Dís hoekom Hervormde Kerk appelleer, sê Geloofsbond

xxx

*******

Dís hoekom Hervormde Kerk appelleer, sê Geloofsbond | Netwerk24

Arisa Janse Van Rensburg

28 Maart 2022

Die eintlike motivering vir die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) se appèl teen ’n hofuitspraak oor eiendom “is die moontlike verdere finansiële verliese” wat hy kan ly.

So skryf die afgestigte Geloofsbond van Hervormde Gemeentes Maandag in ’n verklaring nadat die NHKA Vrydag gesê het sy litigasiekomitee het besluit om te appelleer teen ’n beslissing van die hooggeregshof in Pretoria vroeër vandeesmaand dat die kerk geen regsgronde het om op te staan ten opsigte van die eiendom nie.

Die Geloofsbond bestaan uit 13 gemeentes, hoofsaaklik in Gauteng, wat van 2010 tot 2014 ’n proses gevolg het om hul kerkeiendom aan vrywillige verenigings te skenk. Hulle het hul bande met die NHKA verbreek omdat die kerkgenootskap sy standpunt oor apartheid verander het.

Luidens die Geloofsbond se verklaring Maandag “betreur” hy die NHKA se besluit.

“Al is die meerderheidsgevoel onder lidmate, ampsdraers en ringskommissies dat die hofuitspraak aanvaar moet word en dat daar ná tien jaar aanbeweeg moet word, is dit duidelik dat die litigasiekomitee die septer in die NHKA swaai . . .” lui die verklaring.

Die Geloofsbond sê dit blyk dat sy waarskuwende pleidooie om versoening korrek was.

“Ons het gewaarsku dat ’n oorwinning vir die onafhanklike gemeentes die hele NHKA uiteindelik op risiko sou plaas. Ons was bevrees dat ’n uitspraak in ons guns weer van ons die sondebok sou maak van verdere skeuring binne die NHKA; daarom dat ons telkens die hand van versoening uitgereik het. Dit is egter elke keer weggeklap.”

Die NHKA het vroeër gesê hy sal sy hofstukke Maandag by die hof indien.

Die hooggeregshof het beslis die oordrag van die eiendom was wettig omdat die eiendom in die gemeentes se naam was. Die NHKA was nie ’n party in die skenkingsooreenkoms tussen die gemeentes en die verenigings nie en kan dus nie die ooreenkomste se geldigheid uitdaag nie.

Die Geloofsbond het weggebreek nadat die NHKA in 2012 besluit het dat apartheid geen teologiese grondslag gehad het nie.

Die hofgeding het kort hierna begin.

Luidens die NHKA se verklaring Vrydag sou die gevolge daarvan om nié appèl aan te teken nie geweldig groot gewees het. “Dit hou nie net implikasies in vir die eiendomme wat tans in die geding is nie, maar ook vir talle ander kerklike eiendomme. Meer nog, hou dit implikasies in vir die sinodale funksionering van die Hervormde Kerk.

“Prakties gestel beteken dit dat die onderlinge band tussen die gemeentes opgehef sou word en dat ons gemeenskaplike binding aan die kerkorde van individue se willekeurige instemming afhanklik word,” lui die NHKA se verklaring.

Bylaag A: Mediaverklaring: Hofsaak – Appèl deur NHKA

27 Maart 2022

Die GHG betreur die besluit geneem deur die Algemene Kommissie van die NHKA om die beslissing van die hof re die eiendomme te appelleer.

Al is die meerderheid-gevoel onder lidmate, ampsdraers en Ringskommissies dat die hofuitspraak aanvaar moet word en dat daar na tien jaar aanbeweeg moet word, is dit duidelik dat die Litigasiekomitee die septer swaai in die NHKA en dat die Kommissie bloot as rubberstempel dien.

Vyf aanvanklike punte van reaksie op hulle motivering vir die besluit:

  1. Die Kommissie doen groot moeite om te stel dat die saak nog nooit gegaan het oor eiendomme nie, soos per hul eerste verklaring ná die uitspraak gelewer is. Nou blyk dit uit hierdie verklaring dat die eiendomme wél ’n gróót rol speel, en dat moontlike verdere finansiële verliese die eintlike motivering tot die appèl is. Dit is dus uit die verklaring duidelik dat die gom van ekumeniese binding binne die NHKA aardse rykdom is en nié soos gestel ‘n suiwer gemeenskaplike geloof nie. Daar word te kenne gegee dat hul onderlinge geloofsbinding reeds in só ‘n mate verbrokkel het, dat die verlies aan hierdie eiendomme die NHKA in duie kan laat stort. Vir die Kommissie en die Litigasiekomitee is die appèl dus van die allergrootste belang ten einde hul eie lewenstandaard, magsgebied en verwronge teologie te kan beskerm. So kan gemeentes en lidmate steeds vanuit ‘n klein kantoortjie beheer word.
  2. Hieruit blyk dit dat ons waarskuwende pleidooie tot versoening korrek was. Ons het gewaarsku dat ’n oorwinning vir die onafhanklike gemeentes die hele NHKA uiteindelik op risiko sou plaas. Ons was bevrees dat ‘n uitspraak in ons guns weer van ons die sondebok sou maak van verdere skeuring binne die NHKA; daarom dat ons telkens die hand van versoening uitgereik het. Dit is egter elke keer weggeklap. Nou besef hulle dat ons optrede korrek was. Die hof het reeds bevestig dat die onafhanklike gemeentes se optrede wettig was. Ons verwagting is dat die kanse dat die appèl toegestaan óf gewen gaan word, baie skraal is.
  3. Tien jaar later word gemeentes aan beide kante steeds gyselaar gehou deur voortslepende regsgedinge, en kunsmatig daarvan weerhou om op ‘n normale manier met hulle bates en geloofsgerigte finansiële bestuur om te gaan.
  4. Die besluit om te appelleer, is geneem teen die skynbare agtergrond dat dit maklik is om geld te vermors waarvoor die NHKA septer swaaiers nie self hoef in te staan nie. Sukkelende NHKA gemeentes word steeds toegemaak, en predikante word steeds gedwing tot salaris-vermindering, terwyl sinodale heffings steeds volledig gevorder word! Dit alles sodat die sinodale burokrasie gefinansier kan bly ongeag die las op lidmate. In hulle eie verklaring erken hulle dat die appèl ook moet help om verdere onafhanklik-verklaring deur NHKA- sowél as NG-gemeentes te probeer vertraag. Ongetwyfeld is dit ook ‘n futiele poging om die gekneusde ego’s van die lede van die Litigasiekomitee vir oulaas te probeer red.
  5. In teenstelling met die uitsprake en aansprake op integriteit en morele hoë-grond, het die NHKA nie ‘n enkele keer sedert 2010 ‘n hand van vriendskap, broederskap of versoening uitgesteek na sekere ampsdraers en lidmate nie. In die besonder na diegene wat ‘n probleem het met hulle verdraagsaamheid van ongeloof en kettery binne die NHKA nie. Inteendeel, hulle kon nie gou genoeg van ons wat dit gewaag het om op te staan teen hierdie kettery en ongeloof ontslae te raak nie. Intussen word diegene binne die NHKA – waar onder andere verskeie professore wat betrokke is en was by die opleiding van predikante – wat die maagdelike geboorte, opstanding, Hemelvaart en wederkoms van Jesus Christus ontken, en so ook die oordeelsdag en ewige lewe, beskerm en omarm. Hulle word hulle toegelaat om hulle ongeloof binne dié Kerk uit te leef. Watter eenheid probeer die Kommissie bewaar?

Ons as Geloofsbond distansieer ons steeds ten volle hiervan. Dankie dat ons steeds op lidmate en gemeentes se morele en stoflike ondersteuning kan staatmaak. As gelowiges bid ons saam, dien ons saam en glo ons saam in die Waarheid wat die dood en die duisternis oorwin het.

Dr Johan Otto

Namens die GHG Bestuur

082 767 7891

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui