Geloof deel van my menswees

Vir die soveelste keer reageer iemand op Ben du Toit se boek, God: Is daar ‘n ander antwoord?, waarin hy onthul dat hy ’n postteïs (vir alle praktiese doeleindes is dit dieselfde as ateïsme) is wat nie meer glo aan die metafisies nie.

*********

Geloof deel van my menswees | Netwerk24

Deur Anton van Niekerk

16 Februarie 2021

Dr. Ben du Toit, ’n vriend van my vir wie ek hoë agting het, het ’n boek geskryf (God – is daar ’n ander antwoord?) waarin hy klaarspeel met God.

Wat oorbly, is ’n mens met ’n brein, iemand wat self al sy vrae beantwoord, iemand wat sy bevryding van God beleef as die oopsluit van ’n plaashek en die betreding van ’n gans nuwe, bevryde wêreld.

Die boek het ’n lewendige debat ontlok. Daar is meer mense met vrae oor God, veral in hierdie tyd, as wat ons dink.

Ek is nog nie by die punt waar ek van God afskeid kan of wil neem nie.

Die rede daarvoor is nie omdat die kerk ’n houvas op my het, of omdat ek alles wat in die Bybel staan letterlik glo, of omdat ek brandversekering vir die ewigheid wil uitneem nie. (Trouens, ek wonder soms sterk oor daardie beweerde “ewigheid”).

Die rede is eerder die feit dat my geloof ’n integrerende deel van my menswees is.

Niemand het groter agting vir die wetenskap en die kennis wat dit opgelewer het en steeds oplewer, as ek nie.

Waarvan ek egter nog nooit oortuig kon word nie, is die idee dat ál wat ons kan weet, in die wetenskap opgesluit lê.

Die wetenskap het die wêreld vir ons op ’n onvergelyklike manier toeganklik en beskikbaar gemaak. Sy jongste kordaatstuk is Covid-19-entstowwe wat binne ’n jaar ontwikkel is en wat eersdaags goed sal werk.

Al vermag die wetenskap en die kennis wat dit oplewer meer as wat ons voorgeslagte ooit sou kon droom, het die wetenskap nie ’n monopolie op betroubare kennis nie.

Alles wat oor elkeen van ons te sê is, is nie uitgeput deur die spektrum van dissiplines aan die universiteit nie – gedug en omvangryk soos daardie spektrum ook al is.

Want die mens is veel meer as bloot verbruikers van feitelike inligting en materiële voorsiening.

Die mens is ook ’n soeker na sin.

As sodanig vra baie van ons na meer as waarop die wetenskap antwoorde kan bied. Ons vra vrae soos waar ons vandaan kom, hoekom ons hier is, wat ons bestemming is – wat die sin van alles is.

Dis die vrae van die geloof – van daardie oriëntasie in die wêreld wat nie kan of sal rus alvorens dit rus vind in iets of iemand wat die sinvraag sal oopbreek en die betekenis van die geheel, nie slegs die dele nie, sal peil.

In die wetenskap, is ons strewe na objektiewe kennis.

In die geloof is ons strewe na eksistensiële kennis – kennis van wie onsself ten diepste is, bo en behalwe die lesse van anatomie, psigologie of sosiologie.

Eksistensiële kennis is kennis van die hart.

Toe Galileo in die 1630’s gevra is om sy teorie dat die aarde om die son draai, eerder as andersom, terug te trek, het hy dit teruggetrek, want “of ek nou so sê of nie” (het hy agter sy baard gemompel), “maak geen verskil aan wat die geval is nie”.

Toe Luther egter eweneens gevra is om sy belydenis dat die regverdige alleen deur die geloof lewe, terug te trek, het hy geweier.

Hoekom?

Want as hy daardie belydenis ontken het, het hy opgehou om Martin Luther te wees. Sy eksistensie was met daardie belydenis op die spel.

Laasgenoemde is ’n deurslaggewende rede waarom ’n klompie bittereinders soos ek self vashou aan die geloof, al vind vele ongelowiges ons verouderd en potsierlik.

Ons stap nie net deur ’n plaashek nie. Ons probeer ’n kruis volg, en ons verwonder ons oor die sin van ’n leë graf.

Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui