‘Ek is opnuut geïnspireer om te getuig’

**********

‘Ek is opnuut geïnspireer om te getuig’ | Kerkbode

Lettie Büchner

25 Januarie 2021

Die lees van haar eerste boek van 2021 is aangehits deur al die mediadekking wat dit gekry het, skryf LETTIE BÜCHNER.

Ek vermoed mense se ontsteltenis oor die boek het dalk te make met die feit dat iemand wat sy hele lewe gewy het as ’n verteenwoordiger/medewerker van ’n opperwese nou, na aftrede, ’n boek skryf wat op die eerste oogopslag wil lyk (die media adverteer dit in elk geval so) asof dit weereens die NG Kerk en haar leierskap wil diskrediteer.

Ek moet sê ek beleef die boek glad nie so nie. Ek lees dit as ’n persoonlike vertelling van iemand wie se lewe en navorsing hom op ’n plek gebring het waar hy kies om sonder God te leef. Ek lees en ervaar hierdie ook nie as ’n bekeringsdokument ten gunste van post-teïsme nie. Ek hoop gelowiges gun Ben du Toit sy opinie en is groot genoeg om hulle eie geloof te bekyk vir wat dit is.

Ek lees hierdie boek en dit bring my tot ’n punt van diepe dankbaarheid dat ek nie alleen vir my eie geluk verantwoordelik staan nie. Ek identifiseer 100% met punt 7 oor hoekom mense nie van godsdiens afstand doen nie (uit vrees om self verantwoordelikheid te neem vir jou lewe en keuse). Die lewe bly vol keuses … Ek kies om watter redes ook al om in afhanklikheid te leef en ek gun mense wat die moed het om Godvry te leef ook hulle keuse. Ek dink persoonlik dit vra meer geloof om in jouself te glo as in God. Een ding weet ek ook en dit is dat ek God nie dien vir ’n kaartjie na die hemel nie – inteendeel, dit is vir die hier en vir die nou wat Hy vir my sin maak.

Ek wens wel ek het die kennis en vermoë gehad om vir elke argument teen God ook ’n boek aan te beveel wat die teendeel beskryf. Dit is mos darem nou nie die eerste keer dat die trilemma as die hoofdilemma rondom God aangevoer word nie. Die gesprek is so oud soos die berge … vir sommige voer dit weg van God af, vir ander laat dit gryp na God. ’n Gewone boek wat my hiermee gehelp het was Tim Keller se Walking with God through suffering and pain. Net so met al die wetenskaplike bevindinge is daar honderde wetenskaplikes wat nie noodwendig by die punt uitkom waar hulle die baba met die badwater wil uitgooi nie. Hulle bevindinge bring hulle juis by ’n plek van dieper verwondering. Ek dink dit hang maar net af wat jy kies om te lees.

En ek dink verantwoordelike gelowiges moet moeite doen om hulle juis bloot te stel aan opinies wat teenoor hulle eie staan. En niemand hoef tog so gou ontsteld te raak as mense van hulle verskil nie. Daar is net soveel begaafde, intelligente mense wie se lewensverhale getuig van die shalom wat hulle gevind het toe hulle Christus leer ken het. Ek dink sommer aan CS Lewis se lewensverhaal.

Wat ek hoop is dat wanneer mense dié boek lees hulle opnuut sal weet dat God nie van ons vra om Hom te verdedig nie. Soos Ben self sê is ‘kindness’ en ‘decency’ die minste (of meeste) wat ons kan doen. Ek is opnuut geïnspireer ‘to be a witness and not a judge’. Ek besef opnuut hoe broos ego’s is en hoe graag alle mense gehoor wil word.

Ek is opnuut naïef dankbaar dat God my sien en dat dit my bevry.

  • Ds Lettie Büchner is predikant van die NG gemeente Wellington.

1 thought on “‘Ek is opnuut geïnspireer om te getuig’”

  1. Ek lees seker nie dieselfde rubrieke as Lettie nie, want ek het nog nie die “ontstelde mense” teëgekom waarvan sy praat nie. Die meeste mense wat ek ken is nie eens verbaas dat Ben du Toit uiteindelik besef en erken het dat hy God nie ken of erken nie en gun hom sy eie, foutiewe mening.
    As sy my as ontsteld wil beskryf, dan sal ek toegee dat ek altyd ontsteld voel wanneer iemand ander mense mislei om God te verloor. Ek is ontsteld dat die misleier God en ewigheid misloop en sal moet pa staan vir diegene wat hy saamgesleep het.
    Elke siel wat die ewige verdoemenis tegemoet hardloop is hartseer, as het hulle al die geleentheid en kennis gehad om die waarheid te omhels. Ek dink nie dat dit “kindness” en “decency” is om gelate te wees oor verlore mense nie.
    PSALMS 53:2

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui