Kairos Netwerk en ASM dagbestuur vergader weer op 28 Junie 2022

Slegs ’n maand voor die Kairos Netwerk familiebyeenkoms (21-22 Julie 2022) het die ASM ’n vergadering versoek met die Kairos Netwerk. Hier volg ’n opsomming daarvan.

Van HIER gekopieer.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

********

Kort terugvoer oor Kairos Netwerk afgevaardigdes se gesprek met ASM Dagbestuur

Drie persone van Kairos Netwerk nl. Anton, Hoffie en Theo het vandag (28 Junie 2022) in die Sinodale Sentrum in Pretoria ’n ontmoeting gehad met drie lede van die ASM se Dagbestuur nl.: Nelis, Gustav, Dewyk. Die ontmoeting was op hulle uitnodiging. Hoewel die gesprek slegs vir een en halfuur geskeduleer was, het ons heelwat langer as twee ure gesels. Weens beperkte tyd kon al die sake op die agenda ongelukkig nie ewe veel aandag kry nie. Soms is twee punte gelyktydig bespreek. Daar was 7 sake op die agenda. Die gesprek was deurentyd gevoer in ‘n rustige atmosfeer waar die twee groepe probeer het om met wedersydse respek na mekaar te luister.

Eerste drie was op ASM Dagbestuur se versoek bespreek

  1. Locus standi van die Kairos Netwerk.
  2. Uitsprake gemaak in persverklarings van die Netwerk.
  3. Oortreding van die POPI wetgewing.

Die volgende 4 sake was op Kairos Netwerk se versoek bespreek

  1. Ontevredenheid van Dolerende gemeentes omdat ons hul stem doelbewus nie gehoor word nie
  2. Wanneer kan ‘n antwoord verwag word op die sake wat alreeds voorheen met u bespreek was en skriftelik aan die ASM gestuur is?
  3. Die NGK-leierskap faal behoudende gemeentes en word genoop om tans sekere grense oor te steek
  4. KN kry intussen baie versoeke tot samewerking en netwerkvorming deur ander kerke met ’n gereformeerde belydenisgrondslag.

Punt 1 op agenda: Verreweg die grootste deel van die tyd was ’n debat oor die vraag na KN se “locus standi”. Hulle het herhaaldelik beweer dat Kairos Netwerk kerkordelik eintlik geen locus standi het om met die Algemene Sinode of haar kommissies in gesprek te tree nie. Dit mag volgens hulle net geskied via die bestaande kerklike kanale van kerkraad, Ring, Sinode ens. tot by die Algemene Sinode. Aan die een kant sê hulle heeltyd hoe nodig ons mekaar het en hoe goed dit is dat daar gesonde debatte moet wees, maar telkens moes ons weer hoor dat hulle ons eintlik ’n groot guns bewys om wel met ons te praat en dat hulle hul mandaat oorskrei as hulle dit doen. Hulle het spesifiek verwys dat KN geen locus standi het om Art 37 aan te vra nie.

  • Ons het hul daarop gewys dat “locus standi” eintlik ’n regsterm is wat nie in die Kerkorde voorkom nie en nie in die kerk tuishoort nie.
  • KN het nog nooit probeer om self Art 37 besluit te kry nie. Ons moedig wel sinodes aan om kragtens Art 37 bande met die AS los te maak. Ons gesprek met ASM en AS gaan nie oor Art 37 nie, maar oor die AS se Skrifbeskouïng en dwaalleer. Ons vra ook vir ’n buitengewone sinode om dit te bespreek.
  • Ons het hulle verder daarop gewys dat KN nie ‘n buitekerklike organisasie is nie, maar ’n netwerk van gemeentes. As ons met die AS wil praat dan praat ons namens ’n groot aantal behoudende gemeentes.
  • Ons het ons ook beroep op Reglement 4 van die Kerkorde. die Reglement van Orde. Spesifiek na Punt 11.1 van die reglement wat juis handel oor die vraag of die Algemene Sinode direkte toegang tot gemeentes en lidmate het. Dit lui soos volg: “Indien die Algemene Sinode beleidsbesluite neem, is hy bevoeg om die kerk in geheel aan te spreek, dit wil sê mindere kerkvergaderings, ampsdraers en lidmate.” 11.2 belet wel ‘n AS om direk met gemeentes en lidmate te handel wanneer dit gaan oor hoe beleidsake in die praktyk uitgevoer moet word. Nr 11.1 gaan egter oor formulering van beleid (en belydenis). Dit is waaroor ons beswaard is. Dit is na ons mening dus bloot ‘n ontduiking van hul verantwoordelikheid as hulle maak asof hulle nie met gemeentes, lidmate en KN mag praat nie.
  • Ons het ook gewys op die totale sinneloosheid om te verwag ongeveer 90 gemeentes moet elkeen eers na eie sinode gaan en dan hulle probeer oortuig om met Algemene Sinode te praat terwyl die gemeentes self geen sittingsreg of inspraak by AS het nie. Elke sinode sal dan ook op ‘n ander uitkoms besluit… dit is ‘n manier om sinvolle kommunikasie oor leerstellige en beleidsake in die kerk te blok. soos ‘n verstopte drein…
  • Ons het verder daarop gewys dat ons soek na verantwoordelike leierskap wat nie slawe geword het van hul eie selfgeskepte strukture nie. Ons voel huidige leierskap van die Algemene Sinode skuil agter selfgemaakte strukturele blokkasies as verskoning om hul plig te versuim. Die kerk is aan die brand maar die ASM steek kop in die sand terwyl hulle kwansuis deur kerklike kanale en strukture verhinder word om die krisis effektief aan te spreek.

Punt 2 op die agenda: Hulle het beswaar gemaak teen sekere ongekontroleerde en onverantwoordelike uitsprake wat volgens hulle deur KN lede in die media gemaak word. Ons het hierop reageer deur hulle daarop te wys dat die uitsprake waarna hulle verwys nie van Kairos afkomstig is nie. Ons is wel bewus dat individue soms in eie hoedanigheid uitsprake maak en dit dan vertolk word asof dit van KN afkom. Ons het hulle verseker dat ons enige tyd bereid is om regstellings te maak en verskoning te vra indien KN amptelik sulke foutiewe uitsprake in die media sou maak. Ons het hulle versoek om ons daarop te wys sodra daar weer so iets sou gebeur.

Punt 3 op die agenda: Hulle het ook beweer dat KN die POPI wet oortree wanneer briewe na alle leraars in Jaarboek uitgestuur word. Ons antwoord was soos volg: Ons is ten volle op hoogte van die inhoud van die POPI Wet en respekteer dit as een van ons landswette wat ook ons moet gehoorsaam. Hoewel ons nie bewus is van spesifieke gevalle waar KN tans met reklame die POPI wet oortree nie, het ons onderneem om steeds beter interne kontrole toe te pas op die versameling, storing en verspreiding van inligting.

Punt 4 op die agenda: Ons het vervolgens ook onder hul aandag gebring dat verskeie van die dolerende gemeentes hoogs gefrustreerd is aangesien hulle voel dat die ASM en die AS doelbewus nie hul roepstem hoor of wil hoor nie. Hul antwoord was dat alle dolerende gemeentes wel op die tafel van hul betrokke sinodes onder bespreking is.

Punt 5 op die agenda: Ons het navraag gedoen oor wanneer ons ‘n antwoord kan verwag op die sake wat ons reeds die vorige keer onder hul aandag gebring het. Ons wou ook weet waarom dit nie volledig aan die volledige ASM deurgegee was nie. Hierop het hulle beweer dat die ASM wel volledig ingelig was oor die inhoud van die besware wat ons onder hul aandag gebring het. Ons antwoord was dat die ASM se notule dit nie so reflekteer nie en ook nie persoonlike terugvoer wat ons van lede van die ASM gekry het nie. Hierdie saak sal ons weer moet gaan kontroleer.

Punt 6 op die agenda: Punt 6 oor leierskap wat faal is saam met ander punte soos punt 1 en punt 5 hanteer.

Punt 7 op die agenda: Ons het hulle kortliks ingelig oor verskeie versoeke tot samewerking wat ons die afgelope tyd gekry het vanaf plaaslike en internasionale gereformeerde kerke. Ons het hulle ook ingelig oor ons beplande Familiebyeenkoms van behoudende gereformeerde kerke op 21-22 Julie 2022.

Ons laaste vraag aan hulle was: Hoe sien hulle ons pad vorentoe… wat verwag hulle moet ons doen met al die blokkasies wat daar is. Hulle het die vraag omgeswaai en ons gevra hoe sien ons die pad…. Dit het die geleentheid oopgemaak waar die ATR-voorsitter onderneem het om opvolg gesprekke met ons te voer oor kerkregtelike opsies en dat ons en Goudland se leierskap moontlik gesamentlik by die gesprek betrek sal word.

Ons standpunt oor die Algemene Sinode (se locus standi?). Ons het hulle meegedeel dat wat ons betref daar waarskynlik geen oplossing sal wees binne die raamwerk van die huidige Algemene Sinodale strukture nie. Die AS moet val… weg… Rede is omdat die huidige struktuur waar die AS oor gemeentes se leer en beleid besluit sonder dat hulle verteenwoordiging het, het gefaal. Dit kan nie meer werk nie. Die huidige debat oor KN asook gemeentes se sogenaamde locus standi bevestig die feit dat die AS moet verdwyn. Nog ’n rede waarom ons geen oplossing sal aanvaar binne die huidige struktuur van die AS nie, is weens die leerdwalinge wat tans binne die AS gehuisves word.

Ons het verdaag met die verwagting dat hierdie gesprek met KN so gou moontlik voortgesit moet word. Ons het hulle egter daarop gewys dat ons nie maar net langer kan stilsit en wag totdat hulle ons eendag antwoord nie. Ons gaan intussen voort met ons aksiestappe soos wat die Here ons stap vir stap lei.

Baie dankie vir almal wat saam voorbidding gedoen het vir hierdie belangrike gesprek. Ons is oortuig dat hierdie gesprek noodsaaklik was en ook die moeite werd met die oog op ons pad vorentoe. Bid asb. steeds dat dit binne afsienbare tyd ook sinvol opgevolg kan word.

………………………………….

Anton, Hoffie, Theo

28 Junie 2022

Kommentaar

Daniel Louw

Daar word gesê: “Ons het hulle meegedeel dat wat ons betref daar waarskynlik geen oplossing sal wees binne die raamwerk van die huidige Algemene Sinodale strukture nie. Die AS moet val… weg… Rede is omdat die huidige struktuur waar die AS oor gemeentes se leer en beleid besluit sonder dat hulle verteenwoordiging het, het gefaal.”

Dit is glad nie ’n sinvolle oplossing nie. Kyk Dit help nie om algemene sinode te ontbind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui