Namibië hersien verhouding met SA ná gay-besluit

Kyk ook:

In die artikel hieronder word gesê dat die NG Kerk sinode Namibië voortgaan met gesprekke om te besluit of hulle steeds deel wil wees van die NG Kerk in Suid-Afrika. Dit kom na die besluit oor selfdegeslagverhoudinge in 2015 (kyk 2015 NGK homoseksuele besluit). Alhoewel hierdie besluit vir eers gestuit is (kyk NG Kerk: Gays sal moet wag), is die groot vraag of die NG Kerk sal kan omdraai (kyk Gay-besluit gestuit, maar kan NGK omdraai?). Hoogs waarskynlik nie.

Dit is verblydend om te sien dat die suiwer leer so belangrik geag word deur die NG Kerke in Namibië.

******

Verhouding met SA hersien ná gay-besluit

Pieter Steyn, 28 Maart 2016 00:00

Die NG Kerk in Namibië gaan sy verhouding met die algemene sinode in Suid-Afrika hersien.

’n Taakspan om die kerk in Namibië se bande met die kerk in Suid-Afrika te hersien, is by die 17de Namibiese sinodesitting aangewys.

Volgens dr. André Olivier, moderator van die Namibiese sinode en voorsitter van die taakspan, het die taakspan vier maande om ’n verslag voor te berei vir die moderamen van Namibië.

“Daar is ’n sterk gevoel onder predikante van Namibië dat ons ’n slagoffer word van besluite wat in Suid-Afrika by die algemene sinode geneem word. Ons wil groter selfstandigheid hê. Dit is waarna die taakspan moet kyk,” het Olivier Sondag gesê.

Olivier sê die spanning tussen Namibië en die algemene sinode kom al ’n geruime tyd – sedert die proses om artikel 1 van die Kerkorde te verander om ruimte te laat vir die Belydenis van Belhar om deel te word van die NG Kerk se belydenisgrondslag.

Die algemene sinode se besluit oor gays het ook “groot spanning” in die Namibiese kerk veroorsaak, al was die besluit nie van toepassing op Namibië nie.

“Daar was ’n sterk debat oor ons verhouding en bande met die algemene sinode, maar my gevoel is die meeste afgevaardigdes wil nie noodwendig hê ons moet alle bande met die kerk in Suid-Afrika verbreek nie, maar dat Namibië groter selfstandigheid wil hê.”

Luidens die NG Kerk in Namibië se nuusbrief, Die Feldmuis, was die “gewraakte” besluit oor “selfdegeslag-seksuele verhoudings” en die besluit wat ruimte vir streeksinodes gee om self oor hul belydenisgrondslag te besluit, die laaste strooi vir die kerk in Namibië.

“Daar word nie gepraat van losmaak van alle bande [met die algemene sinode] nie, maar dat ’n dringende herskikking van bande nodig is, is duidelik,” lui die nuusbrief.

Die taakspan moet ook die moontlikheid ondersoek om predikante in Namibië op te lei.

Olivier het toegegee dat daar enkele dominees en kerkrade is wat wel alle bande met die kerk in Suid-Afrika wil verbreek.

Oor gays het die Namibiese kerk besluit om die besluit van dié sinode van 2006-’07 te handhaaf.

Volgens dié besluit word gays aanvaar in die kerk, solank hulle selibaat bly. Gays mag ook nie predikante word nie.

“Ons vertrekpunt is die Bybel en die liefde van Christus. Die Bybel wys dade van selfdegeslag- seksuele verhoudings af. Ons getuig dat die Bybel ’n selibate lewe vra van mense met ’n selfdegeslag- seksuele oriëntasie. Seksuele oriëntasie verhinder nie lidmaatskap van die kerk nie,” lui die besluit.

§ Dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die Vrystaatse sinode, het bevestig daar word op 19 Oktober ’n buitengewone sinode in Bloemfontein gehou om te besin oor die gay-besluit en die besluit om streeksinodes ruimte te bied om oor hul eie belydenisgrondslag te besluit wat op verlede jaar se algemene sinode geneem is.

Die sinodes van KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap het ook vanjaar hul onderskeie sinodesittings.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui