Du Plessis het verwoesting gesaai

Bernhard Ficker skryf die volgende artikel onder andere in reaksie op Frits Gaum se “Hou vas aan dié 9 woorde” (5 Apr 2022).

*******

Du Plessis het verwoesting gesaai | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

13 April 2022

Verbasend is daar nog geen reaksie op hierdie brieweblad oor die “Pienk Piet” berigte nie.

Dr. Frits Gaum (“Hou vas aan dié 9 woorde”, 05.04) sê ’n mate van spanning tussen die kerk en kweekskole “is nie noodwendig sleg nie”.

Nee, dis altyd sleg en het daartoe gelei dat gelowige lidmate en gemeentes aansluit by reformerende instansies soos die Kairos Netwerk (KN).

Toe prof. Johannes “Pienk Piet” du Plessis skuldig bevind is aan dwaalleer oor sy histories-kritiese benadering, was die algemene sinode (AS) en teologiese professore behoudend en Du Plessis liberaal. Deesdae het die AS en teologiese dwaalleerskaplikes omgeswaai na liberaal, terwyl die dolerendes van die KN behoudend is.

Die Universiteit Stellenbosch se kweekskool se liberale professore het Du Plessis se liberale leer aanvaar en hom verhef van “ketter” tot “ere-profeet” wat daartoe gelei het dat hy ná vele swerwinge uiteindelik tot ruste gekom het in sy ere-standplaas by die ingang van die kweekskool, waar hy die “poster boy” van nuwe dwaalleer geword het.

Jy word nie liberaal deur die Bybel te lees nie – daarvoor moet jy na ’n kweekskool gaan. Die saadjie wat Du Plessis hier gesaai het met sy histories-kritiese benadering, het ’n verwoestende effek op die NG Kerk gehad. Die uiteinde is dikwels posttëisme, soos bewys deur die pad wat dr. Ben du Toit van die AS gestap het.

In prof. Willie Esterhuyse se boek God en die gode van Egipte beskryf hy hoedat hy as diep gelowige by die kweekskool opgedaag het om te vind dat wat hy in Sondagskool geleer het foutief was. Moses het nie die eerste vyf boeke geskryf nie; God het nie geskep nie, maar evolusie het dit vanselwers namens God gedoen; die skeppingsweek van ses dae was nonsens; en die eerste 11 hoofstukke van Genesis was bloot metaforiese bespiegeling. Alles die leer wat Du Plessis propageer het.

Esterhuyse se uiteinde was posttëisties, soos ook vele ander verlaters van die kweekskool. En toe was die bestaan van Satan en die kwessie oor gay dominees nie eens in gedrang nie. Die boek Hier staan ek… en ek is nie alleen nie waarin NG-dominees van hul ongeloof getuig, is ’n verdere bewys van die verwoestingswerk van Du Plessis se teologie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui