‘Belydend’ eerder as ‘dolerend’?

Die volgende artikels het na hierdie artikel gevolg:

*******

‘Belydend’ eerder as ‘dolerend’? | Kerkbode

Kerkbode

31 Maart 2022

Prof JW (Hoffie) Hofmeyr skryf:

In ’n nuwe en merkwaardige ontwikkeling het dit by monde van die plaaslike predikant van die NG Gemeente Richmond in die Noord-Kaap, dr Theo Badenhorst, bekend geword dat ook hierdie gemeente hulle op 23 Februarie met blydskap verklaar het tot ’n “belydende gemeente” oftewel “dolerende gemeente”.

Hulle besluit wat ook spreek van hoe breed en diep die kommer in die NG Kerk reeds in die land strek, lui soos volg: “Die kerkraad van die gemeente Richmond verklaar ons gemeente met blydskap as ’n belydende gemeente (verkieslik bo ‘dolerende’). Ons bevestig opnuut die gesag van die Heilige Skrif, die waarde van ons belydenisskrifte, die liggaamlike opstanding van Jesus Christus ons Here, die persoonlike bestaan van ons vyand die duiwel, sowel as die maagdelike geboorte van Christus. Mag die kerk haar steeds deur Woord en Gees alleen laat lei.”

Lees ook: Oor Namibië se ‘ultimatum’

Hierdie besluit is net nog ’n verdere bewys hoe omvangryk die gegronde kommer oor die rigting van die huidige NG Kerkleierskap en sommige van sy teoloë is. Skynbaar besef die huidige NG Kerkleierskap nie hoe sentraal te midde van verskillende wêreldwye strominge en tans ook die tragiese oorlog in Oekraïne, die Woord van God en die God van die Woord die hele mensdom se enigste Hoop is oor alle eeue heen. Daar word gans te oppervlakkig oor basiese geloofstandpunte en oor die sentrale boodskap van die Bybel, soos onder andere ook blyk uit die konferensie oor Queer-teologie, heen geloop wat tot omvangryke verwarring lei.

Die NG Kerk Richmond het met sy term “belydende gemeente” ’n baie interessante nuwe dimensie toegevoeg tot die debat oor die huidige diepgaande krisis in die NG Kerk oor Skrifinterpretasie en afwykende teologiese denke. Die term “belydend” het ’n lang geskiedenis in kerk en teologie. Een van die belangrikste momente in hierdie geskiedenis is toe ’n sterk groep in die middel 1930’s standpunt begin inneem het teen die Nazi-Duitsland-regime. Onder leiding ook van mense soos die bekende Karl Barth is ’n verklaring uitgereik waarin gestel is dat dinge in die kerk in Duitsland net nie op die ou trant sou kon aangaan nie.

Lees ook: Ons sien uit na gesprek met die Sinode van Namibië – Nelis

Die interessante en merkwaardige term wat die NG Kerk Richmond gebruik, naamlik ’n “belydende kerk” in plaas van ’n “dolerende kerk”, gaan waarskynlik in die toekoms ’n al groter rol speel. Nadat byna ’n honderd gemeentes van die NG Kerk nou reeds vir ’n tyd lank gedoleer het, is die tyd moontlik ryp om oor te gaan na ’n positiewe beweging, naamlik om ’n “belydende kerk” te word. In wese sê dit niks anders as dat die NG Kerk ’n kerk wil wees wat vashou aan Skrif en Belydenis, al dan nie. En dit is die groot kwessie wat tans in die omvangryke krisis in die huidige NG Kerk besleg moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui