Gay-besluit gestuit, maar kan NGK omdraai?

Kyk ook:

29 Maart 2016

Daniel Louw

Aan die begin van Oktober 2015 het die algemene sinode die skokkende besluit gemaak om ruimte te maak vir predikante en lidmate om in homoseksuele verhoudinge te staan (kyk 2015 NGK homoseksuele besluit).

Nadat heelwat NG gemeentes beswaar aangeteken het (kyk NG gemeentes teen 2015 gaybesluit), het die moderamen egter besluit om ’n moratorium op die besluit te plaas tot die volgende algemene sinode in 2017 (kyk NG Kerk: Gays sal moet wag). Dus word die uitvoering van die besluit met twee jaar uitgestel.

As behoudende NG Kerk lidmate egter dink dat dit tyd is om fees te vier is hulle onder ’n illusie (onthou dat dit nie die eerste skokkende besluit is wat die NG Kerk geneem het nie – kyk Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite). ’n Mens moet onthou dat daar onder die NGK leierskap geen hartsverandering plaasgevind het nie. Die besluit om ’n moratorium op die 2015-besluit te plaas, is bloot gemaak om die huidige ongelukkigheid in die NGK bietjie te demp – dit is bloot gedoen ter wille van skadebeheer. Die gay kwessie sal definitief weer aan die deur klop. Om proponent Hennie Pienaar aan te haal:

“Dit is teleurstellend dat die kerk so ’n besluit, wat hom uiteindelik weer relevant in die samelewing maak, tydelik kon stuit.”

“Dit motiveer ons om die volgende twee jaar bitter hard te werk, op grondvlak, sodat lidmate ons siele en harte sien, sodat hul vooropgestelde idees oor waarom hulle ons wil uitsluit, sal val. Sodat hulle besef dis ’n onreg. Dis eers wanneer jy met gay mense te doen het, hul stories hoor, hul harte en siele sien, dat jy besef hulle is net sulke mense soos ek.” (Uit NG Kerk: Gays sal moet wag)

Dit laat behoudende lidmate en predikante wat homoseksualiteit as sonde sien, met drie opsies:

1. Veg baie aggressief

Beveg die dwaling in die NG Kerk baie aggressief en maak gereed om hierdie kwessie tydens die 2017 algemene sinode vir eens en vir altyd te beëindig. Dit gaan in kort die volgende behels:

  • Dwaalleraars sal by hulle onderskeie ringe aangekla moet word. Dit mag selfs beteken dat behoudendes bereid sal moet wees om predikante in ander ringe te gaan aankla indien daardie ringe nie iets aan die saak doen nie.
  • Die ander skokkende besluite (soos die saamwoon en duiwelbesluit) sal teruggetrek moet word.
  • Gemeentes sal hulle moet distansieer van die kuratoriums, wat duidelik op ’n dwaalpad is. Daar is geen teken daarvan dat die kuratoriums sal omdraai nie.
  • Nuwe beroepings van predikante sal baie versigtig gedoen moet word (kyk Vrae aan predikante).

Onthou dat alhoewel progay predikante nie tans gayhuwelike kan voltrek of in gay verhoudings kan staan nie, kan niks aan hulle gedoen word indien hulle openlik hul progay opinie verkondig nie. ’n Mens kan ook verwag dat progay predikante sal voortgaan om gays se babas te doop (kyk Doop van 2 vroue se kind help genees). Dus sal behoudendes hierdie situasie maar geduldig moet duld en hoop en bid dat ’n mens dit sal kan omdraai in 2017.

2. Breek weg van algemene sinode

Aanvaar dat die NG Kerk op ’n onomkeerbare pad is en gaan voort met besprekings om weg te breek van die Algemene Sinode. Dit gaan in effek beteken dat die NGK gaan skeur.

3. Verlaat die NG Kerk

As NG streeksinodes nie die moed het om die algemene sinode te verlaat nie, sal individuele gemeentes moet afstig of lidmate sal die NGK moet verlaat. Hierdie dwaling in die NG Kerk dra nie God se goedkeuring weg nie. As die dwaling nie gestop kan word nie, moet behoudendes ernstig daaroor dink en bid om eerder die NG Kerk te verlaat (kyk Handelinge 2:40, Openbaring 18:4, 2 Korintiërs 6:17, Jesaja 48:20, Jeremia 51:9, Efesiërs 5:6-7 en 1 Timoteus 6:5 (AOV)).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui