Wie is Jaap Durand?

Jaap Durand (5 Junie 1934 – 24 Januarie 2022) het as predikant in die NGK gelegitimeer, maar het nooit as predikant gedien nie.

Evolusie

Hy was ’n voorstaander van evolusie. Hy het die boek Evolusie, wetenskap en geloof geskryf waarin hy gesê het dat die wetenskap en geloof geskei moet word. Dus het hy probeer om evolusie met die Bybel te versoen. Vir meer hieroor, kyk:

Redding

In Kerkbode (21 Junie 2013) het hy gesê:

Daar bestaan geen twyfel dat daar ’n oordeel plaasvind nie, maar daar is nie sprake daarvan dat die straf ewig sal wees nie.

(Kyk Belhar, Jaap Durand en die hel, deur Wynand Louw, 10 Mrt 2015)

Dit wil dus voorkom of hy geglo het dat ongelowiges wel geoordeel sal word, maar nie vir ewig nie. Hierdie is ’n vorm van universalisme.

Oor Ben du Toit se boek, God: Is daar ’n ander antwoord?, soek Jaap Durand ligpunte en skryf dan:

In my soeke na ligpunte het daar in my gemoed ’n baie ou gereformeerde stelling opgekom wat ek van kindsbeen af geleer het: Eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God! Oudtydse gereformeerde teologie, of bloot ’n dwaling aan my kant? Durf ek in hierdie verband Shakespeare aanhaal: “He doth protest too much?” Slegs Ben du Toit kan my hierop ’n antwoord gee.

(Uit Uittreksel: Jaap Durand oor Godsontkenning en geloofsbeslissing)

Bevrydingsteologie

Hy was ’n anti-apartheidstryder en het die Belharbelydenis saam met Dirkie Smit opgestel, daarom waarskynlik ook ’n voorstaander van die bevrydingsteologie.

Kyk Jaap Durand: Beliggaamde solidariteit (Allan Boesak, 2 Feb 2022).

Lys van artikels

********

Jaap Durand: Is die NGK ’n kerk vir die Afrikanervolk? | Litnet

Jaap Durand 2013-05-14

Van HIER gekopieer.

Giliomee is by die ABSA KKNK aangehaal: “Die Afrikaners het al van ’n baie vroeë stadium die idee van ’n volkskerk gehad. Die kerk moet gaan kyk wat die verhouding is met die volk waarin hy geplaas is. Is hy ’n volkskerk of is hy nie ’n volkskerk nie?”

Meyer het hom gevra hoe wenslik die begrip van ’n “volkskerk” is in die godsdiensdiskoers van ons tyd en oor die verhouding tussen die kerk en die volk waartoe sy lidmate behoort. Wat is die rol van sulke faktore soos taal, kultuur en politiek in ’n geloofsgemeenskap? Lees sy bydrae hier. Hier onder reageer Jaap Durand op dieselfde vrae.

Wie is ek? Kerklike konteks

As predikant is ek in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) gelegitimeer, maar het nooit in dié kerk as predikant gedien nie. Ek is in 1961 as predikant georden in die destydse NG Kerk in Afrika en het my bediening begin by Cala in die Transkei. Daarna het ek geskuif na Kwazakhele in Port Elizabeth, totdat ek in 1973 beroep is as professor in die sistematiese teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland met die oog op die teologiese opleiding vir predikante in die destydse NG Sendingkerk. Die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika het in die tagtigs van die vorige eeu een geword as die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika (VGK). Ek is tans nog lidmaat van die VGK se Rynse Gemeente in Stellenbosch. In 1982 het ek saam met Dirkie Smit die Belydenis van Belhar gereed gemaak vir die Sinode van die NG Sendingkerk. Kort daarna het die NGK my my predikantstatus ontneem, en in die kerklike jaarboek van hierdie kerk word ek nog steeds beskryf as “uit die bediening”. My bydrae kan vanuit hierdie agtergrond beoordeel word.

Die funksionaliteit van ’n debat oor die volkskerkgedagte

Die vraag na die funksionaliteit en relevansie al dan nie van die debat rondom die volkskerkgedagte vandag in Suid-Afrika is moeiliker as wat dit op die oog af lyk. Sonder aarseling kan geantwoord word, ja, dit is uiters relevant, maar terselfdertyd is daar ’n waarskuwende stemmetjie wat neig na die “nee” – nie baie sterk nie, meer gedemp, maar tog onteenseglik daar.

Dat die antwoord “ja” sal wees, spreek byna vanself. Tot onlangs het die idee van ’n volkskerk en die implikasies van so ’n idee feitlik in elke besinning oor die rol en betekenis van die kerk binne die Suid-Afrikaanse samelewing aan die orde gekom, soms selfs oorheersend. Veral was dit die geval binne die kringe van diegene wat tot een van die drie Afrikaanssprekende kerke van gereformeerde oorsprong behoort het. As die grootste van hierdie kerke was dit veral binne die NGK en die familie van NG Kerke (naas die NGK die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika, wat na eenwording tans die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika geword het, en die Reformed Church in Africa) dat die debat soms heftige afmetings aangeneem het. Die emosies waarmee hierdie debat gevoer is, het te doen gehad met die politieke situasie in die land en was veral aangevuur deur die vingerwysing na die kant van die NGK dat dié kerk nie net kop in een mus was met die destydse Nasionale Party-regering nie, maar inderdaad die teologiese en ideologiese basis verskaf het waarop die regering oor dekades heen ’n apartheidbestel in Suid-Afrika kon handhaaf. Hierdie vingerwysing het nie net gekom van die kant van die sogenaamde “dogterkerke” nie, maar ook van sporadiese en soms geïsoleerde stemme binne die NGK self. Die klag teen die NGK was duidelik en onomwonde: die NGK tree op as ’n tipiese “volkskerk” wat die belange en strewes van die “Afrikanervolk” koester, bevorder en die geestelike hoeder van ’n politieke en sosiale apartheidsamelewing geword het.

Hierdie bondige beskrywing is deel van ’n baie onlangse geskiedenis, en sonder twyfel lê die oortuigings wat daarmee saamhang, nog baie na aan die oppervlak. Dit sou enersyds dwaas wees om te dink dat die sentimente onder die oorgrote meerderheid van diegene wat vashou aan die idee van ’n volkskerk, eensklaps verander het met die volledige diskreditering van die apartheidsideologie. Andersyds is dit onrealisties om te dink dat die teenstanders nie bewus is van hierdie hardnekkige vasklou aan ’n ou ideologie nie. Die debat sal dus voortgaan, maar nou op ’n ander vlak en met meer nuanse.

Hierdie “ja” op die vraag na die funksionaliteit en relevansie van ’n debat oor ’n “volkskerk” moet ons egter temper as ons in gedagte hou dat die funksionaliteit van hierdie begrip afgeneem het in sy relevansie, omdat die tye radikaal verander het. Met die aftakeling van die ou politieke apartheid en die teologiese regsomkeer binne die NGK oor die ideologiese regverdiging daarvan, het die teologiese onderskraging van ’n volkskerk-idee binne die breë laag van lidmate en leiers binne dié kerk baie meer ondergeduik. Nie baie sal bereid wees om die idee soos dit in die verlede geleef het, en nog leef, openlik te verdedig nie.

Tog moet ek, na verdere oorweging, hierdie stelling oor die moontlike afname in relevansie nader kwalifiseer. Die onderduiking van die debat kan moontlik plek maak vir ’n skielike herlewing wat met groter felheid sal geskied, iets wat weer eens binne die geledere van die NGK en die res van hierdie kerklike familie sou kon plaasvind. Die NGK se erkenning dat die teologiese regverdiging van apartheid onskriftuurlik was, by monde van sy sinodes, ander kerklike vergaderings en baie van die leierskap, veral onder jonger predikante, het menige lidmaat ontnugter. Die gevoel dat die kerk die geestelike beskermer was van dít wat vir die volk goed en reg was, is aan skerwe geruk. Vir die eerste keer het die gevoel opgekom, by meer as wat ons dalk vermoed, dat die NGK miskien nie meer ’n kerk vir die Afrikanervolk is nie. Hierdie gevoel is versterk deur hernude pogings deur die kerklike vergaderings om strukturele eenheid tussen die NGK en die ander kerke binne die kerkfamilie te bewerkstellig. Die feit dat hierdie pogings tot dusver nie baie suksesvol was nie, kon die vrees by baie lidmate nie besweer dat eenheid die Afrikanerkarakter van die NGK eventueel sou aantas nie.

Die sterk aandrang daarop dat die onderskeie kerke binne die NG Kerk-familie tot een kerklike struktuur moet verenig, kry ons nie net binne invloedryke kringe in die kerke self nie, maar ook daarbuite, wanneer selfs die Afrikaanse niekerklike pers daarvan melding maak. Die redaksionele rubriek van Die Burger van 12 Mei 2013 – “Eenheid kan die kerk se rol net versterk” – kan selfs sy pleit vir eenheid afsluit met die woorde: “[S]olank die kerke self verdeeld bly, moet hulle nie verwag dat mense daarbuite hulle ernstig sal opneem as hulle oor versoening en heling praat nie.”

Met hierdie woorde van Die Burger is die eenheid van die NGK, die VGK, die NGKA en die RCA geplaas binne die konteks van Suid-Afrika se multikulturele en gefragmenteerde samelewing. As hierdie uiters belangrike en korrekte siening breëre aanvaarding verkry, het dit die potensiaal om ’n nuwe en selfs meer venynige debat oor die idee van ’n volkskerk op te roep.

Die rol van die Belydenis van Belhar moet nie in hierdie verband onderskat word nie. Die aandrang van die VGK dat die Belydenis van Belhar opgeneem moet word as deel van die belydenisgrondslag van ’n verenigende kerk, en die Algemene Sinode van die NGK se aanvaarding daarvan en verwysing na die gemeentes en streeksinodes van die betrokke kerk op soek na ’n tweederde-meerderheid om Belhar deel te maak van die belydenisgrondslag, het eensklaps weer die spook van kerkskeuring opgeroep. Sporadiese stemme in dié verband gaan reeds op waarby die herinnering aan die wegbreek van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in 1987 uit die NGK om kwalik bedekte politieke redes(die Algemene Sinode van die NGK se afwysing van die teologiese regverdiging van apartheid in sy beleidsdokument Kerk en Samelewing) weer dwingend na vore sal kom. Die Belydenis van Belhar sal as skuifmeul gebruik word om ’n volkskerkdebat op te roep waarby faktore soos taal en kultuur weer eens ’n deurslaggewende rol gaan speel ter wille van ’n verskuilde politieke agenda.

As my bostaande ontleding van die kerklike situasie korrek is, gaan die teologiese vraag na die legitimiteit van ’n volkskerkgedagte herleef en nog vir lank by ons wees.

Kommentaar

Johannes Comestor

Jaap Durand se verwysing na Die Burger is foutief. Op Sondag, 12 deser, was daar geen uitgawe van hierdie koerant nie.

Dit val op dat Durand hom heel aan die begin dadelik van die NGK distansieer. Waarvoor hy pleit, is die aanvaarding van die Belhar-belydenis, waarvoor hy en Dirkie Smit pa moet staan. Hy verkwalik die VGK nie vir sy liefdelose standpunt dat Belhar ononderhandelbaar is nie.

Sy kritiek is gerig op die NGK, terwyl die Reformed Church in Africa net so onwillig is om Belhar te aanvaar. Dit gaan hier om twee etniese groepe, wittes en Asiate, wat trots op hulle kulturele identiteit is. Dit is anders met die bruines gesteld, wat om politiek-opportunistiese redes hulleself deesdae graag swart verklaar.

As die NGK finaal voor Belhar swig, sou dit tot verdere skeuring in NGK-geledere lei en ’n hernude uitvloei van lidmate na bv die APK veroorsaak. Durand sou dan daarop aanspraak kon maak dat hy een van die hoofjukskeibrekers was. Wesenlik gaan dit in hierdie sage nie om teologie nie, maar om die oorheersende politiek van die oomblik ter wille te wees.

Dwarsdeur die geskiedenis is kerkgenootskappe gestig om in die behoeftes van bepaalde kulturele groepe te voorsien. Juis daarom sou dit uit die oogpunt van die wittes veel meer sin hê om die drie Afrikaanse kerke te verenig as om eenheid aan die NGK en VGK op te dwing.

Gestel die NGK en die VGK verenig wel. Dan sou daar spoedig die verengelsing van NGK-byeenkomste wees, wat verdere kerkvervreemding by Afrikaners sou veroorsaak; dus politieke wins en religieuse verlies. Dit sou nie die eerste keer wees dat Durand se politieke preokkupasie Afrikaans ondermyn nie. Toe hy viserektor van die Universiteit van Wes-Kaapland was het hy en die rektor, Jakes Gerwel, ’n oorwegend Afrikaanse universiteit in ’n eentalige Engelse universiteit getransformeer; om politieke, dus nie-akademiese, redes. Dieselfde is besig om aan die Universiteit Stellenbosch te gebeur.

Johannes Comestor

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui