë meen dit is ’n verskraling van die OT om voorspellings aangaande Jesus in die OT raak te sien. Hulle meen dit kan alleen terugskouend vanuit die NT so gesien word word. By die webblad van die Teologiese Fakulteit van Pretoria verskyn heelwat artikels in dié verband soos byvoorbeeld Christus in die Ou Testament is tipies van Paulus – Jurie le Roux.

Selfs die bekende Bybel in Praktyk wat op die gewone kerklidmaat gerig is, sê hieroor:

Die primêre taak van ’n profeet was om ’n boodskap vir die mense van sy tyd te bring. Daarom mag ’n profetiese boek nooit gelees word as toekomsvoorspelling nie, maar moet geïnterpreteer word teen die agtergrond van die situasie wat in die boek geïmpliseer word (Bl. 968).

Dit is nie ’n ligtelike saak waarmee ons hier te doene het nie. Wie hom op hierdie pad begewe ontken die duidelike leer van Jesus nl. dat die Gees in die OT reeds van die Christus getuig het. Jesus het gekom om die profesieë te vervul. Sien bv:

Luk 4:20-21: Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

Luk 24:25-27: Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

Mat 22:42-43: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” “Dawid s’n,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? (Jesus leer daar dat Dawid in Ps 110 van die Christus geprofeteer het)

Op grond van Jesus se uitleg van die OT het die evangelieskrywers en die apostels ook vir ons geleer hoe om die OT te verstaan.

Matteus maak 65 aanhalings uit die OT om te bevestig dat Jesus die Christus is.

Filippus verduidelik uit die boekrol van Jesaja aan die ontmande Etiopiër wie Jesus is. Die man vra in Hand 8:34 vir Fillipus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?” Fillipus het toe vanuit daardie Skrifgedeelte begin om die evangelie oor Jesus aan hom te verkondig.

Paulus het in die sinagoge in Tessalonika gepreek en Lukas sê: Hy het die Skrif vir die Jode uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan (Hand 17:3).

Petrus skryf in 1 Pet 1:11: Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.

Kyk ook Die Bybel oor die vervulling van profesieë.

Waarom is dit vir ons Ou Testamentici so swaar om te erken dat die Gees van God in die OT reeds aangaande die Christus geprofeteer het. Waarom wil hulle nie hê dat ons vandag vir die mense uit die OT moet preek soos die apostels gepreek het nie? Is daar by hulle ’n weerstand om deur die NT beïnvloed te word? Sien hulle die werklikheid van Christus in die OT as ’n bedreiging vir hulle wetenskap? Is ons nie veronderstel om soos Johannes die Doper “’n vriend van die Bruidegom” (Joh 3:29) te wees nie?

Jesus het ná sy opstanding die dissipels se verstand geopen om die Skrif te verstaan (Luk 24:45). Dit is vir ons ook nodig dat Jesus ons verstand moet open, anders sal die Skrifte vir ons geslote bly. Daarsonder word ons blinde leiers van die blindes (Mat 15:14). Al boodskap wat die OT dan nog vir ons oorhou is om te soek na ’n paar morele lesse. Ons mis die vreugde waarvan Jesus gepraat het toe Hy gesê het in Mat 13:52: So is elke skrifgeleerde wat ’n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ’n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.

3.3. Die leer van die apostels

In Hand 2:42 kry ons ’n terloopse maar uiters belangrike kenmerk van die kerk in Jerusalem: Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels.

As ons na die sinodale verslae kyk wil dit voorkom of die kerk homself met sulke geleerde sake begin besig hou het, dat ons vergeet dat die Here dit beskik het dat ons, ons deur die eenvoudige vissermanne van Galilea moet laat leer. Die Here het die apostels onderrig en aangestel om die vroeë kerk vanuit die OT na die “geheimenis” (Ef 3:3-6) van die NT te begelei.

Deur die nalatenskap van die apostels se briewe onderrig hulle ons tot vandag toe nog oor wat die kerk is, hoe ons in die regte verhouding met God kan kom, hoe ’n Christelike lewe lyk en dat die koninkryk van God in heerlikheid sal kom. Hulle waarsku dat ons dat die kerk in hierdie bedeling gewikkel is in ’n stryd met demoniese magte, daar is misleiding en valse leraars wat die kerk van die waarheid wil beroof.

Ons moet die apostels se woorde ter harte neem. Ons mag hulle nie minag of as pre-modern afmaak asof ons die mense is wat gearriveer het nie.

Die “leer van die apostels” het bondig neerslag gevind in die Apostoliese Geloofsbelydenis.

By die Algemene Sinode van 2013 het die sg Eietydse Uitleg van die Credo gedien. Van ons kerk se mees vooraanstaande teoloë het daaraan meegewerk. Mens kan dit beskou as die NG Kerk se amptelike refleksie op die “leer van die apostels”. My eerste waarneming by die lees van die dokument is dat omtrent alles wat ons volgens die Apostoliese Geloofsbelydenis glo, in hierdie dokument bevraagteken word. Prof Johan Janse van Rensburg is besorg dat die dokument “onnoembare skade, verwarring en verdeeldheid in die kerk gaan veroorsaak”.

Om alles te kroon het die Sinode besluit dat die dokument as ’n gespreksdokument vir die kerk moet dien, wat so wyd as moontlik bespreek moet word. BM het selfs ’n publikasie vir lidmate daaroor beskikbaar gestel: “Om nuut te glo (en leef) op een lyn met die geloof van eeue”. So wil hierdie leraars seker maak dat die afvallige suurdeeg van die dokument die kerk so wyd as moontlik moet deursuur.

4. DIE PAD VORENTOE VIR DIE NG KERK?

Daar het dinge in die NG Kerk gebeur wat veroorsaak dat lidmate en baie leraars vertroue in hulle kerk verloor het. Hieroor ’n paar feite:

4.1. Sinode besluite oor die duiwel

Die Algemene Sinode het in 2011 vir die eerste keer besluit om ruimte te maak vir lidmate wat nie in die bestaan van die duiwel as ’n persoon glo nie. Al die pleitredes, ook vanuit die Sinode van die Vrystaat, om beswaar te maak teen die besluit het op dowe ore geval.

Prof D Thom van George het bv gesê dat die NG Kerk ’n “historiese laagtepunt” met die besluit bereik het. Hy het op kundige manier saam met baie ander, die onaanvaarbare teologie van ATLAS uitgewys. ATLAS se reaksie op die Kerk se ontsteltenis was om die besluit ietwat te gewysig, maar met behoud van hulle oorspronklike oogmerke met die besluit. Die Sinode het besluit: Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

ATLAS het met hierdie gewysigde bewoording weggekom by die Sinode in 2013. Ek gebruik die woord “weggekom” omdat die voorsitter van die vergadering, prof Niemandt kennelik in gebreke gebly het om die vergadering te wys op die erns van die saak wat op die tafel was, nl dat dit gaan oor die kerk se belydenis aangaande die bestaan van die duiwel al dan nie.

Twee jaar later by die Sinode van 2015 beveel ATLAS wééreens aan om die vorige besluite van die AS oor die duiwel te handhaaf. (Bl 253 van die Agenda)

4.2. Amptenare wat versoek het dat burgerlike verbintenisse ingestel word

Twee amptenare van die AS, Ben du Toit en Kobus Gerber het in 2006 by ’n parlementêre komitee gevra dat wetgewing ingestel word om voorsiening te maak vir burgerlike verbintenisse (huwelike tussen mense van dieselfde geslag). Dit was wederegtelike optrede in stryd met sinodale besluite oor homoseksualiteit op daardie stadium. Die implikasie is dat die NG Kerk dus meegewerk het aan die opstel van die wetgewing oor die sg burgerlike verbintenisse, lank voor die VSA in 2015 ook sulke wetgewing goedgekeur het.

Wat nou in 2015 by die AS gebeur het, was dat bloot kondonering gegee is aan die wet op burgerlike verbintenisse waarby die NG Kerk in 2006 reeds betrokke was.

4.3. Die aanwending van die kerklike media om afvallige sieninge te bevorder

Ben du Toit het ’n boek geskryf: God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Du Toit het in die boek op hoogs omstrede manier oor die godheid van Jesus geskryf. Baie mense het beswaar gemaak oor sy sieninge. Kyk bv Resensies op Ben du Toit se boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd.

Die boek is uitgegee deur die CLF (Christelike Lektuurfonds). Dit is ’n vreemde optrede in die lig van die feit dat die Lektuurfonds se missie is om die evangelie van Jesus Christus te bevorder deur die verspreiding van Christelike lektuur veral in Afrika-tale.

Die CLF het ook ’n boek uitgegee met die titel: Suid-Afrika, land van baie godsdienste. In hierdie boek word die verskillende godsdienste soos Islam en die Hindoeisme, sy aan sy, op ’n bykans rooskleurige wyse bespreek. Die dringendheid om die evangelie van Jesus Christus aan ’n wêreld vol afgode te bring kom nie in die boek ter sprake nie. Sulke publikasies is nie in lyn met die doel waarvoor die CLF tot stand gebring is nie.

Ons kry dieselfde verskysel by publikasies van Bybel-Media. BM het nou ’n reeks omstrede boeke van Jaap Durand uitgegee. Sien Wynand Louw se beoordeling van Durand se boek Evolusie, Wetenskap en Geloof by Kritiek op Jaap Durand se boek Evolusie, Wetenskap en Geloof. ’n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin

Weereens ontstaan die vraag hoe publikasies van hierdie aard inpas by die missie van Bybel-Media om veral Bybelstudie materiaal vir die kerk beskikbaar te stel. Sal die gelowige lidmate wat in die verlede donasies vir CLF en Bybel-Media gemaak het, genoeë neem met hierdie soort aanwending van hulle offergawes?

4.4. Die opsie van ’n ruim huis?

Prof. Nelus Niemandt die vorige moderator van die Algemene Sinode het gevra dat ons aan mekaar moet vashou. Hy sien die NG Kerk as ’n ruim huis en dat ons moet ruimte maak vir mekaar. Die nuwe moderator ds. Nelis Janse van Rensburg het ná sy verkiesing dieselfde terminologie gebruik om die onrus wat in die kerk ontstaan het te besweer.

Wat my betref is dit onaanvaarbaar om eenvoudig “ruimte te maak” vir elkeen wat wil aanspraak maak op sy eie uitleg van die Skrif. Dit is miskien postmodern, maar dit is nie Bybels nie. Die apostel Paulus leer ons dat daar in die kerk van Christus ruimte is vir man, vrou, Jood, Griek, besnedene en onbesnedene, beskaafde en onbeskaafde, vrymense en slawe. Ons kan voortgaan om te sê daar is ruimte in die kerk vir introverte en ekstroverte, vir denkers en vir doeners, vir klassieke musiek en kontemporêre musiek. Waarvoor daar nie ruimte is nie, is dwaalleer en valsheid. Op 22:15: Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.

4.5. Die waarheid

Paulus sê die kerk van God is die draer en beskermer van die waarheid (1 Tim 3:15). Hy sê ons moet die waarheid soos ’n gordel om ons heupe dra (Ef 6:14). Die waarheid is nie oop vir akademiese diskussies rondom “teoretiese modelle” wat meebring dat ons teen mekaar begin veg en ons werklike vyand, die Misleier van die Mensdom nie meer raaksien nie.

Ná die Sinode van 2013 het ek in ontsteltenis nagedink oor die optrede van die kerkleiers en ek kon tot net een gevolgtrekking kom en dit is dat die NG Kerk sy liefde vir die waarheid vaarwel geroep het.

As ons enigsins met mekaar ’n pad vorentoe wil saamloop sal ons mekaar hieroor in die oë moet kyk en reguit met mekaar moet praat. Dit is immers die styl waarmee die apostels die stryd teen dwaalleer in hulle tyd aangesê het.

4.6. Ons broederskap

Ons broederskap in Christus word nie ’n werklikheid bloot deur ons samesyn by indrukwekkend georganiseerde sinodevergaderings nie. Baie afgevaardigdes na die AS van 2015 getuig dat hulle van die Sinode teruggekom met die gevoel dat hulle mislei en gemanipuleer is. Ons broederskap in Christus word ervaar daar waar ons in Gees en Waarheid saamkom, al is dit in eenvoud.

Die oplossing vir die verdeeldheid wat in die kerk ontstaan het, lê nie daarin dat ons die Sinodevergaderings meer verteenwoordigend of meer demokraties moet maak nie. Ons is verdeeld omdat ons in ons harte verdeeld is. Dit is ’n verdeeldheid wat nie uitgefasiliteer kan word nie. Dit gaan nie daaroor dat ons mekaar maar net moet vergewe en dan kan ons aangaan nie. Dit gaan ook nie daaroor dat ons mekaar net moet verdra nie.

Johannes, die apostel van die liefde, het ook iets daarvan belewe. Hy het gesê: As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen (2 Joh 1:10-11).

Ons moet aanvaar dat Johannes daardie uitspraak nie ligtelik gemaak het nie. Dit is ook nie ’n tydgebonde uitspraak nie. Sy uitspraak is gegrond in die realiteit dat mense wat ’n ander leer bring die “gemeenskap van die heiliges” onmoontlik maak. Broers kan mekaar nie groet met ’n “soen van Christelike broederskap” (Rom 16:16), waar sommiges ’n valse evangelie in hulle harte koester nie.

4.7. Bekering

Die Here Jesus sê in Op 2:5 vir die gemeente in Efese: Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!

Aan die einde van die 19de eeu het die liberale teologie ook gedreig om beheer te neem van die NG Kerk. Die Pinksterdienste, wat uniek aan die NG Kerk is, asook die stigting van die teologiese seminarium op Stellenbosch het destyds ’n kentering in die NG Kerk gebring en ons kerk het weer ’n bruikbare instrument vir die Here geword.

Ons sal verniet na geloofwaardigheid vir ons kerk soek in die huidige pogings om bv ’n Seisoen van Menswaardigheid aan te kondig, om ’n Missionale Kerk in die samelewing te wees of om die metodes van Fresh Expressions aan te gryp.

As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” (Jes 30:15-16).

5. TEOLOGIESE OPLEIDING

5.1. Hartseer verhale

Daar is ’n baie hartseer verhale om te vertel aangaande die teologiese fakulteite van die NG Kerk. Wat Pretoria betref het daar skrikwekkende dinge gebeur. Prof Julian Müller het openlik in die pers aangekondig dat hy nie meer glo in God as ’n persoon nie (die sg panenteïsme).

Verskeie teoloë het die opstanding bevraagteken. Talle studente het getuig dat hulle in hulle geloof geskud is deur die leringe van dosente. In 2007 het 30 studente in opstand gekom oor hulle dosente. Die opstand is in die kiem gesmoor en uiteindelik is Ferdie Mulder geskors toe hy volhard het in sy pogings om die leerstellings van die dosente aan die man te bring. Ek het die geskiedenis van hierdie gebeure kortliks beskryf by ’n voorlegging aan die Sinode Hoëveld. (Kyk Voorlegging aan die SDK – Jan Louw by die Slotopmerkings). In die proses het die NG Kerk belowende studente verloor.

Ek kan my nie uitspreek oor die stand van die teologie by die ander teologiese instellings nie behalwe dat ek reeds my besorgdheid oor die standpunte van prof Snyman hierbo te berde gebring het. Daar is ook ander dosente wat stellings gemaak het wat die wenkbroue laat lig.

5.2. Die besluit oor selfdegeslagverhoudings (SGV)

Die besluit van die AS in 2015 om teologiestudente in homoseksuele verhoudings te legitimeer het al drie die teologiese fakulteite van die NG Kerk nou finaal onder verdenking gebring. Die teologiese fakulteite vra dat studente in die teologie wat in homoseksuele verhoudings is, toegelaat moet word om burgerlike verbintenisse aan te gaan, sodat hulle as “getroudes” in die kerk kan funksioneer. Stellenbosch het die versoek gerig, Fanie Snyman, die dekaan van Bloemfontein het dit sterk ondersteun en Dirk Human, die visie-dekaan van Pretoria het die eksegese waarop die besluit geneem is by die Sinode goedgepraat. Die teologiese fakulteite se versoek is amper woordeliks deur die Sinode toegestaan.

Afgesien van die dosente se onoortuigende eksegese weerspieël hulle ook ’n gebrek aan kontak met die werklikhede van die kerk op grondvlak. Dit is ondenkbaar dat die geleerde broers nie insig openbaar vir die implikasies wat dit vir ’n gemeente het om ’n homoseksuele “egpaar” in die kerk se pastorie te ontvang nie. ’n Leraar in ’n homoseksuele verhouding sal eenvoudig nie in die kerk of die samelewing as Bedienaar van die Woord gerespekteer word nie. Troupaartjies sal sulke leraars nie geskik ag vir huweliksberading nie. Ouers sal hulle kinders nie aan sulke mense toevertrou as rolmodelle as dit by kategese en kerkkampe kom nie.

Die Kuratoria het ook deur hierdie gebeurtenis in ’n staat van beskuldiging gekom. Die lede van ’n kuratorium word deur ’n sinode aangewys om op te tree as kurators, ook vir die instandhouding van die leer van die kerk. ’n Kuratorium mag nie in die versoeking verval om deel te word van die akademiese klub waar die “teologie über alles” verheerlik word of waar die “teologie ter wille van die teologie” vereer word nie.

5.3 ’n Nuwe benadering vir opleiding van leraars

Wat teologiese opleiding vir die NG Kerk betref sal ons totaal nuut (uit die boks) moet dink. As ons internasionaal na teologiese opleiding kyk, glo ek sal daar baie nuwe opsies vir ons oopgaan. Die era waarin ons, ons leraars op die koste van ’n sekulêre staat en volgens die voorskrifte van ’n sekulêre universiteit laat oplei sal heroorweeg moet word. Daar is ander kerke in SA vir wie die opleiding van hulle leraars so belangrik is, dat hulle self die finansiële verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Ons kan by hulle gaan leer.

Soos sake nou staan is dit onverantwoordelik om ons jongmense wat geroepe voel om die Here as leraars te dien, verder bloot te stel aan die soort teologie wat nou by ons Teologiese Fakulteite bedryf word. Ons mislei ook die gelowige ouers wat met groot verwagtinge en dikwels met groot finansiële opofferinge hulle kinders stuur om die Here in sy kerk te dien. Ons kan nie so voortgaan nie!

6. SAMEVATTEND

In die lig van die feite waarmee ekself opnuut in hierdie dokument gekonfronteer is, het ek tot die konklusie gekom dat ‘n gees van dwaasheid soos ’n sluier oor die leiers en die hoogste vergaderinge van die NG Kerk gekom het. Die Here het sy wil duidelik aan ons geopenbaar, maar ongehoorsaamheid en weerspannigheid (1 Sam 15:22-23) maak dat die NG Kerk as denominasie, nie meer besig is om op te bou aan die Christelike geloof in Suid-Afrika nie. Ons is besig om af te breek en twyfel te saai.

My voorstel is dat ons die voorbeeld van die Sinode van Namibië kan navolg. Namibië wil hulle bande met die AS in hersiening neem en hulle ondersoek ook die moontlikheid om self hulle predikante in Namibië op te lei.

Die omvang van die teologiese polarisering onder ons, kom voortdurend na die oppervlak in sinodale inisiatiewe en besluite, asook in debatte in die Kerkbode en by kerklike konferensies. Die geredekawel rondom sake wat veronderstel is om vanselfsprekend onder ons te wees, dwing die vraag by mens op of ons hoegenaamd nog dieselfde Bybel lees en of ons nog dieselfde God dien? Al antwoord wat die leierskap vir ons het is dat ons die liefde moet bly bewaar.

Die AS het ’n vreemde konsep ter tafel gehad en dit is nl om ’n Tussen-Orde daar te stel waarmee gemeentes, ringe en sinodes in die NG Kerk kan hergroepeer met die oog op kerkhereniging (Bl 242 van die 2015 Agenda). Miskien is die Tussen-Orde uiteindelik ’n instrument wat die Sinode aan ons gegee het om in vrede uitmekaar te gaan en te hergroepeer op soek na eenvoudiger strukture waarin ons, ons broederskap in Christus beter kan uitleef. Waarom moet ons duur en ingewikkelde strukture in stand probeer hou as ons harte nie meer daarin is nie?

Jan Louw

Reitz

Bylaag A

Die volgende artikel het in Kerkbode 20 Mei 2016 verskyn

Neels Jackson

Só verskil die NG Kerk oor die Bybel

Die problematiek oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag is so kompleks “omdat ons erns maak met die Bybel as die Woord van God in die NG Kerk”.

So het prof Fanie Snyman, dekaan van die fakulteit Teologie aan die Vrystaatse Universiteit, by ’n streeksbyeenkoms van die Noord-Vrystaatse gemeentes in Kroonstad gesê. Dit was die laaste van drie sulke Streeksbyeenkomste waar Vrystaters kon gesels oor selfdegeslagverhoudinge, voordat ’n buitengewone sinode in Oktober gehou word.

Snyman het gesê as die Bybel onbelangrik was, sou die kerk baie makliker besluite kon neem.

Die rede waarom daar soveel verskil is oor die saak, is omdat mense in die kerk die Bybel verskillend lees, het Snyman gesê. Hy het onderskei tussen twee verskillende maniere van lees: ’n meer konfessionele lees en ’n meer historiese lees.

Snyman het dadelik gesê dat dit ’n vereenvoudiging is. Die werklikheid is baie meer ingewikkeld. Meestal is mense se manier van Bybel lees ’n vermenging van konfessionele en historiese lees.

Hy het sy gehoor egter gevra in watter een van die twee maniere van lees wat hy voorhou, herken hulle hulleself die meeste.

Die meer konfessionele lees soek na ewige, altydgeldende waarhede wat op die hede toegepas kan word. Dit neig meer na ’n meganiese inspirasiebeskouing. Dit soek na ’n sisteem wat sluit, waar alles klop. Van hier af is dit ’n klein tree na ’n a-historiese lees van die Bybel.

In dié soort lees is die Bybel ’n organiese eenheid waar alles op dieselfde vlak lê. Alles moet met mekaar in verband kan kom. Tekste is belangrik om tot ’n Skrifgefundeerde standpunt te kom.

Aan die ander kant lê die meer historiese lees van die Bybel. Dié metode beskou die historiese agtergrond van die tekste as belangrik. Dit meen ook dis onverantwoordelik om alles in die Bybel te lees asof dit op dieselfde vlak lê.

Dié soort lees meen ook dis belangrik om die literêre dimensie van die teks ernstig op te neem. Jy lees ’n brief anders as ’n psalm en anders as apokaliptiek of wysheid of as ’n evangelie.

Die eksegetiese gevolgtrekkings in hierdie soort lees is baie meer beskeie en daar word gesoek na die breër tendense, waardes en teologiese tradisies wat deur die Bybel loop om by antwoorde uit te kom.

Snyman het die twee maniere van lees vergelyk met verskillende maniere om oor die kloof tussen die teks en vandag te kom. Die meer konfessionele lees bou ’n snelweg, waar die meer historiese lees versigtig oor ’n hangbrug stap terwyl dit probeer vashou aan historiese en literêre dimensies van die teks.

In die gesprek oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, is die resultaat van die meer konfessionele lees helder: dit is sonde.

Met ’n meer historiese lees, is daar ruimte vir homoseksuele mense, want dit is onmoontlik om seksuele oriëntasie terug te lees in die tekste. Die tekste praat oor seksuele vergrype.

Snyman het gesê in al die groot kerklike debatte soos oor Kerk en Samelewing, die vrou in die amp, kindernagmaal, het die meer historiese lees van die teks altyd die deurslag gegee.

So is daar geen teks wat sê vroue mag predikante word nie. Daar is tekste wat sê vroue moet stilbly en hulle deur hulle mans laat leer. Tog het die NG Kerk besluit vroue mag dominees word – en min mense in die kerk sal vandag sê dit is teen die Bybel.

Snyman het ook gesê verdraagsaamheid is ’n kenmerk van die NG Kerk. Die kerk huisves verskillende teologiese tradisies en tog “hou ons dit uit met mekaar”.

Die saak oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag is te veel van ’n middelmatige saak om die kerk daaroor te skeur, het Snyman gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui