Só kan NG Kerk by Pienk Piet leer

In die artikel hieronder breek Leslie van Rooi van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGK) ’n lansie vir Johannes du Plessis, ’n dwaalleraar in die NG Kerk in die 1900’s. Hy is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en verdedig die teologiese opleiding wat predikante ontvang. Hierdie artikel is waarskynlik in reaksie op die Kairos Netwerk en die Namibiese Sinode wat aangedui het dat hulle hulself distansieer van die teologiese opleiding wat by Universiteit Stellenbosch, Pretoria en Vrystaat aangebied word:

Die volgende artikels het verskyn na aanleiding van hierdie artikel:

*******

Só kan NG Kerk by Pienk Piet leer | Netwerk24

Leslie van Rooi

31 Maart 2022

Die debat oor die interpretasie van die Skrif is op ’n naaldpunt en kan selfs tot skeuring in die NG Kerk lei. Dr. Leslie van Rooi skryf hoe ons by “Pienk Piet” kan leer hoe om die leefwêreld van geloof te verruim.

Dr. Frits Gaum, oudredakteur van Kerkbode, en ander het oor die jare reeds daarop gewys dat die NG Kerk versigtig daarvoor moet wees om nie die foute van die verlede te herhaal nie. In hierdie verband herinner Gaum en ander ons aan die kerk- en teologiese stryd oor prof. Johannes du Plessis. Sy standbeeld, wat as “Pienk Piet” bekend staan, waak oor die ingang tot die tuin van die Kweekskool in Stellenbosch. Hy het geleef vanaf 1868 tot 1935.

Ek meen dat dit nou selfs van nóg groter waarde is om te besin oor die lesse wat ons geleer het tydens die Du Plessis-kerksaak, wat ’n groot impak op die teologie van veral die NG Kerk gehad het. Maar hoekom is dit juis nou nog belangriker om oor hierdie lesse te besin?

Dit is opvallend dat die debat oor die interpretasie van die Skrif, wat reeds jare gelede begin het – veral oor die debat oor gay-wees in die kerk – nou aansienlik verder uitgebrei het. Dit blyk nou te handel oor Skrifinterpretasie in die algemeen. Die dreigende gevolg is (weer) die moontlikheid van skeuring in die geledere van die NG Kerk.

Dit sluit op ’n ander noot aan by ’n vraag waarmee daar oor die eeue geworstel is: Hoe interpreteer mense (let wel nie hemelwesens nie) die Bybel?

[Kommentaar: Hierdie woorde herinner baie sterk aan die NG Kerk se besluit oor skrifgesag in 2002.]

En, natuurlik bied hierdie “nuwe denkskool” ook ’n antwoord. Dis ’n antwoord wat ons wéér neem na ’n letterlike, byna buite-historiese interpretasie van ’n heilige boek wat gelyk ver verwyderd is van ons leefwêreld, maar ook nader aan ons is as wat ons soms (wil) dink.

3 lesse

Gegewe die jongste ontwikkelinge in die debat oor die interpretasie van die Skrif is daar nou selfs ook vrae oor teologiese opleiding aan sekere universiteite en of die teologiese beoefening by hierdie fakulteite nie dalk te liberaal is nie. Dit hang saam met ’n wyer en al hoe meer algemene gesprek hier en elders oor liberalisme en wokeness aan die een kant, en behoudendheid en konserwatisme aan die ander kant – nou ook in die geledere van die kerk.

Dit speel uit in algemene gesprekke en debatte op verskillende vlakke in die samelewing wat heel gereeld tentakels in ’n spesifieke interpretasie van die Bybel het.

En, in die leefwêreld van die gelowige tree dit dan weer in gesprek met geloof, identiteit en hoe dit in die wêrelde van die Skrif geïnterpreteer kan word en moet word.

Juis omdat hierdie debat nie ’n nuwe debat is nie, en omdat soortgelyke debatte siklies van aard was of is, is dit waardevol om lesse uit die geskiedenis te leer. En juis daarom is ’n herlees van die kerksaak teen Du Plessis belangrik.

Ek is van mening dat daar veral drie lesse in hierdie verband is.

Gebrandmerk as ketter

Die eerste les gaan oor die interpretasie van die Skrif. Du Plessis het ’n nuwe denkskool bekend gestel wat gehelp het dat daar histories-krities met die Skrif omgegaan word. Dit het aanklank gevind by vele, maar het uiteindelik daartoe gelei dat Du Plessis en sy sienings onder verdenking gekom het juis omdat daar allerhande vrae ontstaan het oor waar Bybeltekste vandaan kom, wie dit saamgestel het en hoe ons dit mag en nie mag interpreteer nie.

Die tekskritiese interpretasie wou ons help om te verstaan dat die teks nie sonder konteks gelees en geïnterpreteer kan word nie. En dit het veral kritiek ontlok onder diegene wat tevrede was met ’n meestal letterlike interpretasie van die Bybel. Dit was ’n Bybel wat toe ook gebruik moes word om antwoorde te bied op die sosiaal-politiese vraagstukke van die Suid-Afrika van toe. Dit is dalk juis omdat Du Plessis ander antwoorde op hierdie vraagstukke gehad het, dat hy met agterdog bejeën is.

[Kommentaar: Leslie van Rooi is hier baie duidelik besig om strooipoppe op te stel. Gewoonlik word behoudendes daarvan aangekla dat hulle die Bybel letterlik wil interpreteer. ’n Mens lei dus af dat Van Rooi beweer dat behoudendes ’n probleem het met tekskritiek. Die waarheid is:

1. Behoudendes interpreteer nie die Bybel orals letterlik nie, maar respekteer die genre en die konteks vir wat dit is.

2. Behoudendes stem een honderd persent saam met tekskritiek wat die wetenskap is verskillende manuskripte te vergelyk om te soek na die beste oorspronklike teks.]

Die pynlikste aspek van hierdie tydperk is waarskynlik die verpersoonliking van die debat – wat daartoe gelei het dat Du Plessis as ’n ketter gebrandmerk is. Dit het verdagmaking, verwerping en selfs verguising tot gevolg gehad. En dít in ’n era voordat ons ’n groter begrip gehad het van die media (en veral die sosiale media) soos ons dit vandag ken. Die plek vir andersheid en alternatiewe denke het minder geword en daar is begin om die teologie te misbruik vir ander doeleindes.

Dink maar aan hoe hierdie debatte vandag nog uitspeel.

Só verruim jy geloof

Dit alles het aanleiding gegee tot ’n nuwe denkskool in die hoofstroom-teologie van veral die 1920’s tot 1980’s in die konteks van veral die NG Kerk. Die interpretasie van die Skrif om sosiaal-politiese vraagstukke te beantwoord was ’n direkte gevolg hiervan. Kritiek en andersheid is beveg en vir ’n kritiese lees van die Bybel was daar nie meer plek nie. Buite konteks en soms buite die geskiedenis het hierdie denkraamwerk daartoe gelei dat die NG Kerk besluite geneem en help neem het waaraan hy vandag steeds swaar dra.

In my kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGK), is daar soms soortgelyke debatte. Maar die konteks van dié kerk is meestal anders as dié van die NG Kerk en daarom is daar ook velerlei ander vrae, gesprekke en debatte. Maar die lesse van Du Plessis se lewe en wat rondom hom ontvou het, is ook belangrik vir die VGK.

Gegewe al dié vrae is dit tog ook waardevol om te vra wat nou juis die impak moet wees van teologiese opleiding aan ’n universiteit. Ek is van mening dat dit jou behoort toe te rus met die vaardighede om krities-wetenskaplik te kan omgaan met teks en konteks.

[Kommentaar: Hy moedig dus openlik ’n krities-wetenskaplike benadering aan.]

Dit moet jou in staat stel om die regte vrae te vra, primêre bronne te gebruik as deel van jou ondersoek, om selfondersoek te doen en om ander te help om die Skrif te interpreteer.

Dit is byna altyd kontekstueel, maar vereis ook dat jy meer as een konteks moet kan verstaan en beliggaam. Dit moet die leefwêreld van geloof verruim en nie vereng nie. Dit moet jou bevry en moet jou help om meer te word as wat jy is. Om dit te verskraal, is om ons terug te neem na ’n era van verwerping, grense, vrese en bygelowe. Na ’n wêreld waar jou waarde met ander meetsnoere gemeet word.

  • Dr. Van Rooi is senior direkteur vir sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

1 thought on “Só kan NG Kerk by Pienk Piet leer”

  1. Hierdie brief van my het elektronies in Die Burger van 8 April 2022 verskyn:

    DIE SIMBOLIEK VAN DIE VERSKUIWING VAN “PIENK PIET”.
    Die artikels van Drs Leslie van Rooi (2/04) en Frits Gaum (5/04) oor die kerktwis rondom Prof Johannes du Plessis het betrekking. Hierdie artikels is waarskynlik in reaksie op die Kairos Netwerk en die Namibiese Sinode wat aangedui het dat hulle hulself distansieer van die teologiese opleiding wat by Universiteit Stellenbosch, Pretoria en Vrystaat aangebied word.

    Ek stem saam met beide doktore dat die NG kerk uit daardie geskiedenis bepaalde lesse kan leer, positief en negatief. So kan ons ook lesse leer uit beelde en monumente, wat vir spesifieke redes opgerig word, as deel van ’n visuele kultuur om voortdurend aan iets of iemand belangrik te herinner. Net so het wat ookal met standbeelde gebeur, besondere betekenis, soos ons ervaar het met die “Rhodes must fall”-beweging. Prof Johannes se standbeeld (wat die bynaam “Pienk Piet” gekry het) het rondgeswerf, is gevandaliseer maar kry op 19 Junie 2006 ’n prominente plek waar dit “waak oor die ingang tot die tuin van die Kweekskool in Stellenbosch” (aldus dr van Rooi). Prof Louis Jonker ’n uitgelese professor aan die teologiese fakulteit van Stellenbosch was een van ’n groep wat meegewerk het aan hierdie verskuiwing.

    Die simboliek van hierdie verskuiwing durf nie misgekyk te word nie, en dit spreek ook duidelik uit die twee artikels: Oor ’n aantal dekades het daar ’n verskuiwing gekom in Skrifbeskouing wat die kern van die Christelike geloof raak. Dit hou daarmee verband dat die historiese kritiek ’n fundamentele uitgangspunt in die teologiese opleiding van die NG Kerk geword en ’n groot getal teoloë, predikante en ander lidmate glo nie meer in die gesagvolheid van die Bybel nie.

    “Ons mag nie toelaat dat ons gehegtheid aan die Bybel en ons aanvaarding van die betroubaarheid van God se Woord in die gedrang kom nie” (Willie Jonker). Die reaksie van Bybelgetroue gelowiges moet in hierdie lig gesien word.

    Dr Henrietta Klaasing, Randfontein

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui