Wettige eienaars van die NG Kerk?

Onder Kairos Netwerk geledere word dikwels die argument gebruik:

“Die NG Kerk is gekaap/gesteel deur die liberales/verligtes. Ons (die behoudendes) is die wettige eienaars. Dit is nie ons wat moet loop nie, maar die kapers/inbrekers.” (kyk hier, hier, hier, hier en hier.)

Behoudendes kan egter nie meer beweer dat die NG Kerk van hulle gesteel is nie. ’n Mens kan nie meer redeneer dat die liberales met slinkse planne die NG Kerk onder hulle neuse gesteel het terwyl die oorgrote meerderheid in die NG Kerk nog in die donker was nie.

Onthou uit wie bestaan die Algemene Sinode: Dit bestaan uit afgevaardigdes van regoor die land uit al die streeksinodes. By elke AS is die meeste van die afgevaardigdes nuwe afgevaardigdes. Kyk ook Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk.

Behoudendes is bloot net uitgestem – willens en wetens.

Die afgelope paar streeksinodes het hierdie net weer kom bevestig:

  1. Wes-Kaapland (Mei 2019)
  2. Natal
  3. Oos-Kaap
  4. Vrystaat (8-10 Maart 2022)
  5. Noord-Kaapland (9-13 Mei 2022)
  6. Oostelike Sinode (1-2 Aug 2022)
  7. Noordelike Sinode (16-20 Okt 2022)
  8. Hoëveld Sinode (18-20 Okt 2022)

Goudland Sinode het wel ’n behoudende standpunt ingeneem, maar hulle is tevrede om steeds binne die NG Kerk te bly.

Dit is net die Namibiese sinode wat ernstig lyk, maar slegs tyd sal leer of hulle bereid sal wees om die groot stap te neem en Artikel 37 goed te keur.

Maar kom ons aanvaar hipoteties dat die liberales wel die NG Kerk van behoudendes gesteel het:

Dan kan ’n mens verseker redeneer dat die behoudendes die wettige eienaars van die NG Kerk is. Dit is die liberales wat afgewyk het van die kerk se belydenis, nie behoudendes nie.

As iemand iets van jou probeer steel is dit net reg dat jy jouself verdedig en dit selfs probeer terugkry indien hy dit wel reggekry het om dit van jou te steel. Die vraag is: hoe lank moet jy probeer om die gesteelde item terug te kry?

Die blanke boere wat in Zimbabwe van hulle grond afgejaag is, is streng gesproke steeds die wettige eienaars, maar dit is totaal irrelevant. Hulle gaan nooit weer hulle grond sien nie. As daar nie ’n hoër gesag is wat die saak kan regstel nie, dan het jy dit verloor.

Veronderstel ’n mens kon persoonlik vir Jesus oor die NG Kerk uitvra, wat sou Hy gesê het? Sou Hy gesê het: “Julle moet aanhou veg! Hou moed! Julle moet die NG Kerk terug wen. Dit is julle s’n.”

Of sou hy dalk gesê het: “Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.” (Matteus 5:39-42)

Die NG Kerk is niks anders as ’n mensgemaakte struktuur nie. Dit is ’n mensgemaakte denominasie. So min soos ‘n gebou “kerk” is, so min is ‘n denominasie “kerk”.

Ek dink dit is tyd om weg te stap.

Daniel Louw

21 Oktober 2022

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui