NGK verras met voorstel oor gay-huwelike

Die volgende artikel het in Volksblad verskyn (skakel).

****************

NGK verras met voorstel oor gay-huwelike

2006-10-18

Anesca Smith

KAAPSTAD. – Die NG Kerk het gister verras toe hy die parlement aangeraai het om bloot die Huwelikswet te wysig en gay-verbintenisse dieselfde erkenning te gee as dié tussen ’n man en vrou.

Die meeste kerk- en godsdienstige groepe het tot dusver vurig vertoë gerig om die tradisionele definisie van die huwelik te behou.

Daarom was hulle gekant teen die Wetsontwerp op Siviele Verbintenisse wat daarop gemik is om gay huwelike dieselfde regskrag te gee as heteroseksuele huwelike. Die wetsontwerp spruit uit ’n opdrag deur die grondwethof verlede jaar toe die parlement tot 1 Desember gegun is om ook vir mense van dieselfde geslag voorsiening te maak.

Gay-regtegroepe het egter tot dusver net só driftig die wetsontwerp teengestaan – maar omdat hulle beswaard is dat die parlement in ’n aparte stuk wetgewing, en nié in die Huwelikswet, vir hulle wil voorsiening maak nie. Die portefeuljekomitee oor binnelandse sake het gister die laaste voorleggings in die parlement aangehoor oor die omstrede wetsontwerp.

Die NG Kerk se geskrewe standpunt het deel hiervan gevorm. Dit is deur die algemene sinode van die NG Kerk se parlementêre verteenwoordiger, dr. Ben du Toit, onderteken.

“Ons meen daar moet een wet vir almal wees. Dit is die enigste manier om waarlik die gelykheid van mense te erken.

“Aangesien daar te min tyd is om aan die eise van die hof te voldoen, stel ons voor dat die hof se voorstel aanvaar word deur die Huwelikswet sodanig te wysig dat verhoudings tussen mense van dieselfde geslag dieselfde status en regte kan geniet.”

Dít, het die kerk egter gemaan, behoort slegs as ’n tussentydse reëling beskou te word – dus van ’n tydelike aard.

“Ons verkies dus ’n omvattende wet wat al die moontlike huweliks- en verbintenis-kategorieë insluit en gelyke status gee. Dít sal nie net Christen-huwelike erkenning gee nie, maar ook soortgelyke verbintenisse in ander godsdienste en kulture soos Jode, Moslems, Hindoes, gays en tradisionle Afrika-verbintenisse. “Ons het ’n geskiedenis van diskriminasie teen mense op grond van verskille waaroor hulle geen beheer het nie.”

Intussen het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, wat hom gedistansieer het van die NG Kerk se standpunt, ook gister formeel ’n mondelingse voorlegging aan die komitee gemaak.

Prof. Koos Vorster van die teologiese skool in Potchefstroom en ds. Rodney van Wyk van Grassy Park het kwessies wat deur die Menseregtekommissie uitgewys is, aangepak.

“Volgens die Skrif is homoseksuele gedrag teen die skeppingsorde en weens dié feit kan die Christelike etiek nie enige legitimiteit verleen aan ’n homoseksuele verhouding nie.

“Volgens die gedragswetenskappe is die homoseksuele oriëntering van kern of egte homoseksueles nie veranderbaar nie. Hierdie oriëntasie is geleë in ’n bepaalde verlies in die ontwikkelingsfases gedurende die kinderjare.”

Vorster het gesê wetgewing, ook die Grondwet, is nie neutraal nie, maar het gegroei uit ’n bepaalde waardestelsel.

“Die wetsontwerp beredeneer die saak van wetlike homoseksuele verbintenisse uit ’n Europese sekulêre humanistiese lewens- en wêreldbeskouing. Daarom is daar so baie verset daarteen; ook by ander godsdiensgemeenskappe in Suid-Afrika. “Regte is nooit absoluut nie. Regte kan en moet in belang van gemeenskappe soms beperk word.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui