Bekering: het die kerk die ware oortuiging van sondes afgewater?

Kyk ook:

Bekering: het die kerk die ware oortuiging van sondes afgewater?

Deur Philip Coetzee

1 Desember 2020

Die versoek of oproep om te bekeer kom meer as honderd maal in die Bybel voor. Grudem (2000:717) Systematic Theology, beskryf bekering en geloof as onafskeidbaar van mekaar en baan die weg om ‘n wedergebore Christen te word, daarom is dit ‘n hartsverhouding wat regdeur ons Christenbestaan moet seevier. Met ander woorde, bekering is ‘n handeling waarby jy God en Jesus oor en oor op ‘n daaglikse basis aanvaar en bely as jou Saligmaker en Verlosser, asook ‘n bekentenis van ons swakheid en sondige natuur, dus is bekering ‘n belangrike eienskap van Christenskap (Jes 55:6-7; 2Kor 7:9-10). Daarom is dit noodsaaklik om ons sondes te kan erken en te bely op ‘n daaglikse basis want ons oortree gereeld, maar Hy is getrou en regverdig en wil ons sondes vir ons vergewe (1Joh 1:8-10). Grudem gaan voort om te noem dat baie leraars en kerkleierskap hulle skuldig maak daaraan om net op geloof en liefde te fokus, dit is hoekom hulle nie die nodige resultate behaal nie, want hulle preek net ‘n halwe evangelie en sodoende vind misleiding plaas. C.H. Spurgeon, die kragtige Engelse prediker, het die volgende oor die noodsaaklikheid van bekering gesê:

“Ek vertrou dat berouvolle bekering steeds bestaan, hoewel ek nie baie daarvan gehoor het die afgelope tyd nie. Mense lyk of hulle baie vinnig in geloof inspring…Ek hoop my ou vriend bekering is nie dood nie. Ek is desperaat verlief op bekering; dit blyk die tweelingsuster van geloof te wees.”

Het ons kerk verval in ‘n verkondiger van “’n maklike geloof” waar predeking slegs oor maai en geen omploeg gaan, waar “maai” slegs die oppervlakte aanspreek van die daaglikse noodsaaklikhede van lidmate, en waar leraars eerder die term van “glo net” en “God se liefde en genade” Sondag na Sondag verkondig? Dan word daar van “omploeg” vergeet, dit is die belangrikste faktor wat kan verseker dat daar diepe bewusmaking van ‘n geestelike siektestoestand kan plaas vind (sondebesef), asook hoe om genesing te bewerkstellig (bekering). Daarom sal “omploeg” nie net die siekte van sonde aanspreek nie, maar sal delf tot by die oorsaak daarvan. Ons sê maklik ons is Christene, maar weerspieël ons woordverkondiging of ons leefwyse dit? Kyk hoe verduidelik Wilkerson (2020), in ‘n artikel Wat Het Geword Van Bekering, aan ons die omvang van sonde in ons daaglikse wese, en die “behandeling” wat huidiglik daarvoor aangebied word:

Baie van die prediking wat ons vandag hoor, fokus op die geneesmiddel, terwyl die siekte geïgnoreer word. Dit bied ‘n voorskrif aan sonder om die operasie te doen! Dit is jammer dat ons veroorsaak dat mense dink hulle is van sonde genees, terwyl hulle nooit geweet het hulle was siek nie. Ons plaas klere van geregtigheid op hulle, terwyl hulle nooit geweet het hulle was naak nie. Ons moedig hulle aan om op Christus te vertrou, terwyl hulle nie hul behoefte om te vertrou, ken nie. Sulke mense dink op die ou end, “Dit kan nie skade doen om Jesus by my lewe te voeg nie.”

Net soos Paulus besef het dat daar ‘n nodigheid bestaan om bekering aan die gelowiges in Korinthe te verkondig (2 Kor 7:10). Hy het besef dat sonde altyd teenwoordig sal wees omdat ons nie Satan en sy wellustige orïentasie vir die mens kan weg wens nie, dus moet ons ‘n gees van droefheid kweek wat sal lei tot ‘n onberoulike bekering wat tot redding sal lei. Ons moet tereg vra of ons nog die regte boodskap uit die mond van die herders hoor: “laat goddelike droefheid ‘n bewys wees van jou ware bekering”, of word daar verkeerdelik geleer dat God net verwag dat ons in Jesus moet glo by wyse van geloof en liefde? Met ander woorde, het sondebesef nou so afgewater geraak omdat ons ‘n humanistiese en liberale pad wil stap om eerder die belang van die mens te wil bevorder, verlossing sonder bekering? Of het liefde en genade sy begrip verloor om plek te maak vir ‘n dekmantel waar onder valse ideologie (die eie ek en my begrip) bevorder kan word? Van Wijk (2014:321; Uit die Beek) beskryf Jeremia 23:22 se begrip vir die kontemporêre gehoor, as een van “dat die gemeente nie trooswoorde nodig het terwyl sommige nog is sonde lewe nie”, maar dat die doel van ‘n preek of uitspraak van kerkleierskap juis moet wees om lewens te verander (bekeer). “Dit baat dus nie om te preek oor geestelike groei wanneer die gehoor nog nie eens weergebore is nie”. Wilkerson (2020) beskryf die voorafgaande so:

Sulke mense beleef nooit ‘n diep werk van die Heilige Gees nie. Die gevolg is, dat hulle hul nooit bekeer nie, nooit berou het oor hulle sonde nie – en nooit waarlik glo nie. Dit is tragies dat ons hulle iets aangebied het, wat Jesus self nooit aangebied het nie – verlossing sonder bekering!

Ek glo die kerk het die gevoel uit oortuiging van sonde uitgehaal. Dink daaraan – deesdae sien jy skaars trane op die wange van diegene wat gered word. Natuurlik weet ek dat trane niemand red nie. Maar God het ons almal menslik gemaak met ware gevoelens. En enige sondaar wat op pad is hel toe en deur die Heilige Gees aangeraak word, voel natuurlik ‘n diepgaande berou oor die maniere waarop hy die Here bedroef het.

Die apostel Petrus het hierdie soort goddelike droefheid gevoel toe hy ontken het dat hy Jesus ken. Skielik was hy oorval met die herinnering van wat Jesus vir hom gesê het: “En Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars” (Markus 14:7).

Toe Petrus hierdie woorde onthou het, was hy oorweldig deur emosie. En skielik het hy deur Jerusalem gehardloop en geween, “Ek het die Here verloën!” Geliefde, ons kan eenvoudig nie daardie soort berou in ons eie vlees opwek nie. Net die Heilige Gees kan aan ons openbaar hoe ons, soos Petrus, ons liefdevolle Verlosser gewond het. En daardie openbaring behoort ons te vul met diep berou!

Bekering kan nooit ‘n eenmalige aksie wees nie want God verwag van ons om dit ‘n prominente integrale deel van ons lewensstyl te maak, in ons tyd van beproewing sowel as in ‘n tyd van vreugde. ‘n Kerk van God sal God se Gees toelaat om leiding te neem, deur monde van leraars en kerkleierskap, om God se wet en wil op toepaslike wyse aan die gemeente te bring. “As Jesus sy mense sien verval in ‘n maklike geloof, sal Hy weer die roede van die wet op hulle neerbring, met alle barmhartigheid en genade” (Wilkerson 2020).

Openbaring 2:4-5 is ‘n groot toets vir leraars en kerkleierskap want hulle staan aan die stuur van die geestelike groei, aldan nie, van ‘n gemeente. In wese stel Jesus dat hul vuur (eerste liefde) aan die doodgaan is, dat hulle toelaat dat wêreldse (Humanisme en Liberalisme) tendense en druk hulle, en die gemeente, se geloof in die Skrif verswak, sodoende verval lidmate in eenuur (Sondag) luisteraars of aanhangers en nie volgelinge nie! Dit kan katastrofiese gevolge vir die kerk inhou want Jesus sê uitdruklik dat Hy hom van die kerk sal los maak (kandelare van sy plek verwyder v. 5). In wese sê Jesus vir ons dat Hy ons geestelike gesag sal staak indien daar nie bekering plaasvind nie, met ander woorde, die woord wat die leraars verkondig sal nie Sy seën dra nie, en die welstand van die kerk (groei ens.) sal ‘n kwynende blom in die woestyn-son wees. Wilkerson (2020) gee vir ons ‘n duidelike beskrywing:

Tans is kerke regoor die wêreld besig om hulle deure te sluit. Hulle ligte is letterlik besig om uit te gaan – weens die oordeel wat hulle oor hulleself gebring het, omdat hulle weier om hul te bekeer! God het gesê hulle sou hul geestelike onderskeiding, hul geestelike seëninge, hul finansies en sy teenwoordigheid verloor. Nou is hulle dood, leweloos, met net herinneringe aan sy vorige seëninge.

Berou oor sonde is ‘n ewigdurende reën, ‘n sagte, soet neerslag, wat vir ‘n waarlik geredde mens die res van sy lewe duur…Hy het altyd berou dat hy gesondig het…Hy sal nooit ophou treur totdat alle sonde verdwyn het nie.

Dierbare heilige, Jesus is daardie boom! Hy sê vir ons, “As jy jou bekeer, sal Ek vir jou voortdurend lewe uit my wese gee. En so lank as wat jy aanhou om My lief te hê, sal Ek ‘n vloei van bonatuurlike lewe in jou gee. Hierdie lewe sal geopenbaar word in jou onderskeiding, jou liefde vir mense en jou goeie werke vir my koninkryk!” Dit is die eienskap wat elke Christen, wat waarlik lief is vir Jesus, onderskei. So ‘n gelowige is vol lewe – en almal rondom hom weet dit!

Jim Daly haal Galasiërs 1:10 aan in sy boek Aanhanger of Volgeling (2016:123). Hy beklemtoon dat gelowiges se doel is nie om gevegte te wen nie want ons motiewe mag nooit magsbeheptheid wees nie, maar om eerder God se wil en heerlikheid te weerspieël. Lui dit nie ‘n klokkie nie, hoeveel keer kom ons agter, of hoor ons van leraars of kerkleierskap wat hul gesag en wil op ander wil afdwing om hul eie agendas te bevorder? Hoeveel maal hoor ons van leraars of kerkleierskap wat slegs genade en liefde verkondig omdat hulle in ander se goeie boekies wil kom, ‘n “lekker sag op die oor preek, of ‘n gemaklike teologiese ideologie” (afgewaterde)? Deur sulke gedrag en teologiese wanvoorstelling kry ons dikwils te doen met Christene wat nie tot bekering kom nie, dus keer op keer terugval op hul verkeerde weë. Met ander woorde, hulle kweek nie ‘n gees van sondebesef en bekering nie, dit is vir hulle ‘n bysaak en is onder aan die prioriteitslys vir ‘n Ewige Lewe saam met Christus. Die Dominee en kerkleierskap sê mos, slegs deur liefde en genade sal ons gered word! Hoekom moet ek dan nog kerk toe gaan, hoekom moet ek dan nog in die Skrif glo soos hy geskryf is, ander doen dit nie, selfs sommige leraars, kerkleierskap en professors doen dit nie? (Op 3:1-3).

Tenslotte, hoe moet ons Johannes se boodskap in Mattheus 3:2-8 in ons eie konteks verstaan? Die Messias gaan binnekort in ons midde verskyn – so, julle beter gereed maak om Hom te ontmoet (v.2). Dit kan vir ons betekenis gee met die oog op die wederkoms, en daarom vermaan hy ons dat ons mag moontlik opgewonde voel dat Hy kom, maar dat ons harte nie noodwendig gereed is nie, omdat baie van ons steeds aan ons sondes vashou.

Van buite lyk ons rein en heilig, maar van binne is ons vol doodsbeendere, daarom kan ons terreg vra: is ons nie miskien ‘n geslag in wording met absoluut geen vrees vir God nie omdat ons selfs geen ware sondebesef het nie? Daarom waarsku Johannes ook vir ons dat ons met ons sonde moet afreken (bekeer) voordat ons met sekerheid kan glo in die Verlosser en Hom volg. Met ander woorde, bekeer en draai weg van julle sonde – en lewe op ‘n manier wat ware bekering en berou weerspieël. (Matt 3:7-8). Hoekom is dit vir so baie leraars moeilik om soos ‘n Johannes op te tree? Hoekom is dit moeilik vir sommige kerkraadslede en leraars om openlik op te staan vir wat hulle in glo, om die verkeerde te identifiseer of vir hul mede broers en susters op te staan in die stryd teen onreg of verkeerde lering. Dit moet juis die vrug wees wat by ‘n bekeerde pas! (Matt 3:8, Lk 17:3). Amen.

Philip Coetzee (Dip. Bib. Eksegese; BTh Hon.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui