Kairos Netwerk nuusbrief – 14 November 2022 (Koinonia Sinode)

Koinonia Sinode – Jy word genooi! (Anton Knoetze)

Opwindende Nuus: ‘n eie sinode vir Skrifgetroue NG gemeentes

Geagte broers en susters,

Goeie nuus: Soos u weet het talle leraars en lidmate reeds besluit om die NG Kerk te verlaat uit protes of moedeloosheid weens vals teologiese strominge en gepaardgaande minagting van die gesag van die Here se Woord wat via ons Teologiese Fakulteite, nou ook die NG Kerk ingesypel het. Die Algemene Sinode se besluite om amptelik ruimte te maak vir verskeie van hierdie valse leringe het behoudende lidmate by ‘n beslissende punt gebring. U is ook bewus dat Kairos Netwerk deurgaans lidmate en gemeentes aangemoedig het om nie die NG Kerk te verlaat nie, maar dat ons eerder moet saamwerk en bid om mekaar en die ganse NG Kerk terug te roep na die Bybel en dit so van binne te reformeer. Kairos Netwerk se standpunt was deurentyd dat dit die inbrekers is wat moet loop, nie die inwoners nie. Behoudende lidmate en gemeentes is aangemoedig om liewer te doleer as om te skeur. Ons is dankbaar vir elke behoudende gemeente en lidmaat wat gekies het om so lank moontlik eerder die pad van reformasie te loop. Dit is wel ’n langer en moeiliker pad, maar dit is die regte kerklike pad. ’n Belangrike stap in die proses van reformasie, is om die gemeentes en lidmate wat nog Skrifgetrou wil bly, te konsolideer in amptelike kerkvergaderings waar ons mekaar kan ondersteun en inspireer op die pad van reformasie.

So het die visie ontwikkel van ’n eie addisionele sinode met formele afvaardiging van Skrifgetroue NG gemeentes (wat moontlik aanvanklik erkende kleingroepe en wyksrade kan insluit). Die bedoeling is nie om bestaande kerkverband te vervang nie en beslis nie om weg te skeur van die NG Kerk af nie. Die doel is juis om mekaar te inspireer tot Skrifgetroue reformasie van binne. Met die oog daarop noem ons die beplande addisionele sinode vir behoudendes voorlopig “Die Koinonia Sinode” omdat ons daarin saam wil soek na die ware gemeenskap van gelowiges.

Hiermee wil ons jou nooi om ‘n duidelike aanduiding te gee of julle (as gemeente of as kleingroep van behoudende lidmate) belangstel om in te skakel by so ’n formele kerkvergadering (sinode).

Aangeheg vind julle ’n skrywe oor die beplande Koinonia Sinode. Die beplande tydsraamwerk is soos volg: Eerstens word minstens vier kleiner streeksvergaderings gekonstitueer voor einde Februarie 2023. Hulle begin reeds mekaar ondersteun en saam beplan ter voorbereiding vir die Koinonia Sinode wat sal poog om alle gemeentes wat wil saamwerk in te sluit. Hierdie groter oorkoepelende sinode moet verkieslik voor Oktober 2023 vergader. Die skakelpersone wat vir streke aangewys was tydens die byeenkoms van Familie van gereformeerde gemeentes (FGG) sal betrek word om te help met die reëlings vir die streeksbyeenkomste. Hulle sal u laat weet van die plek en tyd van die streeksbyeenkoms. U is welkom om by enige van die streeksbyeenkomste in te skakel waar die plek en tyd vir u die beste sal pas.

Versprei asb. hierdie uitnodigings onder alle behoudende Skrifgetroue lidmate. Kairos Netwerk beplan om van ons Sentrale Werkgroep se lede na die verskillende streke te stuur waar hulp, advies en meer inligting nodig is. Voorlopig verdeel ons die kleiner vergaderings in vier streke naamlik Pretoria, George, Secunda en Namibië. Op versoek kan meer streeksvergaderings gereël word. Jou skakelpersoon sal vir jou op ’n latere tyd die datum bekend maak en wanneer iemand van die Kairos Netwerk span julle kan besoek. Bestudeer asb die aangehegte inligtingstukke deeglik en gee so gou as moontlik terugvoering op die aangehegte vorm. Hierdie is ’n baie belangrike moment in die geskiedenis van die kerk. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat die Here jou geroep het om ook lidmaat van die NG Kerk te wees.

Bid saam met ons.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui