Koinonia Sinode: Beplande sinode vir Skrifgetroue NG gemeentes

Die volgende skrywe oor ’n sinode vir behoudendes is op 17 November 2022 uitgereik deur die Kairos Netwerk, vooraf gegaan met die volgende nuusbrief: Kairos Netwerk nuusbrief – 14 November 2022 (Koinonia Sinode).

Die beplande tydsraamwerk is soos volg:

  • Minstens vier kleiner streeksvergaderings moet voor einde Februarie 2023 konstitueer.
  • Die Koinonia Sinode moet voor die Algemene Sinode in Oktober 2023 plaasvind.

Doel

Oor die doelstellings van die sinode, word die volgende gesê:

  • “…om die gemeentes en lidmate wat nog Skrifgetrou wil bly, te konsolideer in amptelike kerkvergaderings waar ons mekaar kan ondersteun en inspireer op die pad van reformasie.”
  • “Die bedoeling is nie om bestaande kerkverband te vervang nie en beslis nie om weg te skeur van die NG Kerk af nie. Die doel is juis om mekaar te inspireer tot Skrifgetroue reformasie van binne.”
  • “…ín ’n atmosfeer van eensgesindheid in liefde en waarheid mekaar kan ondersteun en inspireer om draers en beskermers van die Waarheid te wees”
  • “…die vorming van alternatiewe sinodes, bly ons doel steeds reformasie van binne. Die beplande sinode vervang dus nie bestaande kerkverbande of gemeentes se betrokkenheid daarbý nie.”

*******

Die Koinonia Sinode [KS]

Beplande sinode vir Skrifgetroue NG gemeentes

17 November 2022

Teologiese motivering: Jesus Christus regeer elke plaaslike gemeente deur Sy Woord en Gees. Hiervoor roep en salf Hy ook drie besondere soorte ampsdraers nl. ouderlinge, predikante en diakens om Sy ampswerk in die NT Kerk voort te sit. Hulle moet toesien dat die gemeente in alle werksaamhede die verheerlikte Jesus Christus as enigste Hoof erken en bely en voor die gesag van Sy Woord buig. Elke plaaslike gemeente is dus volledige kerk van Christus. Maar nogtans is geen plaaslike gemeente alleen kerk nie. Alle gemeentes is volledig kerk, maar is tog ook gesamentlik kerk. Daarom is kerkverband belangrik.

Ons glo aan een heilige algemene christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges. Gemeentes was dus nooit bedoel om elkeen net maar op haar eie te funksioneer, haar eie belydenisse te formuleer en haar eie teologie en eie liturgiese gebruike te ontwikkel nie. Gemeentes wat een is in liefde en waarheid, in leer en belydenis, word ook struktureel aan mekaar gebind deur verskillende vorme en grade van kerkverband. Daar moet hulle mekaar bemoedig, ondersteun, inspireer en toerus om kandelare in hierdie donker wêreld te wees en om die Evangelie helder, duidelik en onbevrees te verkondig. Om dit prakties te bewerk is gemeentes geroep om ook met ander gemeentes (kerke) wat reeds in geloof, leer en belydenis een is, hande te vat om in een of ander vorm van kerkverband die eenheid in Christus sigbaar te maak.

Wanneer daar egter nie meer in onderlinge liefde en vertroue eenheid in geloof en belydenis en leer binne ’n kerkverband bestaan nie, moet daardie struktuur (verband) óf tot bekering kom, óf ontbind.

Die huidige Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk het gefaal…

Die AS wat jare lank as oorkoepelende kerkverband vir die NG Kerke gedien het, het ongelukkig die afgelope paar jaar op die glybaan van geestelike afvalligheid beland wat maak dat sy tans nie meer kwalifiseer om te dien as oorkoepelende verband vir die verskeie NG Kerke nie.

  • Aangesien die AS deur verskeie on-Skriftuurlike en omstrede besluite waarin die gesag en betroubaarheid van die Bybel in die gedrang kom, nie meer die spreekbuis vir die NG Kerke se geloof en belydenis is en kan wees nie; en
  • aangesien die AS verskeie keuses gemaak het, soos bv. hul droom vir ‘n getransformeerde kerk in 2030 wat in stryd is met ons gereformeerde teologie en amptelike belydenisse, en die AS dus nie meer ’n sinode van gereformeerde kerke sal wees nie; en
  • aangesien die AS haar rug gedraai het op suiwer gereformeerde teologiese opleiding vir ons voornemende leraars. Ten spyte van talle versekerings dat alles in orde is, word die realiteit weerspieël met menigte voorbeelde soos die verklaring van die dekaan van Tukkies in Augustus 2021 oor hulle nuwe kurrikulum: “We are consciously giving more attention to black theology, African Christian theology, liberation theology, feminist theology, womanist theology, urban theology, etc. The faculty is consciously seeking to move from a reformed confessional faculty to an ecumenical one, embracing a variety of christian denominations and traditions. Currently we have more than 33 different denominations participating in the faculty…”; en
  • aangesien die getalle van studente wat teologie wil gaan studeer verder ‘n bron van uiterste kommer geword het en alreeds die gebrekkige vertroue in bestaande teologiese instellings van die NG Kerk bevestig; en
  • aangesien verskeie gereformeerde kerke reeds besluit het, of dit sterk oorweeg om alle bande met die NG Kerk te verbreek weens die AS se on-Skriftuurlike besluite. (So het die CRCA [Christian Reformed Churches of Australia] reeds in Mei 2022 besluit om alle bande met die NG kerk te verbreek. Die meeste NGK-lidmate is nie eers bewus van die besluit nie aangesien die AS hulle nie hieroor ingelig het nie); en
  • aangesien die AS alle gravamina en beswaarskrifte teen hul liberale Skrifhantering en besluite doodeenvoudig ignoreer; en
  • aangesien die AS, die ASM en die ATR die vele herhaalde waarskuwings oor die krisis in die kerk, sowel as die oproepe tot bekering en uitnodigings tot gesprek wat Kairos Netwerk en ander behoudende lidmate persoonlik en publiek tot hulle rig, deurgaans verwerp sonder om enige noemenswaardige aandag daaraan te skenk; en
  • aangesien daar reeds meer as 100 NG gemeentes is wat besluit het om amptelik te doleer oor die rigting waarin die AS die NG Kerk stuur; en
  • aangesien daar ten spyte van etlike miljoene rande wat die AS se omstrede besluite die kerk al gekos het, die duisende lidmate wat ons reeds verloor het, asook die negatiewe publisiteit vir die kerk na buite daar by die AS en sy strukture, nog geen teken van berou, skuldbelydenis en gewilligheid tot bekering te bespeur is nie; en
  • aangesien die ASM in pogings om hulself te regverdig onbeskaamd valse en ongekontroleerde publieke verklarings uitreik wat gerig is teen Kairos Netwerk en ander behoudende lidmate; en
  • aangesien die ASM hulle aanvanklike beloftes om KN in amptelike gesprekke te betrek oor die hantering van die krisis in die kerk, openlik verbreek met ongeloofwaardige verskonings dat KN (wat baie NG gemeentes verteenwoordig) volgens hulle nie locus standi het vir sulke gesprekke nie. Intussen skroom hulle nie om saam met gay-groepe waarvan vele nie eers NG lidmate is nie, en wat nog minder kan aanspraak maak op locus standi, vergaderings, werkswinkels, en konferensies te reël en hulle by amptelike gesprekke te betrek nie; en
  • aangesien die lidmate en gemeentes van die NG Kerk en ander gereformeerde kerke wat die landswye byeenkoms van die Familie van Gereformeerde Gemeentes (FGG) in Julie 2022 bygewoon het dit eens is dat die rakleeftyd van die AS verby is; en
  • aangesien die huidige leierskap van die AS hulleself reeds irrelevant gemaak het deur hul totale onderskatting van die huidige krisis in die kerk en hul pligsversuim in die verband; en
  • aangesien die KN tevergeefs reeds byna alle beskikbare kerklike kanale uitgeput het om die krisis aan te spreek, en ons nie langer kan wag vir die bestaande strukture om die krisis aan te spreek nie,

het ’n groeiende behoefte by behoudende en dolerende gemeentes van die NG Kerk ontwikkel vir ’n oorkoepelende sinode waar ons weer waarlik een kan wees in liefde en in waarheid. Gemeentes smag na ’n ware “sun hodos” (Grieks) waar gemeentes weer waarlik op dieselfde pad is en saamloop na dieselfde einddoel. Ten einde die eenheid van die kerk te bewaar en seker te maak dat ons gemeentes nie heeltemal uitmekaar spat nie, is ons verplig om ’n alternatiewe kerkverband te soek waar gemeentes tuis kan wees in waarheid en in liefde.

Waarom het die huidige Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk gefaal?

Alhoewel Skriftuurlike dwaling sonder twyfel die primêre oorsaak is dat die NG Kerk leierskap op ‘n glybaan van geestelike afvalligheid beland het, moet daar met groot hartseer erken word dat ook ons behoudende leraars en lidmate bewustelik of onbewustelik meegewerk het dat fondamente ondermyn is (Ps 11:3).

  • Deur aan die AS bevoegdheid te gee om bindende besluite te neem oor gemeentes wat nie op die AS verteenwoordig is nie. Die AS is ‘n sinode van sinodes maar neem besluite wat vir lidmate en gemeentes bindend is;
  • Deur versuim is afwykende en liberale Skrifbeskouings, lering en praktyke toegelaat om te infiltreer. Dit het grootliks daartoe bygedra dat kerklike vergaderings toenemend deur liberale leierskap oorheers word.
  • Deur versuim is toegelaat dat die Kerkorde, reglemente en sinodale besluite in kerkvergaderings soms voorkeur geniet bo die kerkregering van Christus deur Sy Woord en Gees.
  • Deur versuim is strukture geskep wat oneffektief en duur is, en eerder ‘n las vir die geloofsgemeenskap is.
  • Deur versuim, eie belang en apatie het die oproep tot radikale reformasie sover slegs ‘n beperkte impak gemaak.
  • Deur versuim en dubbele standaarde is ekumeniese bande met verskeie liberale kerkgroeperinge soos bv. die WRK gesluit, maar verhoudinge met behoudende groepe in ons midde is ernstig verwaarloos.
  • Deur versuim, en strewe na internasionale erkenning, het ons teologiese fakulteite van die NG Kerk verval in ‘n teelaarde van liberale denke en afwykende teologiese indoktrinasie;
  • Deur versuim, en apatie het leraars en kerkrade die toerusting van ampsdraers en kategete, asook die amp van gelowige, so verwaarloos dat die NG Kerk al meer ontaard het in ‘n kragtelose “dominees-kerk”.

Opsommend

  • As Bruid van Christus erken en bely ons dat ons deur versuim, eie belang en apatie teenoor die Here en teenoor mekaar gesondig het (Num 32:23); en
  • onderneem ons om as deel van ons interne radikale reformasie-proses op ‘n beplande maar doelgerigte wyse en o.l.v. die Heilige Gees so gou doenlik aandag te gee aan bogenoemde.

Ontstaan van die beplande Sinode

Verskeie NG gemeentes is nou al so moedeloos oor die geestelike verval in die NG Kerk dat hulle dit ernstig oorweeg om die NG kerkverband heeltemal te verlaat. Ten einde verdere kerkskeuring te stuit, het KN besluit om intussen alternatiewe kerkvergaderinge byeen te roep waar Skrifgetroue NG gemeentes ín ’n atmosfeer van eensgesindheid in liefde en waarheid mekaar kan ondersteun en inspireer om draers en beskermers van die Waarheid te wees (1 Tim 3:15). Daar kan ons mekaar ondersteun om die AS asook die streeksinodes tot bekering en reformasie te roep. Hieruit is ‘n visie gebore van ’n alternatiewe tussentydse sinode vir behoudende gemeentes. Ons noem dit voorlopig die Koinonia Sinode weens die klem op ware geestelike eenheid en broederskap binne hierdie sinode en om dit te onderskei van bestaande sinodes en kerkverbande. Hierdie naam kan later deur die sinode self gewysig word indien nodig. In lyn met hierdie visie het ons gemeentes aangemoedig om nie die kerk te verlaat nie, maar om hul eie besluite te neem oor die moontlikheid van doleansie. Dit is onder andere om die kerk van binne tot bekering te roep. Sovêr ons kennis strek het ongeveer 100 gemeentes hierdie keuse gemaak.

Ons visie was om as volgende stap behoudendes te konsolideer in ’n familie van behoudende Gereformeerdes. Dit het gebeur in Julie 2022 met teenwoordigheid en ondersteuning van verskeie ander gereformeerde kerke van buite die NG Kerk.

As ons nou kom by die volgende stap nl. die vorming van alternatiewe sinodes, bly ons doel steeds reformasie van binne. Die beplande sinode vervang dus nie bestaande kerkverbande of gemeentes se betrokkenheid daarbý nie. Tans is ons visie om onder te begin, nie bo nie. Ons beplan dus ter voorbereiding op ons Koinonia Sinode om eers tussen Januarie en Maart 2023 ’n paar kleiner streeksinodes saam te roep wat dan later die jaar kan uitloop op een oorkoepelende Koinonia Sinode waar afgevaardigdes uit elke gemeente asook erkende dissipelskap groepe teenwoordig kan wees. Dit is ’n amptelike vergadering wat amptelike bindende besluite kan neem.

Identiteit en Doel

  • Die Koinonia Sinode is ‘n vergadering vir amptelike samewerking tussen Skrifgetroue NG gemeentes oor sake van gemeenskaplike belang soos Teologiese opleiding, leerstellige kwessies, belydenis, gemeenskaplike projekte, ens.
  • Die Koinonia Sinode aanvaar die kerk se taak om God te verheerlik deur as geloofsfamilie in hierdie donker wêreld draers en beskermers van die waarheid te wees en om die Evangelie aan alle nasies te verkondig.
  • Met die oog daarop aanvaar deelnemende gemeentes die voorlopige gesamentlik geloofsverklaring wat opgestel was tydens die FGG byeenkoms in AfriForum Teater Julie 2022.
  • Die geloofsverklaring is nie ‘n nuwe belydenisskrif nie, maar wel ’n basis van eenheid wat Skrifgetroue gelowiges in die konteks van ons moderne samelewing saambind. Dit kan later deur die Koinonia Sinode op ’n ordelike wyse hersien word met nodige motiverings uit die Woord.
  • Die Koinonia Sinode wil primêr ‘n dienende sinode wees waar gemeentes wat hulself verbind het, saam bid en soek na radikale kerkreformasie. Ons wil met eerbied en ontsag soek na die Here se wil vir Sy Kerk in ons moderne konteks, en biddend hande vat om mekaar te lei, ondersteun en inspireer om in die kerk en samelewing meer en meer sout van die aarde en lig vir die wêreld te word.
  • Die Koinonia Sinode is daartoe verbind om biddend en eerlik voor die Here selfondersoek te doen na die oorsake en persoonlike bydraes al dan nie wat gelei het tot die geestelike verval in die NG Kerk. Verder, om o.l.v. die Heilige Gees, alles in die stryd te werp om dit wat nodig is te doen om wankelende fondamente te herstel.
  • Die Koinonia Sinode wil as kerkverband van behoudende gemeentes nie bestaande kerkverbande se werk dupliseer nie, maar wil eerder ’n roepstem wees om gemeentes sowel as bestaande kerkverbande tot reformasie te roep en lidmate tot bekering.

Samestelling en Konstituering

  • Die kleiner vergaderings in streke dien as voorbereiding en aanloop tot die oorkoepelende Koinonia Sinode wat mik om soveel moontlik behoudende NG-gemeentes en groepe in te sluit. Die Koinonia Sinode konstitueer by elke vergadering opnuut met amptelike afgevaardigdes per geloofsbrief uit al die deelnemende gemeentes en dissipelskap groepe wat die sinode as deel van ons behoudende geloofsfamilie erken. Aanvanklik word ‘n maksimum van 6 afgevaardigdes per gemeente toegelaat, maar die Koinonia Sinode sal van tyd tot tyd self besluit hoe die samestelling sal lyk.
  • Die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk kan aanvanklik ook 6 afgevaardigdes stuur met volle stemreg. Die Koinonia Sinode kan self met gewone meerderheid stemme besluit of, en hoe lank KN deel van die sinode sal bly.
  • Skrifgetroue Dissipelskap groepe en wyksrade van NG Gemeentes: Waar sommige gemeentes se kerkrade nog nie betrokke is nie, maar daar wel ‘n georganiseerde dissipelskap groep van 15 of meer belydende lidmate in ’n gemeente is wat ons voorlopige eietydse geloofsverklaring aanvaar en by die Koinonia Sinode wil inskakel, kan so ‘n groep 3 persone afvaardig met volle stemreg.
  • Die Teologiese instansies met wie KN en die Koinonia Sinode formele ooreenkomste gesluit het kan elk een afgevaardigde stuur met adviserende stem.
  • Die eerste byeenkoms van Koinonia Sinode word gekonstitueer o.l.v. KN totdat die vergadering sy eie voorsitter en skriba aangewys het.
  • Die Koinonia Sinode vergader indien moontlik minstens een keer per jaar verkieslik in persoon, maar ander tegnologiese metodes kan volgens omstandighede ook benut word, indien nodig.

Werkwyse

  • Die Koinonia Sinode hanteer ter vergadering slegs kerklike sake en ook slegs op waardige, ordelike kerklike wyse.
  • Die Koinonia Sinode respekteer elke gemeente se selfstandigheid as volwaardige kerk maar erken ook dat ons mekaar en ander christene binne verskillende grade van kerkverband nodig het aangesien geen gemeente alleen kerk is nie.
  • Die Koinonia Sinode help deelnemende gemeentes om mekaar onderling te versorg en om gesamentlike projekte aan te pak binne die raamwerk van ons opdrag as geroepe en gestuurde Kerk van ons enigste Hoof en Here, Jesus Christus
  • Die Koinonia Sinode onderskryf as algemene riglyn vir ons werkswyse Artikel 23.1 en 23.2 van die Kerkorde wat soos volg lees:

23.1 Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie (sien Artikel 1 en 2).

23.2. Alle ampsdraers en lidmate van die kerk word daartoe opgeroep om voortdurend met die Woord van God, die belydenis en die Kerkorde as maatstaf die werk van vergaderings en ampsdraers te beoordeel.

  • Die Koinonia Sinode funksioneer binne die breë raamwerk van die NG Kerk se amptelike Kerkorde in soverre dit ooreenstem met die Woord van God en ons drie Formuliere van Eenheid. Die Koinonia Sinode asook ons samestellende gemeentes, ag ons nie gebonde aan enige kerkorde bepaling of sinodale besluit of praktyk wat met die Bybel in stryd is nie.
  • Die Koinonia Sinode ag ons self ook nie noodwendig gebonde aan enige Kerkordelike bepaling of sinodale besluit of praktyk wat ons gereformeerde identiteit bedreig nie.
  • Die Koinonia Sinode betrek sovêr moontlik alle Skrifgetroue NG gemeentes oor huidige sinodale- en selfs kerkgrense heen wanneer ons moeilike besluite moet neem met leerstellige implikasies waaroor nie genoegsame konsensus by die vergadering is nie.
  • Die Koinonia Sinode benoem jaarliks ’n Tussentydse Sinodale Kommissie (TSK) met ’n spesifieke, maar ook beperkte mandaat om tussen vergaderings toe te sien dat besluite uitgevoer word en die gemeentes van Koinonia Sinode se gesamentlike aksies en projekte bestuur word.

Verhouding tot ons bestaande kerkverband

  • Die Koinonia Sinode fokus daarop om lidmate, gemeentes, ringe, sinodes asook die Algemene Sinode van die NG Kerk voor te gaan en op te roep tot radikale reformasie in gehoorsaamheid aan die Here se Woord.
  • Hierdie sinode is onafhanklik van die huidige algemene sinodale strukture en is dus nie ‘n elfde sinode van die Algemene Sinode nie.
  • Die Koinonia Sinode vervang nie enige van die bestaande NG Sinodes nie en staan ook nie in kompetisie met die bestaande sinodes nie.
  • Om deel te word van die Koinonia Sinode, beteken dus nie om deelname aan die ander sinodes te onttrek nie.
  • By die Koinonia Sinode wil ons reeds deur amptelike kerklike vergaderings en kanale mekaar help om deur ons betrokkenheid by streeksinodes en die AS te werk en te bid vir terugkeer na die Here en Sy Woord.

Aanpasbaarheid?

Ons erken dat ons met die Koinonia Sinode nog op onbekende waters vaar en dat ons daarom oop is vir sinvolle aanpassings t.o.v. funksionering van die alternatiewe kerkverband. Ons doelwit bly egter duidelik dat ons daarmee nie bestaande kerkverbande wil vervang nie, maar eerder lidmate en gemeentes wil konsolideer om bestaande verbande te reformeer.

Ons is steeds oortuig dat die NG Kerk verteenwoordig word deur die behoudende Skrifgetroue lidmate en gemeentes en nie deur die liberale leraars en teologiese dosente wat die kerk vir hul dwaalleringe probeer kaap nie. Hulle wat bly vashou aan die gereformeerde Skrifverklaring is die inwoners en hulle wat vreemde dwalinge probeer invoer is die inbrekers. Ons is egter ook oortuig dat die Algemene Sinode in sy huidige samestelling en funksionering sal moet verdwyn te einde ruimte te skep vir radikale reformasie. Met ons visie op ons hoofdoelwitte aanvaar ons die moontlikheid van aanpassings te einde meer en meer gehoorsaam te word aan die Here se Woord.

Ekumeniese verhoudinge met ander behoudende gereformeerde kerke

  • Die Koinonia Sinode reik ook uit na ander behoudende gereformeerde kerke plaaslik en internasionaal.
  • Die Koinonia Sinode poog om die formele en informele bande van samewerking wat reeds met ander behoudende kerke gesluit is te versterk deur gereelde kontak te behou en deur mekaar te ondersteun en te raadpleeg waar moeilike teologiese besluite geneem moet word.
  • Die Koinonia Sinode stel in die vooruitsig dat die ekumeniese samewerking met ander gereformeerde kerke later moontlik kan groei tot die stigting van ‘n Ekumeniese Gereformeerde Sinode vir die behoudende christelike kerke wat saamwerk om die suiwer evangelie in SA en internasionaal te verkondig en te bewaar.

Verheldering van begrippe (op versoek)

1. Radikale kerkreformasie: Transformasie is ‘n blote verandering ter wille van verandering of ter wille van enige bepaalde filosofie. Reformasie is wanneer die kerk opgeroep word om weer terug te keer na ons enigste bron en maatstaf nl die Bybel. In radikale reformasie streef die kerk dus daarna om weer op alle vlakke terug te keer na gehoorsaamheid aan God se Woord. Dit beteken sola et tota Scriptura (alleen die Bybel en die hele Bybel). In die soteriologie beteken dit om die kerk terug te roep na die 5 Solas wat in tyd van reformasie herontdek was nl: Sola Scriptura; Sola Gratia; Sola Fide; Solus Christus en Soli Deo Gloria.

2. Bestaande kerkverbande se werk nie dupliseer nie: Die Koinonia Sinode wil nie die bestaande sinodes se agendas en werksaamhede maar net herhaal nie, maar wil eerder dit doen wat bestaande sinodes nagelaat het om te doen soos bv om waarklik draer en beskermer van die Waarheid te wees, die suiwer leer vir toekomstige geslagte te bewaar en liefde daarvoor te wek, opleiding van kerkrade, gemeente leiers, Bybelstudie leiers, selgroep leiers, kategete ens in suiwer Skrifgetroue dienswerk en in kennis en vaardigheid in die gereformeerde belydenisse.

3. Kerklike sake: Kerkvergaderings word nie gedryf deur politieke en sosialistiese of selfs seksistiese en rassistiese of “woke” agendas nie. Kerkvergaderings neem slegs besluite oor kerklike sake wat tuishoort by die ampswerk van die Kerk.

4. Verskillende grade van kerkverband: In beginsel bestaan daar slegs een heilige algemene christelike kerk, wat openbaar word in vele kerkgenootskappe wat verskil in hul graad van suiwerheid. Ons eenheid in Christus vra van ons om op een of ander wyse ons onderlinge verband met mekaar te erken en te vier. In die gereformeerde kerke word die aard van hierdie kerkverband onder andere bepaal deur die graad waarin ons ooreenstem in geloof en belydenis. Daar is egter ook ander faktore wat direk of indirek die graad van kerkverband tussen kerkgenootskappe bepaal nl taal, kultuur, ligging, afstande ens.

Opname ter voorbereiding vir die konstituering van die Koinonia Sinode

Elke kerkraad wat belangstel om in te skakel by die beplande sinode vir behoudende gemeentes (Koinonia Sinode) moet asb. so gou moontlik hierdie vorm invul sodat ons u kan kennis gee wanneer die eerste vergadering van Koinonia Sinode of van ’n streeksvergadering in u omgewing DV sal konstitueer.

Let wel:

  • Hierdie is wel ’n formele kerkverband tussen Skrifgetroue behoudende NG gemeentes
  • Hierdie kerkverband is nie bedoel om u bestaande kerkverband met u plaaslike ring, sinode of u indirekte verband met die Algemene Sinode te vervang nie.
  • Die Koinonia Sinode is uit-en-uit ’n diens sinode wat onderneem om saam te werk en te bid vir reformasie van binne die NG Kerk in al sy verbande.
  • Lees asb. eers die bekendstellingsbrief deeglik deur. Enige vrae of voorstelle is welkom. Sien ook aangeheg ons voorlopige Eietydse Geloofsverklaring as basis van eenheid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui