God: Is daar ’n ander antwoord? (Ben du Toit)

Boek inligting

Titel: God: Is daar ’n ander antwoord?
Volledige titel: God: Is daar ’n ander antwoord? – ’n Bevrydende reis
Outeur: Ben du Toit
Datum gepubliseer: 30 Oktober 2020

Oor die skrywer

Voorblad van Ben du Toit se boek 'God: Is daar ’n ander antwoord?' (2020) Foto van ’n plaashek wat halfpad oopstaan.Ben du Toit was vir lank die hoof van kommunikasie van die NG Kerk. Hy was egter nog altyd liberaal. Hier volg ’n opsomming van gebeure:

Vir meer oor die skrywer, kyk Wie is Ben du Toit?.

Oor die boek

In hierdie boek sê hy onder andere die volgende dinge:

  • Hy is nou in postteïs. In kort glo hy in geen metafisiese meer nie, dus is dit maar dieselfde wat ateïste glo.
  • Hy rus geweldig sterk op die argument van die trilemma oor die boosheid. Die woord “trilemma” kom nie minder nie as vyf keer voor net in die gedeeltes hieronder.
  • Hy beweer dat Homo sapiens ouer as God is. Daarmee glo hy dat die mens die idee van God geskep het – soos die mense deur eeue evolueer het, het die mens self die gedagte van God uitgedink.

Resensies

Hier volg ’n paar resensies of ander artikels wat hierdie boek bespreek:

Uittreksels

Hier volg ’n paar uittreksels uit die boek:

Bladsy 2

Dit is seker so maar kan ons nie liewer kyk na ons situasie waarin ons nou, vandag leef en dit dan toets aan die enigste ware norm, naamlik die Woord van God, nie? So is dit vit my byvoorbeeld duidelik dat die Bybel op vele plekke praat van die eenheid van die Kerk, die liggaam van Christus (Ef 4:1-6, 11-16; Joh 17; 1 Kor 12:12-14, 25-27; 2 Kor 13:11; Fil 2:1-2; Fil 4:2; Kol 3:14-17, ens.) in die imperatiewe sin. Dat die Bybel aan die ander kant die verskeidenheid van volke noem (Grieke, Romeine, Jode) en van verskillende sosiale groeperinge praat (slaaf, vryman, heer) is natuurlik waar! Dit is tog ’n werklikheid, ons leef elke dag daarmee saam en ondervind dit gedurig. Maar nêrens in die Bybel word dit as imperatief (bevel) gestel, as iets waarvoor die gemeentes hulle moet beywer om die verskeidenheid te bewaar nie. Dit is so, niemand ontken dit nie – die verskeidenheid is daar.

Maar die bevel is wel dat ons eensgesind moet wees (saamstem) en dat die eenheid van die liggaam van Christus tot openbaring moet kom. Die Bybel (natuurlik met gepaardgaande wetenskaplik verantwoordbare eksegese) moet ons norm bly! Alhoewel ’n mens die situasie waarin ons leef altyd in gedagte moet hou, mag die situasie nooit ons norm word of die oorsaak wees dat ons nie die volle Skrif verkondig nie!

Daarom is my opregte versoek: Ek wil pleit dat ons om Christus wil ’n oomblik sal vergeet van die verlede, van die Eerste en Tweede Vryheid oorloë, die Wéreldoorloë en Ossewabrandwag, die ou sinodebestuite, Cottesloe en die Christelike Instituut, vergeet in die sin dat ons sal ophou om mense se name met gebeurtenisse en verenigings in die verlede te koppel, om hulle sodoende as persone leed aan te doen en onder verdenking te plaas. Kom ons vergeet van al dié dinge. Kom ons kyk na die situasie waarin ons vandag lewe, na die behoeftes van ons tyd met betrekking tot die kerk. En laat ons dan teruggaan na die Bybel en daar ons antwoorde soek, die wil van God vir ons toekoms – laat ons God glo en Hom vertrou!

Dit het lankal tyd geword dat ons as Christene, wit, swart, bruin, geel, ensovoorts, sal begin saamstaan en vanuit die Skrif besin, nie eerstens oor die toekoms van Suid-Afrika nie, maar oor die toekoms van die Koninkryf van God. (Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word Matt 6:33; Luk 12:31.) Ons is tog immers eerstens burgers van die Koninkryk van god, ’n koninkryk wat oor alles heen strek, oor alle grense, kleurgrens, landsgrense, oor die hele skepping van God!

Die Kerk (en sy eenheid) kom eerste. Laat ons ophou bang wees en die wil van God soek en dit doen – nie selfversekerd en asof ons die oplossings vir alles het nie, maar dienend en nederig en met bewende harte omdat dit die saak van God is waarmee ons besig is!

[Kommentaar: Ben begin sy boek met stellings waarmee die deursnit Christen kan saamstem, maar wag, daar is meer… later in die boek erken hy in effek dat ’n niks anders as ’n ateïs is nie. Hy gebruik egter ’n meer gesofistikeerde woord, post-teïs. Sy verstaan daarvan is egter niks anders as ateïsme nie.]

Bladsy 31

18 Oktober 2006 verskyn. Onder die opskrif “NG Kerk verras oor gays“, het die subtitel gelui: “Verhoudings moet ‘dieselfde status, regte geniet.'” Ek word soos volg aangehaal:

Ons is van mening daar moet een wet vir almal wees. Dit is die enigste manier om waarlik die gelykheid van mense te erken. Aangesien daar te min tyd is om aan die eise van die (Konstitusionele) Hof te voldoen, stel ons voor dat die hof se voorstel aanvaar word deur die (bestaande) Huwelikswet sodanig te wysig dat verhoudings tussen mense van dieselfde geslag dieselfde status en regte kan geniet.

Voorts het ons gesê dat dit slegs as ’n tussentydse reeling beskou behoort te word.

Ons verkies dus ’n (nuwe) omvattende wet wat al die moontlike huweliks -en verbintenis-kategorieë insluit en gelyke status gee. Dit sal nie net aan Christen-huwelike erkenning gee nie, maar ook aan soortgelyke verbintenisse in ander godsdienste en kulture soos die van Jode, Moslems, Hindoes, gays en tradisionele Afrika-verbintenisse.

Uiteraard het hierdie voorlegging en die beriggewing daaroor groot openbare reaksie uitgelok. En vanselfsprekend het dit in die kerk heelwat spanning meegebring – ook tussen my en Kobus Gerber aan die een kant en die kerkleierskap (spesifiek die moderatuur van die Algemene Sinode) aan die ander kant. Dit het gou geblyk dat nie alle lede van die moderatuur die voorlegging (wat vooraf vir goedkeuring aan hulle gestuur is met ’n dringende keerdatum) gelees het nie. Omdat Gerber egter die regte prosedure vir goedkeuring gevolg het ( en sommige moderatuurslede in gebreke gebly het om te reageer), moes die moderatuur na buite sy ondersteuning bevestig – hoewel sommige individue dit duidelik gekwalifiseer het. Dit het uiteraard die verhouding tussen my en Gerber verstewig.

Ek onthou byvoorbeeld dat daar, veral op Gerber se aandrang, by geleentheid van ’n moderamen-vergadering van die Algemene Sinode in Kemptonpark, ’n mosie van vertroue en ondersteuning vir my aanvaar is. Dit nadat ek vir leerdwaling aangekla is en die saak in die openbare (veral sosiale) media bespreek is. Ná die aanvaarding van die mosie het die voorsitter, prof. Piet Strauss, die lede van die vergadering en die media teenwoordig versoek om nie hierdie besluit aan die groot klok te hang deur daaroor te berig nie.

Dit bring my by ’n ander saak: Dit is ironies dat ek juis in my verweer hierdie aanklagte (en ook in ander sake waarin ek voortdurend die prinsipiële posisie teenoor die geneigdheid om eerder die strategiese weg te volg, verdedig het) die gereformeerde verstaan van die Christelike geloof…

Bladsy 46-47

Hy is die direkteur van kommunikasie van die NG Kerk en sy boek, uitgegee deur CLE, dra die titel God? Geloof in ‘n postmoderne tyd.

Hierdie titel het my herinner aan Heyns se boek, want albei boeke se titels vraagteken. Heyns het die nuwere tendense in die Europese teologieë behandel en op die gevare gewys. As die teologie in die greep van die tydsgees beland, so het hy geoordeel, is die Christelike godsdiens se vuur binnekort geblus.

Du Toit, daarenteen, kom beklemtoon dat as die teologie nie erns maak die tydgees nie, geloof in God binnekort ’n rariteit gaan wees.

En so het die openbare debat voortgegaan. Ek is op grond van die verskyning van my boek twee maal aangekla vir die verbreking van my legitimasie-eed. Daarna was daar ook ’n derde aanklag na aanleiding van ’n opmerking van my tydens die Kaapse Sinode van 2013 dat ek nie in n (persoonlike) duiwel glo nie. Deurgaans het ek juis die artikels van die gereformeerde geloofsleer beklemtoon, maar dan verantwoordelik herinterpreteer binne die tyd en kennis van ons tyd.[3]

[3] Ek is in die eerste twee sake deur proff. Flip Theron en Bernard Combrink as deskundiges bygestaan. Die tweede maal is dit deur die sinodale appélkommissie gehanteer, en daar het prof. Dirkie Smit ’n sleutelrol gespeel om die klag teen te staan. Met die derde saak is ek bygestaan deur dr. Kobus Odendaal. Ek boekstaaf hier graag my innige dank en waardering teenoor hulle vir hulle kundige ondersteuning. As enigiemand meen dat die verskyning van hierdie publikasie nou die aanklagte destyds teen my in der waarheid in die gelyk stel, sou dit eenvoudig getuig van ’n jammerlike wanbegrip van die gereformeerde konteks waarbinne die argumente toe gevoer was.

Ek is wel daarom uiteindelik deur die betrokke ringe en sinodale kommissie vrygespreek. Dit was egter nie vir my ’n aangename ervaring nie. My ervaring (wat klop met dié van ander wat soos ek vir leerdwaling aangekla is) is dat ‘n mens in die kerk alreeds met die rugbaar word van sodanige klag as skuldig gehanteer word totdat jy onskuldig bevind word – indien wel.

Nou is dit ook so dat ek meestal met alles wat ek geskryf en gesé het, geweet het dat sommige mense daarvan sal hou, maar dat die meerderheid waarskynlik erg daardeur ontstel sou word. En so was dit ook met hierdie publikasie; juis omdat ’n mens iets aanbied wat buite die gangbare verstaansraamwerk van die gemeenskap val; juis omdat dit wat ’n mens vanuit nuwe kennis en inligting aanbied, vrae vra oor die geloofwaardigheid van bestaande oortuigings en standpunte. In hierdie publikasie het ek dan ook (vir die eerste maak in ‘n populére Christelike publikasie) die paradigma-teorie van Thomas Kuhn aangebied as verduideliking vir wat…

…persoonlike saak waarmee ek nooit ligtelik omgegaan het nie. Die konsep “roeping” was van my kinderdae af diep in my psige ingegraveer. Dhet het gekom uit die konteks waarin ek gebore is. My pa, Louis du Toit, was ’n sendeling in die ware (en outydse) sin van die woord. Met die deurlees van sy memoires na sy dood het ek eers werklik tot die besef gekom wat dit vir hom beteken het om geroep te wees om as gestuurde van God na die heidennasies te gaan. Dit het ten minste beteken as God jou daarvoor geroep het, dan mag niks tussen jou en jou roeping kom nie.

Bladsy 50-51

2.2 DIE NG KERK EN DIE PUBLIEKE GESPREK

Ek beskou die voorlegging oor burgerlike verbintenisse voor die Nasionale Parlement, gedateer 3 Oktober 2006, met die titel: Presentation to the Portfolio Committee of the Department of Home Affairs regarding the amendment to the Marriage Act (25 of 1961): Response regarding the Civil Unions Bill, as die hoogtepunt van my betrokkenheid by die NG Kerk-familie – en dan by name as beampte van die Parlementére Lessenaar van die Algene Sinode. Dat ons hierdie voorlegging kon maak, soos ons aanvaar het met amptelike goedkeuring deur die moderatuur van die Algemene Sinode, was ‘n wonderlike voorreg. Ek onthou hoedat ons kollegas van ander kerke, spesifiek die Rooms-Katolieke Kerk, ons beny het dat ons so iets kon doen. Die navorsers en amptenare van die Southern African Catholic Bishops’ Conference Parliamentary Liaison Office (met wie ons ’n besonder goeie werksverhouding gehad het) se deeglike inset oor die saak is op die laaste oomblik eenvoudig vervang deur die voorlegging deur die hoof van hierdie kerk in Suid-Afrika, kardinaal Wilfrid Napier, wat heeltemal ’n ander trant gehad het.

In die hoofstuk “Aanloop” (het ek geskryf hoedat ek en dr. Kobus Gerber, Algemene Sekretaris van die NG Kerk, ’n voorlegging vir die parlementêre portefeuljekomitee oor die ontwerp van konsepwetgewing vir die vervanging van die 1961-huwelikswet gedoen het.[4]

Ten tyde van my skrywe hier is dit nou meer as veertien jaar gelede dat hierdie voorlegging aan die Parlement gedoen is. Vir my was dit ’n tyd van groot optimisme oor die gang van sake in die kerk. ’n Mens sou kon glo (en so het ek ook op meer as een plek en by meer as een geleentheid geskryf en opgemerk) dat God met die NG Kerk op ’n nuwe pad van integriteit begin stap het: dat die menswaardigheid van alle mense vir die NG Kerk amptelik bo alle twyfel gestel is.

Veertien jaar later is daar egter steeds nie veel verder hiermee gevorder nie. Ek hoor dikwels die argument dat diegene in die kerk wat oor hierdie sake sterk voel maar net moet moed hou, want die wiel het stadigaan begin draai. Die omstandighede waarin ons nou lewe, is gunstiger vir die erkenning van die LGBTI-gemeenskap as ’n gewone deel van die samelewing, wat beteken dat ons gaandeweg nie meer mense sal definieer in terme van hulle seksuele oriëntasie nie, maar doodeenvoudig vir wie en wat hulle is.

Hoe is dit dan dat God se beweging afhanklik is van die tydsgees wat verander? Ek wonder of mense wat so redeneer werklik weet hoe belaglik hulle aansprake op die krag van God is wat in mense werk, wanneer hulle (verskonend) sulke opmerkings maak. Onlangs nog het ’n predikant by die bevestiging van ’n gay dominee in hulle gemeente getuig hoedat hy uiteindelik deur God daarvan oortuig is om anders oor gays te dink as voorheen. Nou hoekom oortuig God dan nie meer mense nie? Is God nie dalk die beskuldigde nommer een hier nie?

Bladsy 55-57

Tamar, bly stil!

Tamar het stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu. Haar broer Absalom het toe vir haar gesé: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie”

Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was ’n wrak.

2 Samuel 13:19-20

Wat hier staan, wat ek nou hier skryf, was nie ’n artikel of iets dergeliks, ‘n geskrif wat al voorheen gepubliseer is nie. Dis eerder ’n preek. Nou se preek. Wat ek nou maak. My laaste preek uit die Bybel.

Hierdie gedeelte in die Bybel is seker een van die ontstellendste gedeeltes in die Goeie Boek. Die hele gedeelte vanaf hoofstuk 11 tot 13 van 2 Samuel. Dit is nogal ’n gedeelte van die Bybel waarna daar dikwels deesdae verwys word in sekere kontekste van die Ou Testamentiese navorsing asook in die gesprek oor die feminisme, die patriargie, oor geweld teen vroue (en kinders). Dit gaan oor die skande in Koning Dawid se huishouding.

Ons het hierin met twee verhale te make waarin dit oor dade van seksuele aard gaan. Die eerste deel (hoofstuk 11) gaan oor die koning se vergryp aan ’n ander man se vrou, Batseba. Hoe gewillig sy daartoe was, sal ons nooit weet nie, maar nadat Dawid fyn beplan het om van haar man, Uria, ontslae te raak – om hom op die gevaarlikste plek in die oorlog te laat aantree en sodoende sy dood te veroorsaak – het hy Batseba vir homself toegeëien. Maar nie sonder nog ’n tragedie nie: die dood van die eersteling van Dawid en Batseba.

Die meeste van ons wat in die kerk grootgeword het, ken die storie van die profeet Natan, wat na Koning Dawid gekom het om hom op ‘n baie slim manier tereg te wys deur vir hom die verhaal van ’n ryk man en ‘n arm man te vertel: die gewetenlose ryk man met die baie skape wat die arm man se enigste skaap steel met die oog op ’n feesmaal vir sy vriende. En dan Natan se woorde aan Dawid: “U is die man.”

Die tweede verhaal (in hoofstuk 13) is dié van Tamar, Dawid se dogter, wat deur Amnon, een van haar broers, verkrag word. Dit nadat Amnon van begeerte na sy suster by sy neef Jonadab gebieg het en dié hom die slinkse raad gegee het om siek te speel en dan sy suster na sy kamer te lok om vir hom kos te gee.

Dit gebeur toe presies so. Amnon verkrag sy suster, maar daarna verag hy haar met ’n diepe afsku en jaag haar uit sy kamer. Na die vernedering van haar verkragting en haar broer se daaropvolgende veragtelike optrede skreeu sy haar protes uit in die strate met geskeurde klere en as op haar kop.

Haar ander broer, Absalom (met klaarblyklik reeds ’n sterk vermoede van wat gebeur het), vra haar uit, waarop sy bevestig dat Amnon haar verkrag het.

En Absalom se reaksie? “Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”

En so vind sy “skuiling” in haar broer Absalom se huis.

En die laaste wat ons van Tamar hoor?

Tamar was ’n wrak.

Maar nou: Wie of wat is hier die eintlike olifant in die vertrek? As dit oor die Bybel gaan, is die karakters daarin (mos) eintlik sekondér, nie waar nie? In hierdie samestelling van talle en talle oorvertellings, samevoeging van dokumente (wat uiteindelik as die Bybel, as die Woord van God aanvaar en as sodanig bely word), is God tog die hoofrolspeler; die een aan wie alles in die hemel en op aarde behoort, die Alwetende, die Skepper, die God van liefde.

Die mans in hierdie verhale tree soos varke op, volslae gewillig daartoe met slinkse testosteroon-gevulde vanselfsprekendheid; uitverkoop aan die patriargie en chauvinisme, terwyl die menswaardigheid van die vroue eenvoudig geminag word.

Maar, indien ons die geloof in God as skepper en onderhouer konsekwent wil handhaaf, is hulle (die mans) nie die eintlike probleem nie. Daar’s ’n olifant in die vertrek waaroor niemand mag, of wil, praat nie. Die werklike spreekwoordelike olifant in die vertrek is … God self – die Almagtige, die Alwetende, in wie se hande volgens die oortuiging van gelowiges hulle lewens gehou word. Maar, oor Hom mag in hierdie verband nie gepraat word nie. Oor God moet stilgebly word want, onthou, Hy’s jou hoeder, die een wat jou oppas, onder wie se vlerke jy veilig moet kan skuil, na wie toe jy kom as jy vermoeid en belas is.

Los dus jou protes, asseblief. Kom af van die strate en kom bly rustig en veilig in jou ander broer se huis. Ons praat nie hieroor nie. Dis soos dit is. Geen vrae nie. Geen protes.

Oor Hom in verhouding tot die onreg wat ongehinderd voortgaan mag ons nie praat nie. Moenie sy naam noem terwyl talle oorloë in sy naam woed nie; of as dieselfde Dawid vroeér honderd voorhuide van verslane Filistyne aan Saul as huweliksprys bring ter wille van Mikal (Koning Saul se dogter) nie; nie as honderde babatjies doodgaan wanneer Jesus in Bethlehem gebore word nie – en die weeklaag opklink uit Rama, want die moeders wil nie getroos word nie; nie as duisende mense deur die eeue in kruistogte omkom en godsdiens teen godsdiens opstaan vir millennia nie; nie toe die volkere van Afrika mekaar in die verlede wreedaardig uitgemoor het ter wille van grond nie; nie as Xhosas en Zulu’s, Boer en Brit sterf ter wille van beheer oor grond, goud en diamante nie; nie as tienduisende vroue, kinders en plaaswerkers in konsentrasiekampe en op plase sterf in die Anglo-Boereoorlog nie; nie as die 1913-Grondwet duisende Afrikane van hulle land vervreem nie; nie as meer as 6 miljoen Jode tussen 1941 en 1945 uitgemoor word ter wille van Hitler se meerderwaardige Herrenvolk nie; nie as daar by Sharpeville en Boipatong en tydens die 1976-opstande honderde veronregte mense deur die apartheidsregering doodgeskiet word nie; nie as die polisie onbeheersd losbrand op mynwerkers by Marikana nie; nie as Mugabe oorneem in Zimbabwe en ’n onbekende aantal Matabeles uitmoor en die land uiteindelik in die grootste ellende dompel terwyl hy en sy opvolgers in weelde lewe in ’n land waar die ekonomie uitgewis is nie; nie as honderde oor naweke in townships doodgeskiet word in bendeverwante geweld nie; nie as sinnelose, wreedaardige aanrandings en selfs moorde elke dag in ons stede en op plase gepleeg word nie; nie as die ANC oor meer as twee dekades deur wanbestuur, bedrog en selfverryking die Suid-Afrikaanse ekonomie geleidelik so vernietig dat ons tot op die randjie van’n totale ineenstorting gekom het en tans gevaar loop dat populistiese retoriek uiteindelik hierdie land finaal die afgrond instuur nie; nie as ‘n Corona-virus die hele wêreldbevolking met vernietigende gevolge tref nie.

Oor hierdie olifant in die vertrek (God), oor sy aandeel in hierdie gebeure, mag ons nie praat en Hom bevraagteken of impliseer nie, want Hy’s jou broer, jou hoeder: Die een na wie jy moet opsien. Die een voor wie jy in aanbidding moet buig. Die een wat geprys moet word in die kerke, op strate en onder die bome van Afrika. Moenie praat nie, want sy eer moet beskerm word.

En so het Suid-Afrika sonder die “waagstuk” van hierdie vraag aan die suidpunt van Afrika bly woon.

Nkosi Sikelel’ iAfrika.

En Suid-Afrika was ’n wrak.

Bladsy 60-67

In die afgelope meer as dertig jaar het ek, as deel van ’n kontingent teoloë konsekwent daarteen gedebatteer dat God as “die outeur van die kwaad” beskou sou word. Nee, die kwaad in die wéreld is die gevolg van menslike keuses, of die noodwendige skadukant van die skepping, of, in sommige kringe, die werk van die boosheid in mense, of in nog ander gevalle, die werk van die duiwel self. Ongelukkig kon geeneen van hierdie ou argumente met ’n goeie logiese verklaring of antwoord kom wat nie op die een of ander manier die integriteit van God op die spel plaas nie. Behalwe natuurlik, soos reeds gesê, om almal uiteindelik te herinner aan die misterie van God se wil wat ons nooit (aan hierdie kant van die graf) sal verstaan nie.

Maar om jouself so te beroep op die beperktheid van die menslike verstand (wat buig voor die misterieuse wil van God), amper asof die erkenning daarvan ’n deug is, is vir baie mense geensins meer ’n bevredigende uitvlug nie.

Die ou teologiese trilemma klop onwillekeurig in al hierdie gevalle aan die deur, naamlik: Hoe is dit moontlik dat God tegelyk alwetend, almagtig asook liefdevol kan wees? Dit was (en is steeds meestal) so dat wanneer oor hierdie aangeleentheid in die Christelike geloof en teologie geargumenteer word, daaraan vasgehou word dat hierdie, asook al die ander attribute (kenmerke) van God, inherent deel is van Hom – dat dit waar is van God. So word geglo. Omdat die Bybel so oor God praat, moet al drie hierdie kenmerke van God op die een of ander manier geld. Saam hiermee word ook verklaar dat God soewerein is en Hom nie deur enigeen laat voorsê in sy besluite nie. So moet ons as mense buig voor sy meerdere kennis en wysheid en ons oor die misterie van God se wil verwonder.

Dus word geglo en bely dat God liefde is. Dat God almagtig is. Dat God alwetend is. Daarby is Hy genadig. En regverdig. En alomteenwoordig. Daar word ook geglo dat Hy op grond van sy plan vir mense of die wéreld sekere dinge doen of nie doen nie, ander toelaat of nie toelaat nie. Die “feit” is: Hy is in beheer. As sodanig is die mens in Gods hand. Sy wil sal geskied. Daarvoor moet almal buig. Daarvolgens moet gelowiges bid. Om te bid dat God se wil sal geskied (soos in die Christelike modelgebed aangebied in die woorde “laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”) – en dat die gelowige hierdie wil sal leer ken en verstaan en aanvaar – is die doelwit van die Christen se gebed.

Hier kom gebed as sodanig vanselfsprekend ook ter sprake. Die probleemvraag is nou egter hoe en wat die rol van gebed in hierdie verband is. Kan ’n mens se gebed waarin om ’n bepaalde saak gevra word, soos die versoek vir gesondheid, die afwering van ’n virus, vir goeie en deurdringende reén, vir ’n voorspoedige reis, oor die vermoé beskik om God se wil te wysig, of teen die gang van die natuur te laat ingaan? Kan gebed medebepalend wees vir wie die land gaan regeer of nie? Hieroor skryf ek later meer, maar vir die doeleindes van hierdie gedagtegang moet hier aangemerk word dat die verhouding tussen gebed en die wil van God nie ’n ongekompliseerde saak is nie.

Die wil van God – en hoe om dit te verstaan – is dus ’n komplekse saak. Dit is juis daarom vir die kerk (of geloofsgemeenskap) vanselfsprekend om binne ’n bepaalde situasie in die tyd en geskiedenis te reflekteer oor die wil van God vir of in daardie situasie. En die plek (bron) waar hierdie wil van God gevind sal (kan) word, is die Bybel. Die Bybel is vir die Christen die geinspireerde Woord van God. Veral vir die gereformeerde Christen is die interpretasie van die Woord van kardinale belang. Hier kom die belydenisskrifte se rol ter sprake, want in die belydenisskrifte word die interpretasie van die Bybel deur die kerk vir gereformeerdes gevind. En, so word ons telkens herinner, die NG Kerk is per definisie ’n belydeniskerk. Die kerk word gerig kragtens ons belydenisskrifte. Daarom die ondertekening van die belydenisskrifte deur alle voornemende predikante van die kerk. Later meer oor hierdie komplekse verhouding tussen Bybel en belydenis. Hier is dit nou eers belangrik om te aanvaar dat die wil van God vir die kerk as georganiseerde instituut belangrik is, maar daarom ook vir die individu. God se wil is deurslaggewend vir die gelowige se lewe.

Gelowiges vra daarom daagliks en deurlopend daarna. Die kerk doen dit amptelik in sy vergaderings met groot erns. Daar word gevra hoe die wil van God, as die een wat oor ons lewe en lot beskik, verstaan behoort te word. Dis met die oog hierop dat die (korrekte) vertolking van die Bybel as gesagvolle Woord van God gedurig op die agenda is.

Met hierdie doel voor oë word daar deesdae in die (NG) kerk veral groot gewag gemaak van “geloofsonderskeidende gesprekke/prosesse”. Daarvoor word dan ook vooraf sorgvuldig beplan deur toepaslike tekslesings, gerigte tafelgesprekke, bepaalde stiltetye vir introspeksie en luisterende refleksie, om dan so tot konsensus te kom oor wat die pad van die Here is. Dit is ook bekend (en vir my was dit nog altyd ’n rede tot ongemak) dat sodanige beplanning (inleidings, sprekers, keuse van Bybelgedeeltes) manipulerend van aard is, omdat diegene wat die noodsaaklikheid daarvoor voorstaan en die beplanning daarvoor doen, self met agendas sit wat hierdie keuses bepaal. Hierdie feit word meestal nie in berekening gebring of maklik erken nie. En natuurlik speel dit nie doelbewus en kwaadwillig ‘n rol nie, maar dit is wel bepalend.

Wat hierin meestal die mees steurende element is, is die feit dat enige vrae hieroor (soos hierbo aan die begin verwoord), of enige kritiese opmerkings, dikwels gesien word as moedswillige (en selfs kwaadwillige) weerstand teen die oopstel en sensitiwiteit vir die werk van die Heilige Gees, die influisteringe van God -’n weerstand teen die gewilligheid tot verandering of transformasie. In sommige gevalle – en dit het ek aan my eie lyf gevoel – word die bevraagtekening van hierdie manier van spirituele manipulering doodgewoon as lastig en ongewens ervaar en hanteer. Of sommer net kru gestel, as negativisme. Dit is selfs interessant dat daar in die praktyk van hierdie soeke na die wil van God geen verwysing is na die belydenissskrifte nie. Ek kan amper nie enige geleentheid oproep waar daar in die gewone gang van kerklike besluitneming op enige vlak gepoog is om die belydenisskrifte aan die orde te stel nie — behalwe somtyds waar daar ’n kerkordelike -dispuut is (byvoorbeeld ’n klag van leertug teen ’n predikant). Dit in sigself js dus ’n anomalie met betrekking tot die identiteit van die kerk.

Maar die feit is dat daar deurlopend na die wil van God gevra word, amptelik in die geloofsgemeenskap, maar ook in die persoonlike lewens van gelowiges. En hier loop ’n mens jou telkens vas in hierdie trilemma van die verhouding tussen God se almag, sy alwetendheid en sy liefde. Alreeds voor Christus het ’n Griekse filosoof, Epicurus (341-270 vC), oor hierdie onmoontlike formule geskryf — het hy die idee verwerp dat God gelyktydig almagtig, alwetend en liefdevol kan wees. Twee van hierdie eienskappe sluit altyd die derde een uit.

Dit is dus nie ’n nuwe “ontdekking” as gevolg van die opkoms van die moderne wetenskap, of die klem op logiese, rasionele argumente, of iets dergeliks, asof die strewe na logiese denke nou eers in ons moderne era uitgedink is nie. Dit is ’n vraagstuk waarskynlik so oud soos die geloof in (‘n) God self.

In God? Geloof in ‘n postmoderne tyd het ek in hierdie verband soos volg geskryf:

In die debat deur die geskiedenis oor hierdie problem het die begrip die “trilemma” rondom God ontstaan. Hierdie beredenering gaan uit van die volgende stelling: dat dit onmoontlik is om tegelykertyd drie dinge van God te kan glo, naamlik dat Hy alwetend, almagtig en liefdevol is. Twee van hierdie eienskappe kan gemaklik saam gedink word. Maar sodra ’n derde (of selfs ’n vierde soos regverdigheid) bykom, maak dit nie meer sin nie. Kom ons gebruik ’n voorbeeld (by voorbaat verskoning oor die skrikwekkende aard van hierdie voorbeeld):

‘n Veertienjarige dogter word deur ’n inbreker gemartel, verkrag en doodgewurg. Indien God alwetend is (en dus vooraf sou geweet het dat dit gaan gebeur) en liefdevol (dus gekant daarteen sou wees dat so iets gebeur), hoekom het Hy dit nie gekeer nie? Is Hy dan nie almagtig nie? Indien Hy liefdevol en almagtig is en dit gebeur wel, terwyl Hy geweet het dit gaan gebeur, hoekom het Hy dit nie gekeer nie? Is Hy dan nie alwetend nie? Indien hy alwetend en almagtig is, maar dit het tog gebeur, hoe kan Hy dan liefdevol wees?

Daarom is ‘n deterministiese denke (met ander woorde dat alles volgens ’n vooraf beplande program gebeur) onaanvaarbaar … omdat dit ten minste ’n groot vraagteken sal skryf oor die liefde van God! Wat sou dit dan buitendien help om te bid, aangesien alles alreeds op vaste spore loop en daaraan niks meer gedoen kan word nie. So ’n God sou … ’n vreesaanjaende monster wees van wie ’n mens jouself liewer wil bevry, as om in Hom te glo en jou aan Hom toe te vertrou.

Wil ’n mens van hierdie soort God bevry wees en liewer sien dat God as liefdevolle “Vader” medelye het met ons en dinamies in die gang van die skepping saam met die mens beweeg, om dan in die oomblikke van nood en angs die gelowige met die belofte van sy liefde en deernis te versorg, kom die vraag op of God dan maar net reaktief optree op gebeure waaraan Hy niks kon doen nie. Dit laat hulle onseker, omdat God, uit so ’n perspektief gesien, ’n magtelose toeskouer is van die verloop van die geskiedenis.

(Ander) sou wou volhou dat die mens self ’n keuse het en daarom verantwoordelikheid moet aanvaar vir wat met jou gebeur. Kies iemand verkeerd, dan is dit sy/haar eie skuld dat dinge verkeerd loop, maar gelukkig is God genadig en liefdevol en kan ’n mens ook in sulke tye op sy ondersteuning en begeleiding staatmaak.

Verder (is dit so) dat gebeure in die lewe volgens bepaalde wetmatighede gebeur (soos aardbewings, droogtes en natuurrampe) waarvoor God tog nie “die skuld” kan kry nie. Dus, wanneer dit gebeur, is God in sy medelye daar om die gelowiges te ondersteun en hulle te help om die sin daarvan in te sien (bv dat dit aanleiding gee tot ‘n nuwe bewussyn van God se teenwoordigheid en toewyding aan Hom, of iets dergeliks), daardeur te groei tot mense wat beter toegerus is vir die lewe wat nou maar eenmaal bestaan uit die goeie en die slegte.

(Vir ander) sal so ’n siening weer bedreigend aandoen, want dan is God mos magteloos — al bid ek ook hoe. Dan is Hy mos nie in beheer nie – en by so’n God is ’n mens dan altyd onveilig.

In die teologie word na hierdie trilemma gewoonlik as die teodisee-vraagstuk verwys, waarin dit gaan om mense se verskillende beskouings van hoe die kwaad gesien moet word in verband met die wil van ’n alwetende, almagtige, liefdevolle God.

Dit was my vroeére beredenering rondom hierdie saak. Tans is my probleem met hierdie redenasies dat dit alles ten doel het om die geloof in God as’t ware te red. Om God te red, oftewel die konsep van’n transendentale, metafisiese wese wat oor alle mag beskik en alles wat gebeur, beheer.[2]

[2] Die woord metafisies (in al sy verbuigings) word saamgestel uit twee Griekse woorde, naamlik’n voorvoegsel wat langs, of onder, of bo beteken, plus ’n selfstandige naamwoord wat natuurlik (dit wat tasbaar is, wat gesien kan word) beteken, Ek gebruik dit in hierdie manuskrip vir alles wat met God, of die bo-natuurlike, of geesteswereld of goeie of bose magte te doen het – wat nie werklik gesien, getas, beskou en ondersoek kan word nie.

Die begrip transendent (wat dikwels saam met metafisies gebruik word) verwys na iets of ’n entiteit buite (beyond) die normale fisiese menslike ervaring – en kwalifiseer metafisies dus meer duidelik. Byvoorbeeld, om te glo dat God in die hemel woon, maak van Hom ’n transendentale wese – bokant, buite, anderkant ons normale (fisiese) lewe as mense. Die mees bekende woord in Afrikaans hiervoor is bonatuurlik. Engels gebruik graag die woord “supernatural” om die transendente aan te dui.

Ek was deel daarvan. Het dit met groot toewyding en oortuiging probeer doen: om ons geloof in God, soos geopenbaar in Jesus van Nasaret, sover as moontlik rasioneel insigtelik te maak.

Maar nie meer nie. Op hierdie retoriese vrae van “wat het God daarmee te make” of “hoe is God daarby betrokke’, sou dit ter wille van die integriteit van daardie God waarskynlik ’n beter uitweg wees om te sé dat Hy niks daarmee te doen het nie. Dit maak Hom dan ten minste nie skuldig, of magteloos, of wreed nie. Maar dan is die sin van geloof in God natuurlik sonder enige nut.[3] Dit sou die hele (godsdiens-)projek in duie laat stort. Dan sou mens met reg kon vra of die geloof in God enige sin maak (die olifant in die vertrek met “Tamar, bly stil!”). Die ironie is dan dat die enigste manier om die sin van ’n geloof in God “te red” is om te verklaar dat Hy nie ‘n werklikheid is nie – om dus nie alleen sy betrokkenheid uit te skakel nie, maar om God as sodanig uit te skakel.

[3]Behalwe natuurlik dat ’n mens sou kon redeneer dat die “nut” (of selfs “doel”) vir God of godsdiens eintlik, soos van God se posisie af beredeneer (natuurlik groot vraagtekens hier, maar dis wat die Bybel en teologie ons in die eerste plek vertel), daarop gemik is/was om God te vereer: die doel met godsdiens was/is dat die kinders van God, as sy onderdane, Hom sal eer en prys en aanbid (so ’n sentrale deel van die liturgie in die erediens), uit dankbaarheid vir sy genade oor hulle. Oor wat doel met alles is, hoekom dinge gebeur soos dit gebeur, is alles deel van sy verborge plan – nie vir ons om te weet of te verstaan nie.

Een van die heel grootste probleme in hierdie verband, naamlik om ’n logiese, verhelderende, konstruktiewe gesprek hieroor binne die konteks van godsdiens te voer, is die fundamentalistiese aard van alle godsdienste – daarom ook die teologiese denke binne die gereformeerde tradisie. Ek het my hele beroepslewe daaraan gewy om saam met ander na maniere te soek om hierdie gesprek wel te laat plaasvind en te laat slaag. Die uitgebreide elektroniese dokument “Woorde en woorde” is ’n redelike weerspieëling hiervan. My blootstelling aan Wentzel van Huyssteen, sy invloed op my én my blootstelling aan die interdissiplinére gesprek hieroor het my aangemoedig om motivering te soek vir hierdie gesprek: in die kerk, asook in die teologie. Ek was oortuig daarvan dat die wetenskap ons daarin sou kon help. Veral die wetenskap wat in sy multidissiplinére aanwending al verder weg beweeg het van die positivistiese verwagtinge van die vroeére ontwikkelinge van die moderne wetenskap.

Die bedoeling met die interdissiplinere teologiese refleksie oor die wil van God was om daarmee integriteit aan die teologie en die geloof in God te verleen, om teen die destruktiewe aard van fundamentalisme te redeneer en nie daaraan as slagoffer te val nie. Om as’t ware aan die impasse wat die onkommunikeerbare fundamentalisme (van godsdiens) op die tafel sit, te ontkom deur goeie redes aan te voer vir die waarskynlikheid van die Christelike geloof – en dan veral binne die konteks van die gereformeerde tradisie. Om ook, aansluitend hierby, die unieke aard van die mens as inherent ’n spirituele wese te verdedig. Om dit as unieke eienskap van Homo sapiens aan te dui, in onderskeiding van die res van die “skepping”.

Die mens het die vermoé tot abstrakte denke, tot estetiese uitdrukking van allerlei aard (sang, musiek, rotstekeninge, skilder, beeldhouwerk, digkuns, verbeelding). Spiritualiteit is dus ’n unieke menslike kwaliteit en – sou ’n mens kon redeneer – ’n unieke behoefte tot harmonie met die spirituele sfeer waarbinne die mens sigself (amper keuseloos) bevind.

Tans is ek onseker.[4] Nie onseker daarvan dat die mens al hierdie estetiese vermoéns het in onderskeiding van die res van die soogdiere op aarde nie. Dit is tog wel so. Maar onseker of dit noodwendig beteken dat die mens per definisie ’n spirituele of godsdienstige wese is. Speel persoonlikheidstipes of die bepaalde tradisionele en sosiale konteks ’n rol daarin dat sommige ’n groter behoefte aan spirituele ervarings het as ander?

[4] Miskien moet ek myself hier net in die rede val om te sé dat ek deur al die jare in die bediening in die kerk nooit vals was in my toewyding aan God en ’n intense soeke na sy wil vir ons as sy kinders nie, ten spyte van my twyfel en kritiese ingesteldheid. Vandag, terugskouend, kan ek sien hoedat dit in der waarheid gaandeweg geérodeer is deur die realiteite van die lewe self, die onvermoë van die kerk/geloof/ godsdiens om betekenisvolle hoop te gee in die nood en lyding van mense, Vir my kon die kerk en teologie (al die opsies wat godsdiens en/of spiritualiteit bied) algaande nie meer antwoorde en vrede gee nie.

Meer nog is ek daarvan oortuig dat alle godsdienste ’n fundamentalistiese vertrekpunt het en dat ’n mens daarom nie werklik daarmee in ‘n vrugbare rasioneel insigtelike gesprek kan tree nie. Later meer oor onafwendbare fundamentalistiese karakter van godsdiens.

Eers wil ek my egter haas om te erken dat ’n mens sekerlik ter onderskeiding van meer en minder fundamentalistiese godsdienste kan praat. Daar is geloofstradisies wat ’n groter mate van gemaklikheid met kritiese vraagstelling het as ander. En in die NG Kerk-tradisie waarin ek my ontvang het, was daar tye en plekke waar hierdie kritiese gesprek wel kon plaasvind. Daar is wel bepaalde wetenskaplike dissiplines wat van nut was en steeds is vir die teologie om gesprek moontlik te maak (waarby ek later sal kom). Dit het veral te doen met die vertolking van tekste, met die hermeneutiese proses.

Een van die mees bepalende faktore wat hierdie gesprek egter moeilik maak, is die erkenning en herkenning van kompleksiteit – en daarom ook van diversiteit. Daarom die aanhaling van HL Mencken (1880-1956), ’n Amerikaanse skrywer, aan die begin van hierdie hoofstuk: “For every complex problem there is an answer that is clever, simple, and … wrong”

Ek bespreek hierdie soeke na klaarheid oor God nou verder aan die hand van die volgende opskrifte.

Bladsy 95

Hulle sal opmerkings maak en kritiek lewer oor leerstellige standpunte soos byvoorbeeld die sondeleer, of die drie-eenheid van God, sonder die kennis wat gepaard gaan met ’n jare lange teologiese opleiding en begrip van die dogmahistoriese gang van die belydenis en tradisie. ’n Mens sou dit kon vergelyk met wanneer ek (as teoloog) dit sou waag om kritiek te lewer op werk van ’n mediese dokter of ’n kernfisikus, waarvan ek uiters min weet.[18]

[18] Binne ’n heel ander konteks het ek self hierdie frustrasie ervaar toe ek van leerdwaling (verbreking van my legitimasie-eed) aangekla is deur ’n argitek en ’n oor-neus-en-keel-spesialis – dat ’n sinvolle argumentatiewe gesprek eintlik onmoontlik was omdat hulle nie oor enige teologiese opleiding (oor die hele spektrum van teologiese dissiplines) beskik het om ’n konstruktiewe beredenering te volg nie. Hulle hantering van die Bybel sowel die belydenisskrifte was uitermate meganies-fundamentalisties en het ontbreek aan enige ruimte vir ’n meer genuanseerde gesprek wat in die teologie ontwikkel het.[Kommentaar: Ben is blykbaar te blind om te sien dat hy presies doen wat die Katolieke kerk gedoen het deur die Bybel weg te hou van die gewone mens. Dit was eers na hervormers soos  John Wycliffe, Martin Luther en William Tyndale wat die Bybel vertaal het uit Latyns om dit vir die normale man op straat beskikbaar te stel.]

Hierin toon hierdie kritici na my mening dikwels eerder hulle eie onbekwaamheid tot dieselfde wetenskaplikheid waarop hulle aandring. Dis natuurlik verstaanbaar as mens in ag neem dat hulle meestal nie teoloë is of kundige letterkundiges of historici of taalkundiges, ensovoorts nie. Maar miskien sal hulle goed doen om dan groter beskeidenheid te toon, want hulle help hulle eie saak nie so nie. Dit vertel in sommige gevalle dalk meer
van hulle eie onkunde oor die teologie, as van die waarskynlike gebreke in die teologie of kerklike standpunte.

Bladsy 113-114

een of ander ellende my tref nie. Selfs, erger nog, dat Hy dat sou toelaat dat dit met my gebeur. En veel erger nog as dit, dat dit deel mag wees van God se plan met my. Die konsep van die plan van God is prominent in ons godsdienstaal en die oomblik wat ’n mens dit hoegenaamd akkommodeer, beteken dit tog vanselfsprekend dat wat ook al met jou gebeur by God as die alwetende een verbygekom het.

Diegene van ons wat in die Christelike geloof grootgeword het, ken die formulering wat by begrafnisse gebruik word (selfs vandag nog ~ en ek was vir feitlik al die jare van my vroeére bediening ook daaraan skuldig): “Dit het die God van lewe en dood behaag om van ons weg te neem, Johanna Catharina du Toit …”

Die frase “dit behaag God” skep ’n konteks van onsekerheid, van uitgelewer wees aan ‘n mag wat oor jou wel en wee kan besluit. Daarom die oproep om aanbidding, om “jouself te mishaag en voor God te verootmoedig”, want daardeur kan jy moontlik sy goeie guns oor jou laat kom – as dit sy wil is. Daar is talle teksgedeeltes in die Bybel wat aangehaal kan word as bewys van hierdie konsep van ’n God wat behae het daarin om sy wil te laat geld oor mense, oor die gang van gebeure, byvoorbeeld 2 Kronieke 7:12-22.

Die toneel hier is die inwyding van die tempel en God is deur Salomo met sy volk in gesprek. Hy sê:

Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir my offerandes gebring moet word. As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel … Maar as julle wegdraai van my voorskrifte … sal ek julle wegdryf uit my land …

Dit is hierdie konsepte van seën en vloek, van beloning of straf, alles binne die soewereine wil van God (wat alleenlik daaroor besluit), wat ten grondslag lê aan die vrees wat deels verantwoordelik is om mense te motiveer tot ’n vroom lewe, wat ten grondslag lé van die motivering tot ’n toegewyde lewe aan God. Veral met die aanbreek van die Nuwe Testamentiese tyd kom daar nog ’n aspek by wat hierdie onderliggende vrees en onsekerheid nog meer bepalend maak, naamlik die ontstaan van die denke oor ’n anti-god, soos die duiwel, of Satan.

Hieroor het ek uitvoeriger geskryf in God? Geloof in ’n postmoderne tyd.[36] Sonder om enigsins verder op die kwessie van geloof in die duiwel in te gaan, haal ek graag die volgende aan uit The Devil: Perceptions of evil from antiquity to primitive Christianity deur Jeffrey Burton Russell as ondersteuning vir die feit dat ook die denke oor die bose en die vrees vir straf iets is wat konseptueel van aard is:

The cultures of Egypt, Mesopotamia and Canaan stand directly behind those of the Greeks and Hebrews and so exercised at least an indirect influence upon the Judeo-Christian concept of the Devil.[37]

Met ander woorde, daar’s ook niks in die hel wat nie op die aarde gemaak is nie. En dit het ’n bepaalde geskiedenis, aangebring deur die ervarings van goed en sleg in die lewens van mense, wat oorgedra is oor geslagte en millennia.

Wanneer ek nou weer lees wat ek in God? Geloof in ’n postmoderne tyd geskryf het oor die mens as spirituele wese, en die opbloei van godsdienste na die ontnugtering van die Tweede Wéreldoorlog,[38] besef ek hoedat ek self vandag anders hieroor dink. Nie oor die feit dat die mens per definisie ‘n spirituele wese is nie, of dan anders gestel, dat mens vanuit jou biologiese samestelling en spesifiek jou brein, oor hierdie vermoé beskik om abstrak en kreatief te leef met narratiewe waarin die konsepte van ’n metafisiese “wêreld” geakkommodeer word nie. Dit is so. Die punt is dat ook daardie spiritualiteit iets is wat in die brein sy oorsprong het en nie (noodwendig) dui op die werklike bestaan van enige metafisiese entiteit nie. Dit is eweneens waar dat hierdie konsepte soos God, die duiwel, hemel en hel, die oorsprong van goed en kwaad, hulle ontstaan op aarde gekry het. Dis die skepping van die menslike brein.

[Kommentaar: Dit is presies dieselfde wat Klaas Hendrikse en Willem Bakkes ook glo. Kyk ook God: uitgedink deur mense.]

Hieroor is in die moderne tyd al baie geskryf. Talle gesaghebbende publikasies wat hierdie tema uitgebreid aanbied, of wat daarna verwys as ’n belangrike en bepalende insig om die gedrag van die mens as religieuse (spirituele) “wese” te verstaan, verwoord dieselfde insigte, ofskoon somtyds op verskillende maniere en vanuit verskillende vertrekunte.

Die Britse skrywer Karen Armstrong publiseer in 1993 een van die omvattendste en gesaghebbendste boeke hieroor — as’t ware ’n historiese analise van die ontstaan van God – naamlik A history of God waarin sy…

[36] Du Toit: God? Geloof in ’n postmoderne tyd, 2012, p. 105; pp. 129-135

[37] Jeffrey Burton Russell in The Devil: Perceptions of evil from antiquity to primitive Christianity, Cornell University Press, 1977, Ithaca, Londen.

[38] Du Toit 2012, pp. 101-104

[39] Karen Armstrong: A history of God, Mandarin Paperbacks, 1997, p. 9

Bl 118-119

Die evolusionére voordeel van die kombinasie van aggressie, ’n eie groep wat deur godsdiens saamgebind word en diskrimineer teen ander is duidelik. Die mens het miljoene jare ontwikkel in ‘n omgewing waar net genoeg kos was vir die eie groep. ’n Ander groep wat jy in die savanne teékom, was daarom lewensbedreigend en moes uitgewis word. ’n Paar generasies met lugversorging poleer miljoene jare van die evolusionére voordele van die kombinasie van jou eie groep en aggressie teenoor ander nie so gou weg nie. Vreemdelingevrees (xenofobie) en vreemdelingehaat bestaan wéreldwyd. Dwarsoor die aarde is daar brandpunte tussen groepe met verskillende godsdienste. “God se vrede” word sedert menseheugenis met moord en doodslag op ander afgedwing, En die einde is nie in sig nie … Jy moet dus heelwat opoffer, maar as jy aan die religieuse groep behoort, het dit talle voordele. Jy kry beskerming teen ander groepe, wat ’n beter kans op oorlewing bied.[45]

So het godsdiens dus ontstaan. Dit is nie iets van metafisiese aard wat van buite of van bo iewers anderkant die wolke kom nie, maar vanuit die menslike lewe en bestaan hier en nou evolusionér ontwikkel het. Godsdiens is die produk van evolusie. Dit is hierdie geloof wat die mens vanaf sy of haar eerste asemteug ingegee word. Dit is hierdie oortuigings wat die menslike brein karteer, elkeen volgens die resep van die groep (konteks van godsdiens en kultuur) waarin hulle grootword. Hieroor later meer as ek oor die programmering van die onderbewuste praat, asook die bepalende rol daarvan vir ons konseptuele raamwerk van wat normaal is, wat ons verwagtinge en emosies skep.

Enigeen wat hieroor wil saampraat, sou hulself ’n guns bewys om na die reeks te kyk van David Eagleman met die eenvoudige titel The brain (gerieflik beskikbaar in ses dele op YouTube),[46] waarin hy op ’n interessante en visuele manier uitvoerig die werking van die brein aanbied. Dit onderskryf Swaab se tese dat die mens se identiteit deur die komplekse funksionering van die brein bepaal word, Dis waar ons konsepte oor onsself, ander en die wereld en die lewe gevorm word.

Weer eens, ook in hierdie sin is daar werklik niks in die hemel (en die hel) wat nie op aarde gemaak is nie. Die werklike skepper is nie ’n metafiese wese (God) nie, maar die mens.

Dit is eenvoudig wetenskaplik so dat die moderne mens[47] ouer is as enige konsep van ’n god of ’n transendente, metafisiese toestand. Dit is juis die mens se vermoé, in onderskeiding van die res van die diereryk, om abstrak en kreatief te dink, wat gelei het tot die totstandkoming van ’n metafisiese “wéreld” — ’n verbeelde plek met allerhande metafisiese wesens (gode, engele, geeste — goed en sleg) daarin, wat in beheer is van die mens en natuur. Hierdie mens beskik oor die selfbewussyn en verbeelding om konseptuele konstrukte te skep en dan sy/haar gedrag daarvolgens te bepaal. Die wyse waarop hierdie konsepte van geslag tot geslag oorgedra is lank voordat daar iets soos skryfkuns was, maar natuurlik ook daarna, was om dit in stories te giet, in narratiewe waaraan ’n bepaalde gesag toegeken is namate dit oor en oor vertel en aan opeenvolgende geslagte oorgedra is.

[47] Die ontstaan van die “moderne mens” (Homo sapiens) word deur paleontoloé geskat op op 200000 jaar gelede. Dit is dus nie te verwar met die mens van die moderne tyd nie.

Histories gesproke is Homo sapiens dus ouer as God. Dit volg eenvoudig logies uit die feit dat enige konsep van ’n metafisiese wéreld deur die ontwikkelende mens se brein (deur middel van evolusie) geskep is.[48]

[48] Hier is dus drie konsepte wat as’t ware nou verder die kern van hierdie boek uitmaak:

  1. Godsdiens is die produk van evolusie.
  2. Daar is werklik niks in die hemel (en die hel) wat nie op aarde gemaak is nie,
  3. Histories gesproke is Homo sapiens dus ouer as God.

Die ironie is nou dat dit juis dieselfde evolusionére ontwikkeling van die mens is wat, saam met die verstommende ontwikkeling van die moderne wetenskap, die noodsaak van godsdiens sedert die 16de eeu toenemend uitdaag — wat (nou) die noodsaaklikheid daarvan toenemend onnodig maak. In ’n sekere sin is dit dus die verdere ontwikkeling van die mens wat juis weer gelei het tot ’n volgende fase waarin die elemente wat tot die ontwikkeling van godsdiens gelei het, nou weer paradoksaal nutteloos en selfs gevaarlik is.

Maar wat is die rede(s) vir die volgehoue bestaan van godsdiens en die volgehoue geloof in God of ’n metafisiese wese – ten spyte daarvan dat die multiwetenskaplike dissiplines dit oorbodig maak? Ons kyk in die volgende gedeelte waarom godsdiens nie verdwyn nie.

Dus:

* Die soeke na kennis, na die waarheid, na begrip vir geloofwaardige inligting, is’n interdissiplinére uitdaging.

Bladsy 137

Vir die doeleindes van ons gesprek hier is die egostaat van die kind die belangrikste. Want in elke kind is daar’n klein professor (“Little Professor”). Hierdie professor is ’n baie skerp waarnemer. Hierdie professor skryf ons draaiboek (“script”) van kleins af. Vanuit die professor se waarnemings van die lewe skryf hy/sy die gedrag neer waarop die kind sal leer reageer. Die probleem met die klein professor is egter dat hy/sy nog nooit groot was nie. Ook nog nooit ’n ouer nie. Dus is die gevolgtrekkings waartoe die professor kom nie altyd korrek nie. Tog skryf hy/sy onafgebroke voort aan die draaiboek van ons lewens en ons speel daardie rol volgens die teks. Dis hierdie professor wat dus ons konsepte oor godsdiens, oor God, engele, die duiwel, bose magte, sonde, vergifnis, liefde, genade, noem maar op, vaslê in ons teks.

Hierdie programmering van die brein vanaf geboorte (en sommige wil aantoon selfs voor geboorte wanneer na die psigiese profiel en ingesteldheid van die ma verwys word) is deel van die netwerk van redes hoekom godsdienste en die behoefte daaraan bly voortbestaan. En koppel ’n mens dit aan die volgende faktor, naamlik die sug na eenvoud, word dit ’n belangrike rede vir die voortbestaan van godsdiens – selfs in welvarender gemeenskappe.

Punt 5

‘n Mens hoor so dikwels uit die mond van mense wat die kritiese gesprek irriterend vind opmerkings soos die volgende, wat die sug na eenvoud illustreer:

Ek wil maar net eenvoudig glo.
Ek is moeg van al die baklei en al die gepraat en gewroeg – al wat ek soek, is ’n plek/ruimte waar ek God op ’n eenvoudige manier kan vind en kan
tuis wees.
Ek soek na die eenvoud van geloof.
Ek soek na die eenvoud van die Evangelie.
Ek soek na die eenvoud van God.
Teologie en die wetenskap maak alles so ingewikkeld.
Dit moet tog eenvoudig wees — selfs vir ’n kind om te kan “verstaan’.

Ek kan selfs in my verbeelding ’n leser van hierdie boek hoor sé: Al hierdie teorieé oor die programmering van die brein (onderbewuste) vanaf Norman Vincent Peale tot by Peter Watson en Yuval Harari maak my moeg.

Hierdie soeke na eenvoudige antwoorde – en na eenvoud as sodanig – is uiteraard futiel as daar werklik ’n begeerte na die waarheid is. Dit is dan juis hier waar die woorde van die Amerikaanse skrywer HL Mencken aan die

Bladsy 154

Ek het my deur my hele beroepslewe daarvoor beywer om met hierdie aanpak binne die NG Kerk ’n teologiese bydra te lewer waardeur (na mening) die kerk in ’n groter mate geloofwaardigheid sou hé. Weer eens in die elektroniese dokument “Woorde en woorde” kan ’n mens talle voorbeelde hiervan sien.

My ervaring in die kerk en teologie sedertdien; my blootstelling aan die bestuur van die kerk en besluitnemingsprosesse; my verdiskontering daarvan binne ’n land wat sigself verbind het tot die waardes van ’n nuwe Grondwet en Handves van Menseregte; die beoordeling van die totale godsdiensgemeenskap in al sy uitdrukkingsvorme en die hartseer voetspoor van menslike veronregting wat steeds daar gevind word; die
onwrikbare vashou aan, uitleef en afdwing van standpunte en lewens- en wéreldbeskouings vanuit voorwetenskaplike religieuse tekste – dit alles het my daartoe gebring om myself nou van enige uitdrukking van godsdienstigheid te distansieer. In die lig daarvan maak die gepoogde onderskeid tussen godsdiens en spiritualiteit, om sodoende iets van ’n Godsgeloof te probeer red, vir my geen sin en geen verskil nie.

Wanneer ek dan later hier die aandag sal vra vir die ideaal vir of ’n strewe na ‘n radikaal bevrydende humaniteit (menslikheid) as lewensleuse, het die bevrydende deel hiervan juis te doen met die afskeid van ’n bepalende godsdiensbeskouing, of dogma, of ’n leerstellig gedrewe verstaan van die lewe, ten gunste van ’n bevryde perspektief op die lewe en die ervaring daarvan in alle moontlike aspekte.

Ten slotte dus hier: Die onderskeid tussen godsdiens en spiritualiteit gaan nie vir my op indien iemand daarmee meen om van die probleme van godsdiens (soos formalisme, fundamentalisme, dogma en strukture) te ontkom en nou “die spirituele” as ’n nuwe tuiste aangryp nie. Ook enige vorm van spiritualiteit het soos alle godsdienste ’n fundamentalstiese belydenis-vertrekpunt – dit is gerig op ’n bepaalde transendentale, metafisiese[86] entiteit waarin geglo word. En juis dit bied na my menig dus geen geloofwaardige en/of gemeenskaplike basis vir refleksie, diskussie…

[86] Ek het ’n aantal jare gelede die voorreg gehad om ’n reeks lesings van prof. Willie van der Merwe by die Departement Filosofie aan die US by te woon oor ’n moontlik alternatiewe aanpak van die kwessie van spiritualiteit, transendensie en die metafisiese. Die konsep wat ons geboei het, was post-metafisiese transendensie. Onder redakteurskap van Van der Merwe en Wessel Stoker het daar ook in 2012 ‘n publikasie verskyn met die titel Looking beyond? Shifting views of transcendence in philosophy, theology, art and politics (Rodopi, Amsterdam). Hierdie gesprek gaan dus steeds binne hierdie konteks voort.

Bladsy 156

Dis interessant hoedat daar in die wetenskaplike dissiplines wat enigsins geinteresseerd is om uitsprake te maak oor die historiese ontwikkeling van die mens as godsdienstige wese, groot instemming is dat die ontstaan en ontwikkeling van godsdiens as deel van die evolusie van Homo sapiens gesien moet word. Dick Swaab skryf dat die oorgrote meerderheid (hy gee bepaalde persentasies aan) van evolusiebioloé godsdiens ( religie) as ’n sosiale verskynsel beskou wat saam met die evolusie van Homo sapiens ontwikkel het. “Dit wil sé as ‘n onderdeel van evolusie; nie as ’n weerlegging van evolusie nie.”[87]

[87] Swaab, p. 287 (beklemtoning myne)

Konsepsueel gesproke, maar ook uit ’n historiese oogpunt beskou, is dit ’n belangrike en bepalende stelling.

Ons het alreeds gesien dat dit ten minste beteken dat die mens histories gesproke ouer is as enige konsep van ’n godheid of geesteswéreld — of mitologiese verhale en konsepte.

Met die evolusionére ontwikkeling van die menslike brein was dit juis die verworwe vermoé tot abstrakte denke (vanuit ’n groeiende selfbewussyn) wat die mens as die enigste spesie bedeel het met die wete van die onafwendbare dood wat op almal wag: die wete dat geboorte ook in alle gevalle dood beteken. Dit was juis hierdie onafwendbaarheid van die dood wat vir die mens aanleiding gegee het tot verbeelding van ‘n voortgaande bestaan ná die dood. Dit was juis die soeke na sin en betekenis in die lewe in die aangesig van die dood wat aanleiding gegee het tot die verbeeldingryke fabrisering van ’n metafisiese bestaan, ’n metafisiese syn iewers, érens in die ruimte (vanselfsprekend bo, in die “hemel”), wat aan ons bestaan, ons lewens van voorspoed en teenspoed, vreugdes en pyn, sin en verklaring gebied het. Dit was hierdie verbeelde “wéreld” waarop die transendente, metafisiese magte van goed en kwaad, gode en geeste, beheer uitoefen en hulle magstryde onder mekaar voltrek, wat aanleiding gegee het tot die bou van stede en tempels en simboliese strukture oor die hele wéreld heen (daarin deur die hele repertoire van die skeppende kunste ondersteun) om uitdrukking te gee aan die mag en oorwinning van heersers, konings en keisers.

Bladsy 165-166

…spreek en sodoende kalmte te herstel. Die ruimte wat godsdiens bied vir mense wat erg vatbaar is vir suggestie, wat ernstig voel oor die konsep van ‘n goddelike roeping en doel met hulle lewens waaraan hulle uitdrukking moet gee, maak so van godsdiens ‘n onbetroubare fenomeen vir inklusiwiteit, vir vrede en versoening. Dis alles behalwe ’n gerusstellende gedagte vir die toekoms van ons planeet met sy diverse uitdagings tot oorlewing.

Ek is daarom vandag al meer daarvan oortuig dat godsdienste in die balans van sake meer sleg as goed inhou. Godsdiens is nie goeie nuus nie. Die groei van hoofsaaklik fundamentalistiese godsdiens in groot dele van die wéreld is nie goeie nuus nie. Dis ’n te riskante en onvoorspelbare voertuig vir die hantering, of bestuur, van menslike gedrag en die vorming van konseptuele gedagtes. Om vir liefde, genaakbaarheid, versoening en vrede te staan, is nie die prerogatief van die godsdienssektor in die wéreld nie. Inteendeel.
‘n Mens het nie godsdienstige oortuigings nodig om liefdevol te wees, genadig en genaakbaar op te tree en vrede en versoening na te jaag nie.

In godsdienste word daar hoofsaaklik gewerk met onkontroleerbare metafisiese konsepte uit ’n voorwetenskaplike tyd, wat vanweé die aard
daarvan die tafel dek vir misbruik van mense se goedgelowigheid en die gepaardgaande manipulering van gedrag.

Die probleem met godsdiens is die onbeheerbaarheid van die situasie. Aan die een kant is daar die gesag in die sisteem wat kom van ’n metafisiese, transendente wese (God), wat praat deur middel van ’n heilige dokument (die dokumente van die Bybel van eeue gelede) soos geinterpreteer en toegepas deur verskillende individue. Aan die ander kant is daar dan die vereiste van toewyding en gehoorsaamheid wat hoofsaaklik gemotiveer word deur beloning of straf in hierdie lewe, maar veral ten opsigte van ’n gunstige of ongunstige voortbestaan na die dood. Daarin is jy uitgelewer aan “die genade van God”.

As daar een konsep is wat vir my toenemend problematies geraak het oor die afgelope dertig tot veertig jaar ~ en wat soos ’n goue draad loop deur my betrokkenheid by die kerk as institut, maar ook die kerk as die gelowige gemeenskap ~ dan is dit die aanspraak op “die genade van God”.

Dis om die waarheid te sé ’n skrikwekkende gedagte, sou ’n mens as gelowige dit werklik glo, dat iemand uitgelewer kan voel aan “die genade van God”. Nie soseer die begrip “genade” as ’n teologiese konsep nie – dit in sigself skep probleme van ’n eie aard. Maar hier gaan dit meer oor die uiting wat ’n mens so dikwels hoor. lemand sal byvoorbeeld ná ’n ongeluk sé: Deur die genade van God het ek niks oorgekom nie. Intussen is daar ander mense ernstig beseer – selfs dood. Hoekom sou God dan nou sy genade van hulle weerhou het, maar jou wel daarmee bederf het? ’n Dak val in en’n aantal kinders is die slagoffers daarvan. Die een ouer sal verklaar: Die genadige vader het my kind gespaar. Ek is so dankbaar! Hoe is dit dan nou met “die genadige Vader” wat ander ouers se kinders nie spaar nie, maar toelaat dat hulle getref word en dood is? En dan nog die verklaring dat dit die wil van God is en dat ons daarin moet berus. Wat ’n lewe van angs om nooit seker te weet wat “die Vader” in “sy genade” oor jou besluit het en beplan nie? En die vraag kom onmiddellik en onwillekeurig op: Is daar enigiets wat ek sou kon doen om die “hart van die Vader” gunstig in my rigting te draai, of is daar niks daaraan te verander nie? Sal gebed help? Sal meer toewyding help?

Nog ’n problematiese konsep is “die Koninkryk van God”. Hierdie teologiese formulering met sy ouwéreldse verstaan van ’n koning met sy onderdane is diep in die psige van die kerk gevestig. Die liturgie, sang en gebede is deurspek van die vernedering van onderdane voor die troon van die koning ter wille daarvan om sy guns af te pleit. Offerandes in allerlei vorms word gebring met die hoop om die hand van guns te sien opgaan van die een op die troon.

Ek onthou nog hoedat ek Sondag na Sondag my hande uitgestrek het na die gemeente met die woorde: “Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon. Soos die oog van die dienskneg gerig is op sy heer en die oog van die diensmaagd gerig is op die hand van haar meesteres, so is ons oë op U gerig, totdat U ons genadig is.”

Dis vir my onbegryplik hoedat feministiese teoloé oénskynlik lustig in die liturgie hieraan meedoen en hoegenaamd geensins krities sensitief daarvoor is dat dit juis hierdie konsep van ’n koninkryk is wat steeds die goddelike patriargie bevestig nie — die enkele ding wat hulle die meeste in die kerk beveg. Dit is hierdie patriargie waarvan die gesag van die kerk deur die eeue afgelei is. Dit is presies hoe gevaarlik godsdiens is – dat selfs diegene wat hulle as aktiviste beskou vir die bevryding van die onderdrukking van die hetero-normatiewe en manlike gesag in die kerk, dat selfs hulle nie besef hoedat hulle self daaraan ten prooi val nie, dit selfs steeds deur hulle meedoen daaraan versterk nie.

Na my mening is daar dus nie goeie en/of slegte godsdienste nie. Alle godsdienste wil die goeie. Ongelukkig skep die aard van godsdiens, juis as premoderne denkraamwerk, die psigologiese ruimte vir verskeie soorte disfunksionaliteite wat in die psigiese profiele van individue aangetoon kan word. Godsdienste is nie goeie nuus nie – en is nie meer werklik in staat om ’n probleemoplossende funksie te verrig nie.

[Kommentaar: Baie interessant dat Ben voel dat godsdienste “nie goeie nuus is nie”, terwyl ander ateïste erken dat God of godsdiens nodig is – kyk Ateïste erken God is nodig.]

Bladsy 170

Ek beskou myself daarom liewer as post-teisties.[96] En met ’n post-teistiese posisie bedoel ek dan presies wat hierdie begrip na my mening beteken, naamlik “anderkant/verby God”. Sommige het ’n meer eng verstaan hiervan, naamlik dat dit slegs ’n afskeid van die klassieke en tradisionele konsep van ’n Christelik-Judese Godsbegrip is: afskeid van die God van die kerk en die dogma oor God. Soos Lloyd Geering, die Presbiteriaanse predikant van Nieu-Seeland, vul hulle die konsep van God dan met nuwe inhoud, ontdaan van premoderne konsepte en in lyn met die kennis van lewe en wéreld wat ons vandag het.

Ek beskou myself daarom liewer as post-teisties… Vir my dui die begrip post-teisties op ’n definitiewe afskeid van enige geloof in ’n transendente, metafisiese “wêreld” of bestaan waarin bonatuurlike magte en kragte sou wees wat die botoon voer en hulle laat geld ten opsigte van die wel en wee van die mensdom en die heelal. – Ben du Toit

Dit is egter nie hoe ek hierdie konsep verstaan en vir myself as posisie toeëien nie.

Vir my dui die begrip post-teisties op ’n definitiewe afskeid van enige geloof in ’n transendente, metafisiese “wêreld” of bestaan waarin bonatuurlike magte en kragte sou wees wat die botoon voer en hulle laat geld ten opsigte van die wel en wee van die mensdom en die heelal. Ek meen dat om steeds, soos sommige wat hulself as post-teisties beskou, iets te probeer red van ’n godsgeloof en dan voort te gaan om binne die konteks van die kerk en teologie ’n posisie op te eis, ’n inkonsekwente (selfs miskien ’n ietwat oneerlike) omgang met die beskikbare data van die realiteite van ons bestaan reflekteer. Vir my dui die post-teistiese posisie op ’n radikale breuk met ’n metafisiese wéreld: ’n wonderlike bevryding daarvan.

Daar kan diegene wees wat hierop sou wou vra of dit nie dan maar net ’n terugkeer is na die kille rasionalisme van die logiese positivisme uit die 1920’s nie (sien p. 86 in hierdie verband) – die tyd toe daar nog soveel idealistiese vertroue was in die vermoë van die opkomende moderne wetenskap om ’n beter wéreld te skep. Ek haal graag vir Wentzel van Huyssteen hieroor aan:

Bladsy 172-173

…deel is van die verblydende golf van medemenslikheid wat oral gesien en ervaar word (let wel, nie net in godsdienste nie). Daarvoor behoort almal dankbaar te wees. Daarin mag sommige mense waarskynlik iets van ’n genadige God sien. Solank ’n mens net nie die vraag verner neem deur te wonder of so ‘n genadige opperwese dan nie hierdie ramp kon verhoed het nie – veral nie in die lig daarvan dat dit juis sy volgelinge was wat so ’n prominente korpus van geinfekteerde mense uitgemaak het wat hierdie virus na ons land gebring en hier versprei het nie.

Intussen kan ek myself tog ook nie heeltemal losmaak van my eie geskiedenis met God nie – hoewel dit natuurlik agter lé. Ek kan steeds diep ontroer word deur sommige aspekte van godsdiens, my godsdiens soos ek dit leer ken het van kindsdae af – veral die sang en musiek. Soveel van die musiekskatte in die wéreld het ’n godsdienstige oorsprong — is geskep in die wisselwerking van die stryd van mense met hulle omstandighede en die God in wie hulle glo. Dit geld natuurlik alle soorte kuns: digkuns, verhaalkuns, skilderkuns, beeldhoukuns – van die aangrypendste en kreatiefste kunswerke kom vanuit godsdienstige oortuigings en stryd. ’n Mens kan die bepalende rol van ‘n’Godsgeloof in die kunsskatte van die mensdom nie ontken of ignoreer nie.

Ek sal dus altyd God met ’n hoofletter “G” skryf, omdat ek soveel goed ontvang het deur my ouers, familie en vriende as diep gelowige mense – en die kerk waarin ek amper veertig jaar predikant, sinodale amptenaar en teoloog was. Ek het steeds groot respek vir wat die NG Kerk-familie in Afrika tot stand gebring het — en in’n groot mate nog steeds in staat is om te doen (soos die bou van skole, hospitale, klinieke en ander noodsaaklike infrastruktuur vir die vooruitgang van die samelewing). Soos ook ander godsdienstige mense doen, waarvan Gift of the Givers ’n uitstekende voorbeeld is – ek noem dit slegs as’n feit sonder om daarop verder uit te brei.

Elke mens, elke sosiale konstruk, ook godsdienstig, wat omgee vir die naaste ~ en die se menswaardigheid eerbiedig ~ verdien om geprys te word.

Somtyds bestaan daar in armoedige gemeenskappe geen ander bron van hoop as hulle godsdienstige affiliasie nie — en speel kerke en godsdiens inderdaad ’n deurslaggewende rol vir die bevordering van menswaardigheid (humaniteit). In ’n stadium het ek elke dag deur Elsiesrivier p die Kaapse Vlakge gery en is ek elke keer getref deur die wanhopige omstandighede van ’n vervallenheid en armoede van mense wat leef in die greep van dwemverwante misdaad en ’n bendestryd. Maar in feitlik elke strat is daar ’n kerkgeboutje of ’n moskee en sien mens die kleurvolle tekens van ’n kleuterskool of plek van veiligheid ~ heel dikwels as uiting van mense se godsdienstige oortuigings om aan daardie kinders ’n ruimte van hoop te gee. Om dan vanuit ’n buiteposisie afkeurend en krities te staan teenoor die bewyse van meelewing en liefde, gedrewe uit godsdienstige oortuigings, sou na my mening ewe bedenklik wees as wat dit voorbarig sal wees van godsdienstiges om te verwag dat ek ook in God behoort te glo soos hulle.

Waarmee ek egter nooit vrede sal hé nie, is wanneer ’n kerk — of watter godsdienstige groepering ook al ~ hulle nie beywer vir die bevordering van inklusiwitiet en die menswaardigheid van alle mense nie, maar juis in hulle houding, standpunte en optrede hierdie basiese reg van alle mense van hulle weerhou. As ’n onafwendbare sosiale konstruk binne alle gemeenskappe sal die kerk en godsdiens vir lank nog steeds mense se lewens beinvloed en bepaal. Die enigste rede tot openbare relevansie van godsdiens sal wees wanneer dit hierdie rol van die bevordering van die menswaardigheid van alle mense ernstig opneem en in eie geledere tot uitvoering bring. En natuurlik ook as die kerk en die godsdienssektor in die geheel ’n positiewe bydrae kan lewer sover dit ekologiese sake aanbetref, deur lidmate te motiveer om verantwoordelik met die kosbare aarde om te gaan.

In hierdie opsig het godsdiens ~ en die kerk in my geval — steeds relevansie, in die mate waarin hulle poog om van hierdie wéreld ’n beter plek te maak vir alle mense om in te lewe. Maar terselfdertyd beskik die kerk nie oor die monopolie om geluk en vrede, medemenslikheid en hoop, vrede en versoening onder mense in die wéreld te laat realiseer nie. God is nie daarvoor nodig nie. Of liewer, ’n geloof in ‘n metafisiese, transendente mag wat beheer uitoefen oor die gang van die lewe is nie ’n voorwaarde of vereiste vir die totstandkoming van ’n regverdiger bestaan van mense nie. In baie gevalle, soos nou weer (en oor en oor) met die hele polemiek oor seksuele oriéntasie, is godsdiens geensins ’n hulp nie. Inteendeel, dit is juis die bevryding daarvan wat vir ’n mens hoop gee.

[Kommentaar: Dus is die kerk slegs relevant as ’n liefdadigheidsorganisasie.]

Ek is baie dankbaar dat dit met my nie meer so is dat my gees (of siel, soos in godsdienstige taal) in my onrustig is, totdat dit in God rus vind nie, soos ons altyd die kerkvader Augustinus aangehaal het. Dit het ook waarskynlik met my persoonlikheid te doen, die feit dat ek nie juis’n groepsdier is wat na die een of ander sosiale ruimte verlang waar ’n mens saam met ander rondom ’n gemeenskaplike belangstelling of saak byeenkom nie. Ek is definitief nie anti-sosiaal nie. Ek hou van mense, van kuier en saam eet en reis. Saam motorfiets ry. Saam debatteer tot laat in die nag. Maar my identiteit word nie daardeur bepaal nie. Ek is wie en wat ek is en is daarmee geheel en al gemaklik. Ek het nie ’n geloofsgemeenskap of ’n spirituele kring nodig om myself te realiseer en te definieer nie.

Bladsy 194-195

…gedagtes daarmee ook tot niet. Enige sprake van ‘n voortsetting van hierdie gedagtes of siel of gees is vir sover dit die verskillende verwante en relevante wetenskaplike dissiplines betref, onsinnige spekulasie. Die waarheid hiervan kan nie deur enige metafisiese wese of kragte uitgedaag word nie, want dit (hierdie magte) bestaan nie.

Indien ’n mens van hierdie punt af terugkyk, dan besef jy die bevrydende aard daarvan. Daar is geen bedreiging van ’n lewe hierna met die moontlikheid van ewige straf teenoor (hopelik) ’n ewige lewe nie. Die doel van geloof in God het geen gronde meer nie. As daar nie ’n voortbestaan van lewe hierna is nie – en die betrokkenheid van ’n godheid by ons lewe hier en nou uitermate problematies is (soos alreeds aangedui in terme van die trilemma-argument van ’n liefdevolle, almagtige, alwetende wese) ~ is die nut van geloof in ’n godheid, ’n superieure wese, ’n energie of metafisiese figuur, sonder enige motivering.

Iewers het ek gelees: “It is only a fool who trips over something behind him”

RADIKAAL BEVRYDENDE HUMANITEIT

Uiteindelik gaan dit oor die ideaal van selfrealisering van elke mens, wie of wat hy/sy ook al is. Dit gaan oor menswaardigheid. Oor mensheid. Oor humaniteit. Daarom is dit ’n radikaal bevrydende humaniteit. Loomer gee hierbo vir ons ’n omvattende, ingrypende definisie hiervan. Indien dit die strewe sal wees van elke sosiale konstruk in alle gemeenskappe in die wereld, sou dit vir ons bestaan nuwe hoop beteken.

Dit mag dalk waar wees dat die meeste godsdienste die beste vir almal wat dit aanhang op die oog het. Maar godsdiens kan nie regtig aan hierdie ideaal voldoen nie, juis omdat daar ’n ewige eksklusiewe karakter in alle godsdienste is. Daar is altyd ’n in-groep en ‘n uit-groep. Behalwe die verskil in status en waarde van mense van verskillende geslagte wat heel dikwels ‘n belangrike deel uitmaak van godsdienstige standpunte en gebruike – gebaseer op die interpretasie van antieke heilige geskrifte en’’voorskrifte ~ is daar doodeenvoudig geen godsdienste wat so “oop” is vir ander oortuigings dat hulle bereid sal wees om hulle eie geloofsgoedere te laaat vaar ter wille van volledige inklusiwiteit nie. Dit bestaan gewoon net nie in die “psige” van godsdiens nie. Die aanspraak van ’n besondere (begunstigde) posisie van voorkeur by God is onverhandelbaar deel van godsdiens.

Ek het altyd geredeneer dat die gereformeerde verstaan van die Christelike boodskap waarskynlik die mees humanitére uitdrukking van enige godsdienstige dogma is. Juis die menswording (humanisering) van God in Jesus van Nasaret is ’n helder stem vir die waarde van menswees as sodanig. In die teologie word die begrip inkarnasie gebruik om hieroor te praat. Die feit dat God bereid was om sy goddelikheid prys te gee deur ’n mens te word – en nog meer as dit, deur Homself prys te gee ter wille van die sonde van mense ~ is ’n onomwonde “ja” vir menswees as sodanig. God is nie teen mense nie, maar vir hulle.

Romeine 5 is ‘n voorbeeld van hierdie positiewe siening van God oor die mensheid waar ons onder andere lees (vers 6-8):

Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. ’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien die moed hé om te sterwe, Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

En dan natuurlik die bekende gedeelte in Filippense 2:6-7 oor die menswording van God deur Jesus: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan hy hom moes vasklem nie, maar hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan die mense gelyk te word.”

‘Ten spyte van hierdie positiewe perspektiewe op menswees (humaniteit) wat ’n mens vanuit die Nuwe Testament kan aandui, is dit egter nog steeds ’n status van menswees wat toegeken word in verhouding tot ’n metafisiese wese (die goedkeuring en/of toeéiening van) — wat nie deel is van hierdie fisiese lewe of bestaan nie – en nie ’n humaniteit wat gesetel is in die mens as sodanig nie. Dus altyd as’t ware ’n onderhorige mensheid, afhanklik van die goeie guns van ’n eksterne gesag.

Volgens die gereformeerde beskouing is die mens dus in sigself nie (mens-)waardig nie, En dit is die sonde se skuld ~ waarin elke mens gebore is, Trouens, die begrip “die totale verdorwenheid van die mens” is die uitgangspunt van die Christelik-gereformeerde mensbeskouing. Ek haal die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis aan:

HEIDELBERGSE KATEGISMUS

Sondag 3

VRAAG 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?

Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b).

Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhé en sam met Hom in die ewige
saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c) (a) Gen 1:31 (b) Gen 1:26,27, (c) Ef 4:24; Kol 3:2; 2 Kor 3:18.

Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van die mens dan vandaan?

Bladsy 202-204

…dit roer my diep, ontstellend diep. Ek sien, hoor en beleef elke dag hoedat ‘n (gelowige) lewe uitgelewer aan die een of ander metafisiese mag mense nie regtig help nie – veral nie met die swaar, die lyding en die dood (van hulleself of hulle geliefdes) nie. Die enigste troos waaraan hulle vashou, is die geloof van hulle eie voortbestaan na die dood in die een of ander toestand (waarin hulle met hul ontslape geliefdes verenig sal wees), waarvoor daar absoluut geen bewyse is nie – behalwe wat in godsdienstige filosofie op grond van ou, antieke, premoderne “heilige” tekste (soos die Bybel) aan hulle belowe word. En die Bybel, so herinner Wilhelm Jordaan[108] ons, is “‘n versameling mensewoorde, geïnspireer deur gelowiges se verstaan van dit wat hulle ‘God’ noem”. Mens verbaas jou net daaroor, oor hierdie komplekse geloofstryd waarin mense, naby aan jou en ver weg, worstel in preke en Bybelstudies, in godsdienstige artikels in koerante en tydskrifte, in teologiese refleksies en in die afsondering van retraites waar hulle hulself bevind, terwyl jy diep dankbaar is daarvoor dat jy jou nie meer in daardie
onsekere denkpatrone verstrengel bevind nie.

[Kommentaar: Interessant dat Ben praat van “waarvoor daar absoluut geen bewyse is nie”. Sy hele geloofsfondasie is egter gebou op die idee dat die oerknal en evolusie vir ons alles kan verklaar wat ons vandag op aarde het, ten spyte van die feit dat daar absoluut geen bewys is daarvoor nie. Hoe ironies…]

[108] Wilhelm Jordaan: ‘Hoe oorleef die Christelike kerk in ons konrei?‘ Die Burger, p 10, 22 Mei 2019

Vroeér het ek geskryf oor die feit dat godsdiens die vermoé verloor het om werklik probleemoplossend te funksioneer (sien p. 171). Dis iets wat ons juis weer vandag sien in die hele wéreld se hantering van die Covid-19-pandemie ~ dat godsdiens as oplossende entiteit sy funksie totaal en al verloor het. Trouens, enige poging om God betrokke te maak, bring hom in die moeilikheid. Dit weerhou (versluier) mens om die realiteite van die lewe in oë te kyk en te hanteer. Dit is die wetenskap waarop almal dus nou formeel steun ~ selfs al weet hulle dat dit ook altyd sy beperkings het. Die een nuusberig na die ander stel dit duidelik dat feitlik alle lande hulle optrede nou laat bepaal, selfs op ’n daaglikse en uurlikse basis, op die inligting wat hulle van die multiwetenskaplike analises ontvang. Natuurlik is daar vele vrae – en so sal dit altyd wees – waarop daar nog nie antwoorde is nie. Ook die voorstelle en aanbevelings vanuit wetenskaplike konteks gaan weer onder die vergrootglas kom en tot nuwe resultate kom. Maar daarom word wetenskaplike navorsing teen ’n verhaasde tempo minuut na minuut ingespan (byvoorbeeld om ’n entstof te ontwikkel), om op ‘n holistiese manier te help met die neem van bepalende besluite oor die beste optredes wat die toekoms van die mensdom bepaal. Hiermee kan godsdiens ons op geen manier help nie. Nie dat daar nie talle pogings daartoe is nie, helaas het dit hoogstens betekenis vir diegene wat daarin glo. Dit wil sê, as dit nie tot uiting kom in nog ’n worstelgesprek met God en sy wil nie.

Weer dus die woorde van die dubbele Nobelpryswenner Marie Curie: “Nothing in life is to be feared, it is only to be understood. Now is the time to understand more, so that we may fear less.”

Die kennis van die waarheid oor jouself en die wéreld waarin jy lewe, woordeloos in verwondering gelaat word, wat vry maak.

Ek maak dus die keuse om myself nie verder te laat definieer deur die afwesigheid van ’n geloof in God of die afskeid van ‘n geloofsgemeenskap nie. Daarvoor is ek te bewus van die feit dat ek, soos alle mense, keuseloos deel is van die heelal wat altyd in ’n voortgaande proses is om te word. Kyk maar na die weerstelsels: Daar is geen begin of einde nie; die een ontwikkeling volg die ander een naatloos op sonder enige verposing ~ en eintlik, in der waarheid, is daar nie ’n onderskeiding van nag of dag nie, maar die immer omwentelende aardbol in ’n wentelbaan om die son, met ’n wentelende maan wat die son se lig altyd, asof vir “die eerste keer” waargeneem, weer reflekteer. Terwyl ons op ’n gegewe geografiese posisie deur die afwisseling van lig en donkerte ‘n patroonmatige geleentheid op geleentheid gegee word om te ervaar en te beleef, maar ook om te rus en tot slapende verhaal te kom, gaan die lewe en die gang van alles onafwendbaar oral voort.

Daar is dus nie ná (“beyond”) God niks oor nie. Vir die mens om te floreer (“human flourishing”, om Charles Taylor se konsep te kaap) is ’n herskepping van godsdiens nie nodig om die een of ander leemte te vul nie. Inteendeel. ’n Mens besef nou eers watter inhiberende mag godsdiens het — juis op “human flourishing” en die broodnodige fokus op die voortgaande bestaan van die aarde, op die ideaal van om te leef en te laat leef, om jouself te weerhou van skadelike optrede teenoor mense en ander diere. Die lewe is kosbaar en kortstondig en daarom is die sin daarvan juis daarin te vind om met oorgawe te leef.

En wanneer die oorweldiging deur hierdie waarheid vir ’n mens te veel is om te begryp, te omvattend is om volledig te integreer, selfs somtyds te vreemd is om te konseptualiseer, dan bly daar nog die wonderlike kreatiewe vermoé van die mens om kuns (in alle denkbare uitinge daarvan) te skep, waarmee hierdie werklikheid leefbaar geharnas word. Ek het voorheen verwys na die woorde van Nietzsche: “We have art so that we shall not perish by the truth.”

Inderdaad, die mens het hierdie wonderlike vermoé om te skep, om die realiteite wat elke dag ons deel is op bepaalde maniere te hanteer, óf deur wetenskaplike navorsing en die ontwikkeling van teorieé op alle denkbare terreine, óf deur die skepping van kuns deur te skilder, te modelleer, te formuleer met woord, spel en klank ~ noem maar op. En dit alles het sy oorsprong in die brein – in die brein van elke individu, sowel as in die kollektiewe “brein” van ’n gemeenskap. Daarom dat hierdie boek op die vraag na God (?) reageer met die woorde: Daar’s ’n ander antwoord: Dit is die mens wat skepper is, nie God nie.

Daar is vir my ’n diep romantiese assosiasie met ‘n plaashek en ’n tweespoorpad. As kinders op die platteland moes ons uitklim om die hekke oop te maak. Eers was jy te jonk daarvoor en het die ouer kinders, dit gedoen. Met sommige hekke moes die grootmense kom help, of die groter kinders. Maar as daardie knip losgemaak is en die hek word oopgestoot, maak dit die pad oop vorentoe.

Dit is hierdie beeld wat Uys Krige in gedagte het in sy treffende gedig “Plaashek”. Ek gee hierdie laaste vier reéls weer, waarmee ek dan ook nou wil afsluit – wat die emosie en die gevoel van bevryding in my onverbeterlik verwoord. Dit eindig so:

Die stilte in my’s volkome met
niks troebels, niks verward.
Ek lig die knip … Ek maak
’n hek oop in my hart.

Bladsy 205-210

Wanneer ek terugkyk op my lewe en spesifiek op die tydperk van sewe-en-dertig jaar in die bediening in die NG Kerk-familie (en as ek die jare van my aanvanklike teologiese studies inreken, is my betrokkenheid nou in 2020 presies een-en-vyftig jaar), dan besef ek dat die mees dominante saak wat in m brein geprogrammeer is, die sensitiwiteit is vir die menswaardigheid van alle mense.

Ek het daarmee grootgeword in die “sendingveld” (destyds Njassaland en Rhodesié), met my ouers wat na Midde-Afrika gegaan het as “gestuurdes” na die heidene, na diegene wat “sonder God en die Evangelie” verlore was en dus gered moes word.

Ek het daarmee grootgeword dat hierdie mense (die inheemse bevolking van Afrika) mense is net soos ons en daarom werd is om die “Goeie Nuus” te hoor, dat ons vir hulle lief moet wees en moet omgee oor die (onderontwikkelende) omstandighede waarin hulle leef. Dat ons dus deel moet wees van die roeping van die kerk om ook skole en hospitale te bou om die vooruitgang van die beskawing (Westerse prestasies van infrastruktuur en tegnologiese vooruitgang) met hulle te deel en hulle so in alle opsigte op te voed en te bemagtig om volwaardiger mense in hulle konteks te wees – as deel van die groter wéreld te midde van die historiese ontwikkeling van die tegnologiese era.

Ek het in my grootwordjare gehoor hoe my ouers onder mekaar praat dat hulle dit ál moeiliker vind om die lang vakansies in die suide (Suid-Afrika) tussen hulle familie en vriende deur te bring waar daar nie begrip was vir hulle opofferinge diep in Afrika ter wille van die mense daar nie. Ek het hulle gereeld hoor sé dat hulle meer tuis voel tussen die Achewa in Malawi en Zimbabwe as tussen hulle eie mense in Suid-Afrika. Selfs in Bulawayo, Zimbabwe, waarheen ons verhuis het ter wille van ‘n skool vir ons as kinders, en waar ons deel geword het van die wit gemeenskap van die NG Kerk, het ons in ’n groot mate as ’n eiland-gesin gelewe. Dit ten spyte van die feit dat my ma die Excelsior-kerkskool in Bulawayo, wat op die rand van sluiting gestaan het toe ons daar aankom, uit die grond opgebou het tot ’n betekenisvolle opvoedkundige instansie vir die Afrikaanssprekende wit kinders in die stad en land, en dit vir meer as ’n dekade volgehou het.

Onder goewerneurskap van Brittanje onthou ek goed die anomalie van “God save the Queen” (waarna ek nou nog met groot emosie luister) aan die een kant en die sterk assosiasie met die Afrikaner-lot in Zimbabwe waar Die Gelofte elke jaar met groot erns vir ’n hele naweek op verskeie Geloftefees-terreine buite stede en dorpe in (die destydse) Suid-Rhodesië met godsdiens- en kultuur-items gevier is – in verhouding veel ernstiger as in Suid-Afrika.

Ek het in my grootwordjare gehoor hoedat my ouers daarom nie sonder huiwering was om terug te kom Suid-Afrika toe nie; dat hulle geweet het dat hulle “anders” geword het deur hulle blootstelling aan “die sending veld” en hulle noue verbintenisse met die Achewa-mense. Toe my pa, na ’n aantal jare as predikant in die NG Sendingkerk in Wynberg (Kaapstad), die eerste beroep na ’n NG Kerk-gemeente (Strand) aanvaar, was die ervaring ook uitgedruk in die volgende terme: Dit is dikwels moeiliker om vir die wit “heidene’” te preek as vir die swart en bruin “heidene’, juis weens die groter ontvanklikheid van die Christelike boodskap van liefde en genade by laasgenoemde groep, terwyl daar by die bevoorregte wit mense groter weerstand was teen hierdie Evangelie van die liefde van God vir alle mense – veral as dit meer spesifiek binne die destyds heersende apartheids-ideologie tot die volle aanvaarding van die menswaardigheid van die bruin en swart bevolking van die land sou moes lei.[1]

[1]In ons tyd in die NG Sendingkerk van Wynberg was ons bevoorreg om deel te wees van ’n gemeente wat toe alreeds iets van die emansipasie van die nie-wit gemeenskap uit die greep van apartheid beleef het. Onder leiding van ds. Dawid Botha (skrywer van Die opkoms van die derde strand), die vorige predikant, is daar ‘n sterk bewussyn in hierdie gemeente gekweek van die begin van ’n kerklike stryd (“struggle”) teen die politieke beleid van apartheid – wat vir my as voorbereiding sou dien vir my eie ontwikkeling van ’n sin vir geregtigheid, ’n sensitiwiteit vir die lot van die onderdrukte – ’n beywering vir die erkenning van die menswaardigheid van alle mense ongeag ras of kultuur.

Vandag besef ’n mens natuurlik hoe paternalisties hierdie hele beweging van die kerk na “donker Afrika” was, alhoewel ek sou volhou daarmee dat, vir sover dit my ouers en baie van hulle tydgenote en kollegas aanbetref, daar werklik ’n oorheersende roepingsmotief was, met die beste bedoeling voor oë, om aan die mense van Afrika ’n nuwe waarde en groter menswaardige bestaan toe te voeg. Dit is vir ons in elk geval onmoontlik om die horlosie terug te draai en oor te begin daarmee. Mens wonder hoe dit anders gedoen sou kon word. Maar as die underdog (die eerwaarde; sendelinge was eers na die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk in 1962 op predikantstatus geregtig) het hulle gereis na die “underdog” (die minder bevoorregtes) en hulle met diegene vereenselwig en in ’n groot mate met hulle geidentifiseer — soveel so dat dit ’n groter afstand gestel het tussen hulle en hulle eie familie en vriende in Suid-Afrika.

My brein is dus ongetwyfeld geprogrammeer om aan die kant van die “underdog” (by gebrek aan ’n geskikte Afrikaanse woord) te wees. Met hierdie ingesteldheid het ek my teologiese studie begin – sterk bewus van die mag van die Broederbond binne die Afrikaanse gemeenskap, die oorheersing van die Nasionale Party en, in tandem daarmee, die NG Kerk – en my by verstek geskaar by die sending, aan die kant van die onderdruktes, magteloses, minder bevoorregtes, en later vanselfsprekend die vrou in haar onderhorige posisie in die kerk (die invloed van die patriargaal-gedomineerde gemeenskap) en nog later die lot van gays in die kerk en gemeenskap (weens die invloed van ’n tradisionele hetero-normatief-gedrewe wéreld).

Die rede vir my roeping in die kerk is dus logies aantoonbaar vanuit die manier waarop ek grootgeword het, asook waar ek grootgeword het. So is my brein geprogrammeer.

Daarom, toe ek my bediening in die kerk begin, was dit eintlik in ’n sekere sin ’n uitgemaakte saak dat ek my sou skaar aan die kant van die anti-apartheidsentimente en later die emansipasie van die vrou en nog later die erkenning van die menswaardigheid van alle mense ongeag hulle seksuele oriéntasie. En ook vanselfsprekend was die bepalende rol wat Bybel-interpretasie in hierdie sake speel uit die staanspoor ’n uitermate groot probleem — juis omdat enige kritiese bevraagtekening van die wyse waarop die kerk (en mense in die algemeen) tot hulle standpunte as Christene kom, met groot weerstand begroet word.

Soos aangetoon in hierdie publikasie, is my huidige post-teistiese posisie tot dusver hoofsaaklik gemotiveer vanuit die invloed van die verskillende dissiplines in die moderne wetenskap, maar veral bepalend vanuit die evolusie van die mens. Daarin kan aangetoon word hoedat godsdiens as ’n spesifieke kenmerk van die menslike spesie ontwikkel het. Godsdiens is jonger as die mens.[2] Die ontwikkeling daarvan is aan die een kant moontlik gemaak deur die mens se vermoé tot abstrakte denke vanuit ’n duidelike selfbewussyn, maar ook aan die ander kant as gevolg van die behoefte aan , psigiese sekuriteit te midde van die ontstellende uitdagings van die lewe a veral die onsekerheid met betrekking tot ’n lewe uitgelewer aan die wispelturige natuur van die onafwendbare dood. Dit is juis hierdie ontwikkeling van die menslike brein wat Homo sapiens die enigste spesie maak wat bewus is van die dood — wat lewe met die wete dat die dood op almal wag — en wat daarom sedert die vroegste bewussyn hiervan religieuse konsepte soos gode en engele en, duiwels en bonatuurlike magte ontwerp het, met die voortsetting van die lewe hierna as die eintlike (troosvolle) doel van alles. So het verskillende godsdienstige tradisies hulle beslag gekry.

[2] Ek is seker daarvan dat as ons net eenstemmigheid oor hierdie punt kon bereik, dan sou die hele saak oor die relevansie van die rol van die kerk in die gemeenskap in teorie daarmee afgehandel wees. Maar ek weet dit werk nie so nie. Mense sal hierdie woorde hoor, die onbetwisbare waarheid daarvan aanvaar (hulle kan eintlik nie anders sonder om irrasioneel en onlogies te wees nie), maar dan nog nie besef wat die konsekwensies daarvan is nie ~ of steeds wegskram daarvan om hulle denke oor God en die spirituele “wereld” te wysig.

Dit is egter dieselfde evolusieproses wat, midde-in die bevindinge van die moderne wetenskaplike dissiplines, die noodsaak of rede vir godsdiens geleidelik uitgefaseer het. Die werklikheid is dat geloof in God (vir my en diegene wat soos ons dink) geen nut meer het nie. Maar, ons (en ek ook vroeér) as godsdienstig-gekondisioneerde mense, sit nog steeds met die invloed van ons Godsgeloof diep in ons psige ingegraveer. Juis omdat dit so inherent deel was van ons psigiese sekuriteit.

Die vraag na die sin van ’n geloof in God was egter vir my nie net ’n wetenskap-ding nie, maar is ook aangebring deur die onvermoé van die kerk en teologie om sodanige geloof geloofbaar te maak — om’n probleem-oplossende rol te speel in die gang van die lewe. Dus was die bevraagtekening van God nie alleen die gevolg van die invloed van die ontwikkelende moderne wetenskap nie, maar was en is dit ook deur die kerk en geloofsgemeenskap se toedoen self aangebring.

Dit was veral rondom die sin-vraag te midde van al die ellende, lyding en rampe wat mense tref, waarin die wil van God in terme van sy almag, liefde en alwetendheid toenemend problematies geword het, dat die geloof in God uitgedaag is. En gedurende my lewe as deel van die geloofsgemeenskap was dit dan veral die temas van eenheid, geregtigheid en menswaardigheid wat prominent gefigureer het — veral as ’n uitdaging teen hierdie konseptualisering van ’n metafisiese wese wat oénskynlik oor alles beheer het, maar uiteindelik tog oneffektief blyk te wees om die lot van die mensdom beter te maak.

Dit is wel so dat ek as ’n post-teis die afgelope paar jaar my voete ál meer gevind het. Dit was ’n proses. Dit gebeur nie sommer oornag nie. ’n Mens ondergaan ’n paradigmaskuif, maar besef nie dadelik die omvattende gevolge daarvan nie. Dis asof ’n mens in jou nuutgevonde godvrye staat ’n nuwe woordeskat moet aanleer ~ ’n woordeskat wat algaande aangeleer word uit ’n groeiende besef dat daar nie meer ’n (metafisiese) adres bestaan waarop jy jou emosies van woede, teleurstelling, hartseer en vreugde, wanhoop en hoop oor die gebeure van die lewe kan rig nie. Dis in jouself ~ en saam met ander — waar jy die vrede en aanvaarding van die lewe en sy gang sal vind en dit in jou psige integreer.

Ek het baie en wyd gelees en geluister, dikwels my hand op papier gesit en my gedagtes probeer formuleer, en uiteindelik is die teks van hierdie manuskrip die resultaat daarvan. En vandag kan ek met groot eerlikheid en dankbaarheid sé dat ek totaal en al vrede in my gemoed het en met oorgawe myself kan wy aan die realisering van ’n radikaal bevrydende humaniteit.

Tog is daar ’n frase in Friedrich Nietzsche se nalatenskap wat my al die jare bybly ~ en waarin ek iets van myself kan terugvind. So het ek vroeér uit JJ Buskes se boek God en mens als concurrenten aangehaal: “Dat God dood is, is vir Nietzsche nie eenvoudig ’n nugtere konstatering van ’n feit nie. Ook is dit geen juigkreet oor die bevryding van God nie.” Dit vervul hom met “ontsetting” juis omdat hy weet watter stryd daar wag op die mens om sigself te verwesenlik.[3]

Daarom skryf hy verder vir sy vriend Overbeck: “Vir my bestaan my lewe op die oomblik in die hoop dat dit alles anders sal gaan as wat ek dink en dat iemand my daarvan sal oortuig dat my waarheid ongeloofwaardig is”[4]

[3] Buskes, p 53.
[4] Buskes, p 60.

Ek het al voorheen daarop gewys dat ’n mens dikwels in kerklike en teologiese kringe hoor hoedat hierdie woorde van Nietzsche misbruik word om te wil suggereer dat selfs hierdie man, wat verantwoordelike was vir die frase “die dood van God’, heimlik daarop gehoop het om wel eendag uit te vind dat dit (God se dood) nie so is nie. So word hierdie uiting van Nietzsche dan verkeerdelik daarvoor gebruik om ’n saak uit te maak vir die bestaan van God. Niks sou egter verder van die waarheid wees nie.

Maar ek dink tog ek verstaan iets van die emosie wat hierdie woorde van Nietzsche tot uitdrukking wil bring, wat ek ook vind in die woorde van Leonard Cohen in ten minste twee snitte op sy laaste album voor sy dood in 2016.

Die eerste sin van “Treaty” (“I’ve seen you change the water into wine”) ondersteun die interpretasie dat dit ’n gesprek met God is. Hierin verwoord hy die wens dat daar ’n (logiese) ooreenkoms, of kontrak, kon wees tussen hom en God oor hoe God se liefde werk, hoe dit verstaan kan word. Maar daar bestaan nie so ’n ooreenkoms nie en daarom sy ontnugtering met God. Hy kan nie meer voortgaan om met hierdie leuen te leef nie. Hy ontdek dat, terwyl hy gedink het dat hier ’n sinvolle verhouding kon wees, dit uiteindelik net hyself is wat ’n realiteit is (“Only one of us was real and that was me”).

Die ander snit op Cohen se album, wat hierby aansluit, neem hier, die breuk tussen hom en God verder – en is getiteld: “Leaving the table”. In hierdie lied is dit asof hy vir God wil sé: Ek hou jou vir niks verantwoordelik nie. Moet jou nie bekommer nie, daar sal geen klag kom nie, Jy hoef nie te gaan soek vir ’n regsverteenwoordiger nie. Ek is moeg. Ek vat eenvoudig my goed en loop. Ek is uit die spel.

Dis waar ek nou is. Nee, eintlik alreeds anderkant dit, want daar is nie meer ’n fiktiewe gesprek tussen my en ’n metafisiese entiteit nie, En tog ..,

So breek 2019 aan, die jaar waarin beide die sinodes van Wes-en-Suid-Kaapland en die Algemene Sinode hulle geskeduleerde vergaderings sou hou – en ek betrap my dat ek teen my beterwete daarop hoop dat hierdie vergaderings vir ons iets sal toon van ’n ware kentering sover dit die volle aanvaarding van die menswaardigheid van alle mense aanbetref, ongeag hulle seksuele oriéntasie. Ook, rondom die ander groot passie in my lewe, sedert die begin van my bediening in die kerk: dat die eenheid van die NG Kerk-familie daadwerklik ’n stap nader sal kom — asook die aanvaarding van die Belydenis van Belhar (waarop die vorige Kaapse Sinode vuriglik besluit het en daarvoor vir die Algemene Sinode in 2015 magtiging gevra het – en wat toe nogal toegestaan is). Oor die bestaan van God en die moontlikheid van ’n metafisiese ingryping (soos by die sinode), daaroor het ek egter nie meer gewonder nie. En die aansprake wat mense daarop maak dat God teenwoordig is, is so jammerlik ontdaan van enige gronde. Tog het ek teen alle hoop in met die verwagting geleef dat daar ’n gunstiger verwikkeling sou kom in die strewe na werklike eenheid en versoening in die NG Kerk-familie.

Op ’n manier sou dit ten minste tog steeds sin gee aan die bestaan van die kerk as ’n onontwykbare sosiale konstruk in ons samelewing. Maar toe dit nie gebeur nie (soos wat ek wel geantisipeer het), het dit my tog met diep teleurstelling geslaan.

Tydens die sitting van die Wes-en-Suid-Kaapse Sinode by Goudini in 2019 het die vergadering met ’n ellelange geformuleerde besluit oor dieselfdegeslagverhoudinge nie ’n enkele tree gevorder nie. Inteendeel. Dit is eintlik prinsipieel ’n swakker besluit as die 2015-besluit van die Algemene Sinode, toe daar ’n beginselbesluit geneem is dat alle mense ongeag hulle seksuele oriéntasie volledig lidmate van die NG Kerk kan wees. Die volle-

1 thought on God: Is daar ’n ander antwoord? (Ben du Toit)”

  1. Hmmm, die Requem kon dus nie deur Mozart gekomponeer wees nie…en toe seg Bach: dan is hier ’n lewende Mozart onder ons, vriende, want dis wat die slot van die Requem wat ons in ons hande hou, vereis. Mag die liefde die Liefde die liefde…dis nie Niks nie, nie nou weg nie, steeds ongeskei

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui