Nadia Marais skryf: Die taal van vasgelooptheid

DEKONSTRUKSIE (deur Ferdie Mulder, 14 November 2022)

*******

Nadia Marais skryf: Die taal van vasgelooptheid | Kerkbode

Nadia Marais

14 November 2022

’n Goeie vriend merk nou die dag op dat hy siek en sat is vir die kerklike taal van vasgelooptheid. “Die kerk is dalk vasgeloop, maar ek is nie vasgeloop nie.” In ons gesprek verwys hy spesifiek na die debat oor selfdegeslagverhoudings, en hoe hy dit beleef as ’n gay lidmaat en predikant van die NG Kerk. “Vasgeloop” het ’n gesig, ’n storie, waardigheid, ’n roeping; dit is persoonlik, diep menslik, worstelend – soos ons almal – en daarom ook inspirerend, mooi en goed; dit hoor ek alles by hom.

Tog sit daar iets kil en koud en klinies, dalk selfs wreed en berekend, daaragter om ’n mens te reduseer tot een enkele woord: “vasgeloop”. Net so min as wat ek die gesig van hierdie vaal, verbeeldinglose woord wil wees, net so min wil hy dit wees.

Hierdie gesprek het my laat wonder oor die taal van vasgelooptheid. ’n Sinoniem vir “vasgeloop” is “vasgevang”. Aangesien die onderwerp ontbreek, en hierdie in die passief gestel is, is dit moeilik om te onderskei wat presies die bron van ons vasgelooptheid is. Dit laat noodwendig die vraag ontstaan: Waarin is die NG Kerk vasgeloop? Waarin is ons vasgevang?

Ons kan tog sekerlik nie weer die ou geykte – en uiteindelik niksseggende – antwoorde “liberalisme” of “sekularisme” hierop bied nie. Ek wonder of daar nog iemand is vir wie hierdie leë en vervelige retoriek nog iets beteken.

(Dit herinner, terloops, aan Donald Trump se verwysings na “crooked Hilary”, of Bell Pottinger se sensasionele “white monopoloy capital”-veldtog in Suid-Afrika. “Liberalisme in die NG Kerk” lê ongelukkig op dieselfde taalspektrum; en dit heel buiten die wesenlike probleem om Amerikaanse politieke kategorieë – soos “liberaal” en “konserwatief” – van toepassing te maak op énige kerk, maar veral ’n kerk in Suid-Afrika. So asof die NG Kerk ’n klein Amerika is.)

As ons dus wel dieper probeer dink, en dieper probeer kyk, sou ons moes vra: Wat staan in die pad daarvan dat ons ons loop kan neem? Is dit LGBTQI+ lidmate en predikante van die NG Kerk? Is dit meningsverskille? Is dit ’n diversiteit van standpunte? Is dit ’n gebrek aan eenheid?

Daar is heelwat teoloë, en heelwat teologiese projekte, wat genuanseerd en deeglik werk deur die dilemma van kerklike vasgelooptheid, veral insoverre dit te make het met ons verstaan van familie, huishoudings en huwelike.

Hier sou ons byvoorbeeld kon dink aan die Britse Anglikaanse teoloog Adrian Thatcher se Marriage after modernity (1999), die Amerikaanse gereformeerde teoloog William Stacey Johnson se A time to embrace (2012), en die opstelle met die (verkorte) titel The impact of the family (2022), geredigeer deur John Witte en Michael Welker.

In haar boek Water is thicker than blood (2008) argumenteer die Amerikaanse Katolieke teoloog Jana Bennett dat “teologieë van die huwelik” dikwels nie genoegsaam afreken met ekklesiologie nie. Anders gestel, daar is ’n merkbare gebrek aan nadenke oor wat dit beteken om kerk te wees in heelwat van ons debatte, wat kerklike debatte oor die huwelik insluit.

Wat Bennett mis is deegliker verrekening van wat dit beteken om deel van Gods huishouding te wees. Soos wat Bennett tereg opmerk, bestaan huishoudings lankal nie meer uit ’n man en vrou en twee kinders nie. Hedendaagse huishoudings sluit ouers en kinders in wat die volle spektrum van wat dit beteken om ’n huishouding te wees vandag uitleef, insluitend as geskeides, enkellopendes en diegene wat weer getroud is.

Ons teologiese nadenke oor hoe huishoudings lyk, behoort veranker te word in hoe ons dink oor die kerk, as die Huishouding van God – nie andersom nie, meen Bennett. As Christene, argumenteer sy, is ons eerste identiteit dat ons lede van die Liggaam van Christus is, en daarom verenig deur ons doop in die lewe, dood en opstanding van Christus. Water is dus dikker as bloed, aldus Bennett.

Vreemd, dan, die taal van vasgelooptheid – want kan die kerk van Christus werklik vasgeloop wees indien die doop bepalend is tot wie en wat die NG Kerk is? Behoort ons nie eerder die taal van verbondenheid as die taal van vasgelooptheid te praat nie? Verbondenheid herinner immers aan ons diepste identiteit as diegene wat, deur ons doop, ingebind is in Godsverbond.

Die doop maak van die kerk ’n bondsgemeenskap – waarin water dikker is as bloed. Die doop bind ons aan God en aan mekaar, en hierdie verbondenheid troef enige vasgelooptheid wat ons sou kon voorsien. So troef die doop van die Etiopiese eunug in Handelinge 8, byvoorbeeld, elke moontlike beswaar of verhindering tot sy volle insluiting by die vroeë kerk.

“Vasgeloop” is nie die diepste identiteit van die NG Kerk nie, maar as ons ons móét vasloop, mag ons ons vasloop in die evangelie, wat ruimte het vir die insluiting van mense soos die Etiopiese eunug. Mag ons ons vasloop in liefde, en in genade, en in ons tuiskoms in Christus.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is predikant by die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.

1 thought on “Nadia Marais skryf: Die taal van vasgelooptheid”

  1. Dr Nadia Marais skep hier haar eie aanvegbare teologie om te staaf waarin die NG Kerk “vasgeloop” is, sonder om die aanloop daarheen die nodige erkenning te gee:

    Die 1986 Algemene Sinode van die NG Kerk het besluit dat “homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit. Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar”. In 1 Tessalonisense 4 vers 8 waarsku Paulus: “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ’n mens nie, hy verwerp God…” terwyl hulle wat “dit goed vind as ander dit doen,” (Romeine 1:32) ewe skuldig voor God staan. Vir streng gereformeerde lidmate kan geen jota of tittel hiervan ooit verander nie. (Volgens Marais “sit daar iets kil en koud en klinies, dalk selfs wreed en berekend” agter diegene wat hierdie oortuiging huldig.)

    Toe kom professor Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk, se 2015-uitspraak: “Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die Kerk voltrek word” en verder bygevoeg: “My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) binne die Kerk genormaliseer sal word”, waaraan die 2015 -sinode amptelik uitvoering gegee het asook die 2019-sinode met onder andere die besluit: “Die Algemene Sinode dra dit aan die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.” Hiermee was die “vasgelooptheid” finaal gegiet.

    Anders as hierbo, meen Marais laasgenoemde is ’n soort vrome “Vasgeloop” met “’n gesig, ’n storie, waardigheid, ’n roeping; dit is persoonlik, diep menslik, worstelend… en daarom ook inspirerend, mooi en goed.” Sy maak ophef van die doop, dog enige formulier is ’n plegtige en samebindende eedsverklaring wat slegs binne die Kerk, voor God en voor ’n gemeente geskied. Dit gebeur met die “Kerk se seën” wat tog met “God se seën” beteken en ’n huweliksformulier, soos enige ander, word tog getrou uit Sy Woord geneem.
    Na drie jaar onverpoosde arbeid, het die taakspan die formulier-opdrag skielik summier oor die totaal onuitvoerbaarheid daarvan gestaak. Hulle kon net nie daarin slaag om namens God met die wêreld kompromieë aan te gaan nie.

    Niemand kan ontken dat die internasionale LGBTQI+ beweging, wat teologies duidelik nie God se seën geniet nie, toegelaat is om die NG Kerk geleidelik binne te sluip. Die kerklike slagorde van “vasgelooptheid” is inderdaad sodoende opgestel, met enersyds behoudende streng gereformeerdes binne en buite die Kairos Netwerk, oor die hele land heen verenig en andersyds in die opponerende linie, die minderheid “verslae” en “verbysterde” gays (dr Fritz Gaum se woorde nadat die “formulier” vanaf die tafel gevee is), dog gerugsteun deur hulle liberaal-teologiese grofgeskud.
    Terwyl almal saamstem dat God sy Kerk self instand hou, is dit dwaas om aan Hom voor te skryf hoe inklusief Hy dit moet doen…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui