Kan ons beweerde Christen gays veroordeel?

Kyk ook:

Opsomming

Sommige mense vra dat die kerk oopgestel moet word vir mense wat hulleself Christene noem en homoseksualiteit beoefen en dat die kerk se seën op homoseksuele huwelike sal wees en dit selfs sal voltrek.

Die Bybel is egter baie duidelik daaroor dat homoseks sonde is. Die vraag is of ons mense wat beweer dat hulle Christene is en in homoseksuele verhoudinge is kan oordeel? Moet hulle as predikante of kerkleiers toegelaat word? Het ons almal nie maar sonde nie?

Omdat die Bybel baie duidelik daaroor is dat homoseksuele verhoudinge sonde is moet mense in homoseksuele verhoudinge op dieselfde manier hanteer word as mense wat verslawings het soos pornografie, drank en dwelms of mense wat in saamwoonverhoudinge staan of prostitute (egbrekers), diewe en moordenaars.

Volgens Matteus 18:15-17 en 1 Korintiërs 5:11-13 en Hebreërs 10:26-31 kan ’n persoon nie met hierdie tipe sonde volhard en beweer dat hy/sy gelyktydig ook ’n Christen is nie. Hiervolgens moet ons mense in die gemeente sag dog ferm oordeel en wanneer die persoon nie tot inkeer wil kom nie, moet so ’n persoon “as ’n heiden en tollenaar behandel word”.

*********

Hierdie artikel is nie op die ongelowige homoseksuele persoon gerig nie. Ongelowiges moet anders benader word. Rosaria Butterfield stel dit baie goed in haar boek The Secret Thoughts of an Unlikely Convert:

There is a core difference between sharing the gospel with the lost and imposing a specific moral standard on the unconverted.

Hierdie artikel is gerig op Christene wat nie seker is wat hulle opinie oor homoseksualiteit is nie en ook aan mense in homoseksuele verhoudinge wat hulleself as Christene sien.

Definisies

Eers ’n paar definisies:

  • Homoseksualiteit: Die naam vir die onderwerp. Kan ook “selfde-geslag-aangetrokkenheid” of SGA genoem word.
  • Homoseksuele/gay persoon/oriëntering: Mense wat aangetrokke voel tot mense van dieselfde geslag.
  • Homoseks: Die beoefening van homoseksualiteit.
  • SGV: Selfdegeslagverhoudinge is homoseksuele mense wat in ’n verhouding staan en vanselfsprekend homoseks beoefen.

Volgens die Bybel is homoseks sonde. ’n Homoseksuele persoon of iemand met ’n homoseksuele oriëntering is nie opsig self sondig nie. Dit word eers sonde wanneer so ’n persoon sy homoseksualiteit beoefen.

Inleiding

Op 26 Junie 2015 het Amerika se hooggeregshof besluit om homoseksuele huwelike regoor Amerika te wettig.

In Doop van 2 vroue se kind help genees word vertel hoe twee lesbiese vroue se kind in Weltevredenpark gedoop is.

Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk en ook verbonde by Weltevredenpark het op 1 Julie 2015 in Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’ die volgende gesê:

Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die kerk voltrek word.
Hy hoop die besluit oor gay predikante sal in Oktober op die algemene sinode opgehef word en dat hulle ook sal kan trou.
“My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) genormaliseer sal word (binne die kerk),” het Niemandt gesê.

Hoe moet Christene hierop reageer? Hoe moet Christene optree teenoor mense wat hulleself Christene noem, maar homoseksualiteit beoefen?

Is homoseks sonde?

Die heel eerste en belangrikste vraag wat Christene moet vra is wat die Bybel oor homoseksualiteit sê. As homoseks nie sonde is nie, dan is Nelus baie korrek – dan moes ons homoseksuele mense wat in ’n homoseksuele verhouding staan lankal as gelykes beskou het.

Daar is egter nie baie kwessies oor die feit dat homoseks sonde is nie – die Bybel sien homoseksualiteit as ’n sonde en gebruik woorde soos “afskuwelike”, “afstootlike” en “skandelikhede” (kyk Die Bybel oor homoseksualiteit). 1 Korintiërs 6:9-10 gaan self so ver as om te sê dat sulke mense nie deel van die koninkryk van God sal kry nie:

(9) Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen
(10) of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Matteus 7:21-23 herinner ook baie sterk aan mense wat homoseksualiteit beoefen en hulleself Christene noem (veral gay predikante):

(21) “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. (22) Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ (23) Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

As mens die Bybel “anders” wil interpreteer hieroor, dan is die hele Bybel oop vir interpretasie. Dan word die Bybel bloot ’n boek met stories en riglyne.

Mag ons oordeel?

Die vraag is, as homoseksuele verhoudinge sonde is, hoe moet ’n mens teen sulke mense optree? Let wel, daar is geen rede om ’n ongelowige homoseksuele persoon anders te hanteer as ’n ongelowige heteroseksuele persoon nie. Die vraag is hier hoe ons moet optree teenoor ’n persoon wat homself ’n Christen noem, maar ook homoseksualiteit beoefen.

Sommige Christene sê dat ons nie mense in ’n homoseksuele verhouding kan oordeel nie, want almal het sonde. Twee gedeeltes in die Bybel wat nogal gereeld gebruik word in hierdie argument is:

Johannes 8:1-11

(1) maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan.
(2) Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer.
(3) Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan.
(4) Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het.
(5) Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”
(6) Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe.
(7) Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
(8) Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe.
(9) Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense.
(10) Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
(11) “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Matteus 7:1-5

(1) “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;
(2) met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.
(3) “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
(4) Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog?
(5) Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

Kyk Matteus 7:1-5 vir ’n bespreking oor hierdie gedeelte.

‘n Paar opmerkings oor Johannes 8:1-11:

Hierdie gedeelte is al menigmaal buite konteks gebruik. Mense wat byvoorbeeld teen doodstraf is, gebruik ook hierdie gedeelte. ’n Mens moet egter in ag neem dat Jesus hier te doen het met skynheilige Fariseërs wat baie gou was om sonde in ander raak te sien en vinnig was om straf toe te dien. Dit is nie die gesindheid wat Jesus in Matteus 18 (later hieroor) beskryf nie. Wat ook hoogs waarskynlik hier gebeur het is dat Jesus gesien het dat die vrou waarlik berou oor haar sonde gehad het. Hy sê vir haar “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (kyk ook Johannes 5:14) ’n Persoon wat in ’n homoseksuele verhouding staan en nie daarmee breek nie, het nie waarlik berou nie, dus is hierdie gedeelte nie van toepassing op ’n persoon wat volhard in sonde nie. As ’n mens hierdie gedeelte op homoseksuele mense wil toepas, dan is die laaste vers (v11) die belangrikste.

Dit is onrealisties en selfs onbybels om te beweer dat ons nie mag oordeel nie. Natuurlik mag ons nie vanuit die hoogte of skynheilig wees wanneer ons oor ander oordeel nie, maar daar is genoeg dele in die Bybel wat wel sê dat ’n mens móét oordeel (kyk Die Bybel oor oordeel en spesifiek Matteus 18:15-17 en 1 Korintiërs 5:12-13 wat later bespreek word). As die Bybel slegs sê dat ons nie mag oordeel nie, dan het ons ook nie die reg om byvoorbeeld diewe en moordenaars in die tronk toe te sluit nie. Dan mag jy ook nie jou kinders berispe wanneer hulle verkeerd doen nie, want jy is self vol foute en sonde.

Dit is interessant dat dieselfde mense wat die argument gebruik dat ’n mens nie mense in homoseksuele verhoudinge mag oordeel nie, nie noodwendig dieselfde geduld het met ’n regering se korrupsie of ’n dief wat in die nag inbreek en jou goed steel nie of ’n moordenaar wat ’n geliefde doodgemaak het. Dus, wanneer aan jou besittings gevat word, is dit een ding, maar wanneer God se voorskrifte verontagsaam word, dan moet ’n mens verdraagsaam wees.

Homoseks vs ander sondes

Soms word Christene wat sterk teen homoseks is, daarvan beskuldig dat hulle ’n onverbiddelike houding daaroor inneem, maar ander sondes baie lig oordeel.

Die vraag is of ons werklik ander Christene met ander sonde in hulle lewe so sag hanteer soos beweer word? En indien dit die geval is, is die vraag of dit nie tyd geword het om strenger teenoor sulke Christene op te tree nie eerder as om sagter teenoor homoseksuele mense op te tree?

Byvoorbeeld, almal behoort saam te stem dat ’n mens nie ’n pornografie-akteur én ’n Christen kan wees nie. As ’n pornografie-akteur ’n lidmaat van ’n gemeente wil word, sal dit ’n ongehoorde ding wees om so ’n persoon toe te laat om ’n amptelike lidmaat van die gemeente te wees. Om nie eers te praat daarvan om ’n pornografie-akteur op die kansel of op die kerkraad toe te laat nie.

Netso is daar baie ander voorbeelde: Psigopatiese moordenaars kan nie redeneer dat hulle so gebore word en daarom sal God hulle moorde duld nie. Dieselfde geld vir pedofiele en mense wat seks met diere het (kyk Pedophile rights? Austin Texas city council member likens pedophilia to homosexuality in wake of legalized gay marriage en Bestiality Is Legal in the Same States That Ban Same-Sex Marriage). Sulke mense kan vanselfsprekend ook nie lidmate van ’n gemeente word nie.

Daar is mense wat amper ’n oordrewe deernis met homoseksuele mense het, maar wat van ongetroude heteroseksuele mense? Wat van heteroseksuele tieners of studente? Hulle seksdrange gee hulle tog nie die reg om seks met meisies te hê nie. ’n Oujongkêrel/-nooi kan nie vir God sê: “Ek wag al so lank dat U vir my ’n huweliksmaat stuur. U het my egter met seksdrange gemaak, dus sal ek maar rondslaap totdat U vir my iemand stuur.” Dis om hulle probleem God se probleem te maak. Dit is asof seks vandag hopeloos te belangrik geword het.

Wat van mense wat skei? Behandel ons nie homoseksuele mense strenger as geskeides nie? Om ’n antwoord hierop te kry moet ’n mens gaan kyk hoe die Bybel hierdie twee kwessies hanteer:

  • Egskeiding: Deuternomium 24:1 : Wanneer ’n man met ’n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy ’n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur.
  • Homoseksualiteit: Levitikus 20:13: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

Dus sien die Bybel homoseksualiteit duidelik in ’n baie erger lig as egskeiding. In Matteus 19 is Jesus baie strenger oor egskeiding as wat in Deuteronomium staan, wat bevestig dat ons egskeiding eerder meer ernstig moet opneem as om meer verdraagsaam oor homoseksualiteit te wees. Kyk ook And What About Divorce?.

Daar is sondes wat mense op ’n gereelde basis in die geheim kan doen sonder dat ander mense daarvan sal weet. Voorbeelde hiervan is pornografie, vloek, bestialiteit, alkohol- en dwelmmisbruik. Dit is vanselfsprekend dat ’n mens nie Christene kan reghelp wat hieraan skuldig is nie, want ’n mens weet doodgewoon net nie hiervan nie. Dit is nie dat hulle meer verdraagsaam hanteer word nie. God sal egter hierdie dade oordeel.

Wat van sondes wat op die ingewing van die oomblik gedoen word? Op die ou einde gaan dit daaroor of ’n mens waarlik berou het oor dit wat die Bybel sê ons moenie doen nie. As ’n persoon een keer vloek, gaan ’n mens nie so ’n persoon summier onder tug plaas nie. As hy egter volhard daarin, is dit ’n ander storie.

Kyk ook gerus die artikel Homoseksueles en bankrowers waar die sonde van homoseksualiteit vergelyk word met die sonde van diefstal.

Hoe tree mens op teenoor hierdie mense?

God is ’n God van liefde, maar Hy is ook heilig. Hy haat sonde. Deur sonde te duld maak ons Jesus se kruisdood goedkoop. Mense wat dus beweer dat hulle Christene is, moet tot bekering kom en breek met die sonde (Heidelbergse kategismus, Sondag 33). Blote geloof in Jesus is nie genoeg om gered te word nie. Jakobus 2:19 sê “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs.“. Jesus self het vir ons die opdrag gegee om die Matteus 18-pad met mede Christene te stap wat nie met ’n spesifieke sonde wil breek nie:

(15) “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.
(16) Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.
(17) En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

As Christene aanhou met sonde, sê die Bybel moet ons hulle as ’n heiden en tollenaar behandel. Interessant dat in Jesus se tyd heidene nie eers in Jode se huise mag ingekom het nie (kyk Handelinge 10:28).

Terloops, kerklike tug word soms as baie negatief gesien en as ’n ou gebruik. Die riglyne vir kerklike tug is Matteus 18 en is nog net so geldig as in die verlede.

Paulus is skokkend en blatant reguit in 1 Korintiërs 5:11-13 oor mense wat hulself gelowiges noem, maar volhard in sonde:

(11) Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.
(12-13) Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!

Vers 12-13c som hierdie kwessie soos volg op: ons móét oordeel en hierdie mense onder ons uit verwyder. Kyk ook Hebreërs 10:26-31.

Die Bybel is duidelik oor die sendingopdrag: As jy nou kontak met so ’n persoon verbreek, hoe kan jy dan so ’n persoon vir die evangelie wen?

As ’n persoon die evangelie gehoor het en homself verhard het, dan is dit sy besluit. Daar is niks wat ’n mens daaraan kan doen nie, behalwe te bid vir so ’n persoon. (Kyk Matteus 10:14-15 en Handelinge 13:46.)

Praktiese voorbeelde

Hier volg ’n paar riglyne oor hoe homoseksuele paartjies hanteer moet word. Let wel dat hierdie riglyne geld vir enigiemand wat weier om te breek met ’n spesifieke sonde, nie net homoseksualiteit nie. Dit is ook vanselfsprekend dat hierdie riglyne met die nodige diskresie en wysheid gedoen moet word en dat elke situasie op eie meriete beoordeel moet word.

Mag ’n homoseksuele paartjie lidmate van ’n gemeente wees?

Matteus 18:15-17 en 1 Korintiërs 5:11-13 is duidelik dat alle mense wat weier om te breek met sonde van die gemeente afgesny moet word. Daarom, nee.

Mag mense in homoseksuele verhoudinge leiersposisies by die kerk beklee?

Soos reeds gesê kan hulle nie lidmate van die gemeente wees nie, dus kan hulle ook nie enige leiersposisie beklee nie. Hulle sal ook nie by aksies soos die Sondagskool en selfs lofprysing betrokke kan raak nie. Moreletaparkgemeente was korrek deur Johan Stydom, ’n gay, te vra om te bedank uit sy posisie as musiekdosent (kyk Kerk dalk nou in hof gepak).

Mag homoseksuele paartjies toegelaat word om kerkdienste by te woon?

Hierdie vraag het nie so ’n maklike antwoord nie. Soos reeds gesê moet elke situasie op eie meriete beoordeel word.

In die artikels When Two Lesbians Walk Into a Church Seeking Trouble en What Happened at Gateway Church In Austin When Two Lesbians Walked In word vertel hoe Amy en haar lesbiese vriendin na die Gateway kerk in Austin gegaan het om reaksie uit te lok. Hulle is egter baie vriendelik ontvang en dit het gelei tot Amy se bekering en bevryding van homoseksualiteit. Hier moet ’n mens noem dat Gateway Church ’n makrogemeente is. Dit is nie ’n gemeente waar almal mekaar ken nie en hulle werk op die beginsel om mense te lok en so aan die evangelie bloot te stel.

As ’n homoseksuele paartjie egter dienste by ’n kleiner kerk bywoon, kan leiers afgevaardig word om ’n gesprek met die paartjie te hê waarin aan hulle verduidelik moet word wat die Bybel hieroor sê en dat hulle nie lidmate van die gemeente sal kan wees indien hulle in ’n homoseksuele verhouding staan nie omdat die gemeente respek het vir God se woord. Onnodig om te sê dat so ’n gesprek in ’n gesindheid van liefde gedoen moet word.

Daar mag moontlik selfs ’n situasie wees waar ’n mens ’n homoseksuele paartjie toelaat om die eredienste vir ’n periode by te woon sonder om hulle daarmee te konfronteer. Let wel dat hierdie mense egter nie as lidmate van die gemeente hanteer sal kan word nie en dat daar op ’n stadium iets gesê sal moet word, anders kom die gemeente nie hulle plig na nie.

Mag mense in homoseksuele verhoudinge help by kerkaktiwiteite soos basaars?

Indien ’n gemeente duidelik is oor homoseksualiteit, is hierdie waarskynlik ’n baie onwaarskynlike scenario. Maar veronderstel ’n persoon in ’n homoseksuele verhouding nader die basaarkomitee om hulp aan te bied, wat dan?

Indien ’n homoseksuele paartjie wel toegelaat sou word, onstaan die gevaar dat ander lidmate kan begin dink dat homoseksualiteit nie so ’n erge sonde is nie. Onthou dat God die Israeliete beveel het om volke uit te wis slegs om te verhoed dat daardie volke die Israeliete verlei om hulle afgode te dien (kyk bv Deuteronomium 7:1-4). Daarom, al klink dit hard, word dit nie aanbeveel nie.

Hoe moet die familie van ’n persoon in ’n homoseksuele verhouding hom/haar hanteer?

In Toe ek vra of hy gay is, sê hy: Ja, Mamma, vat Etta van der Merwe vir Gideon Aggenbag in ’n baie emosionele brief aan en sê dat sy nooit haar kind sal verwerp nie. Volgens die Bybel moet so ’n kind as ’n ongelowige hanteer word. ’n Ongelowige word nie noodwendig verwerp of die huis belet nie. ’n Ongelowige het gebed en hulp nodig. Die kind moet weet dat sy optrede nie die ouer of God se goedkeuring wegdra nie en dat hy eers ’n gelowige genoem kan word indien hy breek met hierdie sonde. Dit is egter nie reg om so ’n kind in sy sonde te sterk nie.

Ten slotte

Volgens die Bybel is homoseks ’n sonde, selfs ’n afskuwelike sonde. Wat vir God afskuwelik is, moet vir Christene ook afskuwelik wees.

Net soos elke mens op aarde hul sondes voor God moet bely en daarvan moet wegdraai, het mense wat in homoseksuele verhoudinge staan die verantwoordelikheid om weg te draai van hierdie sonde en dit voor God moet bely, anders sal hulle nie die ewige lewe beërwe nie. Matteus 10:38 sê: “Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.” (Kyk ook 1 Korintiërs 6:9-10; Matteus 7:13-14; Matteus 7:21-23; Lukas 9:23,62; Lukas 14:27; Matteus 19:16-30).

Mense wat homoseksualiteit beoefen moenie met minder óf met meer deernis hanteer word as mense wat ander sondes in hulle lewe het nie. Ons het die opdrag gekry om medegelowiges wat nie wil breek met sonde nie, regverdig te oordeel en te vermaan volgens onder andere Matteus 18:15-17 en 1 Korintiërs 5:11-13. As ons egter oordeel of vermaan, laat dit in ’n gees van sagmoedigheid en nederigheid geskied volgens Galasiërs 6:1, maar steeds ferm:

Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom.

En 1 Korintiërs 10:12:

Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Ander toepaslike Bybelverse

Jeremia 3:3-5;11-13

(3) Daarom het Ek die reënbuie teruggehou en het die vroeë reëns nie gekom nie, maar jy het soos ’n hoer geen berou getoon nie, jy het geweier om jou te skaam.
(4) En nou noem jy My skielik: “My vader,” en sê jy: “U is my vriend vandat ek ’n kind was.
(5) Sal U vir altyd kwaad wees, vir altyd toornig wees?” Dit is wat jy gesê het, maar jy het verkeerd bly doen net waar jy kon.

(11) Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda.
(12) Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Trouelose Israel, kom terug, sê die Here. Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie, want Ek is getrou, sê die Here, Ek bly nie vir altyd kwaad nie.
(13) Erken net jou skuld, dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here.

1 thought on “Kan ons beweerde Christen gays veroordeel?”

  1. In die boek van 1 Corinthians5:9 tot 13
    Stop keeping company with anyone called a brother,who is a sexually immoral person
    Remove the wicked person from among yourselves

    Op grond van die getuienis van 2 of 3 getuies moet die oortreder skuldig bevind word

    Die volgende moet oorweeg word
    Is hy berouvol-Was die gedrag openlik-in die geheim-periode verloop van sonde-beken hy sy sonde-kom getuienis van 2 of 3 getuies ooreen.
    Hy moet gedisassosieer word.Niemand mag met hom praat nie.Totdat hy tekens van opregte berou betoon.Hy mag ontmoetings bywoon,maar hy moet agter in gemeente sit en homself verwyder na finale gebed om kontak met broers te vermy.Wanneer hy as n volwaardige lid van gemeente herstel/ opgeneem word sal daar so n afkondiging gemaak word.

    Hierdie oordeel is n oppervlakkige oordeel wat ten doel het om die gemeente skoon te hou en te beskerm teen slegte invloed.

    Jesus wat die volle diepte van die hart en alle versteekte geheime kan deurvors,kom met n baie swaarder oordeel teen alle mense wat sal lei tot die lewe of die dood.

    Gevolglik moet die sondaar toegelaat word om ontmoetings by te woon,waar hy in aanraking met heilige gees sal kom wat hom kan help om tot inkeer te kom en berou te kom.
    Die N.G kerk se weiering om hierdie God gegewe opdragte van Justisie nougeset na te kom is een van menigte redes waarom die kerk geval het en van alle kante onder belering en aanval van uiters goddelose mense is

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui