Mens ís geskape na die beeld van God

Die volgende artikel is in reaksie op Ben du Toit se artikel een week tevore Die mens: Antwoord en ook skepper.

***********

Mens ís geskape na die beeld van God | Netwerk24

Deur Arné Verster

22 November 2020

Hy laat sonde wel toe – slegs by Hom is die antwoord op jou pyn, skryf Arné Verster.

Die uittreksel uit Ben du Toit se nuwe boek Die mens: Antwoord en ook skepper in hierdie blaaie verlede week begin deur die bekende probleem van kwaad en lyding. Hoe kan Christene konsekwent bely dat God almagtig, alwetend en liefdevol is, terwyl ons leef in ’n gebroke wêreld van lyding en seer? Dit is ’n vraag wat ons diep kan tref, veral wanneer ons self sulke lyding en onreg moet verdra.

Die antwoord, skryf Du Toit, is nie meer te vind in die misterie van God se wil nie, maar om weg te beweeg van geloof in God en om eerder ’n soort eksistensialisme aan te gryp waar die mens sy eie lot bepaal in ’n realiteit waar daar geen “metafisiese mag of God as Skepper betrokke is nie”.

Die “antwoord” op die probleem van kwaad en lyding vir Du Toit is dus om die bestaan van die Skepper God te ontken. Sy antwoord aan die ma wat haar kind verloor het, of die vrou wie se man gesterf het op die slagveld, is eenvoudig: Wat met die mens op aarde gebeur is maar net, daar is nie reg of verkeerd nie, blinde onbeholpe onverskilligheid. Die sterkes oorleef en die swakkes sterf (dit is die wese van Darwinisme). Vir Du Toit is daar dus nie meer ’n probleem van kwaad en lyding nie. Sy antwoord is om die probleem weg te redeneer deur die mens se plek as skepsel te ontken.

Du Toit se nuwe anti-Christelike siening kry hom uit die probleem van kwaad en lyding, maar dit blyk asof hy heel gelukkig onbewus is van die drastiese gevolge van sy nuwe wêreldbeeld.

Hy bevind homself nou vasgestrengel in ’n egosentriese verknorsing. Al wat Du Toit het is sy subjektiewe menings gevorm deur ’n selferkende “onvoorspelbare” brein, met geen regverdiging vir hom om uitlatings te maak oor die objektiewe realiteit buite hom nie.

Dit het nie net gevolge vir moraliteit nie, maar ook vir alle ander kennis wat die mens kan (of dink hy kan) bekom.

Du Toit se wêreldbeeld is doodgebore wanneer dit ondersoek word op grond van sy eie stellings. Elke woord wat hy skryf is inkonsekwent met wat hy bely oor wie hy is.

Hy skryf nie met groot woorde, mooi vergelykings en metafore omdat hy ’n onvoorspelbare brein en toevallige produk van kans is nie.

Die vrees van die Here is die begin van kennis (volgens Spreuke 1:7). Deur die Skepper te ontken verloor Du Toit onder andere ’n standaard vir objektiewe moraliteit, ’n begronding vir die wette van logika wat noodsaaklik was om sy boek te skryf en ’n regverdiging vir uniformiteit in die natuur wat ’n kernaanname is in die ontwikkeling van die evolusionêre teorie wat die grondslag bied vir sy nuwe wêreldbeeld.

Die mens is nie die produk van ’n lang evolusionêre proses nie. Die mens is uniek geskape na die beeld van God. Die mens het waarde, daarom dui dit op ’n abnormaliteit as ’n mens ly, swaarkry of tot sterwe kom.

Die rede vir hierdie kwaad en lyding wat ons ervaar is sonde. Die antwoord is nie, soos Du Toit wil hê, dat die kwaad eintlik net normaal is nie. Sonde is wanneer mense probeer, soos Du Toit, ontken dat hulle skepsels is na die beeld van God en eerder probeer om hul eie god (of “skepper”, soos Du Toit dit stel) te wees.

Wanneer ons, as wedergebore Christene, as skepsels van die drie-enige God objektief enige kwaad kan aanspreek en veroordeel, want God self dien as die standaard vir wat reg en verkeerd is. Boonop verskaf die Here vir sy kinders ’n groot troos wanneer swaarkry hulle tref – dat alles ten goede sal meewerk vir dié wat hom liefhet (volgens Romeine 8). Dit beteken nie dat alles sal goed gaan (in die materiële sin) nie, maar dat die Here omstandighede gebruik om mense te vorm om al hoe meer te word soos Christus – en dit is wat elke Christen begeer.

Maar nou, as God almagtig, alwetend en liefdevol is, hoekom laat hy die swaarkry toe? En is God verantwoordelik vir die sonde van mense?

Dit is die vraag waarvoor Du Toit nooit ’n antwoord kon kry nie. Die Gereformeerde tradisie se antwoord is: God is die soewereine Koning van Konings en niks kan gebeur as die Here dit nie so bepaal het nie. Die Bybel leer ons baie duidelik dat die Here sondige dade van mense bestuur en dat Hy dit so bestuur tot ’n goeie doel (volgens Genesis 50:20). Dit is nie toevallig dat Josef as slaaf verkoop is Egipte toe nie. Eerder, die Here het die sondige begeertes van sy broers (wat hom aanvanklik wou doodmaak) beperk dat hulle hom slegs verkoop het en sodoende kon die Here deur die sonde van Josef se broers ’n goeie werk na vore bring. Die Here is die enigste een wat die sonde kan toelaat, en dit so kan doen vir ’n goeie doel.

Laastens: Die mens se verstand is nie onvoorspelbaar en die produk van toeval nie. Dit is ontwerp deur die Skepper om die Skepper te openbaar, en om die natuur om ons te ondersoek in ’n geordende manier. Dus in kontras met Du Toit sê die Christen, “Ek is geskape na die beeld van God en het ontsaglike waarde” en “Kennis van God en wat Hy gedoen het vir my as sondaar is die bron van geluk en vrede”.

Mense wat kla dat die Here sonde en lyding toelaat, vergeet al te vinnig dat hulle deel is van die probleem wat hulle voor die Here se deur lê. Oppas waarvoor jy vra en klou eerder aan die voete van Jesus wat die verdiende straf vir jou goddeloosheid en sonde gedra het. By Hom is die antwoord op jou pyn, en daar kan jy rus vind, want Hy het reeds betaal.

Moenie vra dat die Here regverdigheid sal laat geskied nie, maar smeek eerder om genade.

  • Arné Verster is stigter en lid van Apologetics Central.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui